Skip to main content

Jeremia 9:3-26 – Hulle weier om My te erken

Jeremiah lamenting - Rembrand van RijnHierdie hoofstuk bevat vier perikope:

  1. God se roerende klaaglied oor die volk – 9:3-11
  2. Die verklaring vir die volk se afvalligheid – 9:12-16
  3. God se roerende klaaglied vir die volk – 9:17-22
  4. Die uitbreiding van God se oordeel na almal wat ontrou is aan Hom – 9:23-26

9:3-11 – God se roerende klaaglied oor die volk

God se trane oor sy volk tref ’n mens in dié gedeelte.  Dit is trane wat in die eerste plek vloei oor die chaos wat in die gemeenskap heers.  Mense bedrieg mekaar, steek mekaar in die rug, selfs binne families en vriendekringe.  Die diepste rede daarvoor is omdat hulle nie vir God ken (9:3) en erken (9:6) nie.  Hulle woorde lyk onskuldig, maar tref soos dodelike pyle, omdat hulle mekaar se ondergang beplan.

Só ’n situasie kan nie ad infinitum deur die Here geduld word nie.  Hy is immers die een wat “liefde, reg en geregtigheid bewys op die aarde” (9:24) en moet dus rekenskap van bedrieërs en verdrukkers eis.

Maar God se trane vloei in die tweede plek oor die verwoesting wat sy oordeel saai.  Selfs die natuur ly daaronder, berge, weivelde, voëls en diere.  Die Godstad word ’n puinhoop, ’n woonplek van jakkalse, ’n plek waar niemand meer sal of wil woon nie.

Hierdie tekening van God se hartseer is ’n belangrike prentjie van God.  Sy trane oor die chaos is net so groot as sy trane oor die oordeel, al is beide onafwendbaar.  God huil en kla oor verwoesting.  Dit kan ook nie anders nie.  Dit is sy handewerk wat vernietig word.

Jeremia gee ons ook hier ’n belangrike perspektief op menswees.  Waar mense die kennis van God verloor óf Hom nie meer as God in hulle lewe erken nie, bly die negatiewe uitwerking op hulle gemeenskap met ander nie uit nie.  Waar God nie erken word nie, erken ons ook nie mekaar se menslikheid nie, en volg bedrog en verdrukking in ons verhoudinge met mekaar.

9:12-16 – Die verklaring vir die volk se afvalligheid

Hierdie gedeelte is waarskynlik weer ’n refleksie van Jeremia op die klaaglied wat hy van die Here gehoor het in die vorige verse.  Hy vra as’t ware ’n retoriese vraag of iemand ’n verklaring kan gee vir die verwoesting van die land (en sy mense).  Maar, hy weet goed waarom en gee dan self die antwoord soos die Here dit geopenbaar het.  Die volk het nie na God se wet geluister en dit gedoen nie, en eerder op hardkoppige wyse hulleself en Baäl gedien.

Craigie (Word kommentaar) sê op onvergelyklike manier oor koppigheid die volgende:

“The threat of ‘stubbornness’ still exists today. It has been described as ‘atrophy of the will.’ When people stubbornly refuse to do right, the time comes when they cannot do right. Judgment then comes in the form of living in the prison you have erected for yourself.”

Daarom het die Here hulle verwerp en onder die nasies verstrooi.

9:17-22 – God se roerende klaaglied vir die volk

Die klaaglied van God oor die volk in die eerste perikoop word nou opgevolg deur ’n klaaglied wat Hy vir die volk gee om te sing.  Let mooi op hoe die gehoor in dié verse wissel.

  1. Eers beveel die Here dat die klaagvroue geroep moet word om die volk te begelei in ’n klaaglied (9:17-18).
  2. Tweedens word die situasie in die volk beskrywe wat reeds kla oor die verwoesting (9:19).
  3. Derdens word die vroue direk aangespreek om deeglik te luister na wat die Here sê en dit vir hulle kinders te leer (9:20).
  4. Vierdens word die inhoud van die klaaglied vir hulle gegee wat ’n personifikasie van die dood insluit: “Die dood het by ons vensters ingeklim, in ons mooi huise ingekom, dit roei die kinders uit op die strate, die jongmense op die pleine.”
  5. Laastens word Jeremia aangespreek om dit profeties vir die volk te interpreteer met die twee metafore dat die mense se lyke soos koeimis lê op die veld, soos gerwe wat niemand ooit sal optel nie.  Grusaam.

Die boodskap maak ’n mens yskoud.  Oorlog tref nie net dié wat sneuwel nie, maar ook dié wat agterbly.  En Jeremia wys tereg hier daarop dat dit gewoonlik vroue is wat agterbly, verlate in hulle verlies.  En dit alles begin by die feit dat mense God nie erken in hulle lewens nie en daarom hulleself vergryp aan ander se lewens.  Tragies.

9:23-26 – Die uitbreiding van God se oordeel na almal wat ontrou is aan Hom

Die enigste positiewe geluid in hierdie hoofstuk kom van vers 23-24 waarin die Here die regte verhouding met Hom uitspel, dít waarop al die sterk mense hulleself moet fokus, die wyse man (insig), die dapper soldaat (krag), en die ryk man (ekonomiese vermoë).  Die enigste insig, krag en rykdom lê in Godskennis.  En wat Hy wil hê is helder en duidelik: liefde (lojaliteit), reg (justice) en geregtigheid.

Maar, helaas, daar kom dae wat die Here sy oordeel sal uitbrei aan almal wat ontrou is aan Hom – of hulle nou deel is van die Godsvolk of van ander nasies.

Boodskap

Dat God se trane vloei oor chaos in die gemeenskap, stel my op ’n vreemde manier gerus.  Dat sy trane ook vloei oor die oordeel wat Hy noodgedwonge moet uitvoer om sake reg te stel, bevredig ook my sin van regverdigheid.  ’n Mens sou dit só graag anders wou hê.

Dat liefde, reg en geregtigheid belangriker is as insig, krag en rykdom bly ’n fundamentele keuse van dié wat die Here ken en Hom in alles wil erken.  Dat dít gelowiges in konflik bring met wêreldse insig, krag en rykdom is daarom egter ook ’n feit.  Maar, dit is wat getrouheid van ons vra.


Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Jeremia


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar

  • Chris van Wyk on Psalm 119:169-176Absoluut!
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:169-176Psalm 119 is voorwaar ñ baie Geseënde Psalm
  • Chris van Wyk on Psalm 119:145-152Dis self opnuut weer ‘n vreugde vir my.
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:145-152Ek was altyd baie langtand om Ps 119 aan te durf, nou wens ek dat dit nie ophou nie... Ps 119 is te kort!!! PDH
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:105-112Goeie middag, baie dankie vir die deel van die kosbare verhaal wat so gepas is met die Psalm
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:1-8Sien waarlik die nou verband tussen OT EN NT. waarlik verhelderend. אמן
  • Chris van Wyk on Psalm 118:19-29Ek gee maar net aan wat ek ontvang het. Dit bly egter 'n kosbare voorreg.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 118:19-29Goeie môre, baie dankie dat u met ons deel wie en waar die vertaaling van die Bybel sy oorsprong gekry het, dit is so kosbaar, baie dankie vir een en elkeen wat deel is en was om hierdie kosbare woord ook vir ons in ons Taal te kon uitlê
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 110Baie dankie vir hierdie kosbaarhede wat u met ons deel. Ek het Openbaring 22 gelees en dit klink baie soos die tuin van Eden, hy praat van die boom van lewe. Die sondeval gemaak dat die mens gesondig het en dat hul nie meer in die tuin kon woon nie asgevolg van die sonde.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 109:6-19Goeie middag, ek wil ook by las dat in Psalm 139:23 bid David;"Deurgrond my, O GOD, en ken my hart, toets my en ken my gedagtes" GOD ken die mens en HY deersoek die hart en die gedagtes. Ek het self al telkens gebid, HERE vergewe hulle want hulle weet nie wat hulle doen nie en dan soos die woord sel…
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:33-38Baie dankie vir hierdie verduideliking. Ons lees die eerste keer van Baäl-Peor in Numeri 25. Baäl was die Kanaänitiese god van vrugbaarheid, terwyl Peor verwys na die berg in Moab waar hy onder andere aanbid is. Hy is ook in Kanaän aanbid en was 'n groot versoeking vir die Israeliete met hulle vesti…
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:33-38GOD is so goeie GOD. HY gee vir ons die voorskrifte vanaf Deut. 28 en dan volg HY dit ook op in Psalm 107 en sê as ons net doen wat HY ons beveel sal dit met ons goed gaan en ons geseënd wees, nie oor ons nie, maar oor GOD en wie HY is.
  • Chris van Wyk on Psalm 106:43-48Ons lees die eerste keer van Baäl-Peor in Numeri 25. Baäl was die Kanaänitiese god van vrugbaarheid, terwyl Peor verwys na die berg in Moab waar hy onder andere aanbid is. Hy is ook in Kanaän aanbid en was 'n groot versoeking vir die Israeliete met hulle vestiging in die Beloofde Land.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:1-9Psalm 1:1 Stel dit so mooi hoe ons, ons pad moet hou en dat ons moet hou en bly by GOD se gebooie
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 106:43-48Goeie naand, Psalm 106: 28 Kan u asb vir my verduidelik wat Baâlpeor is ? Baie dankie Amanda