Jeremia 44 – Jeremia bring ’n boodskap van oordeel aan al die Jode in Egipte
Dit wil voorkom asof hierdie boodskap van die Here ’n tyd ná die gebeure van hoofstuk 43 gebeur, want dit veronderstel eintlik ’n hele verspreiding van Jode in die boonste deel van Egipte, ironies genoeg presies waar hulle in die tyd van Moses as slawe gewoon het, die Gosenstreek (Gen. 45:10; Eks. 8:22). Hulle het dus teruggetrek na die slawehuis waaruit die Here hulle bevry het. Hoe tragies.
Die boodskap van Jeremia is gerig aan al die Jode wat in Egipte woon, nie net waar Jeremia self moes gaan bly het nie. Vier plekke word genoem: Migdol (moontlik naby Tagpanges), Tagpanges (Nyl-delta), Memfis (net suid van Kaïro) en die Patros-streek (eintlik ’n naam vir die hele Bo-Egipte streek), maar alle Jode in Egipte word aangespreek.
Hulle word as ’n gruwelik opstandige en voortdurend ongehoorsame volk geteken wat daarom die toorn van die Here laat ontvlam oor hulle onbetroubaarheid en onbeskaamde dien van afgode, veral die hemelkoningin.
Dit raak dus duidelik dat die toekoms van die Joodse volk lê by die ballinge in Babel aan wie die beloftes van terugkeer gegee is, soos Jeremia (Jer. 29 bv.) en ook Esegiël later verkondig het. Die oorblyfsel in Egipte het volhard in hulle afvalligheid en verloën daarmee hulle status as deel van die uitverkore volk van God.
Die hoofstuk kan soos volg ingedeel word:
- 44:1-6 – Die Here verduidelik die redes vir die verwoesting van Juda en Jerusalem
- 44:7-11 – Die Here ontbloot hulle gebrek aan eerbied vir Hom
- 44:12-14 – Die Here kondig hulle vernietiging aan
- 44:15-19 – Die Jode verwerp die Here en kies om nie te luister nie
- 44:20-23 – Jeremia verkwalik hulle dat hulle nie die lesse van die verlede ter harte neem nie
- 44:24-30 – Die Here lê ’n eed af dat Hy elke Judeër in Egipte sal ombring
44:1-6 – Die Here verduidelik die redes vir die verwoesting van Juda en Jerusalem
Die Here herinner hulle aan die redes vir die verwoesting van Juda en Jerusalem. Hulle en hulle voorvaders het gesondig en God in sy eer gekrenk deur offers aan ander gode te bring. Hulle het nie geluister na die profete nie en hulle nie bekeer nie. Daarom het God hulle land en stede laat verwoes.
44:7-11 – Die Here ontbloot hulle gebrek aan eerbied vir Hom
Die Here vra wel die vraag: Waarom? Dit verstom Hom dat hulle só ’n groot ramp oor hulleself en hulle kinders bring. Hulle godsdiens tart Hom uit, selfs hier in Egipte. Hy verkwalik hulle vir hulle gebrek aan berou en eerbied vir Hom deur nie te leef volgens sy wet en sy voorskrifte nie.
44:12-14 – Die Here kondig hulle vernietiging aan
Daarom kondig die Here hulle straf aan. Dieselfde straf wat hulle in Juda ervaar het, sal nou in Egipte ook vir hulle tref: “Ek sal dié wat in Egipte woon, straf soos Ek dié in Jerusalem gestraf het.” Niemand sal vrykom en niemand sal kan teruggaan na Juda toe nie.
44:15-19 – Die Jode verwerp die Here en kies om nie te luister nie
Die Joodse gemeenskap in Egipte het egter dié woord van Jeremia verwerp: “Ons gaan nie luister na wat jy vir ons sê in die Naam van die Here nie.” Hulle sal – ironies genoeg – bly doen wat hulle beloof het: “ons sal vir die hemelkoningin wierookoffers bring … net soos ons … in die stede van Juda en op die strate van Jerusalem gedoen het.” Hulle wyt die ramp in Juda aan die feit dat hulle opgehou het om die hemelkoningin (die Kanaänitiese Astarte of die Assiriese Ishtar [koekievorms wat met haar verbind word, is bekend]) te dien. ’n Groter en duideliker verwerping van die Here kan ’n mens seker nie kry nie. Mans en vrouens het só gesê.
44:20-23 – Jeremia verkwalik hulle dat hulle nie die lesse van die verlede ter harte neem nie
Jeremia vat hulle aan op hulle verdraaiing van die feite van die ballingskap. Hy het oor veertig jaar die ballingskap van Juda verkondig as gevolg van die verwerping van die Here, en sy woorde het waar geword. Iets soortgelyks kan nie van die hemelkoningin gesê word nie wat hulle interpretasie van gebeure onder verdenking plaas. Daarom bevestig Jeremia net baie helder die Here se perspektief op die ramp wat Juda getref het. Dit is omdat hulle ongehoorsaam aan die Here was dat hulle in die benarde situasie in Egipte sit.
44:24-30 – Die Here lê ’n eed af dat Hy elke Judeër in Egipte sal ombring
Jeremia reageer in ’n volgende woord baie skerp op dié duidelike verwerping van die Here: “Hou by julle belofte, hou daarby, doen wat julle beloof het, doen dit!” Die Here lê egter daarom ’n eed af dat Hy elke Judeër in Egipte sal ombring. Hy sal hulle kwaad aandoen dat hulle kan agterkom: “wie se woord bly staan, Myne of (j)ulle s’n.” As teken daarvan voorspel die Here dat die farao deur sy vyande oorwin sal word, iets wat inderdaad in 566 v.C. gebeur het, toe koning Gofra deur ’n interne magstryd om die lewe gebring is.
Boodskap
Die keuse van Joganan en die ander leiers om na Egipte te trek, word deur hierdie hoofstuk in ’n ander lig gestel. Hulle wou reeds in Juda nie na Jeremia luister nie, nie net omdat hulle hom polities gewantrou het nie, maar omdat hulle ’n ander godsdienstige beskouing gehad het. Die verwerping van die politiese onderdanigheid aan Babel was dus net een van die dinge wat hulle oortuig het om in Egipte te gaan bly. Dieper as die politieke keuse was hierdie godsdienstige keuse vir die hemelkoningin die eintlike rede vir hulle trek na Egipte.
Daarmee het die Jode wat in Egipte gaan bly het, hulleself losgemaak van die Jahwe aanbidding en van enige toekoms wat God vir die Joodse volk beplan het. Die toekoms het nou duidelik net gelê in die uiteindelike terugkeer van die Jode uit die ballingskap in Babel.