Jeremia 52 – Die lot van Sedekia en Jojagin met die wegvoering in ballingskap

Jeremiah lamenting - Rembrand van RijnHierdie hoofstuk is oorgeneem uit 2 Konings 24:18–25:30 (vgl. ook 2 Kronieke 36:11-21) en vertel die verhaal van Jer. 39 met ’n bietjie meer detail.  Interessant genoeg kom die profeet Jeremia as sodanig nie in dié hoofstuk voor nie, hoewel die ander detail wel ooreenstem.

Die presiese rede daarvoor is onbekend, hoewel só ’n oorname nie vreemd in die OT is nie.  ’n Mens vind immers dieselfde tipe oorname van verhale in Konings en Jesaja – vgl. 2 Kon. 18-20 en Jesaja 36-39.

Moontlik het die plundering van die tempel – wat in die boodskap aan Babel in hoofstuk 50-51 as die hoofrede vir die Here se gramskap teen hulle uitgespel word – sowel as die hoopvolle karakter van Jer. 52:31-34 oor die begenadiging van Jojagin in die ballingskap die redakteur geïnspireer om die detail uit Konings hier in te sluit.  Die boek van Jeremia word dus só op ’n verklarende en hoopvolle noot afgesluit.

Sedekia en die val van Jerusalem – 52:1-30

Sedekia word hier beskryf as ’n koning wat gedoen het wat verkeerd was in die oë van die Here en in alles die voorbeeld van sy voorganger en broer Jojakim gevolg het. Jeremia het wel vir ons in Jeremia 38 vertel van die worsteling wat Sedekia gehad het met die wil van die Here, maar Sedekia kon net nie homself so ver kon kry om die Here te vertrou en Jeremia se raad te volg nie.  Daarom het die toorn van die Here oor Juda en Jerusalem gekom: “Hy wou hulle wegvee uit sy teenwoordigheid.

Die Here voer dié voorneme van Hom uit deur die beleg van die Galdeërs wat oor ’n tyd van twee jaar groot leed en hongersnood vir die Jode veroorsaak het.  Ten spyte van Sedekia se lafhartige vlug, word hy ná die inval in Jerusalem gevang, sy seuns voor sy oë doodgemaak, ironies genoeg sy eie oë uitgesteek  en hy in bronskettings na Babel weggevoer, soos ook van die priesters, altesame 4 600 mense.  Seraja, die een wat Jeremia gehelp het, maar nie regtig sy boodskap omarm het nie, word op pad doodgemaak.

Soos in Jeremia 39 word die rol van Nebusaradan, die hoof van die lyfwag van Nebukadnesar, beskryf wat van die armste mense laat agterbly het om die wingerde en lande te bewerk.  Die plundering van die tempel word in detail beskryf, waarskynlik omdat dit die hoofrede vir die gramskap van die Here teen Babel was, soos in die vorige twee hoofstukke beskrywe is.

So is Juda dan uit sy land weggevoer.”  Gedalja bly as goewerneur agter, maar word deur opstandelinge uit die koninklike familie vermoor, wat uiteindelik ly tot ʼn vlug na Egipte, waarheen hulle vir  Jeremia (vgl. Jer. 43) ook neem.

Jojagin word begenadig in ballingskap – 52:31-34

Die boek van Jeremia sluit af met die verwysing na die begenadiging van koning Jojagin in ballingskap.  Jeremia was in elk geval duidelik meer positief oor Jojagin as oor die ander konings (vgl. Jer. 24), ’n indruk wat versterk word in die wyse waarop die Kronis later oor hom sou skryf.  Dit wil voorkom asof hy eintlik ’n slagoffer was van die tydsgewrig van afvalligheid van die Here.  In Konings word die verhaal met meer detail vertel, en lyk dit asof Jojagin homself oorgegee het aan Nebukadnesar en weggevoer is (presies soos Jeremia eintlik voorgestel het dat hulle moes doen).

Ná amper die helfte van die ballingskap verby was, in die 37ste jaar van die ballingskap van koning Jojagin, is hy dus begenadig en vrygelaat, en kon van toe af ’n hoër status geniet het as die ander konings wat saam met hom daar was. Hy het selfs aan die koning van Babel se tafel geëet en ’n permanente toelae gekry vir sy daaglikse behoeftes solank as wat hy gelewe het.   ’n Mens wonder of dit verband hou met die werk en status van Daniël, hoewel dit nêrens vir ons eksplisiet vertel word nie.

Boodskap

Ons sien hier ‘n kant van God wat ons nie maklik eien nie.  Die God wat ons in Jesus ken as die vergewensgesinde, die een wat belowe dat Hy ons sonde so ver van ons af sal verwyder as die ooste van die weste af is, dié God besluit om Juda uit sy teenwoordigheid te verwyder.

Hoekom?  Uiteraard was dit weens die konings van dié tyd, Jojakim en Sedekia, wat volhard het in die sondes van hulle voorvaders.  Jojakim het byvoorbeeld die Woord van God geminag deur dit te verbrand (Jer. 36) en die woord van Jeremia in die wind geslaan. En die skrywers van Konings wyt dit ook aan die vorige tydperke van ongehoorsaamheid, veral weens die sonde van hulle groot-grootjie Manasse en die onskuldige bloed wat hy in Jerusalem vergiet het: “en die Here wou dit nie vergewe nie.”  Selfs sy bekering kon nie die effek van sy ongehoorsaamheid heeltemal ongedaan maak nie.

Maar dit is nie net die leiers wat gesondig het nie.  Uit die boek Jeremia kom ‘n mens agter dat dié sondes ook wyd deur die priesters, profete en die gewone Judeërs nagevolg is (vgl. bv. Jer. 23).  Die hele samelewing het verword en was aan die Here ongehoorsaam.  Vergelyk bv. die oordeel van die Here oor hoe hulle met vrygelate slawe gesondig het (Jer. 34) deur hulle weer in slawerny te dompel.

Anders as met die Assiriërs volg die Babiloniërs – gelukkig  vir die Jode! – ʼn ander beleid met die volke wat hulle in ballingskap wegvoer, soos ons uit die geskiedenis van daardie tyd leer.  In plaas daarvan om die volke doelbewus met ander volke te integreer, wat onder andere die meeste van die mense van die noordryk se nekslag was, word die onderskeie volke toegelaat om hulle eie godsdienste en kulture te handhaaf.  Dit het verseker dat die volk van Juda ʼn identifiseerbare eenheid kon bly en uiteindelik as volk, waarby ’n hele paar van die voormalige noordryk mense ingesluit was, ook kon terugkeer in die tyd van die Persiese koning Darius.

Die boek sluit af met ʼn klein sprankie hoop, die vrylating van Jojagin in Babel, so asof die skrywers wil sê, daar is hoop, dinge kan weer omdraai.  Maar dit is ʼn verhaal wat eers in Nehemia en Esra vertel sal word.

Jeremia


Chris van Wyk

Ek is gemeenteleraar by Somerstrand gemeente, Port Elizabeth. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am pastor at Summerstrand congregation, Port Elizabeth. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

%d bloggers like this: