Jeremia 45 – Jeremia bemoedig sy sekretaris Baruk
’n Laaste woord word aan die einde van die meer biografiese deel van Jeremia geplaas, ’n woord aan Baruk, sy sekretaris en skrywersvriend. Dit vind reeds in die vierde jaar van koning Jojakim plaas, juis in die tyd wat die koning die vorige boekrol wat Baruk geproduseer het, vernietig het (Jer. 36). Die verhaal word waarskynlik hier geplaas sodat al die dele wat meer op Jeremia van toepassing was, as ’n eenheid geplaas kon word. Dit pas egter in tyd in by hoofstuk 36.
Dat Baruk deur dié gebeure in hoofstuk 36 geruk was, is vanselfsprekend. Jojakim het immers sy lewenswerk vernietig! Dit het hulle ’n baie lang tyd geneem om dit weer neer te skrywe, langer as ’n jaar.
Dit verklaar waarskynlik hoekom die Here hom hier aanspreek dat hy mismoedig geraak het en gedink het dit is klaar met hom. Die Here waarsku hom ook om nie roem vir homself te soek nie – d.w.s. dat sy werk as sodanig van waarde geag sal word. Hy is immers in diens van die Here, en moet daarin sy vreugde en sy sin en betekenis vind. Wat ander met sy lewenswerk doen, is van minder belang.
Tog sal die Here hom beskerm waar hy ook al gaan: “al sal jy net met jou lewe daarvan afkom.” Die ervaringe en lotgevalle van die profeet en van sy skrywer is doodgewoon van minder belang as die doel wat die Here het met die gebeure waarvan hulle skrywe en waarby hulle betrokke is. Omdat die woord van die Here in die tyd van Jeremia en Baruk veral met oordeel te make het, kan hulle nie ongeskonde daarvan afkom nie. Die boodskap het ’n beslissende impak ook op die boodskapper.
Iets om oor na te dink in die uitvoering van jou eie lewensroeping.