Skip to main content

Tag: Markus

Markus 10:17-45 – Redding uit genade alleen

Markus

Markus sit die tema van die koninkryk van God, en wie daarin welkom sal wees, voort met die verhaal van die ryk jongman.  Dié kom aangehardloop net toe Jesus sy reis na Jerusalem voortsit.  Sy vraag na die verkryging van die ewige lewe verwys letterlik na die ewige lewe as erfenis, wat in die lig van Jesus se naderende dood betekenisvol is.  Hy wil egter nie iets ontvang nie, maar daarvoor iets doen.  Jesus verwys hom dan na die 6 gebooie van die tweede tafel van die tien gebooie, met die 10de gebod effens anders geformuleer: jy mag nie iemand veronreg nie (Jy mag nie iemand anders se huis begeer nie …).

Op die positiewe reaksie van die jongman hierop, dat hy dit van sy kinderdae af doen, vertel Markus ons, het Jesus hom liefgekry en ingenooi in sy dissipelkring, op voorwaarde dat hy ook nog afstand doen van sy besittings, soos die ander dissipels inderdaad ook gedoen het.  Dit het die jongman egter afgeskrik en bedruk laat weggaan, want hy het baie besittings gehad.

Jesus se lering oor ryk mense wat moeilik in die koninkryk van God sal kom, weens hulle verknogtheid aan besittings, laat die dissipels verbaas en uiteindelik ontsteld, omdat dit hulle laat wonder of enigiemand dan gered kan word.  Hulle het gewerk met die idee dat ‘n ryk man eintlik baie meer vir die koninkryk kan doen, en daarom sou verdien om makliker daar in te kon gaan.

Jesus gebruik dan die geleentheid om redding te verbind aan God se werk alleen, want vir Hom is alles moontlik.  Die koninkryk moet as ‘n genadegeskenk van God aanvaar word, soos die kind in die vorige perikoop.  Hiermee gee Jesus ‘n fundamentele teologiese beginsel waarop die hele Reformasie se hervorming sou berus:

Redding deur genade alleen.

Petrus wonder dan hardop oor hulle eie situasie in terme van die koninkryk, en vra Jesus of hulle afstanddoening van werk en familie in berekening gebring word.  Jesus reageer daarop met ‘n positiewe motivering dat hulle nie net uiteindelik die ewige lewe sou kry nie, maar ook in hierdie lewe reeds ‘n oorvloed van familie en eiendom, hoewel dit saam met vervolging sal wees.

Dit wil voorkom asof Jesus begin haastig raak om in Jerusalem te kom, daarom loop Hy voor die dissipels uit tot hulle ontsteltenis.  Dit noop Hom om ‘n derde keer oor sy naderende dood en opstanding met die twaalf te praat.  Hierdie keer doen Hy dit nog meer volledig, en praat spesifiek ook oor die uitlewering aan die heidene wat Hom sal spot en spoeg en slaan (Jes 50:6), maar dat Hy uit die dood sal opstaan.

Die dissipels is egter nog nie klaar gepraat oor wie belangrik is in die koninkryk (na die Verheerliking op die berg episode) nie.  Jakobus en Johannes wil hoor of hulle nie in die komende koninkryk langs Jesus op sy troon kan sit nie.  Jesus beantwoord die vraag tereg deur dit as Sy Vader se besluit uit te spel, hoewel Hy ook erken dat hulle dieselfde lydensbeker as Hyself sal drink.

Die ander dissipels is egter verontwaardig oor die twee seuns van die donder se wedywering vir bevoorregte posisies, waarop Jesus weereens sy lering herhaal dat dié wat eerste wil wees, almal se dienaar moet word, soos Hy inderdaad deur sy eie manier van lewe gewys het.  Let op hoe Jesus se hele roepingsverstaan opgesluit lê in vers 45, dat Hy sy lewe gee as losprys vir baie mense, om hulle uit hulle slawerny aan die sonde los te koop.

Matteus en Lukas

Matteus vertel die verhaal net soos Markus, met klein, maar interessante verskille: hy haal in die plek van die 10de gebod vir Lev 19:18 aan wat eintlik ‘n opsomming van die hele tweede tafel van die wet is, om jou naaste lief te hê soos jouself; vir die ryk jongman voeg hy toe: “As jy volmaak wil wees …”; Hy spel die beloning in die ewige lewe uit as dat die 12 dissipels op 12 trone sal sit en oor die 12 stamme van Israel sal regeer.

Lukas vertel die verhaal ietwat korter met ‘n paar eie stukkies kommentaar: hy praat van “’n man van aansien”, laat die 10de gebod weg, beskryf die jongman as diep teleurgesteld as hy die prys begin bereken en praat in vers 30 net van “baie keer” in plaas van “honderd keer”.

Die derde aankondiging van Jesus se dood word ook net so oorvertel deur Matteus en Lukas, effens korter, met geringe klemverskille, waarvan die grootste Lukas se opmerking is dat die dissipels steeds niks begryp het nie.

Matteus het die interessante wysiging aan die vraag van Jakobus en Johannes deurdat hy dit in die mond van hulle ma plaas.  Sy kniel voor Jesus en vra Hom as ‘n guns dat hulle trone langs Jesus s’n sal wees.  Hulle is immers deel van die binnekring, sou ‘n mens namens haar wou redeneer!  Tog antwoord Jesus haar nie direk nie, maar praat direk met die twee dissipels.  Lukas vertel nie die verhaal nie.

Markus 9:49-10:16 – Jesus vra getrouheid aan Hom en lojaliteit aan mekaar

Markus

Jesus se lering oor die gevaar van afvalligheid word voortgesit met die unieke uitdrukking:  “Elkeen sal met vuur gesout word en elke offerande sal met sout  gesout word”, wat vertaal word met “Almal sal met die vuur van beproewing gelouter word.”  Die Jode sou weet dat dit die gebruik was om alle offers te sout (Lev 2:13; Eseg 43:24).  Hier word die offeraar egter ook met vuur gesout.  Jesus gebruik dus die beeld om na die lyding en loutering van die dissipels te verwys (1 Pet 1:7; 4:12 – vgl ook Matt 3:11) as hulle regtig getrou aan Hom wil bly. Let ook op hoe die beeld van vuur terugverwys na die vuur van Gehenna in die vorige perikoop.  Dit is óf die vuur van die hel óf die vuur van loutering – dié een is ewig, die ander tydelik.

Maar tog moet die dissipels ook sout wees.  En soos die sout van die Dooie See soms sy soutgehalte verloor het, moet hulle waak daarteen om nie bv. deur te wonder wie nou die belangrikste sal wees nie, in onvrede met mekaar te lewe nie en hulle effektiwiteit te verloor nie.  Jesus roep sy mense daarmee op om soos sout te wees, lewe te gee in die wêreld, en met mekaar in vrede te lewe.

Dit loop uit op die lering van ‘n verdere gevaar, die gevaar van egskeiding.  Jesus is op pad na Judea oorkant die Jordaan en leer weereens die skares sowel as die Fariseërs, wat hom hierdie keer op die proef probeer stel met die vraag na egskeiding.  Hy sou nooit weer na Galilea terugkeer nie.  Jesus verwys eers na hulle brondokument, Moses se wet, en verklaar Moses se toegewing rondom ‘n egskeidingsbrief as iets wat God toegelaat het weens die hardheid van hulle harte.  Eintlik het Moses se reëling die vrou beskerm sodat daar nie vanweë allerlei onbelangrike sake tot egskeiding oorgegaan kon word  nie.

Van die skepping af geld egter die reël dat wie God saamgevoeg het, nie deur ‘n mens geskei mag word nie met verwysing na Gen 1:27 en 2:24.  Jesus verklaar die kwessie oor egskeiding hiermee as ‘n geestelike saak, en nie net ‘n wetlike soos die Jode daarmee gehandel het nie.  Waar die soeklig in lyding geval het op getrouheid in die vuur van beproewing, val die soeklig hier op lojaliteit in die huwelik.  Vrouens mag nie soos ‘n besitting gereken word, wat jy met ‘n transaksie in of uit jou lewe gereël het nie, maar as ‘n lewensmaat.  Met hierdie uitspraak verklaar hy egter ook implisiet dat Herodes ook skuldig is aan egbreuk, soos Johannes die Doper ook gedoen het en met sy lewe daarvoor geboet het.  En dit is deur Herodes se gebied waardeur hy waarskynlik op dié stadium reis, en laat ‘n mens wonder in watter mate dit later ‘n rol gespeel het in die afwysende houding van Herodes en sy volgelinge met Jesus se verhoor.  (Jesus noem hom ‘n jakkals in Lukas 13.)

Weereens is daar ‘n private gesprek van die dissipels met Jesus in die huis waarin hy nie net egbreuk deur mans  afkeur nie, maar ook egbreuk wat deur vrouens gepleeg word.  Dit was immers in Joodse geledere die geval dat normaalweg net die mans van hulle vrouens kon skei en nie baie min andersom, hoewel die Grieke en Romeine ander reëlings gehad het.  Maar, omdat dit bekend was dat Herodias, anders as die Joodse gebruik, van haar man geskei het, sluit Jesus vroue ook nou in sy egskeidingsreëling.

Hierdie kompromielose siening van Jesus moet gesien word in die lig van 1) die skeppingswil van God wat mense gemaak het om lewensmaats vir mekaar te wees, en 2) die hoë standaard wat Hy van sy dissipels verwag, om net so lojaal aan mekaar te wees in die huwelik as wat hulle aan God self is.  Daarin hoor mens alreeds die opsomming van die wet weerklink, om God en jou naaste soos jouself lief te hê, dws ook jou maat.

Weer word kindertjies ingebring in die teenwoordigheid van Jesus, hierdie keer deur die skare, wat wou hê dat Hy hulle aanraak.  Die dissipels het met die mense daaroor geraas, maar Jesus was verontwaardig en gesê dat kindertjies na Hom toe mag kom, want die koninkryk van God is juis vir mense soos hulle.  Daarby verseker Hy almal teenwoordig dat die koninkryk van God soos ‘n kindjie ontvang moet word.  Vertroue op God eerder as groot insig was vir Hom belangrik.  Hy het sy arms om hulle gesit, hulle die hande opgelê en hulle geseën.  (Vergelyk die evangelie van Thomas 22 vir ‘n gnostiese mistiese parallel.)

Matteus en Lukas

Matteus voeg die frase by dat die sout niks werd word as dit verslaan is, dws sy krag verloor het.  Dit word buite weggegooi en word vertrap.  Lukas brei daarop uit en sê dat dit nie eers bruikbaar is vir die grond of vir die mishoop nie, en voeg die veelseggende frase by: “Wie ore het om te hoor, moet luister!”

Matteus en Lukas plaas die gesprek oor die egskeiding in die konteks van die Bergrede/Vlakterede, met Lukas wat net ‘n kort verwysing daarheen het, maar wel  ‘n ekstra gevolg van egskeiding uitspel, dat iemand wat met ‘n geskeide vrou trou, ook egbreuk pleeg.  Matteus bly by Markus se motivering, maar lê dit ook uit met ‘n ekstra gevolg van egskeiding, dat die vrou met wie ‘n man egskei, behalwe waar sy owerspel gepleeg het, deur die man se aksies as egbreker gereken sal word.

Hoewel die orde van die vertelling verskil met Markus se weergawe, is die detail min of meer dieselfde, met onder andere die klem op die rol van owerspel wat bygevoeg word, waar Markus nie daaroor praat nie

Die verhaal van Jesus wat die kindertjies seën word effens korter vertel deur Matteus en Lukas, met Matteus wat ook byvoeg dat die mense die kindertjies na Jesus gebring het dat Hy vir hulle kan bid.

Markus 4:30-41 – Het julle dan nie geloof nie?

Markus

Die eerste twee perikope vandag is baie bekend.  1) Die mosterdsaadjie is spreekwoordelik die kleinste groentesaad, maar word ‘n boom wat tot 3 meter hoog groei (vgl Eseg 31:6 wat ‘n soortgelyke beeld gebruik vir die koninkryk van die Assiriërs).  Só is die koninkryk van God – dit begin klein, maar word ‘n groot gemeenskap wat baie mense insluit. 2) Die mededeling oor die gebruik van die gelykenisse maak die punt dat persoonlike onderrig noodsaaklik was vir ware begrip.  Daarom dat Jesus soveel tyd alleen met die dissipels spandeer het.

Die volgende perikoop is die eerste van vier wonderverhale van Jesus: die stilmaak van die storm, die genesing van die besetene, die genesing van die vrou, en die genesing van Jaïrus se dogtertjie.

Wat my aanspreek in die verhaal van die storm op die see, is die vraag van Jesus aan die dissipels, wanneer Hy die storm stilmaak: “Waarom is julle bang?  Het julle dan nie geloof nie?” (vers 40).  Dit wil voorkom asof die dissipels, ten spyte van al die wonderwerke wat Jesus al gedoen het, nog steeds vir Jesus onderskat het, en nie rekening gehou het met Wie Hy is, en wat Hy kan doen nie.  Hoe ironies!  Hy is immers die God waarvan die Psalms sê, dat Hy die golwe van die see kan laat bedaar (Ps 65:8; 89:10).

Dit laat my wonder oor myself – of ek nie baie keer aan dieselfde onderskattingsindroom ly nie! In Jesus is ek immers in die teenwoordigheid van God self!  Dit is die basis waarop my gebede moet berus.  En dit is die basis vanwaar ek my roeping moet uitvoer.  God is aan die werk in die lewe, selfs in die wind en die weer.

Let op hoe die dissipels se vrees (in Grieks deilos) vir die storm verander in ‘n vrees (in Grieks phobeô – ontsag) vir Jesus, Hy vir wie selfs die wind en die see moet luister.  Daarmee roep Jesus ons almal op om (paradoksaal) vreesloos op Hom te vertrou, vanuit ons ontsag vir Hom.

Ekstra inligting: Die See van Galilea is 18 x 9 km groot, en omdat dit 210 m laer as seevlak lê, en daar heelwat berge en klowe daar rondom is, bekend vir sy winde wat skielik opsteek en sterk kan waai.

Ekstra leeswerk: Lees Jona 1 en vergelyk Jona se slapery (1:5) met Jesus s’n.  Wat is die ooreenkomste en wat die verskille?  Jesus slaap in vertroue en sekerheid en Jona in ontvlugting en vertwyfeling.  Jesus word ook verwyt soos Jona vir hulle slapery, maar waar Jona gevra word om te bid, bestraf Jesus egter self die wind en die see (in dieselfde taal as wat hy met die duiwels gehandel het – bv. 1:25).  Die parallel wys dat Jesus groter is as Jona (vgl Matt 12:41), dat Hy God self is.

Ander evangelies

Matteus en Lukas verkort Markus se weergawe van die gelykenis van die mosterdsaadjie, maar voeg daaraan toe die gelykenis van die suurdeeg.  Lukas laat die mededeling oor die gebruik van die gelykenisse weg, terwyl Matteus interessant genoeg Psalm 78:2 van Asaf (hy noem hom ‘n profeet) aanhaal om die punt van die mededeling nog verder te onderstreep, dat God gelykenisse gebruik as Hy praat, en dat Hy geheime op die manier bekend maak.

Beide Matteus en Lukas gee die verhaal van die storm wat stilgemaak word in hulle eie woorde weer.  Die dissipels se vrees word bv. nie as verwyte vertel, soos Markus se weergawe nie, maar die breë lyne van die verhaal bly dieselfde: die vaart op die see, die storm, Jesus wat slaap, hulle vrees, Jesus wat wakker gemaak word en die storm stilmaak, sy vraag na hulle geloof en hulle verbasing en verwondering oor Wie Hy is.

WEEK 2: Markus 1:1-3:6 – Proloog en Deel 1: Bekendstelling

Hierdie week lees ons Markus 1:1-3:6 – die Proloog en Deel 1 van die evangelie, die Bekendstelling van Jesus Christus.

Ek gaan dit oor die volgende 5 dae as volg lees:

  • Donderdag: Markus 1:1-8
  • Vrydag: Markus 1:9-20
  • Maandag: Markus 1:21-39
  • Dinsdag: Markus 1:40-2:17
  • Woensdag: Markus 2:18-3:6

Oorsigtelik die volgende opmerkings:

  • Let op hoe al die hooflyne van Markus se evangelie reeds in die begin aangekondig word: die goeie nuus van Jesus wat verbind word met die OT beloftes in Jesaja, die bekendstelling van Jesus deur Johannes die Doper as die Here, sy versoeking in die woestyn en en die begin van sy bediening in Galilea wat die koninkryk in aanskyn roep.
  • Let ook op hoe Jesus se publieke bediening van die begin af ‘n impak maak op drie groepe, die skares, die geroepe dissipels en die godsdienstige en politieke leiers (beskryf in vyf kort verhale).

ONTHOU: Daar gaan meesal meer as een post per dag wees.  Soms is die perikope só ryk aan betekenis óf so verskillend in inhoud, dat ek dit in aparte posts hanteer.  Sommige dae sal daar ook ekstra inligting wees, bv. ‘n vergelyking van die verskillende lyste van die apostels, of ‘n antwoord op ‘n vraag wat iemand vra.  Kyk dus elke weeksdag dat jy elke post lees wat gepubliseer is.

Markus in vergelyking met die ander evangelies

Ek het gister geskryf oor die boodskap van Markus.

Net om dit te vergelyk met die ander sinoptiese evangelies:

  • Matteus (apostel?) vertel die storie van Jesus aan Joodse Christene wat ‘n verbintenis het aan die Groot Opdrag aan die heidene.  Heel moontlik is dit geskrywe in Antiochië in die 70’s n.C.  Die storie van Jesus van geboorte tot Groot Opdrag sluit groot blokke van sy leringe in en stel Jesus voor as die Seun van God, die Messiaanse Koning van die Jode, wie se boodskap vir alle mense bedoel is. Die kerk is vir hom die familie van God (broers en susters vir mekaar).
  • Lukas (‘n dokter wat Paulus soms vergesel het – Kol 4:14 – die enigste “heidense” outeur in die Bybel) vertel die storie van die redding van Israel wat Jesus (en die Gees in Handelinge) bring.  Dit is heel moontlik na die val van Jerusalem in 70 n.C. geskrywe aan Christene uit die heidense nasies. Dit word gerig aan Teofilus, andersins onbekend, wat heel moontlik die publikasie onderskryf het.  Lukas plaas die verhaal in die konteks van die wêreldgeskiedenis en sluit die voortgaande bediening van die Gees in die kerk van die begin af in.  Die kerk is vir hom die plek waar alle Jode welkom is, daarom word bv. spesifiek aandag gegee aan die stories van vroue.
  • En natuurlik moet ons nie vergeet dat Handelinge deel twee is van Lukas, wat die storie van redding deur Jesus vertel soos dit deur die Gees en die kerk voortgesit word van Jerusalem af tot in Rome.  Die kerk is vir Hom die plek waar mense uit alle kulture welkom is (akkulturasie), maar ook deur die evangelie verander word (inkarnasie).  Vergelyk bv. Paulus in gesprek met die Epikureërs en Stoïsyne in Atene (Hand 17 – kyk by punt 3.3.2).

Lees hier meer oor die wyse waarop die Bybel as kanon tot stand gekom het.

Onlangse kommentaar

  • Chris van Wyk on Psalm 119:169-176Absoluut!
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:169-176Psalm 119 is voorwaar ñ baie Geseënde Psalm
  • Chris van Wyk on Psalm 119:145-152Dis self opnuut weer ‘n vreugde vir my.
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:145-152Ek was altyd baie langtand om Ps 119 aan te durf, nou wens ek dat dit nie ophou nie... Ps 119 is te kort!!! PDH
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:105-112Goeie middag, baie dankie vir die deel van die kosbare verhaal wat so gepas is met die Psalm
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:1-8Sien waarlik die nou verband tussen OT EN NT. waarlik verhelderend. אמן
  • Chris van Wyk on Psalm 118:19-29Ek gee maar net aan wat ek ontvang het. Dit bly egter 'n kosbare voorreg.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 118:19-29Goeie môre, baie dankie dat u met ons deel wie en waar die vertaaling van die Bybel sy oorsprong gekry het, dit is so kosbaar, baie dankie vir een en elkeen wat deel is en was om hierdie kosbare woord ook vir ons in ons Taal te kon uitlê
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 110Baie dankie vir hierdie kosbaarhede wat u met ons deel. Ek het Openbaring 22 gelees en dit klink baie soos die tuin van Eden, hy praat van die boom van lewe. Die sondeval gemaak dat die mens gesondig het en dat hul nie meer in die tuin kon woon nie asgevolg van die sonde.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 109:6-19Goeie middag, ek wil ook by las dat in Psalm 139:23 bid David;"Deurgrond my, O GOD, en ken my hart, toets my en ken my gedagtes" GOD ken die mens en HY deersoek die hart en die gedagtes. Ek het self al telkens gebid, HERE vergewe hulle want hulle weet nie wat hulle doen nie en dan soos die woord sel…
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:33-38Baie dankie vir hierdie verduideliking. Ons lees die eerste keer van Baäl-Peor in Numeri 25. Baäl was die Kanaänitiese god van vrugbaarheid, terwyl Peor verwys na die berg in Moab waar hy onder andere aanbid is. Hy is ook in Kanaän aanbid en was 'n groot versoeking vir die Israeliete met hulle vesti…
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:33-38GOD is so goeie GOD. HY gee vir ons die voorskrifte vanaf Deut. 28 en dan volg HY dit ook op in Psalm 107 en sê as ons net doen wat HY ons beveel sal dit met ons goed gaan en ons geseënd wees, nie oor ons nie, maar oor GOD en wie HY is.
  • Chris van Wyk on Psalm 106:43-48Ons lees die eerste keer van Baäl-Peor in Numeri 25. Baäl was die Kanaänitiese god van vrugbaarheid, terwyl Peor verwys na die berg in Moab waar hy onder andere aanbid is. Hy is ook in Kanaän aanbid en was 'n groot versoeking vir die Israeliete met hulle vestiging in die Beloofde Land.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:1-9Psalm 1:1 Stel dit so mooi hoe ons, ons pad moet hou en dat ons moet hou en bly by GOD se gebooie
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 106:43-48Goeie naand, Psalm 106: 28 Kan u asb vir my verduidelik wat Baâlpeor is ? Baie dankie Amanda