JOB 1:1; 2:1-10

LEES
Raak stil voor die Here in gebed.
Lees die teksgedeelte deeglik deur, selfs 2 of 3 keer, hardop as dit kan. Wat tref jou? Let op vir temas in die gedeelte. Wat sê dit van God? Wat sê dit van mense? Wat sê dit van die wêreld? Skryf dit in jou joernaal neer.
JOB 1:1; 2:1-10
JOB SE TEENSPOED
11In die land Us was daar ‘n man met die naam Job. Hierdie man was opreg en onberispelik in sy optrede; hy het vir God ontsag gehad en die kwaad vermy.
2Daar is vir hom sewe seuns en drie dogters gebore. 3Hy het seweduisend stuks kleinvee, drieduisend kamele, vyfhonderd pare beeste, vyfhonderd donkiemerries en ‘n besondere groot werksmag gehad. Hierdie man was meer vermoënd as enigiemand in die ooste.
4Sy seuns het die gewoonte gehad om elkeen in sy eie huis, om die beurt, ‘n fees aan te bied. Hulle het dan ‘n boodskap gestuur en hulle drie susters genooi om saam met hulle te eet en te drink. 5Wanneer die feesdae verby was, het Job hulle laat haal en hulle geheilig. Hy het vroeg in die môre vir elkeen van hulle ‘n •brandoffer gebring; want Job het gedink: Miskien het my kinders gesondig en God in hulle harte gevloek.Job het dit elke keer gedoen.
JOB SE GELOOFSTOETS
6Toe, op ‘n dag, het die hemelwesens gekom om by die Here hulle plekke in te neem. Die satan het ook saam met hulle gekom.
7Die Here sê toe vir die satan: “Waar kom jy vandaan?” Die satan het die Here geantwoord; hy het gesê: “Van rondswerf op die aarde en daar rondloop.” 8Die Here het vir die satan gesê: “Het jy kennis geneem van my dienskneg Job? Daar is immers niemand soos hy op aarde nie. Hy is onberispelik in sy optrede en opreg, ‘n man wat vir God ontsag het en die kwaad vermy.” 9Die satan het die Here geantwoord; hy het gesê: “Is dit sonder rede dat Job ontsag het vir God? 10Is dit nie U self wat hom en sy huis, en alles wat aan hom behoort, aan alle kante afgeskerm het nie? Sy handewerk het U geseën, en sy veestapel het in die land uitgebrei. 11Maar steek nou net u hand uit en tas alles aan wat aan hom behoort – hy sal U beslis in u gesig vloek.”
12Die Here sê toe vir die satan: “Kyk, alles wat aan hom behoort, is in jou hand. Net na homself mag jy jou hand nie uitsteek nie.” Die satan het toe uitgegaan, weg van die Here af.
13Toe, op ‘n dag, terwyl sy seuns en dogters besig was om te eet en wyn te drink in die huis van hulle oudste broer, 14kom daar ‘n boodskapper by Job aan en sê: “Die beeste was aan die ploeg, en die donkiemerries het langsaan gewei; 15toe loods die Sabeërs ‘n aanval en vat hulle. Hulle het die werkers met die skerpte van die swaard neergevel. Net ek alleen het vrygekom om dit aan u te kom vertel.”
16Terwyl dié een nog besig is om te praat, kom ‘n ander een daar aan en sê: “Die vuur van God het uit die hemel geval en die kleinvee en werkers verbrand en verteer. Net ek alleen het vrygekom om dit aan u te kom vertel.”
17Terwyl dié een nog besig is om te praat, kom ‘n ander een daar aan en sê: “Galdeërs het drie eenhede opgestel, ‘n plundertog uitgevoer op die kameeltroppe en hulle gevat. Hulle het die werkers met die skerpte van die swaard neergevel. Net ek alleen het vrygekom om dit aan u te kom vertel.”
18Terwyl dié een nog besig is om te praat, kom ‘n ander een daar aan en sê: “U seuns en u dogters was besig om te eet en wyn te drink in hulle oudste broer se huis, 19toe daar onverwags ‘n sterk wind van die woestyn se kant af kom en die vier hoeke van die huis tref. Dit het op die jongmense ingestort en hulle het gesterf. Net ek alleen het vrygekom om dit aan u te kom vertel.”
20Job het toe opgestaan, sy mantel geskeur, sy kop kaal geskeer, op die grond neergeval en in aanbidding gebuig. 21Hy het gesê:
“Naak het ek uit my moeder se skoot gekom,
en naak sal ek na die skoot van die aarde terugkeer.
Die Here het gegee
en die Here het geneem.
Mag die Naam van die Here geprys word!”
22Ondanks dit alles het Job nie gesondig nie en aan God niks ongerymds toegeskryf nie.
21Toe, op ‘n dag, het die hemelwesens gekom om by die Here hulle plekke in te neem. Die satan het ook saam met hulle gekom om sy plek by die Here in te neem. 2Die Here sê toe vir die satan: “Waar kom jy vandaan?” Die satan het die Here geantwoord; hy het gesê: “Van rondswerf op die aarde en daar rondloop.” 3Die Here het vir die satan gesê: “Het jy kennis geneem van my dienskneg Job? Daar is immers niemand soos hy op aarde nie. Hy is onberispelik in sy optrede en opreg, ‘n man wat vir God ontsag het en die kwaad vermy. Hy volhard steeds in sy onberispelike optrede, al het jy My aangestig om hom sonder rede te laat ondergaan.” 4Die satan het die Here geantwoord; hy het gesê: “Dit is maar ‘n vel vir ‘n vel. Alles wat aan ‘n mens behoort, sal hy gee in ruil vir sy lewe. 5Maar steek net u hand uit en tas sy beendere en sy vleis aan – hy sal U beslis in u gesig vloek.”
6Die Here sê toe vir die satan: “Kyk, hy is in jou hand, maar sy lewe moet jy spaar.” 7Die satan het toe uitgegaan, weg van die Here af. Hy het Job getref met dodelike swere, van kop tot tone.
8Job het ‘n potskerf gevat om hom mee te krap, terwyl hy in die as sit. 9Sy vrou het vir hom gesê: “Volhard jy steeds in jou onberispelike optrede? Vloek God, en sterf!” 10Hy het egter vir haar gesê: “Jy praat soos een van die dwase vroue praat. Die goeie wat van God kom, dié aanvaar ons, maar die slegte – moet ons dit nie ook aanvaar nie?” Ondanks dit alles het Job nie met ‘n enkele woord gesondig nie.
JOB SE DRIE VRIENDE
11Drie van Job se vriende het gehoor van al die teenspoed wat hom oorgekom het. Hulle het toe van die plekke waar hulle woon, Elifas uit Teman, Bildad uit Suag, en Sofar uit Naäma, op ‘n bepaalde plek byeengekom om met hom meegevoel te gaan betuig en hom te gaan bemoedig. 12Toe hulle van ver af opkyk en hom nie eens herken nie, het hulle hardop gehuil. Hulle het elkeen sy mantel geskeur, en hulle het stof in die lug op gegooi, oor hulle koppe. 13Hulle het saam met hom op die grond gesit – sewe dae en sewe nagte lank. Niemand het ‘n woord met hom gepraat nie, want hulle het gesien dat die pyn ondraaglik erg was.
Teks en konteks
Onlangse kommentaar