Jeremia 46-51 – Boodskappe aan die nasies
Jeremia gee in hoofstukke 46 tot 51 ’n aantal boodskappe aan nege van die omringende nasies. Dit word gelewer in die verdere uitvoering van sy roeping as “profeet vir die nasies” (Jer. 1:10). Ek gee hier eers ’n breë oorhoofse beskrywing van die waarskynlike kontekste en datums van en motivering vir dié onderskeie profesieë, voordat ons die hoofstukke gaan lees.
1. Die boodskap oor Egipte – Jeremia 46
Die boodskap aan Egipte is gelewer in die tyd van die oorlog van Nebukadnesar teen koning Nekos by Karkemis in die vierde regeringsjaar van koning Jojakim, d.w.s. 605 v.C. Dié profesie word waarskynlik hier eerste geplaas weens die feit dat dit in dieselfde jaar gelewer is as dié van hoofstuk 45 aan Baruk. Hierdie oorlog het die status van die Galdeërs as wêreldmag bevestig en Egipte ’n beduidende knou gegee.
Die doel van die profesie oor Egipte was waarskynlik meer om Jojakim en die Jode téén ’n alliansie met Egipte te waarsku, as om soseer Egipte as sodanig aan te spreek. ’n Alliansie met Egipte was teen die Here se wil vir die volk, maar dit sou ook nie polities sin maak in die lig van die Galdeërs se oorheersing nie.
2. Die boodskap oor die Filistyne – Jeremia 47
Die datum van die boodskap aan die Filistyne word nie gespesifiseer nie, maar dit was êrens tussen 604-600 v.C. Uit die inhoud van die profesie is dit duidelik dat dit gelewer is in ’n tyd toe Askelon onder skoot was. Uit die geskiedenis weet ons dat Nebukadnesar Askelon verower het in 604 v.C. na die geveg by Karkemis. Die Galdeërs is dus die “vloedwater uit die noorde”. Jeremia sê verder dat die profesie gelewer is: “voordat die farao vir Gasa verower het” wat volgens Herodotus in 601/600 v.C. plaasgevind het.
Die doel van die profesie was om God se beheer in die wel en weë van die nasies te bevestig, hoewel dit waarskynlik ook ingepas het met Jeremia se algemene boodskap dat die Jode, die nasies ingesluit, aan die Galdeërs en aan Nebukadnesar onderdanig moet wees. Dit is hoe hy die wil van die Here vir hulle tyd verstaan het.
3. Die boodskap oor Moab – Jeremia 48
Die profesie oor Moab pas waarskynlik die beste in by Jeremia se simboliese handeling in Jeremia 27 waar ’n boodskap – kort nadat Sedekia koning geword het (597 v.C.) – na die konings van Edom, Moab, Ammon, Tirus en Sidon gestuur word om aan Nebukadnesar onderdanigheid te betoon. Boodskappers en onderhandelaars van dié nasies was waarskynlik op dié stadium in Juda om die naderende oorlog aan Sedekia aan te kondig, en te beraadslaag oor die beste optrede.
Hulle is waarskynlik ingespan om die boodskap van Jeremia terug te stuur na hulle eie nasies. Dit is, dat die Here belowe dat dié nasies wat besluit om Nebukadnesar te dien, die voorreg van ’n voortgaande verblyf in hulle eie land sal ontvang.
Dat die Moabiete nie daarop geregeer het nie, het waarskynlik hierdie profesie in hoofstuk 48 tot gevolg. Dit is, om die Moabiete oor hulle oorgerustheid, selfvoldaanheid, hoogmoed en grootpratery teenoor die leërs van die Galdeërs aan te spreek. Die skraal hoop van ’n lotsverandering êrens in die toekoms word darem ook aan hulle voorgehou.
4. Die boodskap oor die Ammoniete – Jeremia 49:1-6
Die profesie oor die Ammoniete pas waarskynlik ook die beste in by Jeremia se simboliese handeling in Jeremia 27 waar dieselfde boodskap as dié aan Moab ook na Ammon gestuur is. Dit is, dat die Here belowe dat dié nasies wat wel besluit om Nebukadnesar te dien, die voorreg van ’n voortgaande verblyf in hulle eie land sal ontvang.
Dat die Ammoniete nie daarop geregeer het nie, het waarskynlik hierdie profesie in hoofstuk 49 tot gevolg. Hulle word vir hulle historiese vergrype, ook teen Israel, aangespreek en vir die feit dat hulle dink niks sal hulle kan aanraak nie. Weereens is daar die skraal hoop van ’n lotsverandering in die toekoms.
5. Die boodskap oor Edom – Jeremia 49:7-22
Die profesie oor Edom pas waarskynlik ook die beste in by Jeremia se simboliese handeling in Jeremia 27 waar dieselfde boodskap as dié aan Moab en Ammon gestuur is. Dit is, dat die Here belowe dat dié nasies wat besluit om Nebukadnesar te dien, die voorreg van ’n voortgaande verblyf in hulle eie land sal ontvang.
Dat die Edomiete nie daarop geregeer het nie, het waarskynlik hierdie profesie in hoofstuk 49 tot gevolg. Dit is, dat hulle dwaas en vermetel optree en dink dat hulle die dreigende gevaar van die Galdeërs kan ontsnap. Interessant genoeg word daar nie ’n lotsverandering in die toekoms aan hulle voorgehou nie.
6. Die boodskap oor Damaskus – Jeremia 49:23-27
Die profesie oor die Aramese stad Damaskus (Sirië vandag) is nie so maklik om te dateer nie, omdat daar baie min detail in die paar verse is. Dit kan wees dat hier na die Arameër bendes verwys word wat in die tyd van Jojakim teen Juda opgetree het (2 Kon. 24:2). Indien dit die geval is, dateer dit min or meer in die tyd van 601–598 v.C.
Die boodskap aan hulle is dat hulle ook nie die oordeel van die Here sal vryspring nie. Daar is ook geen troosboodskap vir hulle nie.
7. Die boodskap oor Kedar en Gasor – Jeremia 49:28-33
Die boodskap oor die Arabiese Kedar (een van die nakomelinge van Ismael – Gen. 25:12-18) en Gasor (dit is onseker, maar verwys moontlik ook na Arabiese volke) kan ook nie maklik dateer word nie, maar in die lig van wat ons histories weet van die Galdeërs se magsuitbreiding na hulle gebiede in 599-598 v.C., geld dieselfde boodskap as dié aan Damaskus ook vir hulle. Koning Nebukadnesar sal hulle aanval, al dink hulle dat hulle rustig woon en sonder sorge is. Weereens is daar geen troosboodskap vir hulle nie.
8. Die boodskap oor Elam – Jeremia 49:34-39
Hierdie profesie word gedateer aan die begin van Sedekia se regeringstyd, d.w.s. rondom 597 v.C. Elam het gegrens aan die Galdeërkoninkryk langs die Eufraat rivier. Hulle ontvang egter ook ’n boodskap van ’n toekomstige lotsverandering, anders as wat die geval met Edom, Damaskus, Kedar en Gasor was.
9. Die boodskap oor Babel – Jeremia 50-51
Die langste van die oordeelsboodskappe aan die nasies word gelewer aan die adres van die wêreldmag van Babel en die Galdeërs. Dit is waarskynlik in die vierde jaar van Sedekia voorgelees in die grondgebied van Babel deur Seraja in opdrag van Jeremia, toe Sedekia-hulle daar besoek afgelê het. Die boekrol met die profesie op is boonop met ’n simboliese gebaar in die Eufraat gegooi as bewys van die finaliteit van God se besluit.
In die uitgebreide profesie word die val van Babel verbind aan die terugkoms van die Israeliete en Judeërs in verbondstaal wat sterk herinner aan die Boek van Vertroosting in Jeremia 30-33. Die pyn en leed wat Nebukadnesar aan al die volke van die wêreld aangedoen het, word aan homself en sy mense uitgedeel: “Daar wag groot ontnugtering vir julle stad, vir Babel, daar wag vernedering vir die volk waaruit julle kom: hy gaan die minste word van die nasies … In my toorn maak Ek hom onbewoonbaar.”