Skip to main content

Jeremia 49 – ’n Boodskap aan Ammon, Edom, Damaskus, Kedar-Gasor, en Elam

Jeremiah lamenting - Rembrand van RijnHoofstuk 49 bevat 5 boodskappe aan die omringende nasies.  Die kaart (met verlof van http://www.dailykos.com/story/2006/07/23/229927/-History-for-Kossacks-Ancient-Lebanon) hieronder sal jou help om hulle ligging beter te verstaan.  Die enigste een wat nie hier op die kaart wys nie, is Elam wat langs die Eufraat in Mesopotamië geleë was.

Die boodskap oor die Ammoniete – Jeremia 49:1-6

nasiesWaar die vorige hoofstuk gefokus het op die Moabiete (ingedruk tussen Ammon in die noorde en Edom in die suide, langs die Dooie See) wat deur die Ammoniete oorwin sal word, fokus die eerste profesie in hoofstuk 49 op dieselfde lot wat uiteindelik die Ammoniete sal tref.

Die profesie oor die Ammoniete pas waarskynlik ook die beste in by Jeremia se simboliese handeling in Jeremia 27 waar dieselfde boodskap as dié aan Moab ook na Ammon gestuur is.  Dit is, dat die Here belowe dat dié nasies wat wel besluit om Nebukadnesar te dien, die voorreg van ’n voortgaande verblyf in hulle eie land sal ontvang.

Dat die Ammoniete nie daarop geregeer het nie, het waarskynlik hierdie profesie in hoofstuk 49 tot gevolg.  Die redes vir hierdie oordeelsprofesie is tweërlei.

Aan die eenkant word hulle vir hulle historiese vergrype aangespreek,  Hier is sprake van die afgod Milkom (ander naam vir Molog) wat die grondgebied van Gad in besit geneem het.  Daarom, sê die Here, sal Hy Rabba, die Ammonitiese hoofstad, verwoes.  Hy sal Israel versterk om dit te doen.  Ook Gesbon, die plek vanwaar die Moabitiese nederlaag beplan is, sal in die slag bly.  Soos die geval was met die afgod van Moab, Nebo, sal ook Milkom, by wyse van spreke, in ballingskap geneem word.

Aan die ander kant verkwalik die Here hulle ook vir die feit dat hulle dink dat niks hulle sal kan aanraak nie: “Wie sal my bykom?” Dit is hierdie misplaaste vertroue op eie mag en vermoë wat die Here se argwaan opwek en laat optree teen nasies.

Weereens is daar darem die skraal hoop van ’n lotsverandering in die toekoms.

Die boodskap oor Edom – Jeremia 49:7-22

Die profesie oor Edom pas waarskynlik ook die beste in by Jeremia se simboliese handeling in Jeremia 27 waar dieselfde boodskap as dié aan Moab en Ammon gestuur is.  Dit is, dat die Here belowe dat dié nasies wat besluit om Nebukadnesar te dien, die voorreg van ’n voortgaande verblyf in hulle eie land sal ontvang.

Dat die Edomiete nie daarop geregeer het nie, het waarskynlik hierdie profesie in hoofstuk 49 tot gevolg.  Dit is, dat hulle dwaas en vermetel optree en dink dat hulle die dreigende gevaar van die Galdeërs kan ontsnap.

Drie dorpe word uitgesonder vir die oordeel van die Here: Teman, Dedan en Bosra.

  • Teman was ’n kleinseun van Esau, Jakob se tweeling-broer, wie se naam ook aan ’n dorpie in Edom, die gebied van Esau, gegee is. Hulle was bekend vir ’n wysheidstradisie – dié wysheid sal hulle egter nie help nie.
  • Dedan was weer bekend vir handeldryf (Eseg. 27:20) – hulle inwoners sal egter verdryf word.
  • Bosra was ’n stad wat bekend was vir die feit dat dit moeilik bereikbaar was en gevolglik goed bestand was teen oorloë – dié sal ’n verlate plek word.

Die Here beloof ’n ramp oor Esau, die vader van hierdie nasie, die een wat sy eersgeboortereg vir ’n pot lensiesop verkoop het (Gen. 25).  Interessant genoeg bekommer die Here Hom wel oor die weeskinders en weduwees en nooi hulle uit om op Hom vir versorging te vertrou!

Edom sal ’n klein volkie word onder die volke, “een wat nie deur mense gereken word nie.” (vgl. Obadja 1-2 wat dieselfde boodskap het).  Met klaarblyklike verwysing na Bosra, verklaar die Here dat Hy hulle uit hulle hoë veilige plek sal kom uithaal en verwoes.  Hulle sal soos Sodom en Gomorra verwoes word: “geen mens sal daar wil bly nie.

Die Here gebruik die aankondiging van oordeel om sy eie karakter lof toe te swaai: “Wie is soos Ek, wie kan My tot verantwoording roep?”  Niemand kan teen Hom staande hou nie.

Interessant genoeg word daar nie ’n lotsverandering in die toekoms aan hulle voorgehou nie, hoewel die deernis met weduwees en weeskinders tog duidelik blyk.

Die boodskap oor Damaskus – Jeremia 49:23-27

Die profesie oor die Aramese stad Damaskus (in Sirië vandag) is nie so maklik om te dateer nie, omdat daar baie min detail in die paar verse is.  Dit kan wees dat hier na die Arameër bendes verwys word wat in die tyd van Jojakim teen Juda opgetree het (2 Kon. 24:2).  Indien dit die geval is, dateer dit min or meer in die tyd van 601–598 v.C.

Die Here spreek drie Arameër stede aan: Damaskus, Hamat en Arpad sowel as koning Ben-Hadad van Damaskus.  Maar, interessant genoeg is daar nie ’n rede vir die oordeel nie. Dit kan wees dat die Arameër bendes se optrede dié profesie tot gevolg het, maar dit kan nie met sekerheid gesê word nie.

Die boodskap aan hulle is dat hulle egter nie die oordeel van die Here sal vryspring nie, waarskynlik met verwysing na die Galdeërs.   Daar is ook geen troosboodskap vir hulle nie.

Die boodskap oor Kedar en Gasor – Jeremia 49:28-33

Die boodskap oor die Arabiese Kedar (een van die nakomelinge van Ismael, dus waarskynlik Bedoeïene afstammelinge van hom in die Siries-Arabiese woestyn – Gen. 25:12-18) en Gasor (dit is onseker, maar verwys moontlik ook na Arabiese volke) kan ook nie maklik dateer word nie.  Dat hulle Bedoeïene is, lei ons af uit die tente en kamele wat hulle lewenstyl beskrywe.

In die lig van wat ons histories weet van die Galdeërs se magsuitbreiding na hulle gebiede in 599-598 v.C., geld dieselfde boodskap as dié aan die vorige nasies ook waarskynlik vir hulle.  Koning Nebukadnesar sal hulle aanval, al dink hulle dat hulle: “so sonder sorge is en so rustig woon”. Hulle sal van alle kante met rampe getref word.  Weereens is daar geen troosboodskap vir hulle nie.

Die boodskap oor Elam – Jeremia 49:34-39

Hierdie profesie word gedateer aan die begin van Sedekia se regeringstyd, d.w.s. rondom 597 v.C.  Elam het gegrens aan die Galdeërkoninkryk langs die Eufraat rivier.

Die Elamiete sê die Here, sal militêr gebreek word (pyl en boog), asof hulle deur ’n perfekte storm van winde uit al vier windstreke weggewaai sal word.  Hulle sal oral versprei word, totdat hulle heeltemal uitgeroei is, onder andere omdat die koning en die amptenare onreg gepleeg het.  Die Here sal die regspraak herstel: “Ek sal my regterstoel in Elam neersit …”  Dit kan ook wees dat na Nebukadnesar verwys op voetspoor van die uitspraak dat sy troon in Egipte neergesit sal word (Jer. 43:10).

Hulle ontvang egter ook ’n boodskap van ’n toekomstige lotsverandering, anders as wat die geval met Edom, Damaskus, Kedar en Gasor was.

Boodskap

Dit bly moeilik om sulke oordeelsuitsprake te lees.  Dit klink kras en kru en in die geval van Damaskus eintlik amper onregverdig, omdat daar nie ’n spesifieke rede vir die oordeel uitgespreek is nie.  Miskien is dit eenvoudig so dat almal getref word in só ’n groot magspel soos die vestiging van die Galdeërryk.  Daarom word Damaskus ingesluit.

Daar is wel die stukkies hoop versprei deur die profesieë dat daar ’n toekomstige lotsverandering sal wees.  En weduwees en weeskinders word uitgesonder vir God se aandag.  Die enigste deurlopende boodskap wat ’n mens uit dié profesieë kan kry, is dat God soewerein is: “Wie is soos Ek, wie kan My tot verantwoording roep?”  Niemand kan teen Hom staande hou nie.  Dit moet vrees inboesem by dié wat Hom nie dien nie, en dié mense troos wat hulle hoop op Hom plaas.


Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Jeremia


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar

  • originalblizzard19aaa84c56 on Josef-hulle vlug van Betlehem na EgipteTans so gepas in my vrou en my se lewe. Moet noukeurig let op die detail van die Heer se leiding. Kan nie wag om die volgende stappe te volg nie. Dankie.
  • Philip Vermaak on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Wat my weer getref het is God se liefde vir alle mense en Dawid se nederige houding as hy tot God roep en hom met alles aan God "oorgee" En- wat ons het is aan ons deur God geskenk en wat ons is is slegs Genade Baie dankie
  • originalblizzard19aaa84c56 on Sterrekundiges besoek Jesus in die huis in Betlehem MATTEUS 2:1-12Prys die Here vir sy Heilige Woord en Gees.
  • sparklybc467b2e69 on ‘n Engel van die Here oortuig Josef dat Maria se Kind van die Heilige Gees is MATTEUS 1:18-25Dit is vir my opsig self so groot bewys van GOD se grootheid, Sy Heilige Gees wat Maria bevrug. Ek het altyd gedink dat Maria baie besonders was onder die vroue, maar as ñ mens lees van Josef en sy karakter, was hulle albei uitverkies as JESUS, GOD se seun.
  • originalblizzard19aaa84c56 on Jesus se geslagsregister in Matteus verbind Hom aan Abraham, Dawid en die volk na die ballingskap MATTEUS 1:1-17Matteus. Amazing, om my te verwonder aan die Heilige Skrif. Dankie vir navorsing.
  • Chris van Wyk on Psalm 150Hi, jy sal steeds die Matteus bydraes kry as jy ingeteken is. Die skakel is daar vir nuwe mense. Die opmerkings moet eers goedgekeur word deur my, vandaar die verposing. Hoop jy het steeds Matteus gekry?
  • perfectly57edc75df4 on Psalm 150Naand Chris. Ek dink daar is iets met die website verkeerd. Psalms was op Bybelskool beskikbaar, maar vir Mattteus vra dit jou om weer in te teken op Bybelskool. Ek is op Bybelskool. Dan stuur die opmerkings ook nie elke keer nie. Die inskrywing vir Matteus vat jou na 'n snaakse vorm. Is dit reg so,…
  • Doreen Snyders on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Baie baie dankie vir die Psalms. Dit was só insiggewend en het baie gehelp om om die Skrif te bid. Nogmaals dankie. Ek sien baie uit na Matteus. Doreen Snyders
  • johannes buhrmann on Psalm 150Die God aan wie die Psalm digters hul lof en dankbaarheid betuig het , en teenoor wie hulle hul klagtes en swaarkry en onsekerhede kon bekendmaak is dieselfde God teenoor wie gelowiges hulle in die huidige tydsgewrig gewrig hul kan wend om geloof en lewensrigting te verkry Dankie
  • originalblizzard19aaa84c56 on Inleiding'n Mondvol oor Matteus. Sien uit na die reis. Dankie
  • Francois Du Toit on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Dit was n wonderlike reis deur die psalms, teen n pas wat genoeg tyd vir nadenke toegelaat het. En die diep nuanses vd Onse Vader laat deurskemer het. Baie dankie vd leiding en verklari gs.
  • Hannes. on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Middag Dr. Chris, Baie dankie vir ‘n insiggewende reis deur Psalms. Dit het beslis gehelp om my persoonlike gebedslewe te verbeter, en ek glo sterk dat elke gebed beslis my verhouding met die Here verdiep op ‘n manier waar ek tans baie meer pligsgetrou is teenoor my persoonlike stiltetyd en gesprekk…
  • Kobus on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Dit was vir my 'n wonderlike ervaring, ek kyk met 'n ander insig nou na die Psalms
  • Chris van Zyl on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Bid die Psalms het vir my baie beter insig verskaf, veral die kontektualisering en verklarings wat elke gedeelte belig het. Ek is so dankbaar dat ek kon deel in hierdie bid-gerigte ervaring. Menige dag het ek gevoel dat die Psalm van die dag spesiaal vir my bedoel was. Dankie Chris van Wyk vir hierd…
  • Chris van Wyk on Psalm 137Dit is my voorreg. Groete!