Jeremia 47 – ’n Boodskap aan die Filistyne
Die datum van die boodskap aan die Filistyne word nie gespesifiseer nie, maar dit was waarskynlik êrens tussen 604-600 v.C. Uit die inhoud van die profesie is dit duidelik dat dit gelewer is in ’n tyd toe ook Askelon onder skoot was. Uit die geskiedenis weet ons dat Nebukadnesar Askelon verower het in 604 v.C. na die geveg by Karkemis. Die Galdeërs is dus die “vloedwater uit die noorde”. Jeremia sê verder dat die profesie gelewer is: “voordat die farao vir Gasa verower het” wat volgens Herodotus in 601/600 v.C. plaasgevind het.
Die Filistyne het ongeveer dieselfde tyd as die Israeliete in Kanaän aangekom vanaf die Griekse eiland Kaftor (vgl. ook Amos 9:7) wat waarskynlik met Kreta verbind kan word. Hulle was dus ook immigrante soos die Israeliete en het aan die kusstrook gaan bly wat vandag as die Gasa strook bekend staan. Regdeur die OT was daar ’n verbete stryd tussen die Filistyne en die Israeliete met Dawid wat hulle mag op beslissende wyse gebreek het.
Die Here belowe hier dat Hy die land gaan skoonmaak van hulle, sodat dit sal wees asof hulle nooit daar was nie. Hulle onafhanklike bestaan as volk kom in die gedrang. Die oordeel word só erg en totaal beskrywe dat Jeremia eintlik in meegevoel met die volk uitroep: “Ag, swaard van die Here, hoe lank nog voor jy tot rus kom?” Maar dan besef hy dat dit onmoontlik sal wees, omdat die Here die swaard die bevel gegee het en hy nie tot rus kan kom voor hulle uitgewis is nie.
Die doel van die profesie was om God se beheer in die wel en weë van die nasies te bevestig, hoewel dit waarskynlik ook ingepas het met Jeremia se algemene boodskap dat die Jode, die nasies ingesluit, aan die Galdeërs en aan Nebukadnesar onderdanig moet wees. Dit is hoe Jeremia die wil van die Here vir hulle tyd verstaan het.