Skip to main content

11 Luister

Ons kom by die elfde element van gebed: Luister (Youtube).

‘n Hele paar van die vorige elemente van gebed het al te make gehad met luister. Om te wag op die Here. Om oor die beloftes in sy Woord na te dink, en met Hom in gesprek te tree daaroor. Trouens, gebed is ‘n dialoog, ‘n gesprek. Dit impliseer dat God na ons luister, en dat ons na Hom luister.

God praat op twee maniere

Die Skrif is duidelik daaroor dat God op twee maniere met ons praat. Hy praat met ons deur sy skepping, onderhouding en regering van die hele wêreld (NGB 2.1). Een van die gedeeltes wat daaroor praat, is Psalm 19:

2 Die hemelruim verkondig  die eer van God  en die hemelkoepel maak die werk  van sy hande bekend.  3 Dag ná dag bring dit  ‘n boodskap voort  en nag ná nag deel dit  kennis mee.  4 Alhoewel daar geen spraak  en geen woorde is nie  en hulle stem nie hoorbaar is nie,  5 gaan hulle boodskap uit  oor die hele aarde  en hulle woorde  tot aan die einde van die wêreld. (Ps 19:2-5)

En God praat met ons deur sy geskrewe Woord. Dit is die helderste manier waarop God praat. Dit is duideliker en meer volledig as die algemene openbaring, en heeltemal genoegsaam om ons te leer hoe om God te dien en vir Hom te lewe (NGB 2.2).

Die twee maniere van praat kan dus nooit in stryd wees met mekaar nie. Wat ek ervaar in die normale loop van die lewe – gedagtes en gebeure – kan net van God af wees as dit in ooreenstemming is met die Skrif.

Die Skrif is vir ons die maatstaf waaraan ons alle gedagtes en gebeure moet toets.

Hoe luister ek na God in gebed?

Hoe luister ek dus dan na God in gebed? Want, ek moet tog eers iets hoor of ervaar voor ek dit kan toets aan die Skrif?

Bring jou gedagtes na die Here toe

Wel, die eerste manier om dit te doen, is om bloot jou gedagtes voor die Here te bring en te vra dat Hy dit vir jou sal uitsorteer deur tyd te gee om na Hom te luister. Dws, om na jy gepraat het, op te hou om te praat, en tyd in stilte te gee dat die Here vir jou duidelikheid bring.

Ek wil vir jou drie perspektiewe gee om hierdie manier van “luister” in gebed te kan beoefen.

1. Die eerste perspektief is uit wat Hebreërs 4 ons leer. Die skrywer sê:

12 Want die woord van God  is lewend en kragtig, en skerper as enige  tweesnydende swaard. Dit dring deur tot by die raakpunt  tussen siel en gees,  tussen gewrig en murg,  en beoordeel die hart  se voornemens en gedagtes. (Hebr 4:12).

Let op dat “woord van God” hier met ‘n klein letter geskryf word. Die skrywer van Hebreërs het in gedagte die werk wat God in jou binnekant doen. Uiteraard kan hierdie innerlike “woord” met ‘n kleinletter nie in stryd wees met die geskrewe “Woord” met ‘n hoofletter nie, asook nie met Jesus as die vleesgeworde “Woord van God” nie (vgl Jes 49:2; Ef 6:17; Openb 1:16).

Maar, waaroor hierdie skrywer praat, is dat as ‘n mens jou voornemens en gedagtes na die Here toe bring in gebed, Hy jou help om dit beoordeel. Om jou te help om te onderskei watter van jou voornemens (ennoia) en gedagtes (enthumēsis) God sal eer en watter nie.

Om te “luister” in gebed is dus om jou gedagtes te verwoord, maar dan kans te gee vir die Here om jou binnekant tot rus te bring by die gedagtes wat van Hom is, sodat jy kan nee sê vir dié gedagtes wat nie van Hom is nie.

2. ‘n Tweede perspektief op hierdie “luister” is die raad wat in sy brief aan die Kolossense vir die gemeente gee:

15 Verder, laat die vrede van Christus in julle harte regeer. (Kol 3:15)

En Paulus volg dit op met die raad:

16 Laat die woord van Christus in sy volle rykdom in julle woon. (Kol 3:16)

Die “woord” van Christus – veral as ons toelaat dat Hy ‘n al hoe groter rol in ons lewens speel, dat sy woord in sy volle rykdom in ons woon – bring “vrede” in ons harte, regeer ons lewens deur die vrede wat Hy bring.

Dit is ook die basis vir vrede in die gemeenskap van gelowiges en word in stand gehou deur ‘n gehoorsaam aan die volle waarheid in Christus.

3. ‘n Derde perspektief op hierdie “luister” is om hierdie vrede in ons hart te verbind met die rus wat God in ons gewete bring as ons leef soos Hy dit wil hê. Paulus skryf aan die Korintiërs om hulle gerus te stel oor sy beplande besoek aan hulle:

12 Ons roem is juis dit: die getuienis van ons gewete dat ons in die wêreld, en veral teenoor julle, opgetree het in opregtheid en met eerlikheid wat van God kom – ook nie deur menslike wysheid nie, maar deur die genade van God. (2 Kor 1:12)

Die gewete (suneidēsis) vorm deel van hierdie onderskeidingsvermoë binne ons tussen wat reg is en wat verkeerd. Trouens, dit is waar ons die werk van die Gees ook ervaar. Paulus verwoord dit so:

1 My gewete, deur die werking van die Heilige Gees, getuig teenoor my … (Rom 9:1)

Trouens, God werk in alle mense se gewetens om hulle te begelei om sy wil te bevestig, en wanneer hulle weier om volgens sy ingebore wet te leef, kla hulle teenstrydige gedagtes hulle aan (Rom 2:12-16).

Die gewete is ‘n kragtige instrument in God se hand.

En dit is waarvoor ‘n mens luister. Die “woord” van God in jou binneste. Die “vrede” van Christus. Die “getuienis” van jou gewete.

Laat die Here toe om gedagtes na jou toe te bring

Die tweede manier van luister, is waar ‘n mens nie soseer met jou eie gedagtes voor die Here verskyn nie, maar jou oopstel vir gedagtes wat die Here self in jou hart wil lê. Waar jy die Here toelaat om gedagtes na jou toe te bring.

Dit kom soms in die vorm van oortuigings uit jou lees van die Skrif. Ander kere as oortuigings wat diep in jou ‘n neerslag kry oor dinge om te dink of te doen.

‘n Mens sien dit regdeur die Skrif. God wat na mense kom op verskillende maniere om hulle in te span vir sy werk op aarde.

  • ‘n Abraham wat uit sy land trek na die land van belofte nadat God aan hom verskyn het (Gen 12).
  • ‘n Samuel wat as jong kind in die tempel die stem van die Here hoor om as profeet op te tree in Israel en die volk terug te lei na gehoorsaam aan God (1 Sam 3).
  • ‘n Paulus wat in die tempel bid met sy eerste besoek aan Jerusalem na sy bekering en die Here Jesus wat aan hom verskyn en hom roep vir die evangelie aan die heidene (Hand 22:17-21).

Weereens mag hierdie oortuigings nie in stryd wees met die Skrif nie.

  • Hoewel Abraham geleef het in ‘n tyd waar daar nog min geskrewe dele van die Skrif beskikbaar was, was God se opdrag aan Hom in lyn wat Abraham by sy voorsate sou gesien en gehoor het. Bv dat dit God se bedoeling was dat die aarde bewoon, bewerk en bewaar sou word soos Genesis 1-2 hulle geleer het.
  • Samuel het al ‘n groter deel van die Skrif gehad en hy sou daarin God se oordeel oor die sondes van sy mense kon lees. En die opdrag van die Here om Eli aan te spreek en die volk in die waarheid te lei, daarmee kon vergelyk.
  • So ook Paulus. Hy het die hele OT al beskikbaar gehad en daarin kon hy lees van die werk van die Dienskneg van God, die Messias, wat die boodskap van God se genade aan alle nasies wou uitdra. Die opdrag om na die nasies te gaan, was dus in lyn met die Skrif (Jes 49).

Prakties

Daar is ‘n wonderlike opdrag in Spreuke wat die praktyk van “luister” vir ons omskryf. Die Here roep gelowiges daar op om na die Wysheid te luister, die Wysheid wat van die begin van die skepping af betrokke is by die wêreld, en in die NT met Jesus verbind word. Jesus is vir ons die “Wysheid” van God, sê Paulus (1 Kor 1:30).

Hierdie manier van “luister” word daar beskrywe as ‘n proses van waghou tot God se leiding ervaar word:

34 Gelukkig is die mens wat na my luister deur dag ná dag by my deure te waak, by die kosyne van my ingange wag te hou. 35 Ja, wie my vind, het die lewe gevind; hy geniet die goedkeuring van die Here. (Spr 8:34-35)

Ek gaan in die agtergrond sagte musiek speel (Solitude – Main Version) en jou begelei met ‘n paar vrae om te “luister” na God stem. Onthou, dit sal óf rus in jou gemoed bring oor gedagtes wat jy reeds dink óf ‘n oortuiging in jou laat posvat van iets wat die Here jou wil laat dink of doen.

Gebed

Bring die gedagtes wat nou voorop in jou gedagtes is en vra dat die Here dit vir jou sal uitsorteer.

Stilte

Vra dat die Here jou binneste sal vul met gedagtes wat van Hom af kom. En dat Hy daarmee saam vir jou Skrif sal gee wat dit bevestig.

Stilte

13 Want aan U behoort die koninkryk en die krag en die heerlikheid tot in ewigheid. Amen. (Matt 6:13)

Die twaalfde gebed is Loof (Youtube).

Al die video’s in die reeks is op hierdie Playlist by Youtube.

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Waak en bid - Pinkster 2021


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar

  • Hannes. on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Middag Dr. Chris, Baie dankie vir ‘n insiggewende reis deur Psalms. Dit het beslis gehelp om my persoonlike gebedslewe te verbeter, en ek glo sterk dat elke gebed beslis my verhouding met die Here verdiep op ‘n manier waar ek tans baie meer pligsgetrou is teenoor my persoonlike stiltetyd en gesprekk…
  • Kobus on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Dit was vir my 'n wonderlike ervaring, ek kyk met 'n ander insig nou na die Psalms
  • Chris van Zyl on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Bid die Psalms het vir my baie beter insig verskaf, veral die kontektualisering en verklarings wat elke gedeelte belig het. Ek is so dankbaar dat ek kon deel in hierdie bid-gerigte ervaring. Menige dag het ek gevoel dat die Psalm van die dag spesiaal vir my bedoel was. Dankie Chris van Wyk vir hierd…
  • Chris van Wyk on Psalm 137Dit is my voorreg. Groete!
  • Doreen Snyders on Psalm 137Net om weer 'n slag dankie te sê vir al die wonderlike verklarings en verduidelikings van al die Bybelse waarhede. Ons dien 'n wonderbare en allerheilige God. Ek sien baie uit na die Matteusevangelie. Nogmaals baie dankie. Doreen Snyders
  • Chris van Wyk on Psalm 119:169-176Absoluut!
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:169-176Psalm 119 is voorwaar ñ baie Geseënde Psalm
  • Chris van Wyk on Psalm 119:145-152Dis self opnuut weer ‘n vreugde vir my.
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:145-152Ek was altyd baie langtand om Ps 119 aan te durf, nou wens ek dat dit nie ophou nie... Ps 119 is te kort!!! PDH
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:105-112Goeie middag, baie dankie vir die deel van die kosbare verhaal wat so gepas is met die Psalm
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:1-8Sien waarlik die nou verband tussen OT EN NT. waarlik verhelderend. אמן
  • Chris van Wyk on Psalm 118:19-29Ek gee maar net aan wat ek ontvang het. Dit bly egter 'n kosbare voorreg.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 118:19-29Goeie môre, baie dankie dat u met ons deel wie en waar die vertaaling van die Bybel sy oorsprong gekry het, dit is so kosbaar, baie dankie vir een en elkeen wat deel is en was om hierdie kosbare woord ook vir ons in ons Taal te kon uitlê
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 110Baie dankie vir hierdie kosbaarhede wat u met ons deel. Ek het Openbaring 22 gelees en dit klink baie soos die tuin van Eden, hy praat van die boom van lewe. Die sondeval gemaak dat die mens gesondig het en dat hul nie meer in die tuin kon woon nie asgevolg van die sonde.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 109:6-19Goeie middag, ek wil ook by las dat in Psalm 139:23 bid David;"Deurgrond my, O GOD, en ken my hart, toets my en ken my gedagtes" GOD ken die mens en HY deersoek die hart en die gedagtes. Ek het self al telkens gebid, HERE vergewe hulle want hulle weet nie wat hulle doen nie en dan soos die woord sel…