Psalm 1 – Die Here dra sorg vir die pad van regverdiges
Psalm 1 – Die Here dra sorg vir die pad van regverdiges
1Gelukkig is die mens wat nie die raad van goddeloses volg, nie op die pad van sondaars gaan staan en nie in die byeenkoms van spotters sit nie, 2maar wat vreugde vind in die wet van die Here en sy wet dag en nag mymerend prewel. 3So iemand sal wees soos ‘n boom geplant langs watervore, wat sy vrugte op sy tyd gee en waarvan die blare nie verdor nie. Alles wat hy aanpak, gedy. 4So is die goddeloses nie; inteendeel, hulle is soos kaf wat die wind wegwaai. 5Daarom sal goddeloses nie kan opstaan tydens die regspraak, of sondaars in die byeenkoms van regverdiges nie. 6Ja, die Here dra sorg vir die pad van regverdiges, maar die pad van goddeloses loop dood.
Psalm 1 lei die hele Psalmboek in. Twee groepe mense word hier gekontrasteer soos telkens in die res van die Psalmboek genoem sal word: die regverdiges (Ps 1:5,6) en die goddeloses (Ps 1:1,4,5,6). Let op hoe die Psalm die impak uitspel wat regverdiges en goddeloses se onderskeie lewenstyle (Ps 1:1-2) op hulle ervarings (Ps 1:3-4) en bestemming het (Ps 1:5-6). Die pad wat jy kies in hierdie lewe het gevolge. Saam met God is daar vreugde en voorspoed – jy is soos ’n boom by standhoudende water. Sonder God is daar verydeling en ondergang – jy is soos kaf in die wind. Dit laat ’n mens dink aan Jesus se tipering van twee paaie in Matt 7:13–14. Die een is ’n poort na die verderf, die ander dié poort na die lewe.
Die metafoor van die boom herinner ’n mens aan die boom van lewe in die tuin van Eden (Gen 2:9; vgl Openb 2:7). Ook Jeremia gebruik die metafoor in soortgelyke taal om die regverdige te beskryf en die goddelose met ’n droë bossie in die woestyn te vergelyk (Jer 17:8 – wat ons môre gaan lees). Soos Elwell die boodskap van Psalm 1 uitlê, dit gaan goed met iemand wat: “the corrosive influence of the cynical”, vermy: “taking pleasure instead in every revelation of the mind and will of God, feeding his mental life on the divine Word”.
Let op dat die Psalm nie sê dat die regverdigheid van die regverdiges die basis vir hulle voorspoed is nie, maar die feit dat God met hulle in verhouding is, dat Hy hulle ken, dat Hy hulle beskerm. Hulle bestemming is die gevolg van God se beskerming. Die Here dra sorg vir die pad van regverdiges. Paulus verwys na dieselfde gedagte in Galasiërs 4:9, waar hy skryf dat Christene vreugde moet vind nie soseer in die feit dat hulle God ken nie, maar dat God hulle ken: “Daar was ’n tyd toe julle nie vir God geken het nie en slawe was van nikswerd afgode. Maar noudat julle Hom leer ken het, of liewer, noudat Hy julle ken, hoe val julle dan nou weer terug na daardie minderwaardige en armsalige wettiese godsdienstige reëls?” Daarom bid hy dat Christus self in hulle gestalte sal kry, eerder as wette en reëls, juis omdat God met hulle in verhouding getree het, en hulle ken.
Lees meer: https://bybelskool.com/psalm-1-geseend-is-die-wat-hul-vreugde-in-god-vind/

Onlangse kommentaar