Skip to main content

Tag: Markus

Markus 13:1-23 – Rampe en Vervolginge en die groot verdrukking

Markus (Matteus en Lukas)

Dit is belangrik om die profesieë oor Jerusalem in die konteks van die eindtyd te verstaan. Sommige profesieë rondom Jerusalem is in die leeftyd van die dissipels bewaarheid.  Ander wag nog steeds om finale vervulling.  Matteus sê dit baie helder ”wat sal die teken van u koms en van die einde van die wêreld wees?”

In 5 dele lig Jesus die gordyn oor die toekoms:

1.  Rampe en Vervolginge

Die Olyfberg is aan die oostekant van die stad geleë.  Jesus lewer hierdie profetiese rede terwyl hulle na die tempel kan kyk.  Die klippe waarvan die tempel gebou is, was regtig besonders.  Een klip wat opgegrawe is, was 4x6x12 meter groot.  Die tempel was op dié stadium nog nie eers voltooi nie.  Bouwerk het in 15 vC ‘n aanvang geneem onder Herodes die Grote en is in 64 nC (International Standard Bible Encyclopedia) eers finaal voltooi – ironies genoeg, net voor dit vernietig is in 70 nC deur keiser Titus.

Die tempel, sê Jesus, sal afgebreek word, klippe en al, sowel as die “gewyde geskenke” daarbinne vernietig word (Lukas).  Daar is nie meer ‘n omkeer moontlik vir Jerusalem nie.  Let op hoe die eerste geroepe dissipels, twee pare broers – hier in ‘n ander volgorde as in Markus 1:16-20 genoem – met Jesus in gesprek is.  Matteus en Lukas het dit dat al die dissipels hierna geluister het.

Jesus het klaar gepraat met die skares en die Joodse Raad en sal hulle eers weer met die verhoor en kruisiging ontmoet.  Op die dissipels se vraag na die tyd en teken van die vernietiging, gee Jesus twee antwoorde:

  1. Hulle moet versigtig wees vir misleiding oor Jesus self.  Mense sal voorgee hulle is Hy.  Die begeleidende tekens van die eindtyd: oorloë, hongersnood en aardbewings (Lukas voeg epidemies by) moet hulle nie verskrik nie.  Dit is geboortepyne van die nuwe tyd wat kom.
  2. Hulle moet versigtig wees vir wat met hulleself kan gebeur in teenstand. Hulle sal geregtiglik, godsdienstig en polities vervolg word.  Maar dit alles sal as getuienis vir Jesus dien en deel wees van die verkondiging van die evangelie aan alle nasies.

As bemoediging en motivering praat Hy oor die wysheid wat die Heilige Gees vir hulle in dié situasies sal gee, soos ook letterlik gebeur het voor die Joodse Raad in Handelinge 4.  Matteus praat nie hieroor in hierdie konteks nie, terwyl Lukas verder uitbrei daaroor en aan Jesus self koppel: “Ek sal vir julle die woorde en die wysheid gee …”.  Dit wys op die integrale eenheid tussen Jesus en die Gees.

Jesus waarsku egter ook dat die vervolging ook teenstand binne families sal insluit (vgl Mark 3:31!), en bemoedig hulle om tot die einde te volhard, al sluit dit die dood in.  Lukas het ‘n interessante byvoeging: “daar sal nie eens ‘n haar van julle kop af val nie,” waarmee Hy heel moontlik bedoel dat hulle steeds in die hande van God sal wees, en nie uit hulle verhouding met Hom geruk sal word nie, dws dat hulle nie geestelik deur fisiese lyding en die dood sal skade ly nie.  Kyk ook na Luk 12:8 vir ‘n soortgelyke stelling, waar duidelik gesê word dat die fisiese dood nie ‘n ewige skade aan gelowiges kan berokken nie. Paulus gebruik ook ‘n variasie van die stelling in Hand 27:34.  Daar word dit egter letterlik bedoel.

2. Die groot verdrukking

Jesus se visier verskuif na die tyd van die tempel vernietiging self.  Sy raad aan gelowiges is om in daardie tyd te vlug, omdat dit ‘n tyd van groot verdrukking sal wees.  As teken van die verwoesting wat kom, sal “die ding wat ‘n gruwel is vir God” op die “plek waar hy nie moet wees nie”, dws die tempel, opgerig word.  Weereens waarsku Jesus teen vals christusse en vals profete waarvoor hulle op hulle hoede moet wees.

Matteus verbind hierdie gebeure aan die soortgelyke gebeure wat in Daniël se profesie voorspel is, waar ook van die gruwelike ding gepraat word wat in die “heilige plek” opgerig sal word (Dan 12:11 – dit is vervul in 168 vC met die Siriese Antiogus Epifanes IV se altaar aan Zeus wat in die tempel opgerig is – 1 Makkabeërs 1:54,59).  Hy verduidelik verder dat die valse christusse en profete se aansprake getoets kan word aan die lokale en geheime aard daarvan, iemand moet jou inlig oor die detail: in die woestyn of in die slaapkamer.  Die koms van die Seun van die mens sal egter oombliklik, publiek en globaal sigbaar wees, soos ‘n weerligstraal wat van oos na wes alles verlig.

Dit is moontlik om hier ‘n verdere betekenis in te lees, dat hier van die eindtyd en die wederkoms gepraat word, soos baie geleerdes doen, veral as jy dit met ander eskatologiese gedeeltes vergelyk (bv. 2 Tess 2, waar van die Antichris gepraat word wat in die tempel sy troon sal oprig).  ‘n Mens moet egter onthou dat die profesie vir die dissipels egter iets was wat in hulle leeftyd betekenis gehad het.  Dit was duidelik voorop in Markus se oorvertelling hiervan, heel moontlik net ‘n paar jaar voor dit inderdaad in vervulling gegaan het.

Lukas vertel nie van die tempel ontheiliging, maar wel van leërs wat Jerusalem sal omsingel.  Hy verbind die verdrukking aan God se straf oor hierdie volk, wat Hy deur die heidennasies sal uitvoer.  Lukas gee dus ook duidelik ‘n Joodse interpretasie aan hierdie verdrukking wat direk met die gebeure in 70 nC verbind kan word.

Markus 12:38-44 – Die arm weduwee se gawe

Markus

In hierdie kort paar verse, voor ons môre die profetiese rede begin lees, kontrasteer Jesus die skyn en huigelary van die skrifgeleerdes met die opregte oorgawe van die arm weduwee met haar gawe by die offergawekis.

Alles wat die skrifgeleerdes doen, is gemik op ‘n sosiale – en gemeenskap impak: klere, sitposisies en gebede (vgl Luk 18 vir die kontras tussen die gebed van die Fariseër en die tollenaar). Agter die skerms doen hulle egter kwaad, deur die huise van weduwees in te palm.  Omdat hulle nie vergoeding vir hulle dienste gekry het nie, het hulle blykbaar geteer op die gunste en gawes van mense, onder andere op dié van weduwees.  Dit is ook heel moontlik dat hulle met die regsprosesse van die boedels van weduwees betrokke was en hulle daardeur kon benadeel het (Fitzmyer).

Die arm weduwee, wat waarskynlik ook deur die skrifgeleerdes ingeloop is, kom gooi egter uit haar gebrek alles wat sy het in die offergawekis.  128 van dié muntstukkies was die dagloon van ‘n arbeider.  Dit was dus uiters min en kon volgens sommige ‘n handvol meel vir ‘n eenvoudige maal bekostig.  Sy gee egter wat sy het, in ‘n sekere sin haar lewe, en al weet sy ook haar gawe sal deur die Joodse Raad gebruik word, gee sy dit steeds, omdat sy aan God getrou wil bly.  Dit is dié tipe gelowiges op wie Jesus fokus en by wie se lot Hy betrokke raak.

Matteus en Lukas

Matteus het ‘n uitgebreide rede van Jesus oor die skrifgeleerdes wat uitbrei oor hulle slegte voorbeeld wat die dissipels soos die pes moet vermy.  Jesus spreek ‘n verdoemende oordeel oor hulle.  Matteus het egter nie die verhaal van die arm weduwee nie.  Lukas volg Markus se weergawe van albei verhale.

Markus 11:27-12:37 – Jesus se intellek en wysheid is te veel vir die Joodse Raad

Oorsig oor vandag se perikope

Let op hoe Markus ons vandag van die interaksie van drie groepe met Jesus vertel wat uiteindelik tot sy dood sou lei:

  1. Die priesterhoofde, skrifgeleerdes en familiehoofde (hulle vorm die hele Joodse Raad of Sanhedrin [Romeinse titel] van 71 lede – 15:2) – nadat hulle van die tempelreiniging gehoor het (11:18) vra hulle Jesus uit oor die gesag (11:28) waarmee Hy dié dinge doen, waarop Hy hulle met ‘n gelykenis antwoord wat ‘n verdoemende oordeel oor hulle uitspreek, sowel as om hulle te herinner aan wat die grootste gebod is (in ‘n gesprek met een skrifgeleerde – 12:28).  Vir die eerste keer verstaan hulle ‘n gelykenis, maar vul dit hulle met wrewel!  Dit is met dié groep dat Judas Iskariot uiteindelik saamspan om Jesus te verraai (14:10, 43) en in die saamgeflanste verhoor te veroordeel (14:53, 55).  Onthou egter dat nie alle lede van die Joodse Raad boos was nie: Josef van Arimatea, ‘n vooraanstaande lid van die Joodse Raad, reël bv. Jesus se begrafnis (15:43).
  2. Die Fariseërs en Herodiane – hulle konkel reeds saam sedert die genesing van die man met die gebreklike hand op ‘n sabbatdag in die sinagoge in Kapernaum (3:1-6) en probeer Jesus hier vastrek met ‘n vraag oor belasting (12:13).   Die Fariseërs was skrifgeleerdes waarvan sommige ook in die Joodse Raad gedien het.  Die Herodiane weer was volgelinge van koning Herodes, wat ‘n politieke betekenis aan die vraag oor belasting gee.
  3. Die Sadduseërs – hulle was die meerderheid in die Joodse Raad (Hand 23:6) en het die opstanding uit die dood ontken.  Dit is betekenisvol dat die hoëpriester een van hulle was (Hand 5:17).  Hulle probeer Jesus vasvra met ‘n vraag oor die lewe na die dood (12:18).

Na die drie groot gesprekke fokus Markus op die vraag van ‘n skrifgeleerde aan Jesus oor die grootste gebod in die Skrif (12:28) en Jesus wat die leringe van die skrifgeleerdes analiseer (12:35 en 38 [môre]).

Markus

Jesus oornag hierdie laaste week van sy lewe in Betanië terwyl hy dag vir dag in die tempel optree en met die skare en hulle leiers in gesprek tree.  Dit lyk aanvanklik asof Jesus die vraag van die Joodse Raad oor die gesag waarmee Hy in die tempel optree, ontwyk met sy teenvraag (‘n rabbynse manier van argumentasie), deur hulle uit te daag om eerlik te wees oor wat hulle van Johannes die Doper se gesag dink.  Omdat hulle bang is vir die mense, wil hulle nie hulleself tot ‘n uitspraak verbind nie.

Maar dit word gou duidelik dat Jesus met die gelykenis van die bose optrede van die boere in die eienaar se wingerd (vgl Jes 5 waar Israel as ‘n wingerd beskrywe word) hulle ontmasker as mense wat God se gesag uitdaag en deur Hom geoordeel sal word.  Met die metafoor van die afgekeurde klip (Hyself) wat die belangrikste klip in die gebou word, profeteer Jesus die uitkoms van sy naderende dood aan hulle hand, asook sy opstanding (vgl ook Hand 4:11-12 waar Petrus dieselfde teks aanhaal vir die Joodse Raad).  En, interessant genoeg, vang hulle die sinspeling op hulleself, met die verwagte gevolge: hulle soek ‘n plan om Hom te laat vang, ‘n plan waaraan Judas uiteindelik meewerk.  Hulle oë begin dus oopgaan, maar hulle hou nie van wat hulle sien nie.

In opdrag van die Joodse Raad probeer ‘n paar Fariseërs en Herodiane Hom in ‘n strik vang met die vraag oor belasting (die Romeinse belasting dateer uit 6 nC, toe Judea ‘n Romeinse provinsie geword het).  Let op die godsdienstige vleitaal wat die gelaaide politiese vraag verberg – Herodes kon immers net op die guns van die keiser regeer.  Jesus weet egter dat hulle huigel en gee ‘n briljante regverdige antwoord: “Gee aan die keiser wat aan die keiser behoort, en aan God wat aan God behoort.”

Nog is het einde niet.  Die grootste groep in die Joodse Raad, die Sadduseërs, konfronteer Hom met ‘n vraag oor die huwelikstatus in die hiernamaals van ‘n vrou wat met sewe broers getroud was (die sogenaamde swaershuwelik), hoewel hulle natuurlik self nie in die opstanding geglo het nie.  Die rede vir dié siening was dat daar geen direkte verwysings na die lewe na die dood in die Pentateug (die eerste 5 boeke van die OT) was nie, en dié 5 boeke al Skrif was wat hulle as gesaghebbend aanvaar het.  Jesus ontbloot met sy antwoord hulle swak Skrifkennis sowel as hulle onderskatting van die krag van God.  Interessant is dat Jesus dan juis ‘n teks aanhaal uit die Pentateug (Eks 3:6), wat getuig van ‘n lewe na die dood, om hulle verkeerd te bewys.

‘n Skrifgeleerde staan dan nader baie beïndruk met Jesus se goeie antwoord en vra dan Jesus se mening oor wat die heel grootste gebod is.  Volgens een telling het die skrifgeleerdes 613 wette uit die Pentateug opgeteken!  Jesus haal dan die Shema (die belangrikste gebed van die Jode, wat onder andere elke sabbat in die sinagoge gelees is) uit Deuteronomium 6:4-5 aan, ‘n samevatting van die eerste tafel van die wet,  met die byvoeging van “met jou hele verstand”, wat moontlik kan terugwys op die Sadduseërs se gebrekkige kennis.  Daarby voeg Hy die gebod uit Levitikus 19:18  dat jy jou naaste moet liefhê soos jouself, wat ‘n opsomming is van die tweede tafel van die wet.

Die skrifgeleerde is nog meer beïndruk met dié antwoord van Jesus, soveel so dat hy Jesus se antwoord eintlik volledig herhaal, waarin hy die Shema se “hart, siel en krag” verander na “hart, denke en krag” op voetspoor van Jesus se beklemtoning van verstand.  En voeg daarby dat dit van meer belang is as al die Joodse offers (vgl Hos 6:6).

Jesus reageer met groot waardering vir sy verstandige antwoord: “Jy is nie ver van die koninkryk van God af nie.” ‘n Mens wens Markus het meer detail hieroor verskaf, dat ‘n mens die uitkoms van dié gesprek in die lewe van die skrifgeleerde te wete kon kom!  Maar niemand het hierna gewaag om Jesus verdere vrae te vra.  Jesus se intellek en wysheid was net te veel.

Die gesprekke draai nou om, deurdat mense nie meer vir Jesus vrae vra nie, maar Hy die geleentheid begin gebruik om hulle te leer, onder andere oor hoe ‘n mens Psalm 110 se uitspraak oor die seun van Dawid moet verstaan (vgl Bartimeus in 10:47).

Matteus en Lukas

Matteus en Lukas stem grootliks ooreen met die vertelling van Markus oor Jesus se gesag, met Lukas wat ‘n interessante ander inleiding het dat Jesus besig was om die evangelie aan die volk te verkondig, toe die Joodse Raad met Hom in gesprek getree het.

Met die vertelling van die gelykenis is daar egter groter en interessante verskille.

Matteus praat van die eienaar as ‘n grondbesitter en praat van meer as een slaaf wat op ‘n keer na die wingerd gegaan het om van die oes te gaan haal.  Hulle lot word ook verskillend beskryf: sommige geslaan, ander doodgemaak, ander gestenig.  Waar Markus die antwoord op die vraag aan die einde van die gelykenis in die mond van Jesus plaas, plaas Matteus dit in die mond van die Joodse Raad.  Jesus identifiseer ook, in Matteus se weergawe, die Joodse volk as die mense op wie die gelykenis betrekking het””die koninkryk van God sal van julle weggeneem word en aan ‘n volk (sal) gegee word wat die vrugte daarvan sal lewer.” (vgl Jes 5)

Lukas weer vertel net dat die seun in die gelykenis doodgemaak is.  Interessant is dat hy ook soos Matteus die antwoord op die vraag aan die einde van die gelykenis in die monde van die gehoor plaas.  Hulle reaksie is egter anders as met Matteus en Markus se weergawe: “Nee, dit moenie gebeur nie!”

Met die vraag oor die betaal van belasting volg Matteus die weergawe van Markus redelik getrou.  Lukas plaas dié vraag egter in die monde van “geheime agente” wat Jesus eintlik by die goewerneur wil aankla.

Met die vraag van die Saddusëers oor die opstanding volg Matteus ook die weergawe van Markus redelik getrou.  Lukas herskryf dit egter en gee ‘n meer uitvoerige lering van Jesus oor die toekomstige wêreld weer, hoewel dit steeds in breë trekke dieselfde basiese inhoud as Markus s’n vertoon.

Met die vraag oor die grootste gebod is daar ook detail verskille.  Matteus en Lukas plaas dit in die konteks van ‘n vastrek vraag, terwyl Markus Jesus as baie beïndruk met die vraagsteller voorstel.  Lukas plaas die verhaal ook vroeër in die bediening van Jesus, en as ‘n vraag na die beërwing van die ewige lewe, waaraan hy die verhaal van die barmhartige Samaritaan koppel.  Beide Matteus en Lukas laat die eerste deel van die Shema weg, en Matteus ook die verwysing na krag.  Albei het egter die byvoeging van Jesus dat ‘n mens God met jou verstand moet liefhê.  Matteus vertel hierdie uitspraak van Jesus as ‘n samevatting ook van die profete, dws die hele Skrif, en nie net die wet nie.

Matteus plaas die gesprek oor die seun van Dawid in ‘n gesprek met die Fariseërs, wat baie meer sin uit die gedeelte in Markus maak.  Jesus vra volgens Matteus die Fariseërs wie se seun die Christus is, waarop hulle antwoord Dawid s’n. Jesus se aanhaling van Psalm 110 dat die Messias nie net Dawid se seun is nie, maar ook sy Here, snoer vir goed hulle monde.  Hulle sou Hom moes doodmaak om Hom stil te kry.

Markus 10:46-11:25 – ‘n huis van gebed vir die nasies

Markus

Jesus se reis na Jerusalem neem Hom deur Jerigo waar Hy die blinde bedelaar, Bartimeus genees.  Dit tref my met hoeveel oorgawe Bartimeus na Jesus roep, hoe hy Hom as die Seun van Dawid, die Messias, eien, en nie afgesit word deur die mense wat hom wil stilmaak nie.  “Hou moed!” is die skare, wat nou saam met Jesus reis, heel moontlik op pad na die Paasfees, se raad toe Jesus van hom begin notisie neem, en Jesus sluit dan ook aan by die man se vertroue (Jes 35:5; 42:7) in Hom: “Jou geloof het jou gered.”

Let op hoe Jesus hierdie versoek van die blinde man toestaan, terwyl Hy nie Johannes en Jakobus se versoek toestaan om op die trone langs Jesus in die oordeelsdag te sit nie.  Die man se versoek is gebaseer op die Messiaanse belofte van Jesaja, terwyl die twee dissipels se versoek gebaseer is op hulle eie behoefte aan status en voorrang in die koninkryk.  Die motivering en grond vir hulle versoek verskil dus radikaal en bepaal die uitkoms daarvan.  Jesus gee die een en weier die ander.

Dit tref my ook hoe Bartimeus onmiddellik ‘n volgeling van Jesus word.  Daarby het hierdie laaste wonder van Jesus, wat Markus vertel, simboliese betekenis: Jesus het gekom om die volk van hulle blindheid te verlos – Hy illustreer dit met die genesing van Bartimeus – maar soos ons sal sien, weier hulle om tot insig te kom.

Met die Intog in Jerusalem val dit my op hoe Jesus ‘n donkie opkommandeer, met die belofte om dit terug te stuur.  Met die begeleidende lofprysing van die skare, onder andere uit Psalm 118, kom Jesus Jerusalem binne en gaan eerste van alles na die tempel toe waar Hy alles daar bekyk.  Dit laat ‘n mens in afwagting vir die tempelreiniging wat gaan kom.

Die verhaal van die tempelreiniging is ingebed in die vreemde storie van die vyeboom (interessant, Betfage beteken letterlik “huis van vye”) wat Jesus vervloek omdat dit nie vrugte dra nie, al is dit nie vyetyd nie.  Die vervloeking vind plaas net voor die tempelreiniging en die uitwerking daarvan word daarna sigbaar.

Ter agtergrond – vyebome dra twee keer ‘n jaar vrugte, in die herfs en in die lente, en moes in hierdie tyd (vroeë lente) eintlik klein voorvye saam met die blare gedra het.  Die afwesigheid van voorvye tussen die blare was ‘n teken dat die boom nie dié seisoen vye sou dra nie.  Lees Miga 7:1 wat op soortgelyke wyse van hierdie verwagting van voorvye praat.

Jesus verklaar sy reiniging van die tempel met ‘n beroep daarop dat God se huis nie ‘n rowersnes (Jer 7:11) mag wees nie, maar ‘n huis van gebed vir die nasies (Jes 56:7 – vgl ook Salomo se gebed by die inwyding van die tempel in 1 Kon 8:22 vv: ook die vreemdelinge uit die nasies kon tot die God van hierdie tempel bid en op Sy voorsiening staatmaak!).

Gekoppel aan die verhaal van die vyeboom kan ‘n mens die afleiding maak dat soos die vyeboom die belofte van vrugte gehad het, maar niks gedra het nie, die tempel die belofte van ‘n gebedshuis gehad het, maar niks daarvan geproduseer het nie.  Die tempel dra nie die geestelike vrug wat ‘n mens met reg kan verwag nie.  Uiteraard was hierdie verdoemende uitspraak en optrede van Jesus ‘n soort van laaste strooi vir die priesterhoofde en skrifgeleerdes om te begin beplan aan Jesus se dood.

Die storie van die vyeboom se verdroging gee aanleiding tot ‘n verdere lering van Jesus oor geloof, waarin Hy uitspel dat vir die ware geloof alles moontlik is.  Dit sal vrug dra, anders as die vyeboom (of die tempeldiens in Jerusalem).  Dit het effek op die natuur (bome en berge) sowel as op die verhouding tussen mense (vergifnis).  Daarom roep Jesus hulle op tot onwrikbare geloof en vertroue in God uitgedruk in gebed: “Alles wat julle in die gebed vra, glo dat julle dit al ontvang het, en dit sal vir julle so wees.”  Vergelyk Jesaja 65:24 wat God se gewilligheid om te antwoord só uitspel: “Voor hulle nog roep, sal Ek antwoord, terwyl hulle nog praat, sal Ek hulle gebed verhoor.”

Wat ek hieruit leer – binne die raamwerk van die versoek van Johannes en Jakobus wat geweier is, en die versoek van Bartimeus wat beantwoord is – is dat gebedsverhoring wel geen perke het nie, maar afhanklik is van God se beloftes en bedoeling.  In gebed kan ek deel hê aan God se berg-bewegende handelinge.

Jesus bly hierdie laaste week van sy lewe in Betanië (volgens sommige “huis van ellende”, volgens ander “huis van dadels”) vanwaar Hy elke dag die tempel besoek totdat die laaste uur vir Hom aanbreek.

Matteus, Lukas en Johannes

Matteus vertel, soos in die geval met die besetene(s) van Gadara, van twee blindes op die pad uit Jerigo, anders as Markus.  Lukas neem Markus se verhaal net so oor, maar vertel dit in sy eie woorde, met veral ‘n lofprysing aan God wat die genesende uitkoms begelei.

Al vier evangelies vertel van die Intog in Jerusalem.  Matteus voeg detail by, dat die donkie eintlik ‘n merrie en vul was, waarmee Sag 9:9 in vervulling gegaan het, en laat ander detail weg, soos die feit dat Jesus ‘n draai by die tempel maak, hoewel hy wel sê dat die hele stad in beroering gekom het oor hierdie profeet van Nasaret in Galilea.  Lukas noem die skare wat Jesus in die stad in begelei interessant genoeg: “juigende volgelinge” en kontrasteer dit met die Fariseërs tussen hulle wat die volgelinge wil stilhê.  Jesus se antwoord aan hulle is betekenisvol: “As hulle stilbly, sal die klippe uitroep.”

Johannes se verhaal van die Intog in Jerusalem stem ook tot ‘n groot mate met die ander evangelies se gegewens ooreen, met ekstra detail, soos dat dit palmtakke was wat op die grond gegooi is, en fokus ook op die onbegrip van die dissipels wat eers na die verheerliking, Jesus se dood en opstanding, in volle begrip oorgegaan het.  Johannes vertel ook van die impak wat die opwekking van Lasarus gehad het op die tipe gesprekke wat mense oor Jesus gehad het.  Dit het egter ook ‘n negatiewe gevolg gehad, deurdat die Fariseërs begin agterkom het, dat hulle invloed taan: “Die hele wêreld gaan agter hom aan!”

Lukas vertel nie die verhaal van die vyeboom nie, terwyl Matteus dit as een verhaal vertel: Jesus het die boom vervloek en dit het onmiddellik verdroog, waarna Jesus sy lering oor die geloof gee.

Al vier evangelies het ook die verhaal van die reiniging van die tempel.  Lukas vertel dit met min detail, maar Matteus voeg detail by, bv. soos dat blindes en kreupeles deur Jesus in die tempel gesond gemaak is, en dat daar kinders in die tempel was wat Hom as die Seun van Dawid (vgl die blinde Bartimeus) geprys het.  Tegelykertyd is daar egter ook die teenstand van die priesterhoofde en skrifgeleerdes wat weereens wil hê dat Hy die mense moet stilmaak in hulle lofprysing oor Hom.

Johannes plaas die verhaal egter in ‘n heeltemal ander konteks aan die begin van Jesus se bediening met ‘n Paasfees in Jerusalem, net na die water-in-wyn-wonder in Kana.  Dit is ook Johannes se evangelie wat ons die detail van die sweep van toutjies te danke het en die  verdere lering dat Jesus die tempel gereinig het om te sorg dat Sy Vader se huis nie ‘n besigheidsplek word nie.  Die dissipels skryf sy optrede aan die liefde vir Sy Vader se huis toe (Ps 69).  Die Jode (baie keer die benaming vir Fariseërs in sy evangelie) vra dan ‘n wonderteken, waarop hy in verskuilde taal na sy dood verwys.  Hulle interpreteer sy uitspraak letterlik as dat Hy die tempel wil afbreek.  Na sy dood en opstanding het dié woorde sy dissipels in hulle geloof versterk.

WEEK 6 van die Bybelskool

Ons kom nou by Deel 4, die klimaks van die evangelie, wat ons oor die volgende 2 weke gaan lees.  Die Koning gaan Jerusalem binne met die skare wat Hom Hosanna toejuig, maar die teenstand neem só toe dat die Joodse Raad uiteindelik hulle sin kry en Jesus gevange neem.  Hy word as die “Koning van die Jode” gekruisig.

Ons lees die eerste deel daarvan hierdie week.


Markus Matteus Lukas Johannes Opskrif
10:46-52 20:29-34 18:35-43 Jesus genees die blinde Bartimeus
11:1-11 21:1-11 19:28-40 12:12-19 Die intog van Jesus in Jerusalem
11:12-14 21:18-19 Jesus vervloek die vyeboom
11:15-19 21:12-17 19:45-48 2:13-22 Die reiniging van die tempel
11:20-25 21:20-22 Die vyeboom het verdroog
11:27-33 21:23-27 20:1-8 Die vraag oor Jesus se gesag
12:1-12 21:33-46 20:9-19 Die gelykenis van die boere en die wingerd
12:13-17 22:15-22 20:20-26 Die vraag oor die betaal van belasting
12:18-27 22:23-33 20:27-40 Die vraag oor die opstanding uit die dood
12:28-34 22:34-40 10:25-28 Die vraag oor die grootste gebod
12:35-37 22:41-46 20:41-44 Die vraag oor die seun van Dawid
12:38-40 23:1-36 20:45-47 Jesus waarsku teen die skrifgeleerdes
12:41-44 21:1-4 Die arm weduwee se gawe
13:1-2 24:1-2 21:5-6 Die profetiese rede: die tempel sal afgebreek word
13:3-13 24:3-14 21:7-19 Die profetiese rede: rampe en vervolging
13:14-23 24:15-28 21:20-24 Die profetiese rede: die groot verdrukking
13:24-27 24:29-31 21:25-28 Die profetiese rede: die koms van die Seun van die mens
13:28-31 24:32-35 21:29-33 Die profetiese rede: die voorbeeld van die vyeboom
13:32-37 24:36-44 21:34-36 Die profetiese rede: die dag en uur van die wederkoms

Onlangse kommentaar