Skip to main content

Jeremia 48 – ’n Boodskap aan Moab

Jeremiah lamenting - Rembrand van RijnDie profesie oor Moab pas waarskynlik die beste in net na Jeremia se simboliese handeling in Jeremia 27 waar ’n boodskap – kort nadat Sedekia koning geword het (597 v.C.) – na die konings van Edom, Moab, Ammon, Tirus en Sidon gestuur is om aan Nebukadnesar onderdanigheid te betoon.  Boodskappers en onderhandelaars van dié nasies was waarskynlik op dié stadium in Juda om die naderende oorlog van Nebukadnesar teen Juda en die omgewing aan Sedekia aan te kondig, en te beraadslaag oor die beste manier van optrede.

Die boodskappers is waarskynlik ingespan om die boodskap van Jeremia terug te stuur na hulle eie nasies.  Dit is, dat die Here belowe dat dié nasies wat besluit om Nebukadnesar te dien, en aan hom onderdanigheid te betoon, die voorreg van ’n voortgaande verblyf in hulle eie land sal ontvang.

Dat die Moabiete vermoedelik nie daarop geregeer het nie, het waarskynlik hierdie profesie in hoofstuk 48 tot gevolg.  Dit is, om die Moabiete oor hulle oorgerustheid, selfvoldaanheid, hoogmoed en grootpratery teenoor die bedreiging van die leërs van die Galdeërs aan te spreek.  Die skraal hoop van ’n lotsverandering êrens in die toekoms word darem ook aan die einde van die profesie aan hulle voorgehou, hoewel dit ná die oordeel sal wees (vgl. Jer. 9:26 – waar hulle as onbesnede van hart aangekla word – sowel as Jer. 25:21 waar die felheid van die oordeel van die Here wat gaan kom, uitgespel word).

Let ook op hoe baie detail van Moab gegee word.  Daar is altesame 27 name wat ek in die loop van my bydrae sal probeer verduidelik, hoewel daar oor sommige min of geen inligting beskikbaar is nie.  Terloops, ’n hele aantal ander profete verkondig deur die eeue die oordeel van die Here oor Moab: Jesaja 15-16 (daar is heelwat woordelike ooreenstemmings); Amos 2:1-3; Sefanja (tydgenoot van Jeremia) 2:8-11; Esegiël 25:8-11.

Daar is min ooreenstemming onder geleerdes se indeling van die profesieë in hierdie hoofstuk.  My tentatiewe keuse is soos volg:

  1. 48:1-10 – Moab word uitmekaargeskeur
  2. 48:11-28 – Moab het hom groot gehou teen die Here
  3. 48:29-39 – Ek huil oor Moab
  4. 48:40-47 – Moab sal uitgeroei word

48:1-10 – Moab word uitmekaargeskeur

Die Here kondig ellende aan vir Moab – hulle grondgebied was reg oos van die Dooie See – en noem spesifiek dat Nebo, Kirjatajim sowel as ’n onbekende vestingstad getref sal word.  Nebo was ’n stad in die omgewing van die berg met dieselfde naam noord-oos van die Dooie See in Moab.  Die berg Nebo was ook die plek vanwaar Moses die land kon sien, en daarna gesterf het (Deut. 32:48-52).  Interessant genoeg was  Nebo ook die naam van een van die Babiloniese gode.  Kirjatajim was een van die stede wat Ruben herbou het na die Intog in Kanaän, reg oos van die Dooie See wat nou deel van Moab was (Num. 32:37; ook Esegiël 25:9 spreek ’n oordeel oor die stad uit).  Dit was een van die spogstede van Moab.

Die oordeel sal uitgevoer word deur die Ammoniete – noord van Moab – omdat die stad Gesbon op dié stadium in hulle hande is.  Gesbon, ’n stad ook noord-oos van die Dooie See, maar hoër op as Nebo, het vroeër aan die Amoriete behoort (vgl. Num. 21:25-28), maar was nou waarskynlik onder beheer van die Ammoniete (vgl. Jer. 49:3 waar Gesbon as deel van die Ammoniete veroordeel word). Dit beteken dat die oordeel wat die Here hier teen Moab uitspreek deur die Ammoniete voltrek sou word.

Let op hoe: “die swaard is agter jou aan!” in vers 2 verband hou met vers 10 waar die Here die swaardvegters aanpor om nie op te hou nie: “om die werk te doen wat die Here hom gegee het.” Grusaam.

Die verwoesting en ondergang weerklink regdeur die grondgebied van Moab, in al sy dorpies, uitgedruk deur die spesifieke vermelding van Goronajim en Lugit: “Sy mense klim huil-huil die opdraand na Lugit toe uit; benoude smartkrete … weerklink op die pad af na Goronajim toe.” Jesaja 15 vertel ook hiervan.  Goronajim was waarskynlik suid-wes van die Dooie See.  Lugit weer was naby Goronajim, maar ons weet nie veel meer van hulle nie.  Madmen is ’n plek in die suide van Moab waarvan ons bitter min weet.

Die Here por die mense van Moab aan om te vlug, maar weet eintlik dit is verniet.  Hulle vertroue in die afgod Kemos was misplaas en daarom word ironies genoeg Kemos, as simbool van die land en sy mense, in ballingskap weggevoer, “saam met sy priesters en sy amptenare”.  Kemos was die hoofgod van die Moabiete (Num. 21:29; 1 Kon. 11:7), maar is interessant genoeg ook deur die Ammoniete vereer (Rig 11:24). Josia het juis die altare wat Salomo vir Kemos en Molek gebou het, afgebreek (2 Kon. 23:13).

48:11-28 – Moab het hom groot gehou teen die Here

’n Prentjie van Moab word hier voorgehou as sorgeloos, soos iemand wat van sy jeug af rustig is: “so ongestoord soos wyn op sy afsaksel”.  Maar dit sal nie vir altyd so bly nie.  Die Here gaan hulle straf, maar by hulle afgod Kemos sal hulle geen hulp kry nie, net so min as wat Israel vroeër by die heiligdom in Bet-El in Jerobeam se tyd hulp gekry het.

Die Here word as Koning geteken, die Almagtige.  Hy gaan dié magtige ryk van Moab tot ’n val bring.  Dit sal die stad Dibon – waar die beroemde Mesa-steen van een van die Moabitiese konings ontdek is – sowel as ’n reeks ander Moabitiese stede tref: Golon, Jahas, Mefaät, Nebo, Bet-Diblatajim, BetGamul, Bet-Meon, Kerijot, en Bosra (’n hele paar van dié stede word ook op die Mesa-steen genoem).

Die boodskap moet vertel word by die Arnon rivier wat die suidelike grens van Moab was, en die inwoners van Aroër op die oewer van die Arnon word uitgenooi om die vlugtelinge uit Moab amper op sarkastiese manier te ondervra: “Wat het gebeur?” (48:19).

Hoekom?  “Moab het hom groot gehou teen die Here.”  Sy arrogansie en rebellie teen die Here het hom tot ’n val gebring.  Hulle het neergesien op Israel – ’n verwysing na die tyd toe Balak vir Bileam gehuur het om die Israeliete te vervloek (Num. 22).  Nou sal ander met hulle spot.

48:29-39 – Ek huil oor Moab

Tóg, ten spyte van Moab se grootpratery teen die Here – en let op hoe die skandes opgestapel word: vermetelheid, opperste hoogmoed, verwaandheid, trots, selfvoldaanheid en hovaardigheid – en die feit dat alles wat hy doen tot niks kom, put die Here geen plesier uit sy straf nie.  God huil oor hulle, oor Kir-Geres (in die suide), oor Jaser, en oor Sibma (in die noorde en blykbaar die hart van hulle wyn-industrie), d.w.s. oor die hele Moab, al die mense, selfs oor die wingerde: “die vreugde om druiwe uit te trap is daar nie meer nie, daar is geen oesvreugde meer nie.

Dit is waarskynlik beter om vers 34 meer letterlik te vertaal: “Die hulpgeroep klink van Gesbon tot in Elale …”  Dit is nie Gesbon wat kla nie, maar die klag word ook daar gehoor.  Elale, Soar en Eflat-Selisija is almal stede in die suide van Moab.  Die Nimrim is ’n rivier in daardie streek wat die Here laat opdroog as teken van die geestelike en ekonomiese droogte wat daar vir die volk voorlê.

Let op hoe vers 35 verwoord is: “Ek maak ’n end … aan dié Moab wat hoogtes toe gaan en aan hulle gode offer.”  Die Here se toorn ontvlam teenoor diegene wat Hom nie vereer nie.

Hoe roerend word die smart van die Here nie uitgedruk in vers 36: “Soos die klaagsang van ’n fluit, so kla dit in My oor Moab.”  Hoekom? “Want Ek het Moab gebreek soos ’n kleipot wat niemand wil hê nie.”  ’n Mens onthou die woord oor die ander kleipot, Israel, in Jeremia 19!

48:40-47 – Moab sal uitgeroei word

Maar, helaas, die ramp sal nie afgeweer word van Moab nie.  Die oordeel sal voltrek word en Moab sal uitgeroei word, “want hy het hom groot gehou teen die Here.”  Die jaar van afrekening het vir hulle aangebreek.

Die  vuur van Gesbon (Ammoniete) het net soos in die verlede onder koning Sihon van die Amoriete (vgl. Num. 21:28-29 waaruit woordeliks aangehaal word) nou die Moabiete verwoes.  Dit het die voorkop van Moab verteer, die simbool van hulle grootpratery (vgl. Num. 24:17 – daar word dit in Messiaanse trekke verwoord).

Die hoofstuk sluit met ’n klein stukkie genade af, ’n lotsverandering in die toekoms.

Boodskap

Die Moabiete word nie veroordeel omdat hulle vyande van Juda was nie.  Volgens Jeremia 27 was hulle trouens op dié stadium bondgenote.  Hulle word veroordeel op grond van hulle grootheidswaan teenoor die Here.  Daar is eintlik niks wat Hom meer irriteer as grootpratery, vermetelheid, opperste hoogmoed, verwaandheid, trots, selfvoldaanheid en hovaardigheid nie, soos ons in verse 29-30 gehoor het.  Dít is steeds vandag so.


Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Jeremia


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar