Jeremia 46 – ’n Boodskap aan Egipte
Die boodskap aan Egipte is gelewer in die tyd van die oorlog van Nebukadnesar teen koning Nekos by Karkemis in die vierde regeringsjaar van koning Jojakim, d.w.s. 605 v.C. Hierdie oorlog het die status van die Galdeërs as wêreldmag bevestig en Egipte ’n beduidende knou gegee.
Dié profesie word waarskynlik hier eerste geplaas in die reeks profesieë teen die nasies weens die feit dat dit in dieselfde jaar gelewer is as dié van hoofstuk 45 aan Baruk. Die doel van die profesie oor Egipte was waarskynlik meer om Jojakim en die Jode téén ’n alliansie met Egipte te waarsku, as om soseer Egipte as sodanig aan te spreek. Hulle het immers nie vir Juda in dié tyd leed aangedoen nie. ’n Alliansie met Egipte was egter steeds teen die Here se wil vir die volk. Dit sou waarskynlik ook nie polities sin maak in die lig van die Galdeërs se oorheersing nie.
Reeds vroeër het die Here die volk gewaarsku: “Wat wil jy bereik deur na Egipte toe te gaan en water uit die Nyl te gaan drink? … Egipte sal jou net so in die steek laat as wat Assirië jou in die steek gelaat het. Jy sal daarvandaan terugkom sonder dat jy jou sin gekry het, want Ek het almal verwerp op wie jy vertrou het; by hulle sal jy geen hulp kry nie.” (Jer. 2:18, 36-37). En in die simboliek van die twee mandjies vye het die Here gesê oor: “dié wat in Egipte wil gaan woon,” dat Hy hulle: “maak soos die slegte vye wat so sleg is dat ’n mens hulle nie kan eet nie.” (Jer. 24:8).
Die profesie word in drie dele ingedeel:
- 46:1-12 – Egipte word verneder
- 46:13-26 – Daar wag ’n nederlaag vir Egipte
- 46:27-28 – Die Here verander die lot van Israel
46:1-12 – Egipte word verneder
Egipte word in hierdie profesie beskryf as die Nyl wat sy walle oorstroom om die wêreld in te neem. Soldate uit Kus (Ethiopië) en Put (area tussen Egipte en Kanaän) word genoem, waarskynlik huursoldate, sowel as boogskutters uit Lud (Gen. 10:13 – moontlik Libië).
Maar Jeremia voorsien dat Egipte sal terugdeins in die oorlog weens die optrede van die Here wat Hom wreek op hulle in die oorlog teen die Galdeërs. Ironies genoeg raai Hy hulle aan om balsem in Gilead te gaan soek, want hulle eie medisyne help nie.
46:13-26 – Daar wag ’n nederlaag vir Egipte
Jeremia voorsien ook ’n tyd wat Nebukadnesar Egipte self sou binneval – iets wat in 568 v.C. gebeur het. Getrou aan die visie van die profesie was dit net ’n straf ekspedisie en is die land nie heeltemal verwoes nie (Jer. 46:26).
Die verwarring en verwoesting van die oorlog word treffend beskrywe: “Staan op, kom ons gaan terug na ons mense toe … weg van die swaard af wat so wild te kere gaan.” Veral die Nyl delta word deur die oorlog getref, presies die gebied waar Joganan en die ander Jode wat simpatie met Egipte gehad het, vir Jeremia heen weggevoer het.
Die Galdeërs word as ’n blindevlieg geteken wat die vetgemaakte kalwers van Egipte sal afmaai: “Egipte sal sis soos ’n slang” maar ondergaan in die oorlog wanneer die Galdeërs se mag hulle oorrompel. “Daar wag ’n nederlaag vir Egipte, hy word oorgegee in die mag van die volk uit die noorde.” Dit sluit ook hulle gode in.
46:27-28 – Die Here verander die lot van Israel
In ’n verrassende wending word ’n deel van die “Boek van Vertroosting” aangehaal as boodskap van hoop vir die Jode (Jer. 30:10-11), hoewel dit eintlik nie hier pas nie. Waarskynlik sit Baruk of die uiteindelike redakteur dit hier om God se kras oordeel oor ander volke met sy meer genadige oordeel oor sy volk te kontrasteer: “Wanneer Ek ’n einde maak aan al die nasies waarsonder Ek jou verstrooi het, sal Ek aan jou nie ’n einde maak nie. Maar Ek sal jou straf soos jy verdien, jy sal nie ongestraf bly nie.”
Boodskap
Dit bly interessant om die wisselwerking van politiek en godsdiens hier waar te neem. Polities was daar die keuse tussen onderdanigheid aan die Galdeërs óf aan Egipte. Hulle was die twee wêreldmoondhede van dié tyd. Jeremia het soos koning Josia onderdanigheid aan die Galdeërs voorgestaan – anders as die ander konings soos Jojakim en Sedekia, en ook van die militêre leiers soos Joganan. Hierdie keuse van Jeremia was op religieuse gronde – die Here het dit beveel. Dit was egter ook op politiese gronde – die Galdeërs was militêr sterker as die Egiptenare.
Maar daar is ook ’n ander rede wat waarskynlik ’n rol in hierdie keuse gespeel het. Die Galdeërs het ’n beleid van relatiewe kultuur- en godsdiensvryheid gevolg. Die Jode, soos ander volke ook, is toegelaat om hulle gebruike en hulle godsdiens te beoefen in ballingskap. Dit het ook gegeld vir dié wat agtergebly het. Vir die Jode se langtermyn oorlewing was hierdie beleid krities belangrik. Jeremia se keuse doen dus ook in die lig van dié feite sin.
Só sien ons dat die Here sy planne uitwerk ook in die intriges van politiese keuses. Jeremia was deur baie van sy tydgenote verkwalik dat hy polities kant kies, maar die gevolge van sy keuse was dat die Jode uiteindelik na sewentig jaar weer na hulle land kon terugkom en as volk kon oorleef. Daarsonder sou die Messiaanse verwagting verdwyn het, en het ons moontlik die wonder van Christus verpas.
Discover more from Bybelskool
Subscribe to get the latest posts sent to your email.
Onlangse kommentaar