Genesis 35:9-15 – El Shaddai herbevestig al die beloftes van die aartsvaders aan Jakob
Genesis 35:9-15 – El Shaddai herbevestig al die beloftes van die aartsvaders aan Jakob
9God het weer aan Jakob verskyn by sy aankoms uit Paddan-Aram, en hom geseën. 10God het vir hom gesê: “Jou naam is Jakob. Jy sal nie meer Jakob genoem word nie, maar Israel, dit sal jou naam wees.” So het Hy hom die naam Israel gegee. 11Verder het God vir hom gesê: “Ek is God, die Almagtige. Wees vrugbaar en vermeerder. ‘n Nasie, ‘n skare van nasies, sal van jou afstam; selfs konings sal uit jou liggaam voortkom. 12Die land wat Ek aan Abraham en aan Isak gegee het, aan jou gee Ek dit; aan jou nageslag ná jou gee Ek die land.” 13Hierna het God van hom af opgevaar op die plek waar Hy met hom gepraat het. 14Jakob het toe op die plek waar Hy met hom gepraat het, ‘n gedenksteen, ‘n gedenksteen van klip, opgerig en ‘n drankoffer daaroor uitgegooi. Hy het ook olie daarop gegooi. 15Jakob het die plek waar God met hom gepraat het, Bet-El genoem.
God het aan Abram verskyn, soos ons gister gelees het, Homself as El Shaddai (God Almagtig) voorgestel, en sy voorneme aangekondig om die aartsvader en sy nageslag vrugbaar te maak wat met talle beloftes bevestig is (Gen 17:1–8). Isak het dié beloftes vir hom en sy nageslag toegeëien en met Jakob se vlug na die vreemde die bede uitgespreek dat El Shaddai Jakob sal seën en sal vrugbaar maak (Gen 28:1-5). Jakob sou later dieselfde doen vir sy eie seuns op pad na Egipte, met die bede dat El Shaddai vir hulle sal sorg in die vreemde (Gen 43:14).
Jakob trek met sy terugkoms na Kanaän in opdrag van die Here na die eerste plek waar die Here dertig jaar gelede aan Hom verskyn het, Bet-El (Gen 28:10-22 – Bet-El beteken “Huis van God”). Op pad het Jakob van die afgode ontslae geraak wat Ragel saamgebring het (dit kon ook meer afgode ingesluit het), en hom en sy mense gereinig om voor die Here te verskyn. Die Here verskyn dan aan Jakob by die altaar wat hy in opdrag van God daar gebou het. God openbaar Homself direk aan Jakob by die altaar met die naam El Shaddai en bevestig dat die beloftes aan sy voorvaders ook op hom van toepassing is. Soos met Abram (wat Abraham word, na aanleiding van God se verbond met hom) word Jakob se naam verander na Israel, in sy geval na aanleiding van sy worsteling met God (Gen 32). Let op dat dit dieselfde drie beloftes aan Abraham en Isak is wat in vers 11-12 aan Jakob / Israel bevestig word. Dat ‘n skare nasies van hom sal afstam; dat sy nageslag die land sal besit; dat hy ‘n man van betekenis sal wees (konings sal uit sy liggaam voortkom, ‘n verwysing nie net na koning Dawid nie, maar ook na die Koning van die konings, die Here Jesus Christus wat eeue later gebore sou word).
Ons weet uit die geskiedenis dat hierdie drie beloftes in die tyd van Moses aan Israel vervul is. Ten minste aan dié wat naby die Here geleef het, en op sy beloftes vertrou het (die eerste geslag het immers in die woestyn omgekom, waarna die tweede geslag die land ingeneem het). Die feit dat talle die beloftes in die wind geslaan het, en daarom onder die oordeel van God gekom het, bv met die onderskeie ballingskappe, maak die beloftes egter nie ongeldig nie. In Christus is hierdie beloftes ook vir ons as die geestelike nageslag van Abraham van toepassing (Gal 3:29). Die vervulling daarvan is egter nie meer net fisies van aard nie – hoewel dit steeds ‘n rol speel in terme van familie, blyplek en betekenis. Die vervulling is veral geestelik en permanent. Met die aanbreek van die nuwe hemel en nuwe aarde met die hemelse Jerusalem wat uit die hemel neerdaal, sal die finale en volle vervulling van hierdie beloftes ook vir ons aanbreek. Soos die Hebreërskrywer dit alreeds van Abraham gesê het: “Want hy het die stad verwag wat fondamente het, waarvan God die boumeester en oprigter is.”(Hebr 11:10). El Shaddai sal dit ook vir ons in vervulling bring.
Lees meer: https://bybelskool.com/genesis-35-jakob-voltooi-sy-verbintenis-aan-god-by-bet-el-waar-alles-begin-het/
Discover more from Bybelskool
Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Onlangse kommentaar