Filippense 4:10-20 – My God sal ruimskoots in al julle behoeftes voorsien

29 Januarie
Filippense 4:10-20 – My God sal ruimskoots in al julle behoeftes voorsien
10Ek is in die Here besonder bly dat julle nou uiteindelik opnuut aan my gedink het. Eintlik het julle wel aan my gedink, maar julle het net nie die geleentheid daarvoor gehad nie. 11Ek sê dit nie omdat ek gebrek ly nie, want ek het geleer om in alle omstandighede tevrede te wees. 12Ek weet wat dit is om te min te hê, en ek weet wat dit is om oorvloed te hê; ek is in elke opsig in al hierdie dinge ingewy: om versadig te wees, sowel as om honger te ly; om oorvloed te hê, sowel as om gebrek te ly. 13Tot dit alles is ek in staat deur Hom wat my krag gee. 14Nogtans was dit goed van julle om in my swaarkry te deel. 15Julle weet ook, Filippense, dat aan die begin van my evangelieverkondiging, toe ek van Macedonië vertrek het, geen gemeente tot my rekening van inkomste en uitgawes bygedra het nie, behalwe slegs julle. 16Ook in Thessalonika het julle meer as een maal iets vir my behoeftes gestuur. 17Dit is nie dat ek van julle ‘n bydrae verlang nie; ek verlang eerder dat die opbrengs op julle belegging toenemend sal groei. 18Ek is ten volle vergoed, en het meer as genoeg; ek is ten volle versorg, noudat ek van Epafroditus ontvang het wat van julle af kom: ‘n geurige offer, ‘n aanneemlike offergawe wat God behaag. 19En my God sal ruimskoots in al julle behoeftes voorsien, in ooreenstemming met sy heerlike rykdom in Christus Jesus. 20Aan ons God en Vader kom die heerlikheid toe vir ewig en ewig! Amen.
Paulus sluit sy brief aan die Filippense af om hulle aan te moedig om met vreugde en vrygewigheid te leef. Daarmee bedoel Paulus nie net dat die gemeenskap van gelowiges ’n veilige, vriendelike, vreugdevolle plek moet wees nie, maar dat dit ook hulle kontak met mense in die gemeenskap moet stempel. Daardie vreugde en vrygewigheid – terwyl hulle hulle behoeftes aan die Here bekend maak (Fil 4:4-6) – moet gehandhaaf word, in gebrek en in oorvloed.
Paulus is hierin vir hulle voorbeeld, want hy het in albei tipe lewensomstandighede – die skaars en die oorvloedige tye – geleer om deur te kom, homself te behelp, omdat hy geleer het dat die belofte van God waar is: “Tot dit alles is ek in staat deur Hom wat my krag gee.” Die woord wat Paulus vir “behelp” in vers 11 gebruik (autarkes), kan ook met selfgenoegsaam vertaal word, dws om vergenoegd of tevrede te wees, en steeds met ’n oop hand te lewe (soos dit inderdaad in die 2020-vertaling vertaal is). Eksterne omstandighede – of dit nou gebrek of oorvloed tot gevolg gehad het – het nie Paulus se manier van lewe bepaal nie, selfs nie sy tevredenheid daarmee al dan nie. God se krag het dit bepaal. Daarom was hy werklik in staat tot alles.
Dan brei Paulus sy dankbaarheid uit met nog ‘n belofte aan hulle, ‘n belofte wat ook vir elke kind van God geld wat volhard in vreugde en vrygewigheid. Só ‘n lewe ontsluit die oorvloed van God wat letterlik vir elke behoefte wat hulle het, voorsiening kan maak: “En my God sal ruimskoots in al julle behoeftes voorsien, in ooreenstemming met sy heerlike rykdom in Christus Jesus.” (vers 19). Soos Paulus dit vroeër aan die Korintiërs ook geskrywe het: “En God is by magte om aan julle alles in oorvloed te skenk, sodat julle in alle opsigte altyd van alles genoeg kan hê en volop kan bydra vir elke goeie werk.” (2 Kor 9:8). Dit beteken elke stukkie vreugde en vrygewigheid wat jy begin demonstreer in jou vertroue op en gehoorsaamheid aan die Here sal groei tot ‘n oorvloed wat jou sal verstom.
Lees meer: https://bybelskool.com/filippense-42-23-om-saam-in-die-here-te-wees-bid-en-leef/
Discover more from Bybelskool
Subscribe to get the latest posts sent to your email.
Susan Scott
Baie dankie. Ek leer baie en waardeer jou insiggewende dagstukke. Seën op jou werk.
Chris van Wyk
Waardeer, Susan.