RUT 1:1-18

LEES
Raak stil voor die Here in gebed.
Lees die teksgedeelte deeglik deur, selfs 2 of 3 keer, hardop as dit kan. Wat tref jou? Let op vir temas in die gedeelte. Wat sê dit van God? Wat sê dit van mense? Wat sê dit van die wêreld? Skryf dit in jou joernaal neer.
RUT 1:1-18
Ek plaas hoofstuk 1-2 en volgende week ook die laaste twee hoofstukke, 3-4, ter wille daarvan om die hele verhaal te lees. Dit is ‘n kleinood in die Bybel!
NAOMI SE VERLIES
11In die jare toe die rigters nog regeer het, was daar hongersnood in die land. ‘n Man van Betlehem in Juda het tydelik in die gebied van Moab gaan bly, hy en sy vrou en sy twee seuns. 2Die man se naam was Elimeleg, sy vrou se naam was Naomi en sy twee seuns se name was Maglon en Kiljon. Hulle was van die Efrata-familie uit Betlehem in Juda. Hulle het in die gebied van Moab aangekom. Terwyl hulle daar was, 3is Naomi se man Elimeleg dood, en is sy en haar twee seuns agtergelaat. 4Hulle het Moabitiese vroue geneem. Die een se naam was Orpa en die ander een se naam was Rut.
Hulle het sowat tien jaar daar gebly, 5toe is ook die twee seuns, Maglon en Kiljon, dood. Die vrou het alleen agtergebly, sonder haar twee kinders en sonder haar man.
TERUGKEER VAN NAOMI
6Sy het toe gereedgemaak om met haar skoondogters terug te keer uit die gebied van Moab, want sy het daar in die gebied van Moab gehoor dat die Here na sy volk omgesien het deur vir hulle brood te gee. 7Sy is toe weg uit die plek waar sy gewoon het, en haar twee skoondogters saam met haar. Op pad terug na die land Juda 8sê Naomi vir haar twee skoondogters: “Julle moet liewer teruggaan, elkeen na haar ma se huis. Mag die Here julle goed behandel soos wat julle die oorledenes en my goed behandel het. 9Mag die Here gee dat julle elkeen ‘n tuiste vind in die huis van ‘n man.” Toe het sy hulle gesoen, maar hulle het hardop begin huil 10en vir haar gesê: “Nee, ons wil saam met u teruggaan na u volk!” 11Maar Naomi sê: “Draai om, my dogters! Om watter rede sal julle saam met my gaan? Is daar nog seuns in my liggaam wat vir julle mans kan word? 12Draai om, my dogters! Gaan terug, want ek is te oud om weer te trou. Al sou ek dink daar is nog hoop vir my, en selfs al sou ek reeds vannag ‘n man hê, selfs aan seuns geboorte gee, 13sal julle vir hulle kan wag totdat hulle groot is? Sal julle om daardie rede julleself daarvan weerhou om te trou? Nee, my dogters, dit is vir my baie swaarder as vir julle. Die Here het immers sy hand teen my uitgestrek.” 14Hulle het toe weer hardop gehuil.
Orpa het haar skoonmoeder gesoen, maar Rut het aan haar vasgeklou. 15Naomi sê vir haar: “Kyk, jou skoonsuster het omgedraai na haar volk en na haar gode toe. Gaan terug, agter jou skoonsuster aan.” 16Maar Rut het geantwoord:
“Moet my nie probeer dwing
om u te verlaat nie
of om van u af weg
te gaan nie,
want waar u gaan,
sal ek gaan,
en waar u bly,
sal ek bly.
U volk is my volk,
u God is my God.
17Waar u sterf,
sal ek sterf,
en daar sal ek begrawe word.
“Die Here kan my maar swaar straf as ek nie woord hou nie: Net die dood sal ons skei.” 18Toe Naomi sien dat sy vasbeslote is om saam met haar te gaan, het sy opgehou om haar te probeer ompraat.
19So het die twee van hulle toe aangestap tot hulle by Betlehem aangekom het.
Toe hulle in Betlehem aankom, was die hele dorp in rep en roer oor hulle. Die vroue sê vir mekaar: “Is dit werklik Naomi?” 20Sy het vir hulle gesê:
“Moet my nie Naomi noem nie,
noem my Mara,
want die Almagtige het dit vir my
baie bitter gemaak.
21Met ‘n vol lewe is ek hier weg,
maar die Here het my leeg
laat terugkom.
Waarom my Naomi noem
terwyl die Here my teenstander
geword het
en die Almagtige my kwaad
aangedoen het?”
22So het Naomi teruggekeer. Haar skoondogter, Rut die Moabiet, het saam met haar teruggekom uit die gebied van Moab. Hulle het in Betlehem aangekom aan die begin van die garsoes.
RUT OP BOAS SE LANDE
21Naomi het aan haar man se kant ‘n familielid gehad, ‘n vermoënde man uit die geslag van Elimeleg met die naam Boas. 2Rut, die Moabiet, het vir Naomi gesê: “Kan ek maar na die lande toe gaan en by die gerwe, agter iemand wat my goedgesind sal wees, gaan are optel?” “Gaan maar, my dogter,” het Naomi haar geantwoord. 3Sy het toe geloop en gaan are optel in die lande agter die snyers. En dit was toe so dat dié deel van die land aan Boas, uit die geslag van Elimeleg, behoort.
4Boas het juis van Betlehem af daar aangekom. “Die Here is met julle!” groet hy toe die snyers. “Die Hereseën u,” antwoord hulle hom. 5Boas vra toe vir sy werker wat toesig hou oor die snyers: “Aan wie behoort hierdie jong vrou?” 6Die werker wat toesig hou oor die snyers, antwoord hom: “Sy is ‘n jong vrou uit Moab wat saam met Naomi uit die gebied van Moab teruggekom het. 7Sy het gevra, ‘Kan ek maar are optel en bymekaarmaak by die hopies agter die snyers?’ Sy het gekom en is van vanoggend af tot nou toe op haar voete; hier het sy nog maar min gerus!”
8Boas sê toe vir Rut: “Luister, my dogter, jy hoef nie in ‘n ander land te gaan are optel nie. Moet selfs nie eers hiervandaan weggaan nie. Bly by my vrouewerkers, 9kyk in watter land hulle oes en volg hulle. Ek het my werkers uitdruklik beveel om jou glad nie lastig te val nie. As jy dors is, moet jy na die kruike gaan en drink van wat die werkers daar skep.”
10Rut kniel toe, buig vooroor met haar gesig teen die grond en vra vir hom: “Waarom is u so goed vir my? U gee vir my om, en dit terwyl ek ‘n buitelander is?” 11Boas antwoord haar: “Ek is goed ingelig oor alles wat jy vir jou skoonmoeder gedoen het ná die dood van jou man: dat jy jou vader, jou moeder en jou geboorteland verlaat het en dat jy na ‘n volk gekom het wat jy nie voorheen geken het nie. 12Mag jy vir alles wat jy gedoen het, ruim vergoed word deur die Here, die God van Israel, onder wie se vleuels jy kom skuil het.”
13“U is goed vir my, Meneer,” antwoord sy, “u het my immers jammer gekry; ja, u het mooi gepraat met my, u diensmeisie, en dit terwyl ek nie eers een van u slavinne is nie!”
14Teen etenstyd sê Boas vir haar: “Kom hier, kom eet van die brood. Doop jou stukkie in die asyn.” Sy het langs die snyers gaan sit en hy het vir haar gebraaide koring aangebied. Sy het geëet totdat sy versadig was en selfs nog daarvan oorgehou.
15Toe sy opstaan om weer te gaan are optel, het Boas sy werkers opdrag gegee en gesê: “Sy mag ook tussen die hopies optel. Julle mag haar nie verneder nie! 16Julle moet selfs vir haar are uit die bondels uittrek en dit laat lê sodat sy dit kan optel. Julle mag nie met haar raas nie!”
17Rut het tot die aand are opgetel in die land. Sy het uitgeslaan wat sy opgetel het: Dit was ongeveer ‘n efa gars. 18Sy het dit gedra, en toe sy in die dorp kom, sien haar skoonmoeder wat sy opgetel het. Daarop haal Rut ook van die kos uit wat sy oorgehou het nadat sy genoeg geëet het en gee dit vir haar skoonmoeder.
19Haar skoonmoeder vra haar toe: “Waar het jy vandag are opgetel en by wie het jy gewerk? Mag die een wat jou bevoordeel het, geseënd wees!” Sy vertel toe vir haar skoonmoeder by wie sy gewerk het: “Die man by wie ek vandag gewerk het, se naam is Boas.” 20Naomi het vir haar skoondogter gesê: “Mag hy geseën word deur die Here, wat nie nagelaat het om sy verbondstrou aan die lewendes en die dooies te bewys nie.” Naomi het ook vir haar gesê: “Die man is verwant aan ons: Hy is een van ons lossers.”
21Rut, die Moabiet, sê toe: “Hy het ook vir my gesê, ‘Jy moet by my werkers bly totdat hulle met my hele oes klaar is.’ ” 22Daarop sê Naomi vir Rut, haar skoondogter: “My dogter, dis goed dat jy saam met sy vrouewerkers uitgaan, sodat mans jou nie op ‘n ander land lastig val nie.”
23Rut het Boas se vrouewerkers gevolg en are opgetel totdat die garsoes en die koringoes verby was. Sy het in dié tyd by haar skoonmoeder gebly.
Teks en konteks
Onlangse kommentaar