Skip to main content

Tag: liefde

Hooglied 1:1-11 – Passievolle plesier in saamwees

Indeling

Die indeling van hierdie gedigte is nie eenvoudig nie.  ‘n Mens sou die indeling in die NAV kon gebruik, waarin hier net die man en die vrou in gesprek met mekaar geplaas word.  ‘n Mens sou ook Peterson se indeling kon gebruik: The Woman – vers 2-7; The Man – vers 8-11.

Ek het dit op voetspoor van Christina Landman as volg ingedeel, met die laaste deel van vers 4 wat die stem van ander vroue verteenwoordig, en vers 8 dié van ander mans (Landman noem hulle vriendinne en vriende).  Dit gee ‘n interessante dinamiek van wisselende stemme.  Ek plaas die inhoud van die onderskeie eenhede vas aan mekaar, ter wille van spasie, en noem telkens die veronderstelde subjek van die gedig sowel as die een aan wie dit waarskynlik gerig is:

Continue reading

1 Korintiërs 13 – Die liefde is onmisbaar in alles

Hierdie is só ’n pragtige tekening van die hart van die Christelike geloof in die vorm van ’n gedig.  Dit besing eerstens die onmisbaarheid van die liefde in die gebruik van die gawes in ’n gemeente (1-3), dan die wyse waarop die liefde met die gawes tot sy reg kom in die gemeente (4-7), en dan die duursaamheid van die liefde bo alles anders (8-13).  Daarmee korrigeer Paulus die verkeerde idees wat die Korinte oor die liefde gehad het, wat eerder in onsedelikheid en afguns ontaard het.

Let op hoe Paulus regdeur van die gawes wat hy so pas genoem het (tale, profesie, kennis, geloof), eksplisiet relativeer en ondergeskik maak aan die liefde (4-7).  Selfs die bereidheid om jouself op te offer, word ondergeskik gestel aan die liefde. Om die waarheid te sê, gawes sal verdwyn, terwyl die liefde sal voortduur (8-13).  Dit geld natuurlik alle gawes.  Anders gestel, die gawes kom net tot hulle reg binne ’n konteks van liefde.

Hierdie tipe liefde is eienskappe van God (bv. Eks 34:6 – lankmoedig) wat Hy deur die Gees aan ons skenk (Gal 5:22).  Daarom maak die liefde dat ’n mens die gawes gebruik terwyl jy geduldig is met mense, vriendelik is en nie afgunstig nie, en verseker nie grootpraterig en verwaand daaroor nie.  Anders bring die gawes verdeeldheid en hoogmoed.  Liefde leer jou verder om nie onwelvoeglik op te tree daarmee nie, nie jou eie belang binne die liggaam te soek nie en ook nie liggeraak te wees oor wat ander doen nie.  Daarom hou die liefde ook nie boek van die kwaad nie.

Maar die liefde en die waarheid is verbind aan mekaar.  Daarom is onreg nooit iets waaroor ’n gelowige hom kan verbly nie. So, hoewel jy nie boekhou van die kwaad nie, kan onreg nooit aanvaar word nie.

Vers 7 belig ’n intesessante aspek van die liefde, dat hoewel dit nie bly is oor die onreg nie, dit tog in liefde bereid is om “alles te bedek”, dws om te verdra en te beskerm (NIV), wat ’n mens herinner aan Spreuke 10:12: “Haat verwek twis; liefde bedek alles wat aanstoot gee.”  Miskien is die beste manier om dit te verstaan dat die liefde nie ou wonde wil oopkrap nie, bereid is om ’n tweede myl te loop, bereid is om 70×7 keer te vergewe, bereid is om te verdra en vorentoe te kyk.  Daarby is die liefde bereid om onbevange ’n pad met mense te loop, en nie in sinisme te verval nie en mense te wantrou op grond van ervarings uit die verlede. Let op hoe die drie woorde (glo, hoop, verdra) in wese ooreenstem met die geloof, hoop en liefde van vers 13.

Liefde is ook meer duursaam as die gawes; profesie en tale sal verdwyn, en kennis sal uitgedien raak, wanneer ons eendag met God se oë na alles kan kyk, maar die liefde sal bly.

Vers 11 kontrasteer die onvolwasse gebruik van die gawes teenoor die volwasse gebruik daarvan.  Vers 12 kontrasteer ons gebrekkige verstaan van dinge teenoor die volle kennis wat eendag ons deel sal wees.

Wat hom uitbring by sy belangrike slot, dat al wat saak maak, is geloof, hoop en liefde, waarvan die liefde die grootste is.

1 Korintiërs 8 – Jou vryheid mag nie ander laat sondig nie

Paulus skuif aan na die vraag oor vleis wat aan ’n afgod geoffer is, waarmee hy waarskynlik terugverwys na die spreekwoord wat hy aangehaal het in 6:13: “Die maag is vir kos, en kos vir die maag.”  Wat ’n mens ook in gedagte moet hou, is dat die situasie in Korinte so was, dat sommige van dié (sterk) gelowiges ook in die afgodstempels gaan vleis eet het (die restaurante van daardie tyd!), omdat die tempels baie keer ook die enigste plek was vanwaar jy vleis kon bekom.  Die oorskot van die tempel offervleis is selfs op die markpleine verkoop.  Maar, omdat jy van buite af kon insien by die tempels, het ander (swak) gelowiges aanstoot daaraan geneem (vers 10).

Let op hoe hy eers die beginsel van die liefde neerlê en verduidelik voordat hy sy antwoord op hulle vraag gee.  Basies sê hy, dat kennis goed is, maar nie genoeg nie.  Die liefde is belangriker (vgl. 13:2: “en besit ek al die kennis … maar ek het geen liefde nie, dan is ek niks.”), ook in ons verhouding met God.  Om die waarheid te sê, dit is wanneer ons God liefhet, dat ons in ’n verhouding kom met Hom waar Hy vir ons ken – iets wat baie belangriker is as wat ons weet (of dat ons Hom ken).

Hy sal nog meer uitbrei op hierdie idee later in sy brief aan die Galasiërs (in 4:8: “noudat julle Hom leer ken het, of liewer, noudat Hy julle ken”).  Vergelyk dit ook met die gelykenis van die tien meisies in Matteus (in 25:12 waar die bruidegom vir die 5 onverstandiges sê: “Ek ken julle nie”!”)

In sy antwoord sluit hy dan by hulle kennis aan, en erken dat daar eintlik niks aan die vleis verander as dit aan ’n afgod geoffer is nie.  Om die waarheid te sê, daar is eintlik geen ander God, behalwe Een nie.  En al sou mense dink daar is sogenaamde gode (let op sy woorde!) bestaan hulle nie vir ons nie, want ons het net een God, die Vader en Sy Seun deur wie alles bestaan en deur wie ons lewe.

Maar nou is dit so dat nie almal dié kennis het nie, en uit liefde vir hulle, moet ’n mens hulle onkunde in ag neem, en nie iets doen waardeur hulle gewete, wat alreeds swak is, nog verder verswak sal word nie.  Ons vryheid (let weer op hoe hy daarmee terugverwys na hfst. 6:12-13) mag nooit ’n aanleiding vir ander word om te sondig nie (vgl. Jesus ook hieroor in Matt 18:6: “Elkeen wat een van hierdie kleintjies wat in My glo, van My afvallig maak, vir hom is dit beter as hy met ’n groot meulsteen aan sy nek in die diep see verdrink.”).

Om die waarheid te sê, jy sondig eintlik teen die onkundiges, as jou vryheid hulle laat sondig.  Daarom sal Paulus nie sulke vleis eet nie (gelukkig nie alle vleis nie!) want hy wil nie sy medegelowiges se val veroorsaak nie.  Hy reël darem ook later dat ’n mens nou nie hoef navraag te doen oor vleis wat jy in ’n slaghuis koop, of dit nou aan ’n afgod geoffer is of nie, en jy dit dan maar mag eet (10:23-33).  Maar die gewete van die swakkeres bly ook daar ’n bepalende faktor.

Let ook op dat hierdie beginsel van die liefde na ander sake deurgetrek kan word – jou medegelowige se standvastigheid in die geloof is belangriker as jou eie kennis en vryheid in die geloof.  En lees gerus in Romeine 14:19 en 15:2 Paulus se verdere gedagtes hieroor.

’n Mens moet onthou dat Paulus hier natuurlik skryf oor mense wat pas uit die heidendom na Christus oorgekom het en nog die impak van die heidense gebruike sou ervaar.  Hy praat nie oor mense wat eintlik net hulle eie bekrompe idees op ander van toepassing wil maak nie en van beter behoort te weet nie.

Dit help my nogal om só daaroor te dink, want dit is eintlik vir my swaar woorde dié van Paulus: en ek sou ook saam met sommige gelowiges wou uitskreeu, soos Paulus hulle aanhaal in 10:29-30: “Waarom moet my vryheid beperk word deur ’n ander se gewete?”  Maar die punt is dat ons nie ons eie belang kan soek nie, want dit is die beginsel van die liefde, en die weg van die kruis (2:2).

En dit is soos Forrest Gump sê: “That’s all I have to say, about that.”

1 Tessalonisense 4 – Nog meer aan die Here toegewy

Paulus spoor hulle in twee gedeeltes aan – soos ’n pa (2:11-12) – om hulleself nog meer as tevore aan die Here toe te wy.  En die 2 hoofsake waarin hulle dit moet uitleef, is om nie onsedelik te leef nie (4:1-8) en mekaar lief te hê (4:9-12).

Let op dat in die vorige paar verse, 3:11-13, hy reeds die twee onderwerpe aangeroer het, sowel as die onderwerp van die wederkoms, waaroor hy vanaf vers 13 gaan praat.  Maar dat hy dit daar as ’n gebed vir die Here aanbied: mag hulle liefde vir mekaar groei, en mag hulle heilig leef, tot by die dag van Christus.

Nou gaan hy oor tot sy aansporing, nadat hy dit eers as gebed vir die Here gegee het.

1. Onsedelikheid (porneia – die woord word hier heel algemeen gebruik vir seks buite die huwelik) was geen probleem in die Griekse wêreld nie, anders as in die Joodse wêreld, aangevuur deur losbandige praktyke by die tempels.  Paulus spoor hulle egter aan om persoonlik[1] en in hulle huwelikslewe met selfbeheersing (“weerhou julle van”) en integriteit (“nie te buite gaan” en “niemand bedrieg nie”) op te tree.  Ons hoor hierin die besluite van die “sinode” van Jerusalem weerklink (Hand 15:29).  Maar sy oproep is nie maar net ’n morele of Joodse lewensles wat hy hulle gee nie.  Dit is God se wil vir hulle.  Hierop sou hy nog verder uitbrei in sy briewe aan die Korintiërs (1 Kor 5:1; 6:12-20)

2.  Let hoe hy die liefde vir mekaar nie as ’n gevoel vir of selfs diensbaarheid aan mekaar uitspel nie.  Hulle moet mekaar liefhê deur hulle met hulle eie sake besig te hou, en self in hulle lewensonderhoud te voorsien.  Hierdie oproep het implikasies vir die manier waarop die gemeente funksioneer, sowel as vir hulle getuienis na buite.  Hulle moet deur hulle eerbare leefwyse die agting van mense buit die gemeente afdwing.  Dit het ook ’n direkte positiewe gevolg vir hulleself.  Hulle sal van niemand afhanklik wees nie.

Let op dat Paulus nie met hulle oor die gevaar van rykdom praat nie, want die gemeente was arm.  Daarom moes Paulus self in sy lewensonderhoud voorsien, waartoe die gemeente in Filippi ook bygedra het.  Maar hy skryf aan die Tessalonisense oor selfvoorsiening sodat hulle nie van iemand anders afhanklik sou wees nie.  Trouens in sy tweede brief sal hy hulle waarsku om nie leeg te lê en op ander te teer nie (2 Tes 3:7-12).

In vers 13-18 brei Paulus waarskynlik uit oor vrae oor die opstanding uit die dood wat hulle aan Timoteus gevra het.  Dit wil voorkom asof sommige gelowiges depressief geraak het oor die lot van hulle geliefdes na hulle dood.  Dit kan selfs wees dat van dié sterftes weens die vervolging was.  Let op hoe Paulus die feit van die opstanding van Jesus gebruik om nie net vir hulle die regte lering oor die opstanding te gee nie, maar hulle ook te troos en met hoop te laat lewe.

In kort, sê Paulus, die ontslapenes is by die Here, en aan die einde van die tyd sal hulle wat dan nog lewe ook by die Here wees.  Dit val my op dat hy nie oor die presiese prosesse uitwei waardeur dit alles sal gebeur nie, maar hulle troos met die teenwoordigheid van God self:

“En so sal ons altyd by die Here wees.” (4:17)

Op ‘n manier is dit die somtotaal van alles in die lewe, om by die Here te wees. En dit is ook my troos vir vandag, en elke dag.


[1] Die woord skeuos wat hier in vers 4 met vrou vertaal word, beteken letterlik “houer” (vessel), en word meesal met liggaam vertaal (bv. 2 Kor 4:7).  Dit dui dus eerder op die (seksuele) beheersing van ’n mens se eie liggaam (vgl NIV en NKJV wat so vertaal; vgl ook 1 Sam 21:5 waar die Hebreeuse woord in die LXX met skeuos vertaal word waar dit duidelik op liggaam dui), hoewel die volgende opdrag van Paulus dat hulle hulself nie te buite moet gaan nie, en niemand anders moet benadeel nie, wel op die huwelik kan dui. Daarom kies ek om van persoonlike selfbeheersing en integriteit te praat sowel as in die huwelikslewe. In 1 Pet 3:7 word die woord skeuos wel gebruik in die betekenis van vrou, soos die konteks duidelik aantoon.

1 Tessalonisense 1 – Geloof, liefde en hoop energeer

Die brief kom van Paulus, Silvanus (Silas se Latynse naam) en Timoteus.  Soos die spreekwoord lui in Afrika, jy kan nie met een vinger ’n vlooi knyp of ’n drom speel nie – die bediening is ’n gesamentlike onderneming.

Inderdaad is dit ook waar van die gemeente.  Paulus beskryf die gemeente as een: “wat aan God die Vader en die Here Jesus Christus behoort”.  In die oorspronklike Grieks staan daar letterlik “wat IN God …is”.  En in hulle verbintenis aan God is hulle ook verbind aan alle ander gemeentes wat aan God behoort.

Dit tref my dat in hierdie eerste brief van Paulus hy reeds die tema van geloof, liefde en hoop gebruik as beskrywing van ‘n Christelike lewe wat die moeite werd is (vgl 1 Tes 5:8; Rom 5:2-5; 1 Kor 13:13; Gal 5:5-6; Kol 1:4-5) Interessant is dat die orde van die woorde in die onderskeie briewe verskil, na gelang van die omstandighede van die mense waarvoor geskryf word.  Hier is die klem van Paulus op die hoop, waaroor hy in verband met die wederkoms verder sal uitbrei.  Die drie woorde word ook deur ander skrywers in die NT gebruik (Hebr 6:10-12; 10:22-24; 1 Pet 1:21-22).

Dit is een van die mees fundamentele beskrywings van die Christelike lewe.  En wat spesifiek interessant is, is dat dit so aksievol en konkreet beskryf word: 1) die werk van julle geloof, 2) die inspanning van julle liefde en 3) die volharding van julle hoop op ons Here Jesus Christus.

Let verder op hoe vers 5-6 met die werk van hulle geloof te make het, vers 7-8 met die inspanning van hulle liefde, en vers 9-10 met die volharding van hulle hoop.  Voorwaar nie net ’n kunstige manier om te skryf nie, maar ’n uitstaande samevatting van wat die Christelike lewe behels.

En deur hulle geloof, hoop en liefde word die Tessalonisense ’n voorbeeld vir al die gelowiges van Griekeland (2 provinsies Masedonië en Agaje).  Daarvoor dank Paulus God, omdat dit ’n kragtige getuienis is van die werk van die Heilige Gees.

Dit alles word verbind aan die wyse waarop die evangelie tot hulle gekom het: 1) met woorde, 2) met krag en die Heilige Gees, en 3) met volle oortuiging.  Dit legitimeer dus ook Paulus-hulle se eie bediening.

En die gelowiges se reaksie bevestig dat God hulle liefhet en uitverkies het vir dié lewe.  Let op hoe die uitverkiesing aan God se liefde verbind word, en nie aan sy oordeel nie.  Die uitverkiesing word ook sigbaar in die gelowiges se ontvanklikheid vir die evangelie.  Die uitverkiesing is iets waaroor jy kan juig as jy dit sien, nie iets waaroor jy kan spekuleer as jy dit nog nie sien nie.

Let ook op dat daar ’n duidelike verandering in hulle lewens plaasgevind het.  Hulle het hul afgode gelos om die lewende God te aanbid.  Geen wonder dit het tot vervolging aanleiding gegee nie, want hulle bekering plaas ander mense voor ’n keuse.

Dit Trinitariese beskrywing van God regdeur die gedeelte val ook op.  Soos Paulus-hulle saamwerk, doen God dit ook (of is dit juis andersom!).

Die gloeiende beskrywing van hierdie gelowiges se ywer motiveer my in my eie volharding in geloof.  As hulle so drasties en dramaties tot bekering kan kom en vir die Here kan begin lewe – na net 3 weke se bediening! – dan spoor dit my aan om meer te doen met wat ek oor die jare van die Here en ander gelowiges ontvang het.

Onlangse kommentaar