Lukas 5:1-11 – Moenie bang wees nie; Van nou af sal jy mense vang
Lukas 5:1-11 – Moenie bang wees nie; Van nou af sal jy mense vang
1Op ‘n dag, toe Jesus langs die Meer van Gennesaret staan en die skare Hom verdring om die woord van God te hoor, 2sien Hy twee bote langs die meer lê. Die vissermanne het al uitgeklim en was besig om hulle nette uit te spoel. 3Jesus het in een van die bote geklim, die een wat aan Simon behoort, en hom gevra om ‘n klein entjie van die land af weg te roei. Hy het gaan sit en die skare van die skuit af onderrig. 4Toe Jesus klaar gepraat het, sê Hy vir Simon: “Gaan uit na die diep water, en laat sak julle nette daar om vis te vang.” 5“Meester,” antwoord Simon, “ons het die hele nag deur geswoeg en niks gevang nie, maar op u bevel sal ek die nette weer laat sak.” 6En toe hulle dit doen, het hulle soveel vis gevang dat die nette wou skeur. 7Hulle het vir die makkers in die ander boot beduie om hulle te kom help. Toe hulle daar aankom, het hulle albei bote so vol gemaak dat dit begin sink het. 8Toe Simon Petrus dit sien, val hy voor die knieë van Jesus neer en sê: “Gaan weg van my, Here, want ek is ‘n sondige mens.” 9Verwondering het hom en almal saam met hom aangegryp oor die groot klomp vis wat hulle gevang het. 10Jakobus en Johannes, Sebedeus se seuns wat saam met Simon gewerk het, was net so verbaas. Jesus het egter vir Simon gesê: “Moenie bang wees nie. Van nou af sal jy mense vang.” 11Nadat hulle die bote op die strand getrek het, het hulle alles gelos en Hom gevolg.
Jesus is hier by die Gennesaretmeer, ‘n ander naam vir die See van Galilea. Let op dat die skare teen Jesus aandruk om die Woord van God te hoor. Dit was die sentrale fokus van Jesus se bediening. Die wonders en genesings was net bevestigings van die verkondiging van die Woord. Daar is só baie mense wat na Jesus wil luister om die Woord van God te hoor dat Hy in Simon se skuit klim om ‘n entjie in die meer in te vaar sodat ‘n groter deel van die gehoor op die wal Hom kan hoor.
Dit raak dan ook die geleentheid waarby Jesus vir Simon en sy twee maats, Jakobus en Johannes, as dissipels werf. Andreas word ook geroep, soos ons uit die ander evangelies aflei. Jesus beveel vir Simon om na die diepwater uit te vaar en hulle nette te laat sak om vis te vang. Simon het geweet dat die opdrag eintlik onmoontlik was om uit te voer. Hulle het die hele nag deur hard gewerk en niks gevang nie, en die vis sou nie in die dag byt nie, veral nie met die trammelnette waarmee jy net in die nag vis kon vang nie. “Maar”, sê Simon: “op u bevel (woord) sal ek die nette weer laat sak.” Toe hulle dit doen, het hulle ’n groot klomp visse gevang, soveel so dat hulle nette wou skeur. Ander moes hulle kom help en hulle het twee skuite vol vis gemaak. Soveel vis dat albei skuite wou sink! In ‘n diep oortuiging van sy sonde val Petrus op sy knieë voor Jesus en sê: “Gaan weg van my, Here, want ek is ‘n sondige mens.” Op Jesus se gerusstellende en bevrydende woord: ” Moenie bang wees nie. Van nou af sal jy mense vang,” het almal alles gelos en Jesus gevolg.
Die vraag moet gevra word of ons nog dié fokus het in ons eie geestelike en veral gemeentelike lewe. Jesus se belofte is hier ook ‘n opdrag! Die denominasie waaraan ons behoort en die gemeente waar ons aanbid, kan só ‘n oorheersende rol in ons geestelike lewe speel dat ons nie meer fokus daarop om die Woord van God by mense uit te bring nie. Dit is waarvoor Jesus die dissipels hier roep. Ook vir ons. Om die Woord van God aan mense te verkondig. Daar is niks meer belangriks nie. Waar die Woord van God nie verkondig word nie, beteken selfs die grootste wonderwerk niks nie. Dit is wat dit beteken om hierdie belofte vir jou toe te eien en Jesus radikaal te begin volg. Om jou lewe te wy aan die verkondiging van die Woord van God aan mense. Om daarvoor te bid. Om daarvoor te gee. Om dit inderdaad ook self te doen op die plek en in die lewensituasie waar God jou geplaas en geroep het.
Lees meer: https://bybelskool.com/lukas-414-539-jesus-het-gekom-vir-armes-gevangenes-blindes-en-onderdruktes/
Discover more from Bybelskool
Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Onlangse kommentaar