Jeremia 1:4-10 – Ek is by jou om jou te red; Ek lê my woorde in jou mond

30 Januarie
Jeremia 1:4-10 – Ek is by jou om jou te red; Ek lê my woorde in jou mond
4Die woord van die Here het tot my gekom: 5“Nog voordat Ek jou gevorm het in die baarmoeder, het Ek jou geken; nog voordat jy uitgegaan het uit die moederskoot, het Ek jou geheilig. As profeet vir die nasies het Ek jou bestem.” 6Daarop het ek gesê: “Ag, my Heer, die Here, kyk, ek weet nie hoe om te praat nie, want ek is nog ‘n kind.” 7Maar die Here het vir my gesê: “Moenie sê, ‘Ek is nog ‘n kind’ nie, want na wie ook al Ek jou stuur, moet jy gaan, en wat ook al Ek jou beveel, moet jy sê. 8Jy moet nie vir hulle bang wees nie, want Ek is by jou om jou te red,” is die uitspraak van die Here. 9Die Here het toe sy hand uitgesteek en my mond aangeraak. Die Here het vir my gesê: “Kyk, Ek lê my woorde in jou mond. 10Let op, Ek stel jou vandag aan oor nasies en koninkryke om uit te ruk en af te breek, om ten gronde te laat gaan en plat te slaan, om te bou en te plant.”
Let op in vers 5 dat God vir Jeremia ken nog voordat die Here hom skep … ’n diepsinnige perspektief op die lewe! God skep Jeremia volgens die prentjie wat Hy van hom het en voer dit deur met sy vorming in die moederskoot en daarbuite vir die roeping wat God vir hom het. God is dus betrokke by mense van vóór hulle geboorte af. En God gee beloftes om almal van ons te motiveer om die roeping wat Hy vir ons het, aan te gryp. Vir Jeremia was dit: “Ek is by jou om jou te red.” En: “Ek lê my woorde in jou mond.”
Dit is beloftes waarmee Jeremia sy uitdagende opdrag moet aanvaar – ‘n verlossende oordeel oor nasies en koninkryke. Interessant genoeg word dieselfde woord “aanstel” in vers 10 gebruik vir die beskrywing van Abraham se roeping in Genesis 18:19. Amos gebruik dit ook met verwysing na die verkiesing van Israel (Amos 3:2): “Ek het hom gekies (aangestel) dat hy sy kinders en sy nageslag kan beveel om op my pad te bly deur te doen wat goed en reg is, sodat Ek vir Abraham kan doen wat Ek hom beloof het.” Peterson vertaal die vers daarom so mooi: “Yes, I’ve settled on him as the one to train his children and future family to observe God’s way of life, live kindly and generously and fairly, so that God can complete in Abraham what he promised him.” (The Message).
Dieselfde God wat Jeremia geken, gevorm, geheilig en gekies het, en dit met al die ander geloofshelde gedoen het, sal dit ook met jou doen vir die roeping wat Hy vir jou het. Sy beloftes aan Jeremia kan ook vir jou moed gee daarvoor. God is by jou. God gee jou woorde (dws wat jy nodig het om jou roeping uit te voer).
Lees meer: https://bybelskool.com/jeremia-1-jeremia-geken-gevorm-geheilig-en-gekies/
Discover more from Bybelskool
Subscribe to get the latest posts sent to your email.
Onlangse kommentaar