Skip to main content

Tag: Beloftes

1 Korintiërs 12:12-14, 27-31 – Die Gees se gawes bring eenheid in die liggaam

18 Januarie

1 Korintiërs 12:12-14, 27-31 – Die Gees se gawes bring eenheid in die liggaam

12Want soos die liggaam ‘n eenheid is, maar uit baie ledemate bestaan, en al die ledemate van die liggaam, alhoewel hulle baie is, een liggaam vorm, so is dit ook met Christus. 13En ons is tog álmal deur die een Gees in een liggaam in gedoop – Jode of Grieke, slawe of vrymense – en ons is almal met een Gees deurdrenk. 14Inderdaad, die liggaam bestaan nie uit een ledemaat nie, maar uit baie … 27Julle is die liggaam van Christus, en elkeen individueel ‘n ledemaat. 28In die gemeente het God aangewys: eerstens apostels, tweedens profete, derdens leraars; daarna kragtige vermoëns, sowel as gawes van genesing, vermoëns om te kan help, om te lei, en verskillende soorte tale. 29Is almal dan apostels? Is almal dan profete, of almal leraars? Het almal miskien kragtige vermoëns? 30Het almal miskien gawes van genesing? Spreek almal dalk in tale? Kan almal dit dalk uitlê? 31Julle lê julle toe op die belangriker genadegawes, maar ek wys julle die heel beste weg.

Paulus brei hier uit oor die samehang van die gelowiges met hulle gawes in die een liggaam van Christus, die gemeente, wat beteken dat daar nie verdeeldheid kan wees nie. Hy gebruik die beeld van ’n regte liggaam om die noodsaaklikheid van verskille (voet, hand, oor, oog) binne die groter organiese eenheid van die gemeente te demonstreer, maar ook die noodsaaklike en integrale eenheid te beklemtoon. ’n Liggaam kan nie voortbestaan as dit verskeurd is nie.

Die Gees se bedoeling en belofte is dat as die gawes binne die eenheid van die liggaam gebruik word die liggaam se lede met integriteit gelyke sorg kan dra vir mekaar en hulle roeping in die wêreld kan nakom. Onder andere deur mense wat spesifieke take ontvang het: apostels, profete en leraars – gawes wat veral met die Woordbediening te make het. En deur mense wat spesifieke gawes ontvang het: kragtige vermoëns (om wonderdade te kan doen), genesing, om te kan help (bystand te verleen), om te lei (in Grieks kubernesis wat dui op bestuur of administrasie), en verskillende soorte tale – gawes wat veral met praktiese getuienis en dienslewering te make het. Die lysie kom ooreen met dié in vers 7-11 (wat ons voorheen gelees het), behalwe dat daar hier twee ekstra gawes genoem word: hulpverlening en leiding. Dit wys dat die gawes (en take – dink ook aan die ampte in die kerk) nie ’n vaste aantal was nie, maar slegs as voorbeelde of as ‘n seleksie van die belangrikstes genoem word.

Paulus beklemtoon verder dat nie almal al die gawes het nie (almal het nie die gawe van verskillende tale nie), en dat daar beter gawes is (profesie is beter as die gawe van verskillende tale, soos hy in hoofstuk 14 sal aandui). Daarby is alle gawes en take ondergeskik aan die gawe van die liefde wat aan almal in die gemeente gegee is. Daaroor handel hoofstuk 13. Dink vandag na oor watter gawes die Gees vir jou gegee het, en hoe jy dit in jou gemeenskap van gelowiges kan gebruik.

Lees meer: https://bybelskool.com/1-korintiers-12-verskeidenheid-dien-die-eenheid/

Psalm 19:8-15 – God bestaan en God praat met ons

17 Januarie

Psalm 19:8-15 – God bestaan en God praat met ons

8Die wet van die Here is volmaak, dit gee nuwe lewenskrag; die bepalings van die Here is betroubaar, dit gee wysheid aan die onkundiges. 9Die opdragte van die Here is reg, dit maak die hart bly; die gebod van die Here is suiwer, dit verhelder die oë. 10Ontsag vir die Here is rein, dit hou vir altyd stand; die beslissings van die Here is waar, dit is almal regverdig. 11Dit is begeerliker as goud, begeerliker as ‘n oormaat fyngoud; dit is soeter as heuning, as ‘n heuningkoek wat drup. 12Boonop, u dienskneg word daardeur gewaarsku; wanneer ‘n mens daarby hou, is die beloning groot. 13Wie het insig in sy onbewuste dwalings? Spreek my vry van verborge sondes! 14Weerhou u dienskneg ook van vermetelheid. Laat dit nie oor my heers nie; dan sal ek onskuldig wees en vry van ernstige oortredings. 15Laat die woorde van my mond en die bepeinsing van my hart vir U aanvaarbaar wees, Here, my Rots en my Verlosser.

Psalm 19 is een van die skeppingspsalms (soos ook Psalms 29, 33, 65, 74, 104, 136, 147 en 148). Dit roep in die eerste deel (vers 1-7) die verloop van die skeppingsverhaal van Genesis 1-3 in herinnering. Die Psalmis wou mense in vervoering sou laat oor God, sodat hulle met ‘n groter bewussyn van die heerlikheid van God sou lewe, sodat elke keer wat hulle weer kyk na die hemel en na die son en die normale gang van die dag en die nag ervaar, hulle van God bewus sou bly. Want, God bestaan!

Maar dié Psalm gaan nie net oor die heerlikheid van die skepping nie. Dit beweeg van ‘n loflied oor die skepping na ‘n loflied oor die wet van God wat vir die mens doen wat die son doen vir die skepping (vers 7-15). Die Wet bring lig en krag en die teenwoordigheid van God self tot in die dieptes van die menslike hart (NT Wright). En hierdie wet is natuurlik die spilpunt van die verbond wat Israel aan God verbind het, die hart van sy Woord aan hulle. Die Psalm belowe dat die wet van God, dws die Woord van God, die heerlikheid van God ook in ons hart en lewe sal indra, sodat dit waarlik ‘n lewensveranderende impak in ons kan hê. Nie as ‘n inperking nie, maar as ‘n inspirasie. Die Woord se waarde is meer as dié van goud en heuning. Dit verander ons van binne-af. Dit gee ons ‘n vastigheid wat die toets van die tyd sal deurstaan. Want, God praat!

Hierdie Psalm het artikel twee van die Nederlandse Geloofsbelydenis geïnspireer. Die middele waardeur ons God ken word só uitgespel: Ons ken Hom deur twee middele: Ten eerste deur middel van die skepping, onderhouding en regering van die hele wêreld. Dit is onsigbare dinge van God, naamlik sy ewige krag en goddelikheid, duidelik laat sien, soos die apostel Paulus sê (Rom. 1:20). Al die dinge is genoegsaam om die mense te oortuig en hulle alle verontskuldiging te ontneem. Ten tweede maak Hy Hom deur sy heilige en Goddelike Woord nog duideliker en meer volkome aan ons bekend, en wel so veel as wat vir ons in hierdie lewe nodig is tot sy eer en tot die saligheid van hulle wat aan Hom behoort. Skrifverwysings: Ps. 19:2; Ef. 4:6; 1 Tim. 2:5; Deut. 6:4; Mal. 2:10; 1 Kor. 8:4, 6; 1 Kor. 12; 1 Kor. 1. Vergelyk ook Kolossense 1:15-20 wat op hierdie Psalm begrond is en die boodskap verkondig dat die koms van Jesus – die Messias, die een deur wie beide die skepping en die verlossing te weeg gebring is – die boodskap van Psalm 19 voltooi.

Lees meer: https://bybelskool.com/psalm-19-god-bestaan-en-god-praat-met-ons/

Jesaja 62:1-7 – God se beloftes word in vervulling gebid

16 Januarie

Jesaja 62:1-7 – God se beloftes word in vervulling gebid

1Ter wille van Sion sal ek nie swyg nie, ter wille van Jerusalem nie rus nie, totdat haar geregtigheid deurbreek soos ‘n helder lig, haar verlossing brand soos ‘n fakkel. 2Nasies sal jou geregtigheid sien, en al die konings jou roem. Aan jou sal ‘n nuwe naam gegee word; die mond van die Here self sal dit bepaal. 3Jy sal ‘n sierlike erekroon wees in die hand van die Here, ‘n kosbare koninklike hoofband in die handpalm van jou God. 4Mense sal nie meer vir jou sê “Verlatene” nie, en vir jou land nie meer sê “Woesteny” nie; maar jy sal genoem word “My Vreugde is in Haar”, en jou land “Getroude”. Want die Here vind vreugde in jou, en jou land sal getroud wees; 5ja, soos ‘n jong man trou met ‘n jong meisie, sal jou kinders met jou trou. Met die vreugde van ‘n bruidegom oor sy bruid, sal jou God Hom oor jou verheug. 6Op jou stadsmure, Jerusalem, het ek wagte uitgesit. Dwarsdeur die dag en nag sal hulle nie ‘n oomblik lank swyg nie. Julle wat die Here herinner aan sy beloftes, gun julleself geen rus nie! 7Gun Hom ook geen rus nie, totdat Hy haar gevestig het, totdat Hy Jerusalem ‘n loflied op aarde gemaak het!

Dit bly een van die wonderlikste eienskappe van God, dat Hy iets so nuut kan maak, dat dit is asof daar nooit iets verkeerds was in die eerste plek nie. En die rede daarvoor lê opgesluit in sy liefde vir mense, meer spesifiek in hierdie gedeelte, vir die mense van Jerusalem en Sion.

Let op dat Jesaja hier die jubeling oor die redding van Jerusalem aan almal bekend maak vóórdat dit inderdaad ‘n werklikheid word. Dit is in die verkondiging van die toekoms, wat die toekoms ‘n werklikheid raak. Dit is hoe God in die eerste plek geskep het. Hierdie profesie het daarom dieselfde krag, omdat dit op God se beloftes geskoei is.

God se liefde vir sy mense is die rede vir sy redding. Hy maak alles nuut, sy verhouding met hulle inkluis. En weereens is die boodskap ook bedoel vir die nasies. Soos ‘n mens kan jubel oor die oorwinning wat kom, en daarmee letterlik die toekoms in aanskyn roep, só moet ‘n mens ook bid dat dit inderdaad sal kom. Daarom word die wagters op die mure opgeroep om saam te werk en die Here aan sy beloftes te herinner in hulle voorbidding. Die beklemtoning van gebed wys onteenseglik op die belangrike rol wat gebed speel in die verandering wat God belowe. Laat mens dink aan Jakobus 4 wat sê dat ons nie het nie, omdat ons nie bid nie! En Lukas 11:5–10 wat beklemtoon dat ons met volharding moet bid.

Lees meer: https://bybelskool.com/jesaja-62-god-se-beloftes-word-in-vervulling-gebid/

Jesaja 61:1-7 – God verbind dié met gebroke harte se wonde

15 Januarie

Jesaja 61:1-7 – God verbind dié met gebroke harte se wonde

1Die Gees van my Heer, die Here is op my, omdat die Here my gesalf het. Hy het my gestuur om ‘n goeie boodskap te bring aan magteloses, om dié met gebroke harte se wonde te verbind, om dié wat weggevoer is se vrylating aan te kondig en bevryding vir dié wat geboei is, 2om die genadejaar van die Here aan te kondig, ons God se dag van wraak, om almal wat rou, te troos, 3om te voorsien vir hulle wat oor Sion rou, om vir hulle tulbande te gee in plaas van stof, vreugde-olie in plaas van rou, klere vir lofprysing in plaas van ‘n verslae gees. Hulle sal genoem word: terebinte van geregtigheid, geplant deur die Here om Hom te verheerlik. 4Hulle sal die oeroue puinhope herbou, die verwoeste plekke van vroeër weer oprig, dorpe wat in puin lê, wat geslagte lank verwoes is, sal hulle nuut maak. 5Vreemdes sal in julle diens wees en julle kleinvee laat wei, buitelanders sal julle plaaswerkers en julle wynbouers wees. 6Maar julle, priesters van die Here sal julle genoem word. As dienaars van ons God sal daar na julle verwys word. Die rykdom van nasies sal julle geniet, en met hulle luister sal julle spog. 7In plaas van julle skande word julle dubbeld vergoed. Ja, in plaas van vernedering sal hulle jubel oor hulle deel; daarom sal hulle ‘n dubbele deel in hulle land in besit neem. Daar sal vir hulle ewige vreugde wees.” (vgl Luk 4:16-21)

Soos die onderwerp van lig in Jesaja 60 (27 Desember) ‘n skakel na die belofte van ‘n Seun in Jesaja 9 gegee het, so gee die boodskap van “die Gees van die Here my God” wat oor die dienaar van die Here kom, ‘n skakel na die belofte in Jesaja 11 van die takkie uit die stomp van Isai waarop die Gees van wysheid en insig sal rus.  Wat daar belowe is, word hier nou as die werklikheid beskryf.

Let op dat die dienaar van die Here se bediening beskryf word in ses beloftes wat vir hulle in vervulling gaan: 1) Hy bring ‘n blye boodskap aan mense in nood. Hy beur magteloses op, verbind dié met gebroke harte se wonde, en gee vrylating vir gevangenes en geboeides (vers 1); 2) Hy bring ‘n tyd van genade vir almal wat treur waarin hulle die voorsiening en sorg van die Here sal ervaar (vers 2-3 – vgl Ps 147:3: “Dit is Hy wat dié met gebroke harte genees, wat hulle wonde verbind”); Dit sal tot gevolg hê dat die volk ‘n tyd van transformasie sal beleef. Dit word beskryf as: 3) ‘n Tyd van heropbou (vers 4); 4) ‘n Tyd van herstel deurdat vreemdelinge vir hulle sal werk (vers 5); 5) ‘n Tyd van egte godsdiens waar almal as priesters van die Here sal optree (vers 6a); 6) ‘n Tyd van voorspoed waarin hulle die geskenke van die nasies sal geniet (vers 6b-7).

Jesus het waarskynlik dié hoofstuk as sy roepingsteks geneem, soos ‘n mens uit Lukas 4 aflei (wat ons binnekort sal lees). Na die versoeking in die woestyn kom Jesus in Nasaret, en lees Hy hierdie gedeelte uit die boek Jesaja vir die gemeente. Hy verklaar: “Vandag is hierdie Skrifwoord wat julle nou net gehoor het, vervul” (Luk 4:21).  Hierdie gedeelte uit Jesaja gee dus vir ons ‘n kernagtige sleutel om Jesus se bediening te verstaan. Die beloftes in Jesaja is ook op ons as dissipels van Jesus van toepassing.

Lees meer: https://bybelskool.com/jesaja-61-n-blye-boodskap-vir-mense-in-nood/

Psalm 103:1-5 – Loof die Here wat al jou siektes genees

14 Januarie

Psalm 103:1-5 – Loof die Here wat al jou siektes genees

1Van Dawid. Loof die Here, o my siel, ja, alles wat in my is, sy heilige Naam! 2Loof die Here, o my siel, en moenie enige van sy weldade vergeet nie – 3Hy wat al jou sondeskuld vergewe, wat al jou siektes genees, 4wat jou lewe vrykoop van die graf, jou kroon met troue liefde en ontferming, 5wat jou begeerte met die goeie versadig. Soos ‘n arend word jou jeug dan weer nuut. (Ps 103:1-5)

Psalm 103 is ’n besondere lofpsalm wat in ’n besondere lofpsalm reeks, Psalm 103–106, die 4de Psalmboek afsluit. Die Psalm fokus op lofprysing as ’n persoonlike (vers 1-5), korporatiewe (vers 6-18) en universele (vers 19-22) gebeure waaraan almal in die hemel en op aarde moet deelneem. Dit is ook betekenisvol dat die eienskap van God wat die meeste besing word, sy troue liefde (ḥěsěḏ) is. Sy troue liefde wys in sy verlossing, vergifnis, genesing, beskerming van die dood (vers 4), sy geduld en genade deur nie vir altyd toornig te wees nie (vers 8), dat Hy ons nie vergeld volgens ons sondeskuld nie (vers 11) en dat Hy sy troue liefde vir altyd en in alle geslagte betoon (vers 17). Die Psalm beskryf God se wese en werk daarom op ‘n haas onvergelyklike manier.

In die persoonlike oproep tot lofprysing (vers 1-5) word ons opgeroep om God te loof met ons siel, dws jou wese, jou menswees, jou persoon of persoonlikheid, dit wat die wêreld van jou kan agterkom in terme van jou interaksie met hulle. Asook met “alles wat in my is”. Dit dui letterlik op jou binnegoed en metafories op jou binnekant in terme van gedagtes en emosies. Die bedoeling is dus dat die Here met jou hele menswees, wat jou gedagtes en emosies insluit, jou buitekant en jou binnekant, geloof en geprys moet word.

Die inhoud van die lofprysing fokus op God se persoonlike weldade waarvan Dawid wil hê dat ons geeneen daarvan sal vergeet nie. Dink vandag na oor jou ervarings van God tot dusver: 1) dat God al jou sondeskuld vergewe; 2) al jou siektes genees; 3) jou lewe vrykoop van die dood; 4) jou kroon met sy troue liefde en ontferming; 5) jou begeerte met die goeie versadig; 6) jou die jeugdige krag van die arend gee. Let nou op die teenwoordige tyd waarin Dawid dit skryf. En bid dat God dié beloftes ook nou vir jou sal waar maak.

Lees meer: https://bybelskool.com/psalm-103-ek-wil-die-here-loof-met-alles-wat-in-my-is/

Onlangse kommentaar