Skip to main content

Jeremia 50-51 – ’n Boodskap aan Babel

Jeremiah lamenting - Rembrand van RijnDie langste van die oordeelsboodskappe aan die nasies word gelewer aan die adres van die wêreldmag van Babel en die Galdeërs.  Dit is waarskynlik in die vierde jaar van Sedekia, 594 v.C., voorgelees in die grondgebied van Babel deur Seraja in opdrag van Jeremia, toe Sedekia-hulle daar besoek afgelê het.  Hierdie profesie word dus in dieselfde jaar as die hoopvolle brief aan die ballinge in Babel – hoofstuk 29 – daarheen geneem.

Die boekrol met die profesie op is boonop met ’n simboliese gebaar in die Eufraat gegooi as bewys van die finaliteit van God se besluit. In hierdie uitgebreide profesie word die val van Babel verbind aan die terugkoms van die Israeliete en Judeërs in verbondstaal wat sterk herinner aan die Boek van Vertroosting in Jeremia 30-33 wat waarskynlik in die tiende regeringsjaar van Sedekia, 587 v.C., gefinaliseer is.

  • Aan die eenkant beloof die Here dat die pyn en leed wat die Galdeërs aan al die volke van die wêreld aangedoen het, aan homself en sy mense uitgedeel sal word: “Daar wag groot ontnugtering vir julle stad, vir Babel, daar wag vernedering vir die volk waaruit julle kom: hy gaan die minste word van die nasies … In my toorn maak Ek hom onbewoonbaar.” (50:12)
  • Aan die ander kant beloof die Here dat Hy Hom oor die ballinge van sy volk sal ontferm en sal terugbring na hulle land waar hulle hul weer aan Hom sal verbind: “Kom ons bind ons aan die Here in ’n blywende verbond wat nie vergeet sal word nie.” Dit is die hoop vir die volk, al sal dit “huil-huil” gebeur. (50:5)

Geleerdes se indeling van die onderskeie afdelings in dié boodskap aan Babel verskil redelik baie.  Sommige vind soveel as vyftig losstaande profesieë (Robinson), maar die indeling wat vir my die meeste sin maak is dié van Keown (Word kommentaar) wat gebaseer is op werk van Carrol en veral Aitken.  Hulle deel die profesieë in ses bewegings in, hoewel elke geleerde natuurlik sy eie nuanses en afbakenings het.  Ek skoei my indeling daarop.  Dit gee ook ’n handige opsomming van die boodskap van die twee hoofstukke se profesieë:

  • 50:1-3 – Babel se verwoesting word aangekondig aan die nasies
  • 50:4-20 – Eerste beweging: Daar wag groot ontnugtering op Babel
  • 50:21-32 – Tweede beweging: Babel was hooghartig teenoor die Here
  • 50:33-46 – Derde beweging: Niemand sal weer in Babel wil woon nie
  • 51:1-33 – Vierde beweging: Ek laat ’n ramp losbreek oor Babel
  • 51:34-44 – Vyfde beweging: God sal vir Sion se reg opkom
  • 51:45-53 – Sesde beweging: Moenie moed verloor nie, Ek sal met Babel afreken
  • 51:54-58 – Die Here is ’n God wat vergeld, en Hy sal voluit straf
  • 51:59-64 – Seraja lees die boodskap in Babel en gooi dit simbolies in die Eufraat

50:1-3 – Babel se verwoesting word aangekondig aan die nasies

Die boodskap van Babel se verwoesting word nie net aan Juda en die ballinge in Babel aangekondig nie, maar aan alle nasies.  Hierin lê ’n baie belangrike perspektief. Die God van Israel is nie beperk tot die gebied van Israel nie.  Hy is God van die hele aarde.

Dit sien ’n mens in die beskrywing van die gode van Babel – Marduk was die hoofgod en die naam van die god Bel (Here) is ook mettertyd vir hom gebruik – wat verslae en verskrik staan.  Hulle is magteloos om God se optrede teen Babel te verhoed.  Galdeërland word verlate – mens en dier het op die vlug geslaan.

Die vyand wat hier teen Babel sal optree, word ook as ’n nasie uit die noorde geteken, soos Babel voorheen op talle plekke in die boek Jeremia beskryf is.  In Jer. 50:9 word hulle as ’n groep nasies beskrywe en in Jer. 50:41 as baie konings en in Jer. 51:48 en 53 as verwoesters uit die noorde.  In  Jer. 51:11 en Jer. 51:27-28 word hulle met die konings van Medië verbind, wat onder andere die nasies van Ararat, Minni en Askenas ingesluit het.  Al drie dié nasies was deel van Armenië, wat in dié tyd deel van die Mediër koninkryk geword het ná die val van Nineve in 612 v.C en noord van Galdeërland gelê het.  Jeremia het trouens al vroeër aan hulle ’n boodskap gerig (Jer. 25:25).

Terloops: met die eerste ballingskap van Israel, toe die noordryk in 722 v.C. deur die Assiriërs weggevoer is, is van die Jode in Medië gevestig waar hulle deel van die bevolking geword het (2 Kon. 17:6; 18:11).  Die Mediërs en Perse sou die volgende wêreldmag word wat die Galdeërs sou verslaan, soos Jeremia nou en ook Daniël later voorspel (Dan. 8:20), en ons in die tyd van Esra en Ester verwerklik sien.

Hierdie verse van Jeremia dien dus as inleiding vir die profesie oor Babel.  Dit word weer geëggo en afgerond in die laaste deel van die profesie in Jer. 51:54-58 met die boodskap dat die Here (nie Bel nie!) ’n God is wat vergeld en wat voluit straf.

Tussenin word dié boodskap van verwoesting nou in ses bewegings op die tafel gesit.

50:4-20 – Eerste beweging: Daar wag groot ontnugtering op Babel

Hierdie eerste beweging handel oor Babel se straf wat voorlê.  Dit is uiters kunstig saamgestel uit sewe perikope, waarvan die eerste en sewende verband hou met die Jode se terugkeer, die tweede en sesde verband hou met oorsake vir ballingskap in die verlede, die derde en vyfde met die oproep van die Here aan die nasies om teen Babel op te trek, met die vierde perikoop die hart van die boodskap daarvan: Daar wag groot ontnugtering op Babel – hy gaan die minste word van die nasies.

  1. 50:4-5 – Die Israeliete en Judeërs sal terugkeer na hulle land. Hulle sal huil-huil loop, “na die wil van die Here hulle God vra,” en hulle aan die Here bind: “in ’n blywende verbond wat nie vergeet sal word nie.”
  2. 50:6-7 – Die volk is in ballingskap weggevoer. Dit was weens hulle sonde teen die Here.  Maar hulle vyande het oortree deurdat hulle gedink het dat hulle nie skuld daaraan het nie.
  3. 50:8-10 – Die Here roep sy volk op om te trek uit Galdeërland, want ’n groot groep nasies sal teen Babel optrek, die Mede en Perse, soos ons later aan sal hoor.
  4. 50:11-13 – Daar wag groot ontnugtering op Babel. Die Here laat toe dat hulle vrolik sy eiendom plunder, maar weet daar wag vernedering vir hulle in die toekoms.  Hulle sal die minste word van die nasies.
  5. 50:14-16 – Die Here voorspel dat elkeen van al die nasies in Babel na hulle eie land toe sal vlug. Dit is weens die Here wat Homself wreek op hulle van alle kante af teen hulle.
  6. 50:17-18 – Die volk is in ballingskap weggevoer.  Dit het al twee keer gebeur, in die verlede weens die Assiriërs en nou weens die Galdeërs.  Maar soos die Assiriërs tot ’n val gekom het, só sal dit met die Galdeërs gebeur.  Die Here sal hulle straf.
  7. 50:19-20 – Die Israeliete en Judeërs sal terugkeer na hulle land. Geografiese merkers in veral die noordryk word genoem: Karmel (die berg van Elia naby die Middellandse See in Noord-Israel), Basan (gebied oos van die see van Galilea, vandag naby die Golan Hoogtes), Efraimsberge (noord van die gebied van Benjamin, waar Bet-El geleë was), Gilead (die gebied oos van die Jordaan, tussen Basan in die noorde en Ammon meer na die suide), sowel natuurlik Juda in die suidryk, waar Jerusalem was.  Die Here wis hulle almal se sonde uit.  Hy vergewe hulle.

Let op dat daar van ’n terugkeer van die hele Israel sprake is, soos Jeremia al vroeër geprofeteer het, en soos inderdaad gebeur het met die terugkeer in die tyd van die Persiese koning, Darius, of Kores, soos hy ook bekend gestaan het.  So is die edik van die Persiese koning Kores geformuleer wat aan alle nasies onder sy beheer gestuur is: “Enigeen onder julle wat aan sy volk behoort, kan teruggaan, en mag die Here sy God by hom wees”  (2 Kron. 36:22-23; Esra 1:1-4).  Hoewel daar dus meer mense van Juda (dele van Efraim, Manasse en Simeon is vroeër al by hulle ingesluit – 2 Kron. 15:9; ’n hele klomp “Joodse” immigrante is ook in die tyd van Hiskia by Juda ingesluit – vgl. 2 Kron. 30:25) en Benjamin, sowel as van Levi teruggekom het, het dit ook ander Joodse families ingesluit.

50:21-32 – Tweede beweging: Babel was hooghartig teenoor die Here

Hierdie beweging word net so kunstig saamgestel.  Daar is ses perikope wat twee-twee gegroepeer is met telkens ’n oproep van die Here wat opgevolg word deur ’n beskrywing van wat dan gebeur.

  1. 50:21 – Oproep van die Here: Trek op teen Babel. Hulle word hier met die name Meratajim (gebied in die suide van Babel waar die Tigris en die Eufraat bymekaarkom) en Pekod (Aramese gebied oos van die Tigris) aangedui.
  2. 50:22-25 – Beskrywing: Babel, wat as die hamer bekend gestaan het, word self in stukke gebreek. Hulle is nou verlate weens die strik wat die Here vir hulle gespan het.  Hulle het nie rekening gehou met die Here en ’n dwase stryd teen Hom aangebind.  “Die Here het sy arsenaal oopgemaak en die wapens van sy toorn uitgehaal, want Hy, die Here God, die Almagtige, het werk te doen in Galdeërland.”
  3. 50:26-27 – Oproep van die Here: Val die land binne van alle kante af en roei hulle heeltemal uit.
  4. 50:28 – Beskrywing: Die vlugtelinge kom vertel in Sion: “hoe die Here ons God Hom gewreek het, Hom gewreek het oor sy tempel.”
  5. 50:29 – Oproep van die Here: Roep baie manskappe op teen Babel en betaal hom terug vir wat hy gedoen het, want hy was hooghartig teen die Here, teen die heilige God van Israel.
  6. 50:30-32 – Beskrywing: God se optrede teen die “hooghartige land” tref die jongmanne, soldate en al die stede.

Let op hoe die straf oor Babel veral weens hulle hooghartigheid oor hulle kom.  Dit wil ook lyk asof dit spesifiek hulle vergrype teen die tempel is, wat God se gramskap laat ontvlam het.

50:33-46 – Derde beweging: Niemand sal weer in Babel wil woon nie

Dieselfde kunstige opbou as in die eerste beweging word weer hier gevolg.  Die derde beweging bestaan hierdie keer uit vyf perikope, waarvan die eerste en vyfde verband hou met God se bevryding, die tweede en vierde verband hou met God se instrumente van oordeel, met die derde perikoop die hart van die boodskap daarvan: Babel sal onbewoonbaar word – trouens niemand sal weer in Babel wil woon nie.

  1. 50:33-34 – God se bevryding: Die Here word hier geteken as die Almagtige Beskermer wat die verdrukking van die Israeliete en Judeërs omkeer. Hy kom vir hulle reg op en bring rus in die land Israel, maar onrus vir Babel.
  2. 50:35-38 – God se instrumente van oordeel: God gebruik die swaard teen beide die waarsêers, die soldate en hulle skure sodat hulle “mal word van die skrik wat hulle tref”. Hulle word dus godsdienstig, militêr en ekonomies geruïneer.  Die swaard word, soos in die profesie teen die Filistyne (Jer. 47), verpersoonlik.  Daar is die oordeel deur die swaard (van die Here) só erg en totaal beskrywe dat Jeremia eintlik in meegevoel met die volk uitroep: “Ag, swaard van die Here, hoe lank nog voor jy tot rus kom?”  Ook in die profesie teen Moab word in Jer. 48:2 gepraat van: “die swaard is agter jou aan!” wat verband hou met Jer. 48:10 waar die Here die Ammonitiese swaardvegters aanpor om nie op te hou nie: “om die werk te doen wat die Here hom gegee het.” Grusaam.
  3. 50:39-40 – Babel word onbewoonbaar: Die hart van die boodskap is dat die Here die land onbewoonbaar gaan maak sodat daar net hiënas, jakkalse en volstruise sal bly. Babel sal soos Sodom en Gomorra en hulle buurdorpe verwoes word sodat niemand daar sal wil bly nie.
  4. 50:41-43 – God se instrumente van oordeel: God gebruik ’n volk uit die noorde wat baie konings het (Mede en Perse) om Babel te vernietig.  Hierdie gedeelte kom interessant genoeg ooreen met Jer. 6:22-24 waar dieselfde teks in ’n gesprek van Jeremia met die Here oor die verwerping van sy volk gebruik word.  Hier word dit op Babel van toepassing gemaak.
  5. 50:44-46 – God se bevryding: God is die leeu wat as’t ware uit die digte Jordaanbos toeslaan en Babel verwoes, maar duidelik op indirekte wyse deur die mense wat God vir dié taak verkies het. Die Here se besluit word uitgevoer soos Hy Hom voorgeneem het en niemand kan dit keer nie.  “Wie is soos Ek, wie kan My tot verantwoording roep?”  Maar, dit is natuurlik nie lukraak nie.  Die Galdeërs word “deur hulle eie toedoen” verwoes.

51:1-33 – Vierde beweging: Ek laat ’n ramp losbreek oor Babel

Die vierde beweging van die boodskap oor Babel beslaan ses perikope waarvan die eerste en die vyfde ooreenkom en God se verwoestende optrede teen Babel beskryf (dieselfde Hebreeuse woord word in vers een en 20 gebruik, maar verskillend vertaal in die NAV as “verwoestende” en “verslaan”).  Die tweede, derde, vierde en sesde perikope bevat telkens opeenvolgende opdragte van die Here om Babel uit te roei (roei uit, vlug, verwoes, val aan) sowel as opeenvolgende bemoedigende woorde van die Here vir sy volk Israel (nie alleen nie, redding gebring, behoort aan God, Babel is ingeneem).  Vir die eerste keer word die vyand wat Babel sal verwoes geëien as die Mediërs.

  1. 51:1-2 – Babel word verwoes: ’n Nuwe instrument van God se oordeel word hier uit sy arsenaal gehaal en beskryf, ’n verwoestende wind. Leb-Kamai is ’n kodewoord vir Babel en beteken letterlik: “hart van my teëstanders”.  Dit dien dieselfde doel as die naam Sesak wat vroeër vir Babel gebruik is en later in dié hoofstuk weer gebruik sal word (Jer. 51:41).  Die Here sal hulle uitskud soos ’n mens koring op ’n dorsvloer uitwan sodat hulle land leeggestroop kan word in die ramp wat die Here stuur.
  2. 51:3-5 – Opdrag en bemoediging: Die Here beveel dat die hele leër uitgeroei sal word, sonder om vir die jongmanne jammer te wees. Die boodskap moet dien as bemoediging vir die Godsvolk: “Israel en Juda is nie alleen nie, nie sonder sy God nie, nie sonder die Here die Almagtige nie.”  Die Galdeërs het nie besef dat hulle vergryp eintlik teen die Here, die Heilige van Israel is nie.
  3. 51:6-10 – Opdrag en bemoediging: Die Here roep sy volk op om te vlug, om hulleself te red van die straf wat daar op Babel kom vir hulle sonde.  Die tyd is daar, sê Jeremia, dat die Here Hom wreek en dat Babel sy verdiende loon kry.  Al was Babel soos ’n goue beker in die hand van die Here wat die wyn van God se toorn oor hulle uitgegiet het, kom hulle nou self tot ’n val.  En al probeer mense balsem (Gilead) gebruik om Babel mee te dokter, sal dit nie slaag nie.  Daarom kan elkeen met vertroue in die Here na hulle eie land toe terugkeer, want Hy het redding gebring vir Sion.
  4. 51:11-19 – Opdrag en bemoediging: Die Here roep die konings van Medië op om hulle pyle skerp te maak en Babel te verwoes, soos die Here besluit het. “Die Here gaan Hom wreek oor wat met sy tempel gebeur het.”  Die verwoesting van Babel kom verseker, want die Here het nie net as Skepper alles met sy krag gemaak nie – let op die wonderlike skeppingsmetafore waarmee dit beskrywe word – maar: “Daar is ook ’n volk wat aan Hom behoort.  Die Here die Almagtige is sy Naam.”  Hierdie laaste gedeelte (Jer. 51:15-19) het Jeremia ook al ingespan in Jer. 10:12-16 om God se grootheid en Almag te beskrywe.  Van die frases daarin toon ook ooreenkomste met frases uit Jesaja 40-66.
  5. 51:20-26 – Babel word verwoes: Soos die Here Babel voorheen soos ’n hamer gebruik het as sy oorlogswapen om nasies met hom te verslaan, só gaan Hy hulle nou laat boet vir “al die kwaad wat hulle voor julle oë in Sion aangerig het.” Dié woorde moes ’n geweldige bemoediging vir die volk gewees het – let op die “julle”, d.w.s. dit word gerig aan die ballinge wat reeds in Babel is. God gaan teen Babel optree en hulle maak soos ’n uitgebrande berg.
  6. 51:27-33 – Opdrag en bemoediging: Die Here roep Mediërs op om die ramshoring te blaas en en hulle gereed te maak om Babel in te val. Die vyand wat hier teen Babel sal optree, en vroeër as ’n nasie uit die noorde geteken is, word hier weereens met die konings van Medië verbind, wat onder andere die nasies van Ararat, Minni en Askenas ingesluit het.  Al drie dié nasies was deel van Armenië, wat in dié tyd deel van die Mediër koninkryk geword het ná die val van Nineve in 612 v.C.  “Babel is soos ’n dorsvloer , en die tyd is daar dat hy vasgestamp moet word; nog net ’n rukkie, dan is die tyd daar dat die graan op hom uitgedors word.”  Dit is die boodskap van die God van Israel, as bemoediging aan die ballinge om op Hom te bly vertrou.

51:34-44 – Vyfde beweging: God sal vir Sion se reg opkom

Die vyfde beweging word in die eerste perikoop as ’n gebed van die volk aan die Here gestruktureer, waarop die Here in drie perikope verskillende aspekte van sy antwoord aan hulle belig. Deur die antwoord drie keer te gee, word die stelligheid daarvan waarskynlik beklemtoon.

  1. 51:34-35 – Gebed van die volk: Die volk kla by die Here dat Nebukadnesar hulle opgevreet het. Hulle identifiseer hulleself met Sion en Jerusalem en vra dat die Here Babel sal straf vir die geweld wat hy hulle aangedoen het.
  2. 51:36-37 – Antwoord van die Here: Die Here antwoord dat Hy vir sy volk se reg sal opkom en die land van die Galdeërs onbewoonbaar sal maak.
  3. 51:38-40 – Antwoord van die Here: Die Here belowe dat Hy dit op onverwagse wyse sal doen. Hulle sal soos skape en bokke na die slagplek gelei word.
  4. 51:41-44 – Antwoord van die Here: Die Here belowe weereens dat Babel ingeneem sal word en dat hulle land onbewoonbaar gemaak sal word. Sesak is ’n akroniem vir Babel – die laaste letter van die alfabet vervang die eerste letter, die voorlaaste letter vervang die tweede letter en so aan.

51:45-53 – Sesde beweging: Moenie moed verloor nie, Ek sal met Babel afreken

Die sesde en laaste beweging word weer soos in die eerste en derde beweging opgebou, hierdie keer in vyf perikope.  Die eerste en vierde perikope kom ooreen deurdat dit ’n oproep, bemoediging en beskrywing van oordeel bevat. Die tweede en vyfde perikope kom ooreen deurdat dit ’n belofte van afrekening, bemoediging en beskrywing van oordeel bevat.  Die derde perikoop vorm dus die spil waarom die sesde beweging draai en verkondig dat Babel sal sneuwel oor wat hy die nasies en veral Israel aangedoen het.

  1. 51:45-46 – Oproep, bemoediging en oordeel: Die Here roep die ballinge uit Babel uit en bemoedig hulle om nie moed te verloor en bang te word nie as gevolg van die geweld wat in die land sal losbars nie.
  2. 51:47-48 – Belofte van afrekening, bemoediging en oordeel: Die Here belowe dat Hy sal afreken met Babel en sy afgode. Dit sal vreugde vir “hemel en aarde en alles in hulle” verskaf.  Die verwoesters is aan die kom uit die noorde.
  3. 51:49 – Babel sal sneuwel: “Deur Babel se toedoen het mense oor die hele aarde gesneuwel, en so sal hý sneuwel oor dié wat van Israel gesneuwel het.” Die Here sal Homself dus wreek op Babel, al was die oordeel oor Israel ook hulle verdiende loon.
  4. 51:50-51 – Oproep, bemoediging en oordeel: Die Here roep sy mense op om pad te gee uit Babel en “daar uit die verte aan die Here,” te dink en “Jerusalem in gedagte” te hou, al is hulle vroeër self geoordeel en het vreemdes ingestap in die gewyde gebied van die huis van die Here.
  5. 51:52-53 – Belofte van afrekening, bemoediging en oordeel: Die Here sal egter afreken met die gode van Babel, al lyk hulle onoorwinlik. Die verwoesting is op pad.

51:54-58 – Die Here is ’n God wat vergeld, en Hy sal voluit straf

Die boodskap aan Babel word afgerond met ’n laaste perikoop wat by die inleiding van Jer. 50:1-3 aansluit.  Die verwoesting van Babel word weer aangekondig en die rede daarvoor gegee: “Die Here is ’n God wat vergeld, en Hy sal voluit straf.”  Al is dié verwoesting indirek via die swaard en die wind van die verwoesters uit die noorde, die Mediërs, dit bly God wat daaroor besluit en dit laat uitvoer.  Die Here is die: “Koning.  Sy Naam is die Here die Almagtige.”  Sela.

51:59-64 – Seraja lees die boodskap in Babel en gooi dit simbolies in die Eufraat

Jeremia dui ook vir ons aan wat met dié boodskap oor Babel gebeur het.  Hy het opdrag gegee aan Seraja, die kwartiermeester, om die inhoud in Babel – op sy reis daarheen saam met koning Sedekia – te gaan voorlees.  Hy moes daarna die boekrol met die profesie in die Eufraat gaan gooi wat die simboliek van Babel se verwoesting nog verder sou onderstreep.  Die optrede het waarskynlik saamgeval met die brief aan die ballinge wat Jeremia aan hulle gestuur het (Jer. 29).

Tot sover die woorde van Jeremia.” Die volgende hoofstuk is oorgeneem uit die boek van Konings.

Boodskap

In hierdie twee hoofstukke word Babel se verwoesting aangekondig as ’n boodskap van hoop aan die nasies.  Die Here maak bekend dat Hy Babel sal straf en dat dit as ’n groot ontnugtering vir Babel sal kom.  Die ramp wat hulle gaan tref, sal só erg wees dat niemand weer in Babel sal wil woon nie.  Hoekom?  Want die Here kom vir die reg van sy volk sowel as die ander nasies s’n op.  God sien die verdrukking en ontbering van alle mense raak, en hoor hulle klagtes.  Daarom reken Hy met Babel af sodat al die nasies, maar veral sy volk, moed kan skep en op Hom sal vertrou.

Aan die eenkant beloof die Here dus dat die pyn en leed wat die Galdeërs aan al die volke van die wêreld aangedoen het, aan Nebukadnesar en sy mense uitgedeel sal word.  Die nasies se sin vir reg en geregtigheid word dus deur God bevredig.  Aan die ander kant beloof die Here dat Hy Hom ook spesifiek oor die ballinge van sy volk sal ontferm en hulle sal terugbring na hulle land waar hulle hul weer aan Hom sal verbind.  Die hoop vir die toekoms word in hulle harte en lewens aangesteek, selfs vóór die ballingskap sy finale fase aanneem.

Hierdie perspektief help ons om met ander oë te kyk na die oordeel en straf van die Here.  Dit is nooit doelloos nie.  Hy stel goed reg en bring bevryding.  Dit is met dié prentjie van God in gedagte wat ons met oorgawe die Ons Vader kan bid in elke situasie waarin ons verkeer:

Ons  Vader wat in die hemele is, laat u Naam geheilig word.  Laat u koninkryk kom.  Laat u wil geskied, soos in die hemel, so ook op die aarde.  Gee ons vandag ons daaglikse brood.  En vergeef ons ons skulde omdat ons ook hulle vergeef het wat teenoor ons skuldig staan.  En bring ons nie in versoeking nie, maar red ons van die Bose.” (Matt. 6:9-13 – BDV).

Jeremia


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar