Skip to main content

Jeremia 46-51 – Boodskappe aan die nasies

Jeremiah lamenting - Rembrand van RijnJeremia gee in hoofstukke 46 tot 51 ’n aantal boodskappe aan nege van die omringende nasies.  Dit word gelewer in die verdere uitvoering van sy roeping as “profeet vir die nasies” (Jer. 1:10).  Ek gee hier eers ’n breë oorhoofse beskrywing van die waarskynlike kontekste en datums van en motivering vir dié onderskeie profesieë, voordat ons die hoofstukke gaan lees.

1. Die boodskap oor Egipte – Jeremia 46

Die boodskap aan Egipte is gelewer in die tyd van die oorlog van Nebukadnesar teen koning Nekos by Karkemis in die vierde regeringsjaar van koning Jojakim, d.w.s. 605 v.C.  Dié profesie word waarskynlik hier eerste geplaas weens die feit dat dit in dieselfde jaar gelewer is as dié van hoofstuk 45 aan Baruk.  Hierdie oorlog het die status van die Galdeërs as wêreldmag bevestig en Egipte ’n beduidende knou gegee.

Die doel van die profesie oor Egipte was waarskynlik meer om Jojakim en die Jode téén ’n alliansie met Egipte te waarsku, as om soseer Egipte as sodanig aan te spreek.  ’n Alliansie met Egipte was teen die Here se wil vir die volk, maar dit sou ook nie polities sin maak in die lig van die Galdeërs se oorheersing nie.

2. Die boodskap oor die Filistyne – Jeremia 47

Die datum van die boodskap aan die Filistyne word nie gespesifiseer nie, maar dit was êrens tussen 604-600 v.C.  Uit die inhoud van die profesie is dit duidelik dat dit gelewer is in ’n tyd toe Askelon onder skoot was.  Uit die geskiedenis weet ons dat Nebukadnesar Askelon verower het in 604 v.C.  na die geveg by Karkemis.  Die Galdeërs is dus die “vloedwater uit die noorde”.  Jeremia sê verder dat die profesie gelewer is: “voordat die farao vir Gasa verower het” wat volgens Herodotus in 601/600 v.C. plaasgevind het.

Die doel van die profesie was om God se beheer in die wel en weë van die nasies te bevestig, hoewel dit waarskynlik ook ingepas het met Jeremia se algemene boodskap dat die Jode, die nasies ingesluit, aan die Galdeërs en aan Nebukadnesar onderdanig moet wees.  Dit is hoe hy die wil van die Here vir hulle tyd verstaan het.

3. Die boodskap oor Moab – Jeremia 48

Die profesie oor Moab pas waarskynlik die beste in by Jeremia se simboliese handeling in Jeremia 27 waar ’n boodskap – kort nadat Sedekia koning geword het (597 v.C.) – na die konings van Edom, Moab, Ammon, Tirus en Sidon gestuur word om aan Nebukadnesar onderdanigheid te betoon.  Boodskappers en onderhandelaars van dié nasies was waarskynlik op dié stadium in Juda om die naderende oorlog aan Sedekia aan te kondig, en te beraadslaag oor die beste optrede.

Hulle is waarskynlik ingespan om die boodskap van Jeremia terug te stuur na hulle eie nasies.  Dit is, dat die Here belowe dat dié nasies wat besluit om Nebukadnesar te dien, die voorreg van ’n voortgaande verblyf in hulle eie land sal ontvang.

Dat die Moabiete nie daarop geregeer het nie, het waarskynlik hierdie profesie in hoofstuk 48 tot gevolg.  Dit is, om die Moabiete oor hulle oorgerustheid, selfvoldaanheid, hoogmoed en grootpratery teenoor die leërs van die Galdeërs aan te spreek.  Die skraal hoop van ’n lotsverandering êrens in die toekoms word darem ook aan hulle voorgehou.

4. Die boodskap oor die Ammoniete – Jeremia 49:1-6

Die profesie oor die Ammoniete pas waarskynlik ook die beste in by Jeremia se simboliese handeling in Jeremia 27 waar dieselfde boodskap as dié aan Moab ook na Ammon gestuur is.  Dit is, dat die Here belowe dat dié nasies wat wel besluit om Nebukadnesar te dien, die voorreg van ’n voortgaande verblyf in hulle eie land sal ontvang.

Dat die Ammoniete nie daarop geregeer het nie, het waarskynlik hierdie profesie in hoofstuk 49 tot gevolg.  Hulle word vir hulle historiese vergrype, ook teen Israel, aangespreek en vir die feit dat hulle dink niks sal hulle kan aanraak nie.  Weereens is daar die skraal hoop van ’n lotsverandering in die toekoms.

5. Die boodskap oor Edom – Jeremia 49:7-22

Die profesie oor Edom pas waarskynlik ook die beste in by Jeremia se simboliese handeling in Jeremia 27 waar dieselfde boodskap as dié aan Moab en Ammon gestuur is.  Dit is, dat die Here belowe dat dié nasies wat besluit om Nebukadnesar te dien, die voorreg van ’n voortgaande verblyf in hulle eie land sal ontvang.

Dat die Edomiete nie daarop geregeer het nie, het waarskynlik hierdie profesie in hoofstuk 49 tot gevolg.  Dit is, dat hulle dwaas en vermetel optree en dink dat hulle die dreigende gevaar van die Galdeërs kan ontsnap.  Interessant genoeg word daar nie ’n lotsverandering in die toekoms aan hulle voorgehou nie.

6. Die boodskap oor Damaskus – Jeremia 49:23-27

Die profesie oor die Aramese stad Damaskus (Sirië vandag) is nie so maklik om te dateer nie, omdat daar baie min detail in die paar verse is.  Dit kan wees dat hier na die Arameër bendes verwys word wat in die tyd van Jojakim teen Juda opgetree het (2 Kon. 24:2).  Indien dit die geval is, dateer dit min or meer in die tyd van 601–598 v.C.

Die boodskap aan hulle is dat hulle ook nie die oordeel van die Here sal vryspring nie.   Daar is ook geen troosboodskap vir hulle nie.

7. Die boodskap oor Kedar en Gasor – Jeremia 49:28-33

Die boodskap oor die Arabiese Kedar (een van die nakomelinge van Ismael – Gen. 25:12-18) en Gasor (dit is onseker, maar verwys moontlik ook na Arabiese volke) kan ook nie maklik dateer word nie, maar in die lig van wat ons histories weet van die Galdeërs se magsuitbreiding na hulle gebiede in 599-598 v.C., geld dieselfde boodskap as dié aan Damaskus ook vir hulle.  Koning Nebukadnesar sal hulle aanval, al dink hulle dat hulle rustig woon en sonder sorge is. Weereens is daar geen troosboodskap vir hulle nie.

8. Die boodskap oor Elam – Jeremia 49:34-39

Hierdie profesie word gedateer aan die begin van Sedekia se regeringstyd, d.w.s. rondom 597 v.C.  Elam het gegrens aan die Galdeërkoninkryk langs die Eufraat rivier.  Hulle ontvang egter ook ’n boodskap van ’n toekomstige lotsverandering, anders as wat die geval met Edom, Damaskus, Kedar en Gasor was.

9. Die boodskap oor Babel – Jeremia 50-51

Die langste van die oordeelsboodskappe aan die nasies word gelewer aan die adres van die wêreldmag van Babel en die Galdeërs.  Dit is waarskynlik in die vierde jaar van Sedekia voorgelees in die grondgebied van Babel deur Seraja in opdrag van Jeremia, toe Sedekia-hulle daar besoek afgelê het.  Die boekrol met die profesie op is boonop met ’n simboliese gebaar in die Eufraat gegooi as bewys van die finaliteit van God se besluit.

In die uitgebreide profesie word die val van Babel verbind aan die terugkoms van die Israeliete en Judeërs in verbondstaal wat sterk herinner aan die Boek van Vertroosting in Jeremia 30-33.  Die pyn en leed wat Nebukadnesar aan al die volke van die wêreld aangedoen het, word aan homself en sy mense uitgedeel: “Daar wag groot ontnugtering vir julle stad, vir Babel, daar wag vernedering vir die volk waaruit julle kom: hy gaan die minste word van die nasies … In my toorn maak Ek hom onbewoonbaar.”


Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Jeremia


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar

  • Chris van Wyk on Psalm 119:169-176Absoluut!
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:169-176Psalm 119 is voorwaar ñ baie Geseënde Psalm
  • Chris van Wyk on Psalm 119:145-152Dis self opnuut weer ‘n vreugde vir my.
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:145-152Ek was altyd baie langtand om Ps 119 aan te durf, nou wens ek dat dit nie ophou nie... Ps 119 is te kort!!! PDH
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:105-112Goeie middag, baie dankie vir die deel van die kosbare verhaal wat so gepas is met die Psalm
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:1-8Sien waarlik die nou verband tussen OT EN NT. waarlik verhelderend. אמן
  • Chris van Wyk on Psalm 118:19-29Ek gee maar net aan wat ek ontvang het. Dit bly egter 'n kosbare voorreg.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 118:19-29Goeie môre, baie dankie dat u met ons deel wie en waar die vertaaling van die Bybel sy oorsprong gekry het, dit is so kosbaar, baie dankie vir een en elkeen wat deel is en was om hierdie kosbare woord ook vir ons in ons Taal te kon uitlê
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 110Baie dankie vir hierdie kosbaarhede wat u met ons deel. Ek het Openbaring 22 gelees en dit klink baie soos die tuin van Eden, hy praat van die boom van lewe. Die sondeval gemaak dat die mens gesondig het en dat hul nie meer in die tuin kon woon nie asgevolg van die sonde.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 109:6-19Goeie middag, ek wil ook by las dat in Psalm 139:23 bid David;"Deurgrond my, O GOD, en ken my hart, toets my en ken my gedagtes" GOD ken die mens en HY deersoek die hart en die gedagtes. Ek het self al telkens gebid, HERE vergewe hulle want hulle weet nie wat hulle doen nie en dan soos die woord sel…
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:33-38Baie dankie vir hierdie verduideliking. Ons lees die eerste keer van Baäl-Peor in Numeri 25. Baäl was die Kanaänitiese god van vrugbaarheid, terwyl Peor verwys na die berg in Moab waar hy onder andere aanbid is. Hy is ook in Kanaän aanbid en was 'n groot versoeking vir die Israeliete met hulle vesti…
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:33-38GOD is so goeie GOD. HY gee vir ons die voorskrifte vanaf Deut. 28 en dan volg HY dit ook op in Psalm 107 en sê as ons net doen wat HY ons beveel sal dit met ons goed gaan en ons geseënd wees, nie oor ons nie, maar oor GOD en wie HY is.
  • Chris van Wyk on Psalm 106:43-48Ons lees die eerste keer van Baäl-Peor in Numeri 25. Baäl was die Kanaänitiese god van vrugbaarheid, terwyl Peor verwys na die berg in Moab waar hy onder andere aanbid is. Hy is ook in Kanaän aanbid en was 'n groot versoeking vir die Israeliete met hulle vestiging in die Beloofde Land.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:1-9Psalm 1:1 Stel dit so mooi hoe ons, ons pad moet hou en dat ons moet hou en bly by GOD se gebooie
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 106:43-48Goeie naand, Psalm 106: 28 Kan u asb vir my verduidelik wat Baâlpeor is ? Baie dankie Amanda