Psalm 99 – Die Here self antwoord as ons Hom aanroep
Psalm 99 – Die Here self antwoord as ons Hom aanroep
1Die Here regeer – laat die volke bewe! Hy troon oor gerubs – laat die wêreld sidder! 2Die Here in Sion is groot, verhewe is Hy bo al die volke. 3Laat hulle u groot en ontsagwekkende Naam prys – “Heilig is Hy!” – 4en die krag van die Koning, Hy wat die reg liefhet. Dit is U wat billikheid, reg en geregtigheid gevestig het in Jakob; U het dit gedoen. 5Verheerlik die Here ons God, buig in aanbidding voor die voetbank vir sy voete: “Heilig is Hy!” 6Moses en Aäron was onder sy priesters, Samuel onder dié wat sy Naam aangeroep het. Wanneer hulle die Here aangeroep het, het Hy self hulle geantwoord. 7Uit ‘n wolkkolom het Hy met hulle gepraat. Hulle het sy bepalings nagekom, ook die vaste voorskrifte wat Hy vir hulle gegee het. 8Here, ons God, U self het hulle geantwoord. U was vir hulle ‘n God wat vergewe, maar ook Een wat hulle dade vergeld. 9Verheerlik die Here, ons God, buig in aanbidding voor sy heilige berg, want heilig is die Here, ons God.
Psalm 99 is een van die prima aanbidding Psalms. Twee keer loop die beskrywing van God se wese en werk uit op ’n gelykluidende oproep om God te aanbid. 1) “Verheerlik die Here ons God, buig in aanbidding voor die voetbank vir sy voete: ‘Heilig is Hy!’” (vers 5). Die voetbank dui op die verbondsark as simbool van die Here. 2) “Verheerlik die Here, ons God, buig in aanbidding voor sy heilige berg, want heilig is die Here, ons God.” (vers 9). Die heilige berg dui op die tempelberg, Sion, as simbool van die Here. Dit is dan ook die indeling van die Psalm: vers 1–5 en vers 6–9. Inderdaad: “Heilig is Hy! Heilig is die Here, ons God.” Neem ’n paar oomblikke om jou in te leef in aanbidding voor dié heilige God.
Die Psalmis teken in die eerste deel ’n prentjie van God wat regeer vanaf die Allerheiligste deel van die tempel in Sion. Die Psalmis sê: “Hy troon oor gerubs.” Dit dui aan die eenkant op die twee gerubs (hemelse wesens soos die engele en die serafs) van goudbeslag wat op die deksel van die verbondsark in die Allerheiligste van die tabernakel, die tent van ontmoeting, aangebring is (vgl Eks 25:18). Dit is die plek vanwaar God met Moses gepraat het op hulle reis deur die woestyn (Num 7:89), en waar die hoëpriester een keer ’n jaar versoening vir die sondes van die volk gedoen het (Lev 16). Die beskrywing van die gerubs dui egter ook aan die ander kant op die werklikheid van God wat vanuit die hemel heers, wat Hy is koning oor die hele wêreld: “verhewe is Hy bo al die volke.” Die tempel en die verbondsark is dus simbole van die dieper werklikheid van God se wese en werk wat Homself oral laat geld. Hy is dus die Heilige Heerser, die magtige Koning (vers 4). Dit is Hy wat aanbid moet word: dat Hy die reg liefhet; dat Hy billikheid, reg en geregtigheid tot stand bring. En let op dat Hy nie net geregtigheid liefhet nie, maar inderdaad tot stand kan bring sodat dit gevestig kan word onder sy mense.
Die fokus van die Psalmis skuif na drie gebedshelde van weleer: Moses, Aäron en Samuel. As aanmoediging om hulle voorbeeld na te volg. Hulle het God se Naam aangeroep en ervaar het dat Hy hulle geantwoord het. Wonderwerke vir en deur hulle gedoen het in antwoord op gebed. Dit is wel so dat God soms ook nee geantwoord het, soos wat ons onder andere by Moses (Eks 32) en Samuel (1 Sam 16) lees. Trouens, die Here waarsku op ‘n keer vir die profeet Jeremia in sy eie worsteling vir ‘n antwoord van die Here, dat selfs al was Moses en Samuel in gesprek met Hom oor die situasie van die volk net voor die ballingskap, sou Hy nie van sy plan afwyk om hulle te straf nie (Jer 15:1). God se besluit is immers soewerein. Die belofte van die Psalm is egter steeds dat God antwoord. Dit pas ons dus om Hom met ontsag te aanbid. En sy soewereiniteit te erken. Al is dit nie soos ons dit graag wil hê nie. Terselfdertyd nooi Hy ons egter uit om soos Moses, Aäron en Samuel met Hom in gesprek te tree oor alles in ons lewe. Hy sal duidelik antwoord. Daarop kan ons vertrou.
Lees meer: https://bybelskool.com/psalm-99-kom-buig-in-aanbidding-voor-hom-heilig-is-hy/
Discover more from Bybelskool
Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Onlangse kommentaar