Skip to main content

Tag: Beloftes

Lukas 5:1-11 – Moenie bang wees nie; Van nou af sal jy mense vang

2 Februarie

Lukas 5:1-11 – Moenie bang wees nie; Van nou af sal jy mense vang

1Op ‘n dag, toe Jesus langs die Meer van Gennesaret staan en die skare Hom verdring om die woord van God te hoor, 2sien Hy twee bote langs die meer lê. Die vissermanne het al uitgeklim en was besig om hulle nette uit te spoel. 3Jesus het in een van die bote geklim, die een wat aan Simon behoort, en hom gevra om ‘n klein entjie van die land af weg te roei. Hy het gaan sit en die skare van die skuit af onderrig. 4Toe Jesus klaar gepraat het, sê Hy vir Simon: “Gaan uit na die diep water, en laat sak julle nette daar om vis te vang.” 5“Meester,” antwoord Simon, “ons het die hele nag deur geswoeg en niks gevang nie, maar op u bevel sal ek die nette weer laat sak.” 6En toe hulle dit doen, het hulle soveel vis gevang dat die nette wou skeur. 7Hulle het vir die makkers in die ander boot beduie om hulle te kom help. Toe hulle daar aankom, het hulle albei bote so vol gemaak dat dit begin sink het. 8Toe Simon Petrus dit sien, val hy voor die knieë van Jesus neer en sê: “Gaan weg van my, Here, want ek is ‘n sondige mens.” 9Verwondering het hom en almal saam met hom aangegryp oor die groot klomp vis wat hulle gevang het. 10Jakobus en Johannes, Sebedeus se seuns wat saam met Simon gewerk het, was net so verbaas. Jesus het egter vir Simon gesê: “Moenie bang wees nie. Van nou af sal jy mense vang.” 11Nadat hulle die bote op die strand getrek het, het hulle alles gelos en Hom gevolg.

Jesus is hier by die Gennesaretmeer, ‘n ander naam vir die See van Galilea. Let op dat die skare teen Jesus aandruk om die Woord van God te hoor. Dit was die sentrale fokus van Jesus se bediening. Die wonders en genesings was net bevestigings van die verkondiging van die Woord. Daar is só baie mense wat na Jesus wil luister om die Woord van God te hoor dat Hy in Simon se skuit klim om ‘n entjie in die meer in te vaar sodat ‘n groter deel van die gehoor op die wal Hom kan hoor.

Dit raak dan ook die geleentheid waarby Jesus vir Simon en sy twee maats, Jakobus en Johannes, as dissipels werf. Andreas word ook geroep, soos ons uit die ander evangelies aflei. Jesus beveel vir Simon om na die diepwater uit te vaar en hulle nette te laat sak om vis te vang. Simon het geweet dat die opdrag eintlik onmoontlik was om uit te voer. Hulle het die hele nag deur hard gewerk en niks gevang nie, en die vis sou nie in die dag byt nie, veral nie met die trammelnette waarmee jy net in die nag vis kon vang nie. “Maar”, sê Simon: “op u bevel (woord) sal ek die nette weer laat sak.” Toe hulle dit doen, het hulle ’n groot klomp visse gevang, soveel so dat hulle nette wou skeur. Ander moes hulle kom help en hulle het twee skuite vol vis gemaak. Soveel vis dat albei skuite wou sink! In ‘n diep oortuiging van sy sonde val Petrus op sy knieë voor Jesus en sê: “Gaan weg van my, Here, want ek is ‘n sondige mens.” Op Jesus se gerusstellende en bevrydende woord: ” Moenie bang wees nie. Van nou af sal jy mense vang,” het almal alles gelos en Jesus gevolg.

Die vraag moet gevra word of ons nog dié fokus het in ons eie geestelike en veral gemeentelike lewe. Jesus se belofte is hier ook ‘n opdrag! Die denominasie waaraan ons behoort en die gemeente waar ons aanbid, kan só ‘n oorheersende rol in ons geestelike lewe speel dat ons nie meer fokus daarop om die Woord van God by mense uit te bring nie. Dit is waarvoor Jesus die dissipels hier roep. Ook vir ons. Om die Woord van God aan mense te verkondig. Daar is niks meer belangriks nie. Waar die Woord van God nie verkondig word nie, beteken selfs die grootste wonderwerk niks nie. Dit is wat dit beteken om hierdie belofte vir jou toe te eien en Jesus radikaal te begin volg. Om jou lewe te wy aan die verkondiging van die Woord van God aan mense. Om daarvoor te bid. Om daarvoor te gee. Om dit inderdaad ook self te doen op die plek en in die lewensituasie waar God jou geplaas en geroep het.

Lees meer: https://bybelskool.com/lukas-414-539-jesus-het-gekom-vir-armes-gevangenes-blindes-en-onderdruktes/

Psalm 138 – Die Here self tree vir my in

1 Februarie

Psalm 138 – Die Here self tree vir my in

1Van Dawid. Ek wil U prys met my hele hart; voor die gode wil ek U besing. 2Ek wil in aanbidding buig na u heilige tempel; ek wil u Naam prys oor u troue liefde, oor u trou; Want U het u beloftes bo al u roem laat uitstyg. 3Die dag toe ek geroep het, het U my geantwoord. U maak my innerlik sterker. 4Al die konings van die aarde moet U prys, Here, wanneer hulle die woorde van u mond hoor. 5Hulle moet sing oor die weë van die Here: “Groot is die heerlikheid van die Here. 6Ja, verhewe is die Here, maar nederiges sien Hy raak en hoogmoediges ken Hy van ver af.” 7As ek in diep benoudheid verkeer, bewaar U my lewe; teen die toorn van my vyande steek U u hand uit; u regterhand verlos my. 8Die Here self tree vir my in. Here, u troue liefde duur vir ewig; u handewerk – moet dit nie laat vaar nie!

Psalm 138-145 is Dawidiese Psalms wat God se betroubaarheid deur die eeue bevestig. Dit bevestig ook die ewige bedoelings wat God met sy mense van altyd af het. Die Psalmis is in die voorhof van die tempel en buig in aanbidding na die Here se heilige tempel. Sy hart is vol van lof aan die Here wat hy met musiek uitjubel voor die Here. Hy loof die Here vir die openbaring van sy troue liefde en sy betroubaarheid.

Sy troue liefde, omdat dit vir altyd duur en daarom die toets van die tyd deurstaan. Sy betroubaarheid, omdat sy Naam en sy woord/belofte bo alles uittroon en die gode van die nasies troef. Daarom kan die gode maar hoor wat hy sing, want hulle is magteloos in die lig van God se troue liefde en betroubaarheid. God se troue liefde en sy betroubaarheid is egter nie iets wat net in die algemeen waar is nie. Dit is iets wat die Psalmis persoonlik ervaar het in gebedsverhoring en besieling: “U maak my innerlik sterker”.

Dit is asof die Psalmis dan besef dat sy lof eintlik te effentjies is vir só ‘n groot God. Dit is eintlik net ‘n groot koor van al die konings van die wêreld wat enigsins sal kan begin om reg te laat geskied aan dié groot en deurlugtige God. Hulle almal moet deur God se woorde/beloftes beweeg word om God se weë te besing en eer aan sy majesteit en verhewenheid te bring. Hy kan immers die nederiges en die hoogmoediges van ver af van mekaar uitken. Die Psalmis keer terug na sy eie intense waardering vir God se beskerming en verlossing. Hy neem dit nie as iets vanselfsprekend aan nie, maar as iets wat weer en weer deur God aan hom geskenk word in die aangesig van nood en die woede van sy vyande. “Die Here self tree vir my in.” (vers 8). Of meer dinamies vertaal: “Die Here sal vir my alles goed laat afloop.” (NAV).

Lees meer: https://bybelskool.com/psalm-138-u-besiel-my-met-innerlike-krag/

Jesaja 6:1-13 – Tog sal by hulle ‘n stomp oorbly, ‘n heilige geslag

31 Januarie

Jesaja 6:1-13 – Tog sal by hulle ‘n stomp oorbly, ‘n heilige geslag

1In die sterfjaar van koning Ussia het ek my Heer sien sit op ‘n hoë en verhewe troon. Die some van sy kleed het die tempel gevul. 2Serafs het bo Hom gereedgestaan. Elkeen het ses vlerke gehad: Met twee vlerke het elkeen sy gesig bedek, met twee het hy sy voete bedek en met twee kon hy vlieg. 3Hulle het na mekaar geroep en gesê: “Heilig, heilig, heilig is die Here, Heerser oor alle magte! Die hele aarde is vol van sy heerlikheid.” 4Die deurpenne in die drumpel het gebewe van die geluid van die een wat roep. Die tempel het vol rook geword. 5Ek het gesê: “Wee my, want ek is verlore! Want ek is ‘n mens met onrein lippe, en by ‘n volk met onrein lippe woon ek. Ja, my oë het die Koning, die Here, Heerser oor alle magte, gesien.” 6Een van die serafs het na my toe gevlieg met ‘n gloeiende kool by hom wat hy met ‘n tang van die altaar af geneem het. 7Hy het my mond aangeraak en gesê: “Kyk, dit het jou lippe aangeraak, jou sondeskuld het gewyk, daar is vir jou sonde versoening gedoen.” 8Toe hoor ek die stem van my Heer wat sê: “Wie sal Ek stuur en wie sal vir ons gaan?” Ek sê toe: “Hier is ek, stuur my!” 9Hy het gesê: “Gaan sê vir hierdie volk, ‘Luister goed, maar moenie verstaan nie; kyk goed, maar moenie begryp nie.’ 10Maak die harte van hierdie volk ongevoelig, maak hulle ore doof en smeer hulle oë toe, sodat hulle nie sien met hulle oë, met hulle ore nie hoor, en met hulle hart nie verstaan, en nie terugdraai en genees word nie!” 11Daarop vra ek: “Tot wanneer, my Heer?” Hy het geantwoord: “Totdat die dorpe vervalle lê sonder inwoners, die huise sonder mense is, die land verval tot ‘n woesteny, 12en die Here die mense ver wegdryf, en die verlatenheid in die land groot is. 13As daar nog ‘n tiende in die land is, sal die land weer aan verwoesting uitgelewer wees. Tog sal by hulle ‘n stomp oorbly, soos van ‘n terebintboom en ‘n eikeboom wanneer hulle neergevel is. Die stomp van die land is ‘n heilige geslag.”

Dit is die jaar 740 v C. Jesaja is nog jonk in die bediening. Dan sterf sy oom Ussia, ’n baie suksesvolle koning. Die koningskap skuif na sy kleinseun Agas, ‘n rebel teen God, terwyl daar groot internasionale bedreiginge is. Midde in dié onstuimige en onseker tyd gebeur daar iets dramaties met Jesaja. Hy sien vir God op ’n baie hoë troon sit met sy soom wat die tempel vul. God se gewig lê soos ‘n kleed oor die aarde. Met ander woorde: God kan nie geïgnoreer word nie. Jesaja raak daarom intens bewus van sy onreinheid. Om dan die wonder te beleef dat hy nie veroordeel word nie, maar gereinig. Hy kry boonop ’n werksaanbod om as boodskapper vir God op te tree, al besef hy dat sy werk as profeet moeilik gaan wees. Hy moet immers die totale ondergang van die volk gaan verkondig. Hy sou lynreg teenoor Agas standpunt moes inneem. En net om sy werk nóg ’n bietjie moeiliker te maak, sou God sorg dat die volk niks verstaan of glo van Jesaja se woorde nie! Letterlik gaan hulle harte vet word en hulle ore swaar. Wie se hart vet is, kan nie reageer op God se Woord nie. Jesaja kan maar weet hulle gaan hulle nie bekeer nie! Sy werk as profeet is eerder om hulle verward te laat.

Wat sê die gedeelte vir ons? Die eerste is dat God in beheer is, selfs as alles anders in duie stort. Agas bepaal nie die gang van sake nie. God is in beheer. Die tweede is dat God mense met Hom wil versoen, maar Hy is heilig. Hy duld nie onheiligheid nie. Daarom heilig Hy ons. Dit is die betekenis van die seraf wat met die kool vuur vir Jesaja reinig. Maar, vir dié wat sy roeping weerstaan en God uit hulle lewens wegdruk, is God se heiligheid ‘n vuur wat verbrand en vernietig, tot net ‘n stomp oorbly. Dit is wat met Israel gebeur het. Hulle moes die nasies help om God te ontmoet. Maar hulle wou nie. Sulke mense kry dus met sy volle mag te doene. Hy bring ’n onafwendbare oordeel oor hulle.

Hierdie verterende boodskap is egter nie die laaste sê oor God en sy betrokkenheid in die wêreld nie. Gelukkig nie! In die derde plek sê hierdie gedeelte vir ons dat God ’n oorblyfsel laat bly. Dit is sy belofte aan Jesaja. Dit is sy belofte aan ons. Na die onafwendbare verwoesting sal daar ‘n afgekapte stomp oorbly, die gelowiges wat nie moed opgegee het nie, die heilige geslag, die geslag van die mense oor wie God Homself ontferm. Jesaja 11 sluit hierby aan en praat van die takkie wat sal uitspruit uit dié stomp, wat jare hierna op Jesus van toepassing gemaak sou word. Daar is hoop – en dié hoop is in Jesus – en die mense wat Hy uitkies om aan God te behoort.

Lees meer: https://bybelskool.com/jesaja-6-hoop-kom-uit-n-afgekapte-stomp/

Jeremia 1:4-10 – Ek is by jou om jou te red; Ek lê my woorde in jou mond

30 Januarie

Jeremia 1:4-10 – Ek is by jou om jou te red; Ek lê my woorde in jou mond

4Die woord van die Here het tot my gekom: 5“Nog voordat Ek jou gevorm het in die baarmoeder, het Ek jou geken; nog voordat jy uitgegaan het uit die moederskoot, het Ek jou geheilig. As profeet vir die nasies het Ek jou bestem.” 6Daarop het ek gesê: “Ag, my Heer, die Here, kyk, ek weet nie hoe om te praat nie, want ek is nog ‘n kind.” 7Maar die Here het vir my gesê: “Moenie sê, ‘Ek is nog ‘n kind’ nie, want na wie ook al Ek jou stuur, moet jy gaan, en wat ook al Ek jou beveel, moet jy sê. 8Jy moet nie vir hulle bang wees nie, want Ek is by jou om jou te red,” is die uitspraak van die Here. 9Die Here het toe sy hand uitgesteek en my mond aangeraak. Die Here het vir my gesê: “Kyk, Ek lê my woorde in jou mond. 10Let op, Ek stel jou vandag aan oor nasies en koninkryke om uit te ruk en af te breek, om ten gronde te laat gaan en plat te slaan, om te bou en te plant.”

Let op in vers 5 dat God vir Jeremia ken nog voordat die Here hom skep … ’n diepsinnige perspektief op die lewe! God skep Jeremia volgens die prentjie wat Hy van hom het en voer dit deur met sy vorming in die moederskoot en daarbuite vir die roeping wat God vir hom het. God is dus betrokke by mense van vóór hulle geboorte af. En God gee beloftes om almal van ons te motiveer om die roeping wat Hy vir ons het, aan te gryp. Vir Jeremia was dit: “Ek is by jou om jou te red.” En: “Ek lê my woorde in jou mond.”

Dit is beloftes waarmee Jeremia sy uitdagende opdrag moet aanvaar – ‘n verlossende oordeel oor nasies en koninkryke. Interessant genoeg word dieselfde woord “aanstel” in vers 10 gebruik vir die beskrywing van Abraham se roeping in Genesis 18:19. Amos gebruik dit ook met verwysing na die verkiesing van Israel (Amos 3:2): “Ek het hom gekies (aangestel) dat hy sy kinders en sy nageslag kan beveel om op my pad te bly deur te doen wat goed en reg is, sodat Ek vir Abraham kan doen wat Ek hom beloof het.” Peterson vertaal die vers daarom so mooi: “Yes, I’ve settled on him as the one to train his children and future family to observe God’s way of life, live kindly and generously and fairly, so that God can complete in Abraham what he promised him.” (The Message).

Dieselfde God wat Jeremia geken, gevorm, geheilig en gekies het, en dit met al die ander geloofshelde gedoen het, sal dit ook met jou doen vir die roeping wat Hy vir jou het. Sy beloftes aan Jeremia kan ook vir jou moed gee daarvoor. God is by jou. God gee jou woorde (dws wat jy nodig het om jou roeping uit te voer).

Lees meer: https://bybelskool.com/jeremia-1-jeremia-geken-gevorm-geheilig-en-gekies/

Filippense 4:10-20 – My God sal ruimskoots in al julle behoeftes voorsien

29 Januarie

Filippense 4:10-20 – My God sal ruimskoots in al julle behoeftes voorsien

10Ek is in die Here besonder bly dat julle nou uiteindelik opnuut aan my gedink het. Eintlik het julle wel aan my gedink, maar julle het net nie die geleentheid daarvoor gehad nie. 11Ek sê dit nie omdat ek gebrek ly nie, want ek het geleer om in alle omstandighede tevrede te wees. 12Ek weet wat dit is om te min te hê, en ek weet wat dit is om oorvloed te hê; ek is in elke opsig in al hierdie dinge ingewy: om versadig te wees, sowel as om honger te ly; om oorvloed te hê, sowel as om gebrek te ly. 13Tot dit alles is ek in staat deur Hom wat my krag gee. 14Nogtans was dit goed van julle om in my swaarkry te deel. 15Julle weet ook, Filippense, dat aan die begin van my evangelieverkondiging, toe ek van Macedonië vertrek het, geen gemeente tot my rekening van inkomste en uitgawes bygedra het nie, behalwe slegs julle. 16Ook in Thessalonika het julle meer as een maal iets vir my behoeftes gestuur. 17Dit is nie dat ek van julle ‘n bydrae verlang nie; ek verlang eerder dat die opbrengs op julle belegging toenemend sal groei. 18Ek is ten volle vergoed, en het meer as genoeg; ek is ten volle versorg, noudat ek van Epafroditus ontvang het wat van julle af kom: ‘n geurige offer, ‘n aanneemlike offergawe wat God behaag. 19En my God sal ruimskoots in al julle behoeftes voorsien, in ooreenstemming met sy heerlike rykdom in Christus Jesus. 20Aan ons God en Vader kom die heerlikheid toe vir ewig en ewig! Amen.

Paulus sluit sy brief aan die Filippense af om hulle aan te moedig om met vreugde en vrygewigheid te leef. Daarmee bedoel Paulus nie net dat die gemeenskap van gelowiges ’n veilige, vriendelike, vreugdevolle plek moet wees nie, maar dat dit ook hulle kontak met mense in die gemeenskap moet stempel. Daardie vreugde en vrygewigheid – terwyl hulle hulle behoeftes aan die Here bekend maak (Fil 4:4-6) – moet gehandhaaf word, in gebrek en in oorvloed.

Paulus is hierin vir hulle voorbeeld, want hy het in albei tipe lewensomstandighede – die skaars en die oorvloedige tye – geleer om deur te kom, homself te behelp, omdat hy geleer het dat die belofte van God waar is: “Tot dit alles is ek in staat deur Hom wat my krag gee.” Die woord wat Paulus vir “behelp” in vers 11 gebruik (autarkes), kan ook met selfgenoegsaam vertaal word, dws om vergenoegd of tevrede te wees, en steeds met ’n oop hand te lewe (soos dit inderdaad in die 2020-vertaling vertaal is). Eksterne omstandighede – of dit nou gebrek of oorvloed tot gevolg gehad het – het nie Paulus se manier van lewe bepaal nie, selfs nie sy tevredenheid daarmee al dan nie. God se krag het dit bepaal. Daarom was hy werklik in staat tot alles.

Dan brei Paulus sy dankbaarheid uit met nog ‘n belofte aan hulle, ‘n belofte wat ook vir elke kind van God geld wat volhard in vreugde en vrygewigheid. Só ‘n lewe ontsluit die oorvloed van God wat letterlik vir elke behoefte wat hulle het, voorsiening kan maak: “En my God sal ruimskoots in al julle behoeftes voorsien, in ooreenstemming met sy heerlike rykdom in Christus Jesus.” (vers 19). Soos Paulus dit vroeër aan die Korintiërs ook geskrywe het: “En God is by magte om aan julle alles in oorvloed te skenk, sodat julle in alle opsigte altyd van alles genoeg kan hê en volop kan bydra vir elke goeie werk.” (2 Kor 9:8). Dit beteken elke stukkie vreugde en vrygewigheid wat jy begin demonstreer in jou vertroue op en gehoorsaamheid aan die Here sal groei tot ‘n oorvloed wat jou sal verstom.

Lees meer: https://bybelskool.com/filippense-42-23-om-saam-in-die-here-te-wees-bid-en-leef/

Onlangse kommentaar