Skip to main content

Romeine 8:31-39 – God se liefde vir jou staan onwrikbaar vas

18 Februarie

Romeine 8:31-39 – God se liefde vir jou staan onwrikbaar vas

31Wat sal ons dan hiervan sê? As God vir ons is, wie kan teen ons wees? 32Hy wat selfs sy eie Seun nie gespaar het nie, maar Hom ter wille van ons almal oorgelewer het – hoe sal Hy nie ook saam met Hom alles aan ons skenk nie? 33Wie sal die uitverkorenes van God aankla? God is die Een wat vryspreek! 34Wie sal ons veroordeel? Dit is Christus Jesus wat gesterf het; meer nog – wat opgewek is, wat ook aan die regterhand van God sit en wat ook vir ons intree. 35Wat sal ons van die liefde van Christus skei? Swaarkry of benoudheid of vervolging, honger of naaktheid, gevaar of swaard? 36Soos daar geskryf staan: “Ter wille van U word ons die hele tyd aan die dood uitgelewer, word ons as slagskape beskou.” 37Maar in dit alles is ons selfs meer as oorwinnaars deur Hom wat sy liefde aan ons bewys het. 38Ek is immers daarvan oortuig dat nóg dood, nóg lewe, nóg engele, nóg magte, nóg teenswoordige nóg toekomstige gebeure, nóg kragte, 39nóg hoogte, nóg diepte, nóg enigiets anders in die skepping, ons sal kan skei van die liefde van God in Christus Jesus, ons Here.

In die vorige gedeelte van Romeine 8 het ons geleer dat God weet dat ons uitgelewer voel aan die nietigheid en verganklikheid van hierdie wêreld. Dat Hy weet dat ons magteloos voel en buite beheer. Dat die Gees boonop ons versugtinge opneem in sy eie gebede tot die Vader om alles ten goede te laat meewerk. En dit gee alreeds vir ons ‘n stewige basis om te volhard, want: “As God vir ons is, wie kan teen ons wees?” Dit is Paulus se gevolgtrekking van dit alles. Maar, daar is meer. Paulus lê hierdie gevolgtrekking dat God vir ons is nog verder uit en beklemtoon nog ‘n aspek van sy betrokkenheid by ons. Dit is sy belofte dat sy liefde vir ons onwrikbaar vas staan.

Daarvoor gee Paulus vir ons twee onwrikbare historiese perspektiewe waarin ons God se liefde kan herken. In die eerste plek herinner hy ons aan Jesus se opstanding uit die dood. As Jesus in Getsemane worstel met die beker wat Hy moet drink, worstel Hy eintlik met die vraag of God enduit vir Hom ‘n Vader sal wees. Of God regtig lief is vir Hom. Of God die Vader Hom uit die dood uit sal opwek. Of Hy God daarvoor kan vertrou. Wanneer Jesus uiteindelik aan die kruis hang en die dood soos ‘n donker kombers oor Hom begin toesak soos die bloed uit sy liggaam vloei, en sy asem al hoe minder en minder word, het Hy net die belofte van God die Vader se liefde om aan vas te hou. En wat was Jesus se ervaring? Wel, op die derde dag is die steen voor die graf weggerol, het God die Vader vir Jesus in ‘n nuwe liggaam opgewek, en is Hy na veertig dae teruggeneem na sy ereposisie in die hemel, aan die regterhand van die Vader. Daarmee sê God vir jou vandag: “Wat sal jy dan hiervan sê? As Ek vir jou is, wie kan teen jou wees? Jy kan dit sien in my liefde vir my Seun. Jesus moes sterf, dit is waar. Ek het my eie Seun nie gespaar nie. Maar, dit was nie al nie. Ek het Hom ook opgewek uit die dood. Hy sit aan my regterhand. Vir altyd om vir jou in te tree. My liefde vir jou staan onwrikbaar vas.

Maar daarmee is daar alreeds ook ‘n tweede historiese perspektief vir ons gegee. Jesus is opgewek, Jesus het opgevaar, Jesus het aan die regterhand van die Vader gaan sit. Om wat te doen? Om vir ons in te tree! Dit is nie net die historiese feit van die opstanding uit die graf wat ons van God se liefde oortuig nie. Dit is nie net die feit van die leë graf en die verskynings aan talle ooggetuies nie. Dit is veral die historiese feit dat Hy lewe, en dat Hy vir ons intree wat ons van God se liefde oortuig. Want, as Jesus se dood vir ons soveel beteken, hoeveel te meer sal sy lewe nie vir ons beteken nie! Dit is waarom Paulus kan skryf: “Wat sal ons van die liefde van Christus skei? Swaarkry of benoudheid of vervolging, honger of naaktheid, gevaar of swaard?” Daar is niks van buite met jou kan gebeur wat die liefde van Christus kan uitwis nie. Dieselfde geld vir jou bediening en jou getuienis. Die werklikheid is dat almal wat gehoorsaam wil lewe, sal vervolg word. Paulus haal uit Psalm 44:23 aan: “Ter wille van U word ons die hele tyd aan die dood uitgelewer,  word ons soos slagskape behandel.” Maar sy gevolgtrekking is: “Maar in alles is ons selfs meer as oorwinnaars deur Hom wat sy liefde aan ons bewys het.” God se liefde vir ons staan onwrikbaar vas. God se liefde vir ons laat ons onwrikbaar vas staan! Dit laat Paulus uitroep: “Ek is daarvan oortuig dat geen dood of lewe of engele of magte of teenswoordige of toekomstige gebeure, of kragte of hoogte of diepte of enigiets anders in die skepping ons kan skei van God se liefde wat daar in Christus Jesus ons Here is nie.” Niks kan jou van sy liefde skei nie. Niks nie. Sy liefde vir jou staan onwrikbaar vas.

Lees meer (‘n vorige preek): https://ngkerksomerstrand.co.za/god-se-liefde-staan-onwrikbaar-vas-romeine-831-39/


Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Beloftes


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar

  • Chris van Wyk on Psalm 137Dit is my voorreg. Groete!
  • Doreen Snyders on Psalm 137Net om weer 'n slag dankie te sê vir al die wonderlike verklarings en verduidelikings van al die Bybelse waarhede. Ons dien 'n wonderbare en allerheilige God. Ek sien baie uit na die Matteusevangelie. Nogmaals baie dankie. Doreen Snyders
  • Chris van Wyk on Psalm 119:169-176Absoluut!
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:169-176Psalm 119 is voorwaar ñ baie Geseënde Psalm
  • Chris van Wyk on Psalm 119:145-152Dis self opnuut weer ‘n vreugde vir my.
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:145-152Ek was altyd baie langtand om Ps 119 aan te durf, nou wens ek dat dit nie ophou nie... Ps 119 is te kort!!! PDH
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:105-112Goeie middag, baie dankie vir die deel van die kosbare verhaal wat so gepas is met die Psalm
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:1-8Sien waarlik die nou verband tussen OT EN NT. waarlik verhelderend. אמן
  • Chris van Wyk on Psalm 118:19-29Ek gee maar net aan wat ek ontvang het. Dit bly egter 'n kosbare voorreg.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 118:19-29Goeie môre, baie dankie dat u met ons deel wie en waar die vertaaling van die Bybel sy oorsprong gekry het, dit is so kosbaar, baie dankie vir een en elkeen wat deel is en was om hierdie kosbare woord ook vir ons in ons Taal te kon uitlê
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 110Baie dankie vir hierdie kosbaarhede wat u met ons deel. Ek het Openbaring 22 gelees en dit klink baie soos die tuin van Eden, hy praat van die boom van lewe. Die sondeval gemaak dat die mens gesondig het en dat hul nie meer in die tuin kon woon nie asgevolg van die sonde.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 109:6-19Goeie middag, ek wil ook by las dat in Psalm 139:23 bid David;"Deurgrond my, O GOD, en ken my hart, toets my en ken my gedagtes" GOD ken die mens en HY deersoek die hart en die gedagtes. Ek het self al telkens gebid, HERE vergewe hulle want hulle weet nie wat hulle doen nie en dan soos die woord sel…
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:33-38Baie dankie vir hierdie verduideliking. Ons lees die eerste keer van Baäl-Peor in Numeri 25. Baäl was die Kanaänitiese god van vrugbaarheid, terwyl Peor verwys na die berg in Moab waar hy onder andere aanbid is. Hy is ook in Kanaän aanbid en was 'n groot versoeking vir die Israeliete met hulle vesti…
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:33-38GOD is so goeie GOD. HY gee vir ons die voorskrifte vanaf Deut. 28 en dan volg HY dit ook op in Psalm 107 en sê as ons net doen wat HY ons beveel sal dit met ons goed gaan en ons geseënd wees, nie oor ons nie, maar oor GOD en wie HY is.
  • Chris van Wyk on Psalm 106:43-48Ons lees die eerste keer van Baäl-Peor in Numeri 25. Baäl was die Kanaänitiese god van vrugbaarheid, terwyl Peor verwys na die berg in Moab waar hy onder andere aanbid is. Hy is ook in Kanaän aanbid en was 'n groot versoeking vir die Israeliete met hulle vestiging in die Beloofde Land.