Genesis 17:1-8 – Ek is El Shaddai (God, die Almagtige). Leef voor My, en wees onberispelik!
Genesis 17:1-8 – Ek is El Shaddai (God, die Almagtige). Leef voor My, en wees onberispelik!
1Toe Abram nege-en-negentig jaar oud was, het die Here aan Abram verskyn en vir hom gesê: “Ek is God, die Almagtige. Leef voor My, en wees onberispelik! 2Ek wil my verbond tussen My en jou bekragtig en jou buitengewoon laat vermeerder.” 3Abram het neergeval met sy gesig teen die grond, en God het met hom gepraat: 4“Wat My betref, kyk, my verbond met jou is: Jy sal die vader van ‘n menigte nasies word. 5Jy sal nie meer Abram genoem word nie. Jou naam sal Abraham wees, want vader van ‘n menigte nasies maak Ek jou. 6Ek sal jou besonder vrugbaar maak en jou tot nasies maak. Konings sal uit jou voortkom. 7Ek sal my verbond tussen My en jou en jou nageslag ná jou handhaaf, deur hulle geslagte heen, as ‘n ewige verbond, om vir jou ‘n God te wees en vir jou nageslag ná jou. 8Ek gee aan jou en jou nageslag ná jou die land van jou vreemdelingskap, die hele land Kanaän, as eiendom vir altyd, en Ek sal vir hulle ‘n God wees.”
God se verhaal met Abram begin by ‘n roeping, ‘n opdrag. “Gaan weg uit jou land, weg van jou familie en jou ouerhuis na die land wat Ek jou sal wys.” (Gen 12:1). God gee vir Abram drie beloftes wat hom moet motiveer. Die belofte van land, ‘n nageslag, en betekenis (‘n “naam”). Maar dié beloftes kan net waar word as Abram die Here glo en sy roeping gehoorsaam. Die eerste deel van sy gehoorsaamheid was om die reis na die Beloofde Land te onderneem op God se bevel (Gen 12:4). En Abram kom inderdaad aan in die land Kanaän (Gen 12:7); ontvang meer inligting oor sy nageslag – dit sal sy eie kind wees, al is Abram nog kinderloos (Gen 13:14:18); En God sluit met hom ‘n verbond om hom ‘n man van betekenis te maak (Gen 15).
Dan kom ons by hierdie uiters belangrike vyfde gesprek van God met Abraham. Dit is die gesprek waarin God Homself as die Almagtige aan Abram openbaar, as El Shaddai (vgl Eks 6:3). Shaddai – die Almagtige – is die primêre betekenis soos ons uit die konsekwente Griekse vertaling van die woord in die OT aflei. Shaddai word regdeur die OT vertaal met Pantokrator (ook in Latyn). Die NT gebruik daarom Pantokrator regdeur as vertaling vir die Hebreeuse Shaddai (bv in 2 Kor 6:18 en talle kere in Openbaring). Dié betekenis word ook gerugsteun deur die woord Šadu in Akkadies wat die betekenis dra van: “die een van die berg”, dws die “godeberg”. Shaddai dra egter ook die betekenis van vrugbaarheid en lewe, omdat die woord Shaddai kan verwys na die Hebreeuse woord “shad” wat met “bors” vertaal kan word. Dit is die sekondêre betekenis van die woord. Dié betekenis maak veral baie sin as ‘n mens kyk na die beloftes in hierdie gedeelte.
Hierdie Naam van God – El Shaddai – staan dus vir sy Almag sowel as vir die vrugbaarheid en lewe wat Hy skenk. Daarom dan die baie spesifieke opdrag aan Abraham. Dat Abraham voor God sal leef. Dat hy naby God sal leef. Die teks sê eintlik: “Wandel voor My.” Dit beteken, loop saam met My op jou lewenspaaie. Leef jou lewe voor My. En God vra van Abram dat hy onberispelik sal wees. Onberispelik beteken natuurlik nie foutloos of sondeloos nie. Maar, dit beteken wel dat jy doelgerig daarop sal fokus om God tevrede te stel soos Hy sy wil aan jou bekend maak. En om in jou hele lewe daarna te streef om sonder blaam te lewe. Dit is dan wat ‘n mens die beloftes in hierdie gedeelte regtig vir jouself kan toeëien. Dat Hy vir jou El Shaddai sal wees.
Lees meer: https://bybelskool.com/genesis-17-lewe-naby-my-en-wees-onberispelik/
Discover more from Bybelskool
Subscribe to get the latest posts sent to your email.
Onlangse kommentaar