1 Korintiërs 15:1-11 – Die evangeliewoord verlos ons – mits ons daaraan vashou
1 Korintiërs 15:1-11 – Die evangeliewoord verlos ons – mits ons daaraan vashou
1Broers, ek herinner julle aan die evangelie wat ek aan julle verkondig het, wat julle ook aangeneem het, en waarin julle ook vasstaan, 2waardeur julle ook verlos word; mits julle vashou aan die evangeliewoord wat ek aan julle verkondig het – tensy julle vergeefs tot geloof gekom het. 3Want die wesenlike wat ek ontvang en ook aan julle oorgelewer het, is: Christus het vir ons sondes gesterf, volgens die Skrifte; 4Hy is begrawe en op die derde dag opgewek, volgens die Skrifte; 5en Hy het aan Sefas verskyn, en toe aan die twaalf. 6Daarna het Hy aan meer as vyfhonderd broers tegelyk verskyn, van wie die meeste nou nog leef, maar sommige al ontslaap het. 7Daarna het Hy aan Jakobus verskyn, en toe aan al die apostels. 8As die laaste van almal het Hy ook aan my, die misgeboorte, verskyn. 9Want ek is die geringste van die apostels, nie geskik om ‘n apostel genoem te word nie, omdat ek die gemeente van God vervolg het. 10Maar deur die genade van God is ek wat ek is. Sy genade aan my was nie vergeefs nie, trouens, ek het baie harder gewerk as al die ander – eintlik nie ek nie, maar die genade van God, wat met my is. 11Daarom, of dit ek of hulle is, dit is wat ons verkondig, en daarvolgens het julle tot geloof gekom.
Paulus wend hom in 1 Korintiërs 15 tot ’n onderwerp wat van kardinale belang vir die geloof is – die opstanding van Christus. Dit vorm die basis vir die geloof in hulle eie opstanding uit die dood en is dié belofte wat hulle moet aanspoor om standvastig en onwankelbaar te wees, altyd oorvloedig in die werk van die Here, omdat die hoop op die opstanding hulle oortuig dat hulle inspanning in diens van die Here nie tevergeefs is nie (vgl vers 58 wat ons weer later sal hanteer).
Paulus herinner hulle daarom aan die 4 hoofpilare van hulle geloof, dát Christus gesterf het, dát Hy begrawe is, dát Hy opgestaan, en dát Hy verskyn het aan honderde gelowiges. Let op hoe hierdie historiese feite twee maal op die vervulling van die beloftes van die Skrifte gebaseer word (bv Jes 52:13-53:12; Ps 22 soos talle kere in die Evangelies aangehaal). Dit is hierdie evangeliewoord – dat God die beloftes van die Skrif in Christus vervul het – waaraan hulle moet vasklou, want dit dra die belofte van ons almal se uiteindelike verlossing. Paulus se Evangelie is dus op die OT sowel as die historiese feite van Christus begrond en ‘n vervulling van die boodskap daarvan vir ons.
Paulus gee dan sy eie persoonlike getuienis dat God se genade groot was oor hom. Al is hy soos ‘n misgeboorte weens sy geskiedenis van die aktiewe vervolging van die gemeente van God, het God se genade ook vir hom van sy sonde gered. Deur die genade van God is hy wat hy is, ‘n apostel. En hy het gesorg dat die genade sy werk in hom en deur hom doen. Want, hierdie genade van God moet aan alle mense bekend gemaak word. Dit is ook ‘n opdrag aan jou as jy hierdie genade jou eie gemaak het.
Lees meer: https://bybelskool.com/1-korintiers-15-16-ons-groot-hoop-die-opstanding-met-n-onverganklike-liggaam/
Discover more from Bybelskool
Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Onlangse kommentaar