Jesaja 6:1-13 – Tog sal by hulle ‘n stomp oorbly, ‘n heilige geslag
Jesaja 6:1-13 – Tog sal by hulle ‘n stomp oorbly, ‘n heilige geslag
1In die sterfjaar van koning Ussia het ek my Heer sien sit op ‘n hoë en verhewe troon. Die some van sy kleed het die tempel gevul. 2Serafs het bo Hom gereedgestaan. Elkeen het ses vlerke gehad: Met twee vlerke het elkeen sy gesig bedek, met twee het hy sy voete bedek en met twee kon hy vlieg. 3Hulle het na mekaar geroep en gesê: “Heilig, heilig, heilig is die Here, Heerser oor alle magte! Die hele aarde is vol van sy heerlikheid.” 4Die deurpenne in die drumpel het gebewe van die geluid van die een wat roep. Die tempel het vol rook geword. 5Ek het gesê: “Wee my, want ek is verlore! Want ek is ‘n mens met onrein lippe, en by ‘n volk met onrein lippe woon ek. Ja, my oë het die Koning, die Here, Heerser oor alle magte, gesien.” 6Een van die serafs het na my toe gevlieg met ‘n gloeiende kool by hom wat hy met ‘n tang van die altaar af geneem het. 7Hy het my mond aangeraak en gesê: “Kyk, dit het jou lippe aangeraak, jou sondeskuld het gewyk, daar is vir jou sonde versoening gedoen.” 8Toe hoor ek die stem van my Heer wat sê: “Wie sal Ek stuur en wie sal vir ons gaan?” Ek sê toe: “Hier is ek, stuur my!” 9Hy het gesê: “Gaan sê vir hierdie volk, ‘Luister goed, maar moenie verstaan nie; kyk goed, maar moenie begryp nie.’ 10Maak die harte van hierdie volk ongevoelig, maak hulle ore doof en smeer hulle oë toe, sodat hulle nie sien met hulle oë, met hulle ore nie hoor, en met hulle hart nie verstaan, en nie terugdraai en genees word nie!” 11Daarop vra ek: “Tot wanneer, my Heer?” Hy het geantwoord: “Totdat die dorpe vervalle lê sonder inwoners, die huise sonder mense is, die land verval tot ‘n woesteny, 12en die Here die mense ver wegdryf, en die verlatenheid in die land groot is. 13As daar nog ‘n tiende in die land is, sal die land weer aan verwoesting uitgelewer wees. Tog sal by hulle ‘n stomp oorbly, soos van ‘n terebintboom en ‘n eikeboom wanneer hulle neergevel is. Die stomp van die land is ‘n heilige geslag.”
Dit is die jaar 740 v C. Jesaja is nog jonk in die bediening. Dan sterf sy oom Ussia, ’n baie suksesvolle koning. Die koningskap skuif na sy kleinseun Agas, ‘n rebel teen God, terwyl daar groot internasionale bedreiginge is. Midde in dié onstuimige en onseker tyd gebeur daar iets dramaties met Jesaja. Hy sien vir God op ’n baie hoë troon sit met sy soom wat die tempel vul. God se gewig lê soos ‘n kleed oor die aarde. Met ander woorde: God kan nie geïgnoreer word nie. Jesaja raak daarom intens bewus van sy onreinheid. Om dan die wonder te beleef dat hy nie veroordeel word nie, maar gereinig. Hy kry boonop ’n werksaanbod om as boodskapper vir God op te tree, al besef hy dat sy werk as profeet moeilik gaan wees. Hy moet immers die totale ondergang van die volk gaan verkondig. Hy sou lynreg teenoor Agas standpunt moes inneem. En net om sy werk nóg ’n bietjie moeiliker te maak, sou God sorg dat die volk niks verstaan of glo van Jesaja se woorde nie! Letterlik gaan hulle harte vet word en hulle ore swaar. Wie se hart vet is, kan nie reageer op God se Woord nie. Jesaja kan maar weet hulle gaan hulle nie bekeer nie! Sy werk as profeet is eerder om hulle verward te laat.
Wat sê die gedeelte vir ons? Die eerste is dat God in beheer is, selfs as alles anders in duie stort. Agas bepaal nie die gang van sake nie. God is in beheer. Die tweede is dat God mense met Hom wil versoen, maar Hy is heilig. Hy duld nie onheiligheid nie. Daarom heilig Hy ons. Dit is die betekenis van die seraf wat met die kool vuur vir Jesaja reinig. Maar, vir dié wat sy roeping weerstaan en God uit hulle lewens wegdruk, is God se heiligheid ‘n vuur wat verbrand en vernietig, tot net ‘n stomp oorbly. Dit is wat met Israel gebeur het. Hulle moes die nasies help om God te ontmoet. Maar hulle wou nie. Sulke mense kry dus met sy volle mag te doene. Hy bring ’n onafwendbare oordeel oor hulle.
Hierdie verterende boodskap is egter nie die laaste sê oor God en sy betrokkenheid in die wêreld nie. Gelukkig nie! In die derde plek sê hierdie gedeelte vir ons dat God ’n oorblyfsel laat bly. Dit is sy belofte aan Jesaja. Dit is sy belofte aan ons. Na die onafwendbare verwoesting sal daar ‘n afgekapte stomp oorbly, die gelowiges wat nie moed opgegee het nie, die heilige geslag, die geslag van die mense oor wie God Homself ontferm. Jesaja 11 sluit hierby aan en praat van die takkie wat sal uitspruit uit dié stomp, wat jare hierna op Jesus van toepassing gemaak sou word. Daar is hoop – en dié hoop is in Jesus – en die mense wat Hy uitkies om aan God te behoort.
Lees meer: https://bybelskool.com/jesaja-6-hoop-kom-uit-n-afgekapte-stomp/
Discover more from Bybelskool
Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Onlangse kommentaar