Skip to main content

Tag: Matteus-leesplan

Julle is die sout vir die aarde

Jesus se verwysing na gelowiges as die “sout van die aarde” sou baie betekenis gehad het vir vissermanne wat bekend was met die proses van vis sout vir preservering. Vissermanne het hulle vis na die hawe by Magdala gebring om gesout te word en dan in die res van die Romeinse ryk verskeep te word. Die hawe by Magdala was bekend as Taricheae, die plek waar vis gesout word.

MATTEUS 5:13

13 “Júlle is die sout vir die aarde, maar as die sout smaakloos word, waarmee sal dit sout gemaak word? Dis vir niks meer goed nie behalwe om buite gegooi en op getrap te word deur die mense.

Continue reading

Geseënd is dié wat weet hoe nodig hulle God het om hulle karakter te vorm

Jesus openbaar sy koninkryk deur woordbediening en wonderwerke

1ste diskoers: Geregtigheid van die koninkryk (hfst. 5–7)

Hierdie toespraak van Jesus, die sogenaamde Bergrede (Matteus 5-7), is die mees indringende verkondiging van wat die koninkryk van God behels. Ten diepste handel die koninkryk oor die vestiging van God se geregtigheid in elke aspek van die lewe – godsdienstig, sosiaal, persoonlik.  Dit kan as die etiek van die koninkryk beskryf word wat aansluit by die boodskap van die OT, maar in talle opsigte dieper en verder as dit gaan.  Die sentrale plek wat die “Ons Vader” gebed in die Bergrede neem, val ook op, waarin die gebed vir die koninkryk ook sentraal staan (Matt. 6:9-13).

Die woord geregtigheid word eksplisiet op vyf plekke genoem (Matt. 5:6,10,20; 6:1,33), maar lê vir my onderliggend aan die meeste van Jesus se uitsprake in dié drie hoofstukke:

  • die fokus op “goeie werke” waardeur God sigbaar word (Matt. 5:16);
  • die sentrale toepassing en vervulling van die “wet en profete” deur Jesus (Matt. 5:17-48; ook Matt. 7:12);
  • die drie kern godsdienstige handelinge: “liefdadigheid” (Matt. 6:2), “gebed” (Matt. 6:5-6) en “vas” (Matt. 6:16-18);
  • die keuse vir eksklusiewe “lojaliteit” (Matt. 6:24);
  • die keuse vir ’n regverdige “oordeel” (Matt. 7:1-5);
  • die belofte van God wat “goeie dinge” gee (Matt. 7:11);
  • die fokus op en beoordeling van “goeie vrugte” (Matt. 7:15-20);
  • die fokus daarop om “God se wil” te doen (Matt. 7:21-23).

In die lig hiervan kan ’n mens die drie hoofstukke van die Bergrede in Matteus met drie titels beskrywe:

  1. Die stryd vir geregtigheid – Matteus 5
  2. Die lewe van geregtigheid – Matteus 6
  3. Die vrug van geregtigheid – Matteus 7

Continue reading

Jesus verkondig die evangelie van die koninkryk en groot skares uit Galilea, Sirië, Dekapolis, Jerusalem, Judea en oorkant die Jordaan volg Hom

MATTEUS 4:23-25

23 Jesus het rondgegaan in die hele Galilea en onderrig gegee in hulle sinagoges en die evangelie van die koninkryk verkondig en elke siekte en kwaal onder die volk genees.

24 En die nuus oor Hom het in die hele Sirië versprei, en hulle het vir Hom almal gebring wat siek was en aan allerhande siektes en hewige pyne gely het, wat met die duiwel besete was, wat aan epilepsie gely het en verlamdes, en Hy het hulle gesond gemaak.

25 En groot skares van Galilea en Dekapolis en Jerusalem en Judea en van oorkant die Jordaan het Hom gevolg.

Continue reading

Jesus roep sy dissipels as vissers van mense langs die See van Galilea

MATTEUS 4:18-22

18 Terwyl Jesus langs die See van Galilea loop, het Hy twee broers, Simon wat Petrus genoem word, en Andreas sy broer, ’n werpnet in die see sien gooi, want hulle was vissers.

19 En Hy sê vir hulle: “Kom agter My aan en Ek sal julle vissers van mense maak.”

20 Hulle het toe dadelik hulle nette gelos en Hom gevolg.

21 En Hy het van daar verder gegaan en twee ander broers gesien, Jakobus die seun van Sebedeus en Johannes sy broer, wat in die skuit saam met Sebedeus, hulle vader, besig was om hulle nette reg te maak, en Hy het hulle geroep.

22 Hulle het toe dadelik die skuit en hulle vader gelos en Hom gevolg.

Continue reading

Jesus gaan woon in Kapernaum en preek in Galilea dat die koninkryk van God naby gekom het

Die  fokus is in die volgende gedeelte op Jesus se prediking in Galilea. Jesus se hoofboodskap in hierdie tyd is dat die koninkryk van God naby gekom het. Dit het ‘n dubbele uitwerking.

Aan die een kant roep Jesus mense tot bekering en geloof in Hom. Hy verkondig die goeie nuus van die koninkryk deur sy gesag oor siekte en besetenheid te demonstreer. Dit sluit talle omvattende genesings en die bevryding van demone in. En baie reageer op sy roepstem met bekering en geloof, onder andere sy twaalf apostels.

Dit is egter aan die ander kant ook duidelik dat baie mense nie die roepstem tot bekering en geloof aanvaar nie. Dit sien ‘n mens veral in die skerp teenstand in sy grootword dorp Nasaret. En toenemend sal ons dié gesindheid ook by die Joodse leiers raaksien wat uiteindelik tot Jesus se totale verwerping sal lei.

Met die verkiesing van die twaalf apostels, kry sy bediening daarteenoor egter verdere momentum wanneer Jesus wys hoe geloof in die gemeenskap van gelowiges, wanneer hulle sy Woord as die rigsnoer van hulle lewe neem, gestalte kry .

Jesus spandeer daarom ook baie tyd aan die onderrig van sy dissipels. Hy snoer hulle saam in die stryd vir geregtigheid – persoonlik en publiek – en spel in detail die lewe van geregtigheid en die vrug wat gelowiges dra, in Matteus se Bergrede en Lukas se Vlakterede, uit.

Die dorp Kapernaum is ook nou al hoe meer die basis vir Jesus se bediening.

MATTEUS 4:12-17

Matteus het sy Evangelie begin met Jesus se geslagsregister en geboorte (Matt. 1). Hy het dit opgevolg met ‘n paar peuterverhale gestruktureer rondom die vlug na Egipte en die terugkeer na Nasaret (Matt. 2). Daarna het Matteus oor Johannes die Doper se bediening uitgewy sowel as Jesus se doop (Matt. 3). Dit is opgevolg met die versoeking in die woestyn (Matt. 4:1-11).

Hier begin Jesus dus met sy openbare bediening.

12 Toe Jesus hoor dat Johannes oorgelewer is, het Hy na Galilea vertrek.

13 En Hy het Nasaret verlaat en gaan woon in Kapernaum by die see in die gebied van Sebulon en Naftali.

14 So is vervul wat deur Jesaja die profeet gesê is:

15 “Gebied van Sebulon

en gebied van Naftali,

op die pad na die see,

oorkant die Jordaan,

Galilea, land van die heidene –

16 die volk wat in duisternis woon,

het ’n groot lig gesien,

en vir dié wat in die land

en skaduwee van die dood woon,

het ’n lig opgekom.” (Jes. 8:23-9:1)

17 Van toe af het Jesus begin om te preek en te sê: “Kom tot inkeer, want die koninkryk van die hemele is naby.”

Teks en konteks

4:12 Matteus koppel Jesus se vertrek na Galilea ook aan die einde van Johannes die Doper se bediening, toe hy in die tronk gegooi is.

4:13 Jesus verlaat Nasaret – Matteus sal eers later oor sy (moontlike tweede) verwerping in Nasaret berig (Matt. 13:53-58) – en gaan woon in Kapernaum by die see van Galilea.

4:14-16 Matteus verbind die skuif van Nasaret na Kapernaum, die gebied van Sebulon en Naftali, aan ‘n profesie van Jesaja 8:23-9:1. Die skuif na Kapernaum is dus nie net ‘n praktiese skuif om naby die See van Galilea te wees nie, maar ook die vervulling van die eeueoue profesie van Jesaja oor die Messias.

Sebulon en Naftali se stamgebied was in die gebied van Galilea. Sebulon was die sesde kind van Lea. Sy het van Sebulon gesê: “God het my ’n mooi geskenk gegee; nou sal my man eindelik by my woon, want ek het vir hom ses seuns gebaar.” (Gen 30:20). Naftali was die seun van Ragel deur haar slavin Bilha (Gen 35:25).

Die twee stamme was in die Rigtertyd bekend vir hulle dapperheid in die gevegte teen die Kanaäniete onder leiding van Debora (Rigt 4-5). Hulle is egter saam met die res van die noordelike tien stamme weggevoer met die Assiriese ballingskap in 721 v.C. (2 Kon. 15:29). Dit het beteken dat daar ‘n gemengde bevolking oorgebly het, agtergeblewe Jode en inkommer heidene.

Die feit dat die Messias juis hier sy bediening begin het, was daarom van groot betekenis vir ‘n ontwrigte gebied. Jesus het nou lig gebring vir ‘n volk wat in duisternis woon. Vir hulle wat in die skaduwee van die dood (ballingskap) gewoon het, het ‘n lig (Jesus) nou opgekom.

4:17 Hiermee begin Jesus dus sy bediening in Galilea waarin Hy almal roep tot inkeer, want die koninkryk van die hemele is naby – ‘n geliefde beskrywing van Matteus. Die lig sal die houvas van die duisternis deurbreek. Deur bekering sal Jesus hulle lewens nuut en hoopvol maak.

Betekenis en boodskap

Daar is niemand wat te ver verlore is in die duisternis nie. Die lig van die Messias skyn tot in die diepste duisternis, selfs waar mense in die skaduwee van die dood lewe, en bring nuwe lewe. Sebulon en Naftali was al vir 8 eeue verlore, totdat die tyd vir die Messias aangebreek het, en hulle deur bekering weer ingelyf kon word in die geloofsgemeenskap wat Jesus kom skep het. Watter hoopvolle verhaal!

Onlangse kommentaar