Skip to main content

Tag: Jeremia

Jeremia 46 – ’n Boodskap aan Egipte

Jeremiah lamenting - Rembrand van RijnDie boodskap aan Egipte is gelewer in die tyd van die oorlog van Nebukadnesar teen koning Nekos by Karkemis in die vierde regeringsjaar van koning Jojakim, d.w.s. 605 v.C.  Hierdie oorlog het die status van die Galdeërs as wêreldmag bevestig en Egipte ’n beduidende knou gegee.

Dié profesie word waarskynlik hier eerste geplaas in die reeks profesieë teen die nasies weens die feit dat dit in dieselfde jaar gelewer is as dié van hoofstuk 45 aan Baruk.  Die doel van die profesie oor Egipte was waarskynlik meer om Jojakim en die Jode téén ’n alliansie met Egipte te waarsku, as om soseer Egipte as sodanig aan te spreek.  Hulle het immers nie vir Juda in dié tyd leed aangedoen nie.  ’n Alliansie met Egipte was egter steeds teen die Here se wil vir die volk.  Dit sou waarskynlik ook nie polities sin maak in die lig van die Galdeërs se oorheersing nie.

Reeds vroeër het die Here die volk gewaarsku: “Wat wil jy bereik deur na Egipte toe te gaan en water uit die Nyl te gaan drink? … Egipte sal jou net so in die steek laat as wat Assirië jou in die steek gelaat het. Jy sal daarvandaan terugkom sonder dat jy jou sin gekry het, want Ek het almal verwerp op wie jy vertrou het; by hulle sal jy geen hulp kry nie.” (Jer. 2:18, 36-37).   En in die simboliek van die twee mandjies vye het die Here gesê oor: “dié wat in Egipte wil gaan woon,” dat Hy hulle: “maak soos die slegte vye wat so sleg is dat ’n mens hulle nie kan eet nie.” (Jer. 24:8).

Die profesie word in drie dele ingedeel:

  • 46:1-12 – Egipte word verneder
  • 46:13-26 – Daar wag ’n nederlaag vir Egipte
  • 46:27-28 – Die Here verander die lot van Israel

Continue reading

Jeremia 46-51 – Boodskappe aan die nasies

Jeremiah lamenting - Rembrand van RijnJeremia gee in hoofstukke 46 tot 51 ’n aantal boodskappe aan nege van die omringende nasies.  Dit word gelewer in die verdere uitvoering van sy roeping as “profeet vir die nasies” (Jer. 1:10).  Ek gee hier eers ’n breë oorhoofse beskrywing van die waarskynlike kontekste en datums van en motivering vir dié onderskeie profesieë, voordat ons die hoofstukke gaan lees.

Continue reading

Jeremia 45 – Jeremia bemoedig sy sekretaris Baruk

Jeremiah lamenting - Rembrand van Rijn’n Laaste woord word aan die einde van die meer biografiese deel van Jeremia geplaas, ’n woord aan Baruk, sy sekretaris en skrywersvriend.  Dit vind reeds in die vierde jaar van koning Jojakim plaas, juis in die tyd wat die koning die vorige boekrol wat Baruk geproduseer het, vernietig het (Jer. 36).  Die verhaal word waarskynlik hier geplaas sodat al die dele wat meer op Jeremia van toepassing was, as ’n eenheid geplaas kon word.  Dit pas egter in tyd in by hoofstuk 36.

Dat Baruk deur dié gebeure in hoofstuk 36 geruk was, is vanselfsprekend.  Jojakim het immers sy lewenswerk vernietig!  Dit het hulle ’n baie lang tyd geneem om dit weer neer te skrywe, langer as ’n jaar.

Dit verklaar waarskynlik hoekom die Here hom hier aanspreek dat hy mismoedig geraak het en gedink het dit is klaar met hom.  Die Here waarsku hom ook om nie roem vir homself te soek nie – d.w.s. dat sy werk as sodanig van waarde geag sal word.  Hy is immers in diens van die Here, en moet daarin sy vreugde en sy sin en betekenis vind.  Wat ander met sy lewenswerk doen, is van minder belang.

Tog sal die Here hom beskerm waar hy ook al gaan: “al sal jy net met jou lewe daarvan afkom.”  Die ervaringe en lotgevalle van die profeet en van sy skrywer is doodgewoon van minder belang as die doel wat die Here het met die gebeure waarvan hulle skrywe en waarby hulle betrokke is.  Omdat die woord van die Here in die tyd van Jeremia en Baruk veral met oordeel te make het, kan hulle nie ongeskonde daarvan afkom nie.  Die boodskap het ’n beslissende impak ook op die boodskapper.

Iets om oor na te dink in die uitvoering van jou eie lewensroeping.

Jeremia 44 – Jeremia bring ’n boodskap van oordeel aan al die Jode in Egipte

Jeremiah lamenting - Rembrand van RijnDit wil voorkom asof hierdie boodskap van die Here ’n tyd ná die gebeure van hoofstuk 43 gebeur, want dit veronderstel eintlik ’n hele verspreiding van Jode in die boonste deel van Egipte, ironies genoeg presies waar hulle in die tyd van Moses as slawe gewoon het, die Gosenstreek (Gen. 45:10; Eks. 8:22).  Hulle het dus teruggetrek na die slawehuis waaruit die Here hulle bevry het.  Hoe tragies.

Die boodskap van Jeremia is gerig aan al die Jode wat in Egipte woon, nie net waar Jeremia self moes gaan bly het nie.  Vier plekke word genoem: Migdol (moontlik naby Tagpanges), Tagpanges (Nyl-delta), Memfis (net suid van Kaïro) en die Patros-streek (eintlik ’n naam vir die hele Bo-Egipte streek), maar alle Jode in Egipte word aangespreek.

Hulle word as ’n gruwelik opstandige en voortdurend ongehoorsame volk geteken wat daarom die toorn van die Here laat ontvlam oor hulle onbetroubaarheid en onbeskaamde dien van afgode, veral die hemelkoningin.

Dit raak dus duidelik dat die toekoms van die Joodse volk lê by die ballinge in Babel aan wie die beloftes van terugkeer gegee is, soos Jeremia (Jer. 29 bv.) en ook Esegiël later verkondig het.  Die oorblyfsel in Egipte het volhard in hulle afvalligheid en verloën daarmee hulle status as deel van die uitverkore volk van God.

Continue reading

Jeremia 43 – Jeremia word teen sy sin saamgeneem na Egipte

Jeremiah lamenting - Rembrand van RijnHierdie hoofstuk vertel aan die een kant van die teleurstellende reaksie van die Joganan en die ander leiers op die antwoord wat die Here aan hulle gee deur die profeet Jeremia. Hulle kop het in elk geval in die rigting van Egipte gestaan, en dit is presies wat hulle nou doen.  Só verspil hulle die kans om God se bewaring in aksie te sien.

Aan die ander kant vertel die hoofstuk van die woord van die Here wat ook daar in Egipte na Jeremia toe kom, hierdie keer weer in die gedaante van ’n simboliese handeling wat hy moet uitvoer.  Die Here word dus nie gedwarsboom deur die ongehoorsaamheid van die Joodse leiers nie.  Hy laat van Hom hoor selfs in die vreemde.

Continue reading

Onlangse kommentaar