Skip to main content

03 Bely

Al die video’s in die reeks is op hierdie Playlist by Youtube.

As ons regtig tot stilstand gekom het in ons aanbidding en wag op die Here, is dit vanselfsprekend dat ons bewus kan raak van ons eie sonde. Dit is die derde element van ons gebed.

Die Bybel praat op baie plekke daaroor dat ons sonde ‘n hindernis is om God se teenwoordigheid te ervaar.

1 Kyk, die hand van die Here is nie te kort om te verlos nie, sy oor is nie hardhorend, sodat Hy nie kan hoor nie. 2 Maar julle sondeskuld, dit het skeiding gebring tussen julle en julle God. Julle sondes het Hom sy gesig vir julle laat verberg, sodat Hy nie luister nie. (Jes 59:1-2)

Daarom moet ons die sondes voor die Here bely sodat ons met vrymoedigheid die ander dinge in ons gebed voor Hom kan bring.

Die psalmis bely in Psalm 66 dat as hy sonder berou oor sy sonde na God toe gekom het – soos die 1933/53-vertaling dit vertaal: “as hy ongeregtigheid bedoel het in sy hart” – dan sou God nie na hom geluister het nie:

18 As ek my sonde weggesteek het, dan sou die Here nie gedoen het wat ek gevra het nie.” (Ps 66:18 – ABA)

En in die tweede bundel van spreuke van Salomo – Spreuke 25-29 – wat deur koning Hiskia se amptenare versamel is in die 8ste eeu vC, waarsku Salomo ons in hoofstuk 28:9:

9 Wie sy oor wegdraai, sodat hy nie na die wet hoef te luister nie – selfs sy gebed is afstootlik. (Spr 28:9)

Sonder respek vir die wet van die Here is ‘n mens se gebed tevergeefs, sê Salomo. God luister nie na mense wat doelbewus sondig nie. ‘n Mens kan immers nie tegelykertyd die Here en sy wil ignoreer, en steeds Hom vir leiding, beskerming of sorg vra nie. Dit pas net nie.

Jakobus waarsku daarom in die NT gelowiges dat hulle reg moet bid, dws vanuit die regte verhouding met God, moet bid (vgl Jak 4:1-10). Ons begeertes voer oorlog in ons binnekant. En dit keer dat God vir ons die dinge gee wat ons van Hom vra. Vers 3:

3 Julle bid en julle ontvang nie, omdat julle op die verkeerde manier vra, sodat julle dit in julle wellus kan deurbring.

Ons moet besef dat só ‘n manier van bid, verraai dat ons vriendskap met die wêreld soek, eerder as vriendskap met God. En vriendskap met die wêreld is, in God se oë, vyandskap met Hom. Vers 5:

5 of dink julle dat die Skrif verniet sê dat God hunker met besitlikheid na die gees wat Hy in ons laat woon het?

Vriendskap met die wêreld, ‘n fokus op eie begeertes, is afgodery, ‘n verheerliking van die self. En daarmee ‘n oortreding van die tweede gebod, die verbod op afgodery, wat steeds geldig bly in die lewe van NT gelowiges (Eks 20:5).

Jakobus se raad is eenvoudig. Vers 8:

8 Nader tot God, dan sal Hy tot julle nader. Reinig julle hande, sondaars, en suiwer julle harte, dubbelhartiges! … 10 Verneder julle voor die Here, dan sal Hy julle verhoog.

Dit is waarom Jesus ons in die Ons Vader hierdie belangrike gebed geleer het:

12 En vergeef ons ons skulde, soos ook ons hulle vergeef wat teenoor ons skuldig staan. (Matt 6:12)

Want, die belofte is dat God dié gebed hoor en dat Hy presies gee wat ons vra, vergifnis.

9 As ons ons sondes bely – Hy is getrou en regverdig, en daarom sal Hy ons ons sondes vergeef en ons van alle kwaad reinig. (1 Joh 1:9)

Die woord wat Johannes hier gebruik vir belydenis is homologeō. Dit beteken om met God saam te stem, om sy oordeel oor iets wat verkeerds is, te aanvaar. Om te buig voor sy gesag, en nie jou eie opinie te vorm oor wat reg en wat verkeerd is nie.

Skuldbelydenis is om jou skuld in belydenis teenoor Hom te erken, soos jy God se heiligheid in aanbidding erken het. Trouens, skuldbelydenis sluit in dat jy van God vra om selfs dinge aan die lig te bring wat jy nie voorheen as sonde raak gesien het nie.

Dawid stel dit só in Psalm 139:

23 Ondersoek my, o God, en ken my hart; toets my, en ken my ontstellende gedagtes. 24 Kyk of ek nie op ‘n pad van verdriet is nie, en lei my op die ewige pad. (Ps 139:23-24)

Die wonder van skuldbelydenis is dat dit jou gewete skoonmaak en jou vrymoedigheid gee om te vorder in jou gebed.

Dick Eastman sê van sondebelydenis:

“It clears the conscience of faith-killing guilt and opens the heart to truly believe God will hear our petitions.”

Die belofte van God is dat Hy ons vergewe. Die bloed van Jesus Christus reinig ons. Met die gevolg dat God glad nie meer aan ons sondes en ons wettelose dade dink nie, soos Hebreërs 10 dit vir ons verklaar (Hebr 10:17).

Dit is dan wat ons vrymoedigheid het om in te gaan in die heiligdom langs die nuwe en lewende weg wat Christus vir ons geopen het deur sy kruisdood om met God gemeenskap te hou.

22 Laat ons daarom ingaan met ‘n opregte hart, in volle geloofsekerheid, met ons harte besprinkel, vry van ‘n slegte gewete, en ons liggame gewas met skoon water.

Prakties

Jy kan doodgewoon die Here vra om jou sondes aan jou te openbaar sodat jy daarvoor om vergifnis kan vra. Dit is waarom die Heilige Gees aan jou gegee is, om jou van sonde te oortuig (Miga 3:8; Joh 16:8-11).

Dink na oor die afgelope dag of langer en bely voor die Here waar jy gesondig het in gedagtes, woorde of dade. Onthou ook die sondes van versuim (Deut 23:21; Hebr 10:25).

Jy kan ook by die groot gebede om vergifnis van die groot gebedshelde in die OT aansluit. Die skuldbelydenis van Esra 9 oor die immoraliteit van die volk. Die skuldbelydenis van die Leviete dat die volk die wet nie meer hou nie in Nehemia 9. En die skuldbelydenis van Daniël 9 van die sonde van die volk in voorbereiding vir sy gebed dat God se belofte van ‘n terugkeer sal waar maak, ‘n teks waarby ons later in ‘n bietjie meer detail sal stilstaan..

Ek gaan vandag die bekende Psalm 51 van Dawid gebruik om jou in sondebelydenis te begelei. Ek gee in die geskrewe teks op die webtuiste ‘n paar ander opsies om in die toekoms te gebruik.

Ek gaan telkens ‘n paar verse uit die Psalm lees en dan stilte gee met musiek op die agtergrond (Poignant Underscore) dat jy die woorde kan gebruik om jouself voor die Here te ondersoek en jou sonde teenoor Hom te bely. Aan die einde sluit ek af met die laaste deel van die Ons Vader.

Gebed

Ons begin met ‘n vers wat jy kan gebruik om jou skuld te bely.

3 Wees my genadig, o God, volgens u troue liefde; wis my oortredings uit volgens u groot ontferming.

Stilte

Nou volg twee verse om vergifnis en herstel uit dieselfde Psalm:

12 Skep ‘n rein hart vir my, o God, vernuwe ‘n bestendige gees in my binneste. 13 Moet my tog nie wegdryf uit u teenwoordigheid nie; en moet u Heilige Gees nie van my wegneem nie. (Ps 51:12-13)

Stilte

13 Want aan U behoort die koninkryk en die krag en die heerlikheid tot in ewigheid. Amen. (Matt 6:13)

Opsies vir die toekoms

Jy kan ook die volgende Psalms gebruik vir skuldvergiffenis, die sogenaamde sewe boete Psalms: Ps 6; 32; 38; 51; 102; 130; 143.

Die vierde gebed is Bid die Woord.

Al die video’s in die reeks is op hierdie Playlist by Youtube.

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Waak en bid - Pinkster 2021


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar

  • Chris van Wyk on Psalm 119:169-176Absoluut!
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:169-176Psalm 119 is voorwaar ñ baie Geseënde Psalm
  • Chris van Wyk on Psalm 119:145-152Dis self opnuut weer ‘n vreugde vir my.
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:145-152Ek was altyd baie langtand om Ps 119 aan te durf, nou wens ek dat dit nie ophou nie... Ps 119 is te kort!!! PDH
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:105-112Goeie middag, baie dankie vir die deel van die kosbare verhaal wat so gepas is met die Psalm
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:1-8Sien waarlik die nou verband tussen OT EN NT. waarlik verhelderend. אמן
  • Chris van Wyk on Psalm 118:19-29Ek gee maar net aan wat ek ontvang het. Dit bly egter 'n kosbare voorreg.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 118:19-29Goeie môre, baie dankie dat u met ons deel wie en waar die vertaaling van die Bybel sy oorsprong gekry het, dit is so kosbaar, baie dankie vir een en elkeen wat deel is en was om hierdie kosbare woord ook vir ons in ons Taal te kon uitlê
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 110Baie dankie vir hierdie kosbaarhede wat u met ons deel. Ek het Openbaring 22 gelees en dit klink baie soos die tuin van Eden, hy praat van die boom van lewe. Die sondeval gemaak dat die mens gesondig het en dat hul nie meer in die tuin kon woon nie asgevolg van die sonde.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 109:6-19Goeie middag, ek wil ook by las dat in Psalm 139:23 bid David;"Deurgrond my, O GOD, en ken my hart, toets my en ken my gedagtes" GOD ken die mens en HY deersoek die hart en die gedagtes. Ek het self al telkens gebid, HERE vergewe hulle want hulle weet nie wat hulle doen nie en dan soos die woord sel…
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:33-38Baie dankie vir hierdie verduideliking. Ons lees die eerste keer van Baäl-Peor in Numeri 25. Baäl was die Kanaänitiese god van vrugbaarheid, terwyl Peor verwys na die berg in Moab waar hy onder andere aanbid is. Hy is ook in Kanaän aanbid en was 'n groot versoeking vir die Israeliete met hulle vesti…
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:33-38GOD is so goeie GOD. HY gee vir ons die voorskrifte vanaf Deut. 28 en dan volg HY dit ook op in Psalm 107 en sê as ons net doen wat HY ons beveel sal dit met ons goed gaan en ons geseënd wees, nie oor ons nie, maar oor GOD en wie HY is.
  • Chris van Wyk on Psalm 106:43-48Ons lees die eerste keer van Baäl-Peor in Numeri 25. Baäl was die Kanaänitiese god van vrugbaarheid, terwyl Peor verwys na die berg in Moab waar hy onder andere aanbid is. Hy is ook in Kanaän aanbid en was 'n groot versoeking vir die Israeliete met hulle vestiging in die Beloofde Land.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:1-9Psalm 1:1 Stel dit so mooi hoe ons, ons pad moet hou en dat ons moet hou en bly by GOD se gebooie
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 106:43-48Goeie naand, Psalm 106: 28 Kan u asb vir my verduidelik wat Baâlpeor is ? Baie dankie Amanda