Skip to main content

Jeremia 46 – ’n Boodskap aan Egipte

Jeremiah lamenting - Rembrand van RijnDie boodskap aan Egipte is gelewer in die tyd van die oorlog van Nebukadnesar teen koning Nekos by Karkemis in die vierde regeringsjaar van koning Jojakim, d.w.s. 605 v.C.  Hierdie oorlog het die status van die Galdeërs as wêreldmag bevestig en Egipte ’n beduidende knou gegee.

Dié profesie word waarskynlik hier eerste geplaas in die reeks profesieë teen die nasies weens die feit dat dit in dieselfde jaar gelewer is as dié van hoofstuk 45 aan Baruk.  Die doel van die profesie oor Egipte was waarskynlik meer om Jojakim en die Jode téén ’n alliansie met Egipte te waarsku, as om soseer Egipte as sodanig aan te spreek.  Hulle het immers nie vir Juda in dié tyd leed aangedoen nie.  ’n Alliansie met Egipte was egter steeds teen die Here se wil vir die volk.  Dit sou waarskynlik ook nie polities sin maak in die lig van die Galdeërs se oorheersing nie.

Reeds vroeër het die Here die volk gewaarsku: “Wat wil jy bereik deur na Egipte toe te gaan en water uit die Nyl te gaan drink? … Egipte sal jou net so in die steek laat as wat Assirië jou in die steek gelaat het. Jy sal daarvandaan terugkom sonder dat jy jou sin gekry het, want Ek het almal verwerp op wie jy vertrou het; by hulle sal jy geen hulp kry nie.” (Jer. 2:18, 36-37).   En in die simboliek van die twee mandjies vye het die Here gesê oor: “dié wat in Egipte wil gaan woon,” dat Hy hulle: “maak soos die slegte vye wat so sleg is dat ’n mens hulle nie kan eet nie.” (Jer. 24:8).

Die profesie word in drie dele ingedeel:

  • 46:1-12 – Egipte word verneder
  • 46:13-26 – Daar wag ’n nederlaag vir Egipte
  • 46:27-28 – Die Here verander die lot van Israel

46:1-12 – Egipte word verneder

Egipte word in hierdie profesie beskryf as die Nyl wat sy walle oorstroom om die wêreld in te neem.  Soldate uit Kus (Ethiopië) en Put (area tussen Egipte en Kanaän) word genoem, waarskynlik huursoldate, sowel as boogskutters uit Lud (Gen. 10:13 – moontlik Libië).

Maar Jeremia voorsien dat Egipte sal terugdeins in die oorlog weens die optrede van die Here wat Hom wreek op hulle in die oorlog teen die Galdeërs.  Ironies genoeg raai Hy hulle aan om balsem in Gilead te gaan soek, want hulle eie medisyne help nie.

46:13-26 – Daar wag ’n nederlaag vir Egipte

Jeremia voorsien ook ’n tyd wat Nebukadnesar Egipte self sou binneval – iets wat in 568 v.C. gebeur het.  Getrou aan die visie van die profesie was dit net ’n straf ekspedisie en is die land nie heeltemal verwoes nie (Jer. 46:26).

Die verwarring en verwoesting van die oorlog word treffend beskrywe: “Staan op, kom ons gaan terug na ons mense toe … weg van die swaard af wat so wild te kere gaan.”  Veral die Nyl delta word deur die oorlog getref, presies die gebied waar Joganan en die ander Jode wat simpatie met Egipte gehad het, vir Jeremia heen weggevoer het.

Die Galdeërs word as ’n blindevlieg geteken wat die vetgemaakte kalwers van Egipte sal afmaai: “Egipte sal sis soos ’n slang” maar ondergaan in die oorlog wanneer die Galdeërs se mag hulle oorrompel.  “Daar wag ’n nederlaag vir Egipte, hy word oorgegee in die mag van die volk uit die noorde.”  Dit sluit ook hulle gode in.

46:27-28 – Die Here verander die lot van Israel

In ’n verrassende wending word ’n deel van die “Boek van Vertroosting” aangehaal as boodskap van hoop vir die Jode (Jer. 30:10-11), hoewel dit eintlik nie hier pas nie.  Waarskynlik sit Baruk of die uiteindelike redakteur dit hier om God se kras oordeel oor ander volke met sy meer genadige oordeel oor sy volk te kontrasteer: “Wanneer Ek ’n einde maak aan al die nasies waarsonder Ek jou verstrooi het, sal Ek aan jou nie ’n einde maak nie.  Maar Ek sal jou straf soos jy verdien, jy sal nie ongestraf bly nie.

Boodskap

Dit bly interessant om die wisselwerking van politiek en godsdiens hier waar te neem.  Polities was daar die keuse tussen onderdanigheid aan die Galdeërs óf aan Egipte.  Hulle was die twee wêreldmoondhede van dié tyd.  Jeremia het soos koning Josia onderdanigheid aan die Galdeërs voorgestaan – anders as die ander konings soos Jojakim en Sedekia, en ook van die militêre leiers soos Joganan.  Hierdie keuse van Jeremia was op religieuse gronde – die Here het dit beveel.  Dit was egter ook op politiese gronde – die Galdeërs was militêr sterker as die Egiptenare.

Maar daar is ook ’n ander rede wat waarskynlik ’n rol in hierdie keuse gespeel het.  Die Galdeërs het ’n beleid van relatiewe kultuur-  en godsdiensvryheid gevolg. Die Jode, soos ander volke ook, is toegelaat om hulle gebruike en hulle godsdiens te beoefen in ballingskap.  Dit het ook gegeld vir dié wat agtergebly het.  Vir die Jode se langtermyn oorlewing was hierdie beleid krities belangrik.  Jeremia se keuse doen dus ook in die lig van dié feite sin.

Só sien ons dat die Here sy planne uitwerk ook in die intriges van politiese keuses.  Jeremia was deur baie van sy tydgenote verkwalik dat hy polities kant kies, maar die gevolge van sy keuse was dat die Jode uiteindelik na sewentig jaar weer na hulle land kon terugkom en as volk kon oorleef.  Daarsonder sou die Messiaanse verwagting verdwyn het, en het ons moontlik die wonder van Christus verpas.


Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Jeremia


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar

  • originalblizzard19aaa84c56 on Josef-hulle vlug van Betlehem na EgipteTans so gepas in my vrou en my se lewe. Moet noukeurig let op die detail van die Heer se leiding. Kan nie wag om die volgende stappe te volg nie. Dankie.
  • Philip Vermaak on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Wat my weer getref het is God se liefde vir alle mense en Dawid se nederige houding as hy tot God roep en hom met alles aan God "oorgee" En- wat ons het is aan ons deur God geskenk en wat ons is is slegs Genade Baie dankie
  • originalblizzard19aaa84c56 on Sterrekundiges besoek Jesus in die huis in Betlehem MATTEUS 2:1-12Prys die Here vir sy Heilige Woord en Gees.
  • sparklybc467b2e69 on ‘n Engel van die Here oortuig Josef dat Maria se Kind van die Heilige Gees is MATTEUS 1:18-25Dit is vir my opsig self so groot bewys van GOD se grootheid, Sy Heilige Gees wat Maria bevrug. Ek het altyd gedink dat Maria baie besonders was onder die vroue, maar as ñ mens lees van Josef en sy karakter, was hulle albei uitverkies as JESUS, GOD se seun.
  • originalblizzard19aaa84c56 on Jesus se geslagsregister in Matteus verbind Hom aan Abraham, Dawid en die volk na die ballingskap MATTEUS 1:1-17Matteus. Amazing, om my te verwonder aan die Heilige Skrif. Dankie vir navorsing.
  • Chris van Wyk on Psalm 150Hi, jy sal steeds die Matteus bydraes kry as jy ingeteken is. Die skakel is daar vir nuwe mense. Die opmerkings moet eers goedgekeur word deur my, vandaar die verposing. Hoop jy het steeds Matteus gekry?
  • perfectly57edc75df4 on Psalm 150Naand Chris. Ek dink daar is iets met die website verkeerd. Psalms was op Bybelskool beskikbaar, maar vir Mattteus vra dit jou om weer in te teken op Bybelskool. Ek is op Bybelskool. Dan stuur die opmerkings ook nie elke keer nie. Die inskrywing vir Matteus vat jou na 'n snaakse vorm. Is dit reg so,…
  • Doreen Snyders on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Baie baie dankie vir die Psalms. Dit was só insiggewend en het baie gehelp om om die Skrif te bid. Nogmaals dankie. Ek sien baie uit na Matteus. Doreen Snyders
  • johannes buhrmann on Psalm 150Die God aan wie die Psalm digters hul lof en dankbaarheid betuig het , en teenoor wie hulle hul klagtes en swaarkry en onsekerhede kon bekendmaak is dieselfde God teenoor wie gelowiges hulle in die huidige tydsgewrig gewrig hul kan wend om geloof en lewensrigting te verkry Dankie
  • originalblizzard19aaa84c56 on Inleiding'n Mondvol oor Matteus. Sien uit na die reis. Dankie
  • Francois Du Toit on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Dit was n wonderlike reis deur die psalms, teen n pas wat genoeg tyd vir nadenke toegelaat het. En die diep nuanses vd Onse Vader laat deurskemer het. Baie dankie vd leiding en verklari gs.
  • Hannes. on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Middag Dr. Chris, Baie dankie vir ‘n insiggewende reis deur Psalms. Dit het beslis gehelp om my persoonlike gebedslewe te verbeter, en ek glo sterk dat elke gebed beslis my verhouding met die Here verdiep op ‘n manier waar ek tans baie meer pligsgetrou is teenoor my persoonlike stiltetyd en gesprekk…
  • Kobus on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Dit was vir my 'n wonderlike ervaring, ek kyk met 'n ander insig nou na die Psalms
  • Chris van Zyl on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Bid die Psalms het vir my baie beter insig verskaf, veral die kontektualisering en verklarings wat elke gedeelte belig het. Ek is so dankbaar dat ek kon deel in hierdie bid-gerigte ervaring. Menige dag het ek gevoel dat die Psalm van die dag spesiaal vir my bedoel was. Dankie Chris van Wyk vir hierd…
  • Chris van Wyk on Psalm 137Dit is my voorreg. Groete!