Skip to main content

Tag: Beloftes

Openbaring 2:1-7 – Aan wie oorwin, sal Ek te ete gee van die boom van die lewe

12 Februarie

Openbaring 2:1-7 – Aan wie oorwin, sal Ek te ete gee van die boom van die lewe

1“Skryf aan die boodskapper van die gemeente in Efese: “Dit sê Hy wat die sewe sterre in sy regterhand hou, en wat tussen die sewe goue kandelare rondbeweeg, 2“ ‘Ek ken jou dade, jou inspanning en volharding, en weet dat jy slegte mense nie kan verdra nie. Daarom het jy daardie mense wat sê dat hulle apostels is, maar nie is nie, getoets, en hulle as leuenaars uitgewys. 3Verder hou jy aan om te volhard, en het jy ter wille van my Naam baie verduur, sonder om moeg te word. 4Maar Ek hou dit teen jou dat jy jou eerste liefde versaak het. 5Onthou dan waarvandaan jy uitgesak het, en bekeer jou: Gaan doen weer wat jy vroeër gedoen het. Anders, as jy nie tot bekering kom nie, sal Ek na jou toe kom, en jou kandelaar van sy staanplek af verwyder. 6Maar dít tel in jou guns: Jy haat die dade van die Nikolaïete, wat Ek ook haat. 7“ ‘Laat dié wat ore het, luister na wat die Gees aan die gemeentes sê. Aan wie oorwin, sal Ek te ete gee van die boom van die lewe wat in God se paradys staan.’ ”

Die Here Jesus dikteer hier aan Johannes sy onderskeie boodskappe aan die sewe gemeentes. Telkens lui die opskrif van die briewe / boodskappe: “Skrywe (ook) aan die boodskapper van die gemeente in …” Die term boodskapper (angellos) val op, want dit is dieselfde woord as dié wat vir engel in Openbaring 1:1 gebruik word. Hier is dit egter nie die engel van Jesus Christus nie, maar die engel of boodskapper van die gemeente, d.w.s. die leier, leraar of voorganger van die gemeente, soos dit in baie vertalings weergegee word. Maar dit is ook duidelik dat die boodskap vir die hele gemeente bedoel is, soos dit ook eksplisiet in die brief aan Tiatira vermeld word (Openb 2:23-24) en elke keer aan die einde van ’n brief meervoudig geïnterpreteer word: “luister na wat die Gees aan die gemeentes sê.” Elke boodskap bevat ook elemente wat eintlik op alle gemeentes van toepassing is (Openb 2:23). Soos die opskrif van elke brief aan ’n gemeente oorspronklik geskryf is, rus daar egter ook ’n dure plig op dié in leierskap om hulle begeleidingsrol – soos deur die Here aan hulle toevertrou – met oorgawe te vervul.

Die stad Efese was nie net die belangrikste stad in Wes-Turkye nie, maar het ook die belangrikste gemeente in daardie gebied gehuisves. Die uitstaande kenmerk van die voorganger asook die gemeente was dat hulle nougeset gedoen het wat God vra en veral sorg gedra het dat alles leerstellig suiwer gebeur. Daarom het hulle valse apostels uitgewys en die Nikolaïete se dade (nie die mense self nie) gehaat. Die Nikolaïete – wat ook in Pergamum voorgekom het (Openb 2:15) – was mense wat godsdienstige en sedelike kompromieë met hulle omgewing aangegaan het. Maar die voorganger en die gemeente het hulle eerste liefde verlaat. Hulle het God nie meer so lief gehad soos by die begin van hulle Christelike lewe nie. Hulle dade was onberispelik, hulle het volhard onder moeilike omstandighede, hulle het suiwerheid in leer en lewenswandel nagejaag, maar hulle het hulle entoesiasme en Gees-drif verloof. Dit is immers waarvoor Paulus hulle vroeër geprys het in sy brief aan die Efesiërs uit Rome in die sestigerjare. Maar nou, skaars dertig jaar later, was hulle nie meer gewortel en gegrondves in die liefde nie (vgl Ef 3:17-19). Hulle was baie besig met die dinge van die Here, maar nie meer so baie met die Here van die dinge nie.

Jesus se boodskap aan hulle is: onthou en herstel die verhouding soos dit aan die begin was. Daarom herinner Hy hulle in die eerste vers aan sy teenwoordigheid by beide die voorgangers (sterre) en in die gemeentes (kandelare). Anders loop die gemeente die gevaar om tot niet te gaan. Sy belofte is dat Hy dié wat oorwin van die boom van die lewe wat in God se paradys staan, sal laat eet. Dit is die boom wat Adam en Eva versmaai het en wat God ná hulle ongehoorsaamheid vir die mensdom onbereikbaar gemaak het (Gen 3:24). God belowe egter hier vir almal van ons wat in ons liefde vir die Here volhard (en steeds ook in leer en lewe suiwer is) toegang sal verkry tot die boom van die lewe en daarmee onsterflikheid sal bereik met die koms van die nuwe hemel en nuwe aarde.

Lees meer: https://bybelskool.com/openbaring-2-bly-getrou-tot-by-die-wederkoms/

1 Petrus 4:12-19 – As jy ter wille van Christus beledig word, rus die Gees van God op jou

11 Februarie

1 Petrus 4:12-19 – As jy ter wille van Christus beledig word, rus die Gees van God op jou

12Geliefdes, moenie verbaas wees wanneer ‘n vurige beproewing oor julle kom, asof iets vreemds met julle gebeur nie; 13wees eerder bly, namate julle deel het aan die lyding van Christus, sodat julle ook by die bekendmaking van sy heerlikheid uitbundig sal kan jubel. 14As julle ter wille van Christus se Naam beledig word – gelukkig is julle, omdat die Gees van heerlikheid, dit is die Gees van God, op julle rus. 15Niemand van julle moet immers as moordenaar of dief of kwaaddoener of bemoeisieke ly nie; 16as iemand egter ly omdat hy ‘n Christen is, moet hy hom nie skaam nie, maar God verheerlik op grond van hierdie Naam. 17Dit is immers tyd dat die oordeel begin, en wel by die huishouding van God. As dit by ons begin, wat sal dan die uiteinde wees van hulle wat aan die evangelie van God ongehoorsaam is? 18Want: “As die regverdige beswaarlik verlos word, wat sal van die goddelose en sondaar word?” 19Dus moet ook hulle wat, in ooreenstemming met die wil van God, ly, hulle lewe aan die getroue Skepper toevertrou deur te doen wat goed is.

In die verdere ontwikkeling van Petrus se lering oor geestelike groei fokus hy nou op die interne en eksterne uitdagings wat hierdie geloofsgemeenskappe in die noorde van die hedendaagse Turkye sal moet trotseer. Hulle sal vervreemding ervaar beide in terme van die verleiding van hulle eie menslike begeertes sowel as in die versoekings van ‘n samelewing wat losbandig lewe. Selfs wanneer hulle dié verleiding en versoeking weerstaan, sal dit egter nie die druk van hulle afhaal nie. Vurige beproewings en lyding – net omdat hulle Christene is – is deel van die pad van verlossing wat vir hulle voorlê. ‘n Belangrike aspek van hulle standvastigheid lê daarom in hulle insig in die redes vir en doel van hierdie tipe lyding. Hy stel hulle gerus dat dit nie iets vreemds is nie. Trouens, die lyding is ‘n teken van God se seën wat op hulle rus. Hoekom? Want, die Here belowe dat onregverdige lyding: “ter wille van Christus se Naam”, óf doodgewoon die feit dat iemand ly: “omdat hy ‘n Christen is”, by sal dra tot die verheerliking van God se Naam.

Die 1983-vertaling het in vers 19 die lyding geïnterpreteer met die vertaling as dat dit gebeur: “omdat God dit wil“. Dit kan egter beter vertaal word as: “vanweë God se wil”, of soos die 2020-vertaling dit het: “in ooreenstemming met die wil van God.” Dit gee ‘n ander betekenis aan die lyding wat meer hoopvol is. Dit is nie soseer dat God besluit dat ons moet ly nie. Petrus verwys immers hier na lyding omdat ons God se wil doen. As ons weet dat ons aan God gehoorsaam is, hoef ons nie op sulke lyding met aggressie te reageer nie. Ons kan doodgewoon voortgaan om God se wil te doen, terwyl ons ons lewe aan God toevertrou en veral aanhou om goed te doen! Dit is immers hoe Jesus dit gedoen het. Wanneer ons dus ly vir sy Naam, volg ons sy voorbeeld, en het ons deel aan sy lyding. Ons dra dus die lyding namens Hom. Op ‘n paradoksale manier bewys die lyding ter wille van Christus dat dieselfde Gees van heerlikheid wat op Christus gerus het, ook op ons rus.

Petrus draai egter nie doekies om nie. Om God se wil te doen en daarin te volhard, is nie kinderspeletjies nie. Dit vra vashou en vasbyt. Wat ons bemoedig in dié uitdagende opdrag is die volgende. In die eerste plek die sekerheid van wat God wil. Waar ons seker is van ons roeping, help dit ons om gefokus te bly (1 Pet 4:1-6). In die tweede plek help dit dat ons mekaar nie net bedien met ons gawes nie – met woorde van God en vanuit die krag van God – maar mekaar ook só lief sal hê dat ons ‘n genadige ruimte vir mekaar skep om die Here te kan bly dien, selfs al struikel ons ook vele kere (1 Pet 4:7-11). In die derde plek inspireer die voorbeeld van Christus ons om aan God gehoorsaam te bly en nooit op te hou om goed te doen nie, selfs al ly ons juis omdat ons God se wil doen óf net omdat ons die naam Christen dra (1 Pet 4:12-19).

Lees meer: https://bybelskool.com/1-petrus-4-bo-alles-moet-julle-mekaar-innig-liefhe/

Jakobus 1:19-27 – Wie doen wat hy hoor, sal gelukkig wees in wat hy doen

10 Februarie

Jakobus 1:19-27 – Wie doen wat hy hoor, sal gelukkig wees in wat hy doen

19Let op, my geliefde broers, elke mens moet flink wees om te luister, stadig om te praat, stadig om kwaad te word. 20Want die woede van ‘n mens bewerk nie geregtigheid voor God nie. 21Doen daarom in sagmoedigheid afstand van alle morele besoedeling en die kwaad wat gedy, en ontvang die woord wat in julle geplant is, en daartoe in staat is om julle siele te verlos. 22Wees doeners van die woord, en nie slegs hoorders wat julleself mislei nie. 23Want wie ‘n hoorder van die woord is en nie ‘n doener nie, is soos iemand wat sy eie gesig in ‘n spieël sien. 24Hy sien homself, gaan weg en vergeet onmiddellik hoe hy gelyk het. 25Maar wie diep in die volmaakte wet van vryheid inkyk en daaraan hou, sal gelukkig wees in wat hy doen, omdat hy nie ‘n vergeetagtige hoorder is nie, maar ‘n doener. 26As iemand dink dat hy godsdienstig is en nie sy tong kan beheer nie, mislei hy homself; so ‘n mens se godsdiens is vergeefs. 27Dít is suiwer en onbesmette godsdiens voor ons God en Vader: om na weeskinders en weduwees om te sien in hulle ellende, en jouself onbesmet van die wêreld te hou.

As God vrygewig is, as Hy genadig is en as Hy die beste voorsien, veral wanneer mens van hom wysheid vra (Jak 1:5), dan is dit net logies dat God kan verwag dat ’n mens sal doen wat Hy sê. Die wysheid wat Hy gee, is bedoel vir optrede en gehoorsaamheid. Om te kan doen wat die woord sê, moet ‘n mens uiteraard in die eerste plek die woord van God kan hoor. Hoor gaan doen vooraf. Dit is waarom Jakobus klem lê op drie dinge: dat ‘n mens 1) “flink (moet) wees om te luister,”2) “stadig om te praat, en 3) “stadig om kwaad te word.” In alles wat met jou en rondom jou gebeur, moet jy jou dus instel om agter te kom wat aan die gang is, en veral wat die Here besig is om te doen. In alles is Hy besig om wysheid te gee, uitkoms te gee en sy voorsiening te laat gebeur. Daarom moet jy nougeset luister en nie te gou wees om te praat nie, en veral nie kwaad te word oor wat gebeur nie. Dit is al manier waarop ons die woord van God “wat in ons geplant is” kan hoor (vgl Jer 31:33; Hebr 8:10; 10:16). Dit veronderstel ‘n innerlike proses wat baie meer subtiel en intuïtief is as iets wat ‘n mens doodgewoon uit die eksplisiete gebeure om jou kan aflei.

Oor woede leer Jakobus ons dat dit nie “geregtigheid voor God” bewerk nie. Dit stel dinge nie reg nie. Trouens dit vererger meesal dinge. Daarom is sy raad aan hulle: “Doen daarom in sagmoedigheid afstand van alle morele besoedeling en die kwaad wat gedy.” Die bron van die kwaad, hulle sondige natuur, moet afgelê word, sodat hulle (en ander) nie daardeur besoedel en verlei word nie. Die gevolge daarvan is ongebreideld, dws dit kan nie beheer word nie (vgl Ef 4:22-24). Dan sal hulle die “ingeplante woord” van God kan hoor, en dié woord sal hulle red. Dit is hoe God liefgehê word.

As ‘n mens flink is om te luister, is daar egter nog iets waarop jy moet fokus as jy wil doen wat die woord sê. En dit is, om die woord in jou lewe toe te pas, om dit prakties uit te voer: “Wees doeners van die woord en nie slegs hoorders wat julleself mislei nie.” Anders is jy soos iemand wat in die spieël kyk, maar weer gou vergeet hoe jy lyk. Jakobus roep hulle dus op daartoe om hulle te verdiep in die “volmaakte wet van vryheid” en daarby te bly deur dit uit te voer. God se woord is volmaak en dit maak vry, aan die een kant vry van sonde en aan die ander kant vry om die lewende God te kan dien, en spesifiek in deernis teenoor ander te kan optree, soos in die laaste verse van die perikoop uitgespel word. Dan sal hulle lewens aan God se standaarde beantwoord. Dan kom hulle liefde vir God tot sy volle reg. Hulle sal nie net hulle tong kan beheer nie, iets waaroor hy nog verder gaan uitwy, maar ook kan omsien na mense wat in ellende is, weeskinders en weduwees, wat suiwer en onbesmette godsdiens voor ons God en Vader is. Dit is deel van hulle liefde vir hulle naaste. Daarby sal hulle onbesmet deur die wêreldse dinge kan lewe. Let op dat deernis met behoeftige mense jou in ‘n sekere sin in staat stel om vry van die besmetting van die wêreld te bly, waarskynlik omdat jy dan nie toegee aan die sondige begeerte om net na jou eie belange om te sien nie. Nogal iets om oor na te dink. Liefde vir die naaste help jou om lief te bly vir God!

Lees meer: https://bybelskool.com/jakobus-119-226-doen-wat-die-woord-se/

Lukas 6:20-26 – Ons beloning in die hemel is groot

9 Februarie

Lukas 6:20-26 – Ons beloning in die hemel is groot

20Toe het Hy sy oë op sy dissipels gerig en gesê: “Gelukkig is julle wat arm is, want die koninkryk van God behoort aan julle. 21Gelukkig is julle wat nou honger ly, want julle sal versadig word. Gelukkig is julle wat nou huil, want julle sal lag. 22Gelukkig is julle wanneer die mense julle haat en verstoot en uitskel en julle name deur die modder sleep ter wille van die Seun van die Mens. 23“Wees bly op daardie dag, en spring op van vreugde, want kyk, julle beloning in die hemel is groot. Hulle voorvaders het immers die profete net so behandel. 24“Maar wee julle wat ryk is, want julle het reeds julle troos weg. 25Wee julle wat nou versadig is, want julle sal honger ly. Wee julle wat nou lag, want julle sal treur en huil. 26Wee julle wanneer al die mense net goed van julle praat, want hulle voorvaders het die vals profete net so behandel.”

Jesus is steeds besig om met die dissipels te praat ná die gesprek op die berg (die Bergrede – Matt 5-7). Sommige noem dit daarom die Vlakterede, want Jesus staan hier op ‘n gelyk plek (vgl vers 17). Hierdie keer met ‘n groter skare mense wat inluister. Dis is duidelik in hierdie gedeelte dat Jesus elkeen beloon wat bereid is om te luister na sy woorde EN dit te doen. Dit is waarom daar aan elke saligspreking ‘n belofte gekoppel is. Soos ons bereid is om te doen wat Hy vra, só is Hy bereid om ons daarvoor te beloon

Jesus spel vier gevolge uit wat getrouheid aan Hom en sy boodskap – luister en doen – vir hulle sal inhou, maar koppel dit ook telkens aan die loon wat Hy uiteindelik vir hulle in die hemel sal gee. In die eerste plek laat Hy die armes onder hulle die koninkryk van God erf, dié wat ter wille van Jesus nie rykdom nagejaag het nie, of van hulle besittings beroof is. Die koninkryk is hulle s’n, die enigste ware rykdom wat vir ewig sal hou (vgl Hebr 10:34). In die tweede plek sal Hy dié versadig wat nou honger het. Dit sluit natuurlik die honger na geregtigheid in, maar die fokus is sterker op die fisiese honger weens hulle getrouheid aan die Here (vgl 1 Kor 4:11; 2 Kor 6:5; 11:27; Fil 4:12). In die derde plek sal Hy dié vertroos wat nou hartseer is. Dit sluit ook die hartseer oor die verval in die wêreld in, maar die fokus is ook sterker op die hartseer oor dinge wat verkeerd loop, in hulle lewens weens hulle getrouheid aan die Here, sowel as in ander s’n weens hulle onvermoë om die goeie nuus in Jesus raak te sien (vgl Paulus se hartseer oor die Jode – Rom 9:2). In die vierde plek sal Hy dié beloon wat nou gehaat, verstoot, beledig en verag word ter wille van Hom. Trouens, Hy beveel hulle om verheug te wees en van vreugde op sulke tye te spring, want dit dra die boodskap dat hulle loon groot is in die hemel. Dit is immers presies wat die Jode met die profete in die verlede gemaak het. Hulle is dus in groot geselskap. Die teendeel is waar vir rykes, versadigdes, laggendes en dié waarvan ander mense net goed praat. Hulle het hulle loon reeds in hierdie lewe weg.

Ons moet twee aspekte van hierdie boodskap ter harte neem. Die een is dat geluk in die koninkryk van God nie direk eweredig is aan geluk in die wêreld nie. “Wealth is no mark of God’s favor. Poverty is no mark of God’s displeasure.” (JC Ryle). Trouens, dit is soms juis dié wat hartseer in hierdie wêreld beleef wat regtig gelukkig is. Veral as ‘n mens dit uit die perspektief van die hiernamaals beskou. Soos Jesus dit hier vir ons onderstreep. Die ander is dat daar regtig beloning is vir dié wat nou arm, honger, hartseer of verag is. Daar is niks wat ‘n mens in die navolging van die Here Jesus ly wat nie deur Hom raakgesien word en direk beloon sal word nie. Soms is daardie beloning al in hierdie lewe midde in die lyding (Mark 10:20), maar meer gereeld is dit in die hiernamaals (Luk 12:33; vgl ook die boodskap aan die ryk jongman – Luk 18:22). Die nadeel van beloning in hierdie lewe is dat dit altyd tydelik is. Die voordeel van beloning in die lewe hierna is dat dit vir ewig is. Laat dit jou vandag bemoedig en versterk.

Lees meer: https://bybelskool.com/lukas-61-49-luister-en-leef/

Jeremia 17:5-10 – Die Here vergeld elkeen volgens sy optrede, volgens die vrug van sy dade

8 Februarie

Jeremia 17:5-10 – Die Here vergeld elkeen volgens sy optrede, volgens die vrug van sy dade

5So sê die Here: “Vervloek is die man wat op mense vertrou, wat in mense sy krag vind, maar sy hart draai van die Here weg. 6Hy sal wees soos ‘n jenewerstruik in die Araba; hy sal dit nie opmerk wanneer die goeie kom nie. Hy sal tuis wees op dor plekke in die woestyn, op brak grond waar niemand woon nie. 7Geseënd is die man wat op die Here vertrou, wie se vertroue die Here is. 8Hy sal wees soos ‘n boom wat geplant is langs water, wat sy wortels uitstoot na die voor. Hy merk nie eers op dat die hitte kom nie; sy blare bly groen. In ‘n jaar van droogte raak hy nie angstig nie, en hy hou nie op om vrugte te dra nie.” 9Die hart is bedriegliker as alles; dit is ongeneeslik. Wie kan die hart verstaan? 10“Ek, die Here, deursoek harte en toets niere, om elkeen te vergeld volgens sy optrede, volgens die vrug van sy dade.”

In baie ontstellende taal plaas die Here in vers 5 ’n vloek op mense. Dit is darem nie op alle mense nie, maar net dié mense wat hulle gebrek aan ‘n hartsverbintenis aan God verraai, wie se harte (gedagtes) van God wegdraai of afwyk. Hierdie afvalligheid wys in die feit dat hulle krag soek in alliansies met ander mense. Dit is mense wat op ander mense vertrou, eerder as op God. Maar die afvalligheid laat hulle juis kragteloos, soos ‘n jenewerstruik in die Araba (die woestyn wat strek van die Dooie See af tot by die Golf van Akaba), ‘n duidelike verwysing na die beskrywing van die goddeloses van Psalm 1. Afvalligheid isoleer hulle van God se krag, dwarsboom enige groeikrag, sodat hulle nie vrugte dra soos hulle moet nie. Daarom is hulle vervloek en sal die Here hulle vergeld volgens hulle dade, of dan juis hulle gebrek aan vrug.

Daarteenoor gee die Here hierdie belofte in die vorm van ’n saligspreking: “Geseënd is die man wat op die Here vertrou, wie se vertroue die Here is …” Hulle is soos bome wat by water geplant is en voorspoedig en vrugbaar is reg deur die jaar, ’n duidelike verwysing na die beskrywing van die regverdiges van Psalm 1. Die Here sorg dat hulle nie angstig raak, selfs wanneer dit droog raak nie, want die Here sorg dat hulle nie ophou vrugte dra nie. Die Here self is hulle bron van sorg. (Dink aan Jesus se “beperkte” geduld met mense wat nie vrug dra nie in die gelykenis van die vyeboom – Luk 13:6; en ook Jesus se uiteindelike vervloeking van die vyeboom sonder vrugte – Matt 21:19. Dit het verskeie raakpunte met Psalm 1 sowel as Jeremia 17.)

Dan keer die Here egter terug na sy opmerkings oor die hart van die mens en wys hoe bedrieglik die hart is, die innerlike bewussyn van die mens, die sentrum van ons gedagtes. Om die waarheid te sê, vra die Here: “wie kan die hart verstaan?” Want, “die hart is bedriegliker as alles; dit is ongeneeslik!” Die Here laat ons egter nie sonder enige hoop nie. Sy reaksie op die ongeneeslike hart is: “Ek, die Here, deursoek harte en toets niere.” Die hart is die setel van ons gedagtes en die niere van ons gevoelens. Dié mense wat Hom toelaat om sy reinigende en helende werk in hulle gedagtes en gevoelens te doen – dws wat vrug dra – sal geseënd wees. Dié wat sy werk teenstaan – dws wat nie vrug dra nie – sal vervloek wees. God het dus in sy toetsing van ons gedagtes en gevoelens ’n louterende en suiwerende krag in ons lewe. Daarom moet ’n mens nie te gou ontsteld raak oor dinge wat verkeerd loop en jou geduld en onderskeiding toets nie. Daardeur is God besig met jou hart en niere – jou gedagtes en gevoelens!

Lees meer: https://bybelskool.com/jeremia-17-ek-die-here-deurgrond-en-toets-hart-en-verstand/

Onlangse kommentaar