2 Korintiërs 6:14-7:1 – Ek sal onder hulle woon en saam met hulle wandel
2 Korintiërs 6:14-7:1 – Ek sal onder hulle woon en saam met hulle wandel
6:14Moenie in dieselfde juk trek saam met ongelowiges nie, want watter vennootskap kan daar wees tussen reg en onreg? Of watter verbondenheid kan daar wees tussen lig en duisternis? 15En watter ooreenstemming is daar tussen Christus en Belial, of wat het ‘n gelowige gemeen met ‘n ongelowige? 16En watter ooreenkoms het die tempel van God met afgode? Want ons is die tempel van die lewende God – soos God gesê het: “Ek sal onder hulle woon en saam met hulle wandel; Ek sal hulle God wees, en hulle sal my volk wees.” 17Daarom: “Gaan uit hulle midde uit en sonder julle af,” sê die Here, “en moenie aanraak wat onrein is nie.” “En Ek sal julle aanneem,” 18en “Ek sal vir julle ‘n vader wees, en julle sal my seuns en dogters wees,” sê die Here, die Almagtige. 7:1Aangesien ons hierdie beloftes het, geliefdes, laat ons ons reinig van alle besoedeling van liggaam en gees, terwyl ons met diep ontsag vir God ons heiligheid verwesenlik.
Let op dat Paulus in vers 18 na El Shaddai (Pantokrator) verwys soos ons Hom leer ken het in die Genesis verhale (Johannes gebruik dieselfde woord ook 9 keer in sy Openbaring). Die Een wat Almagtig is, wat vrugbaar maak en lewe gee. Dit is Hy wat die opdragte gee in hierdie gedeelte. Let ook op dat die beloftes van God in hierdie gedeelte verbind is aan ons gehoorsaamheid aan hierdie opdragte. God sal net onder ons woon as ons uit die midde van ongelowiges uitgaan en ons van alle besoedeling van liggaam en gees sal reinig. God roep ons dus op om ons eie heiligheid met ‘n diep ontsag vir God te verwesenlik. Om ons te reinig van elke stukkie blootstelling aan ‘n samelewing wat God nie vereer nie.
Die opdrag tot onttrekking is gebaseer op die soortgelyke opdrag in die 5de eeu vC aan die ballinge in Babel. Jesaja het daardie tyd gesê: “Vertrek, vertrek, gaan weg daarvandaan, raak nie aan wat onrein is nie; gaan uit hulle midde uit, reinig julle, draers van die heilige voorwerpe van die Here!” (Jes 52:11). Dieselfde opdrag word nou hier aan die NT gelowiges gegee. Dit beteken dat ons nie as vriende mag lewe met mense wat onrein dinge doen nie. Sodat ons self nie besoedel sal word na liggaam en gees nie. Dit is net dan dat ons die ware betekenis van God se aanneming en sorg sal kan ervaar (vgl Jer 51:45; Eseg 20:34; Openb 18:4). Dit is net dan dat ons sal ervaar dat God vir ons ’n Vader sal wees, en ons vir Hom seuns en dogters (aangehaal uit 2 Sam 7:8; vgl 2 Sam 7:14; Jes 43:6; Jer 31:9). Niks moet ons gemeenskap met Christus en met gelowiges in die gedrang bring nie, want ons is op God se “heilige weg”. Hy is ons Vader. Ons is sy seuns en dogters. Ons mag nie doen wat ongelowiges doen nie; glo wat hulle glo nie; leef soos hulle leef nie.
Paulus praat hier waarskynlik van mense wat gelowiges probeer oorreed het om volgens wêreldse standaarde te lewe. Om in te pas by die kultuur van die dag en nie uit te staan vir die waardes van die evangelie nie. Paulus is onwrikbaar sterk in sy bevel dat daar geen kompromie gemaak mag word met hulle nie, sodat daar geen besoedeling van die vlees of gees van gelowiges sal wees nie. God woon immers onder ons! Niks mag die gemeenskap met die Here, die Almagtige, in gevaar stel nie. En dit is nie net waar in ‘n mens se verhouding met ander nie, maar ook in jou eie persoonlike lewe. Jou liggaam en gees moet gereinig word van alles wat jou gehoorsaamheid aan God in die gedrang kan bring, sodat jy in volkome toewyding aan Hom kan lewe. Lewe heilig in alles!
Lees meer (hierdie keer ‘n preek hieroor): https://ngkerksomerstrand.co.za/lewe-heilig-in-alles-jesaja-527-12-en-2-korintiers-614-71/
Discover more from Bybelskool
Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Onlangse kommentaar