1 Korintiërs 15:35-50 – God sal ons opwek as onsterflike, heerlike en kragtige hemelse mense
1 Korintiërs 15:35-50 – God sal ons opwek as onsterflike, heerlike en kragtige hemelse mense
35Iemand sal egter kan vra: “Hoe word die dooies opgewek, en met watter soort liggaam verskyn hulle?” 36Hoe dwaas! Wat jy saai, kom nie tot lewe nie, tensy dit eers sterf. 37En wat jy saai, saai jy nie in die vorm wat dit sal aanneem nie, maar as ‘n blote saadkorrel, of dit nou ‘n koringkorrel is, of een van die ander sade. 38Maar God sal, soos Hy beplan het, aan elkeen van die sade ‘n eie vorm gee. 39Nie alle lewende wesens is eenders nie. Daar is een fisiese vorm vir mense, ‘n ander vir diere, ‘n ander vir voëls, en nog ‘n ander vir visse. 40Daar is ook hemelliggame en aardse liggame, maar die glans van die hemelliggame is anders as dié van die aardse liggame. 41Die glans van die son is anders as die glans van die maan, en anders as die glans van die sterre. Een ster verskil immers van ‘n ander in glans. 42So sal dit ook wees met die opstanding van die dooies: Wat gesaai word in verganklikheid, word opgewek in onsterflikheid; 43wat gesaai word in oneer, word opgewek in heerlikheid; wat gesaai word in swakheid, word opgewek in krag. 44Wat gesaai word, is ‘n natuurlike menslike liggaam; wat opgewek word, is ‘n geestelike liggaam. As daar ‘n natuurlike menslike liggaam is, is daar ook ‘n geestelike liggaam. 45So staan daar immers geskryf: “Die eerste mens, Adam, het ‘n lewende wese geword.” Die laaste Adam het egter ‘n lewendmakende Gees geword. 46Die geestelike liggaam is egter nie eerste nie, maar wel die natuurlike menslike liggaam; daarna kom die geestelike. 47Die eerste mens was uit die aarde, en stoflik; die tweede ‘n mens uit die hemel. 48Soos die aardse mens, so is ook die aardse mense; en soos die hemelse mens, so ook die hemelse mense. 49Soos ons die beeld van die stoflike mens gedra het, so sal ons die beeld van die hemelse mens dra. 50Dit is wat ek bedoel, broers: dat mense van vlees en bloed nie die koninkryk van God kan beërf nie, en die verganklike beërf nie die onverganklike nie.
Ons moet onthou dat die Grieke nie in die opstanding van die liggaam geglo het nie, selfs al het hulle die idee gekoester dat die siel van die mens onsterflik is en na die dood sou kon voortbestaan. Daarom dat Paulus soveel klem lê op die voortbestaan van gelowiges in ’n liggaamlike staat, nie net ’n geestelike nie-liggaamlike staat nie. Let op hoe hy in vers 36-41 sy siening begrond deur 3 voorbeelde uit die natuur te gebruik, voordat hy in vers 42-43 sy gevolgtrekkings van die onsterflikheid, heerlikheid en krag van ons nuwe liggame maak en in vers 44-49 verder op die kontras tussen die aardse en die hemelse mens uitbrei. Hiermee bemoedig die Here self ons om al hierdie beloftes as ‘n lewende hoop te aanvaar. Hy is die Een wat “promises in performances” sal omskep (Herbert Lockyer, All the Promises of the Bible).
Paulus gebruik eerstens die voorbeeld van die saad wat in die grond val en sterf om in ’n ander gestalte, die koringplant, voort te leef (vers 36-38). Daarmee wys hy die onderskeid tussen die verganklike en die onverganklike liggaam aan sowel as die wesenlike kontinuïteit al is dit in ’n ander gestalte (vers 42). Tweedens skryf hy oor die verskil tussen die fisiese vorm (vlees) van mense, diere, voëls en visse (vers 39). Daarmee probeer hy die beperktheid van die aardse liggaam teenoor die heerlikheid van die hemelse liggaam aandui sowel as die herkenbaarheid van die onderskeie soorte wat ná die opstanding nog sodanig sal wees (vers 43a). In die derde plek beskryf hy die verskil tussen dowwer en helderder hemelliggame soos die maan en sterre versus die son, en selfs sterre onderling (vers 40-41). Daarmee probeer hy die swakker karakter van die aardse liggaam teenoor die krag van die hemelse liggaam uitdruk sowel as die herkenbaarheid van die onderskeie soorte wat ná die opstanding nog sodanig sal wees (vers 43b).
In sy uitbreiding in vers 44-49 kontrasteer hy die natuurlike karakter van ons liggame hier met die geestelike karakter van ons liggame na die opstanding. Dit is soos die verskil tussen die eerste mens, Adam … en die laaste Adam, die lewendmakende Gees, die hemelse mens, dit is Christus (vgl Rom 5-6). Die een se liggaam is uit die aarde, en is stoflik; die tweede se liggaam is uit die hemel, en is hemels. Die dooies sal dus as onverganklikes opgewek word, net soos dié wat dan nog lewe, in ’n oomblik ook met onverganklikheid beklee sal word. Dan is dit die einde van die dood, en daarmee die einde van die sonde, want die oorwinning van God oor die dood en die sonde sal dan vir ewig en onverganklik wees. Daarom kan ons saam met Paulus oorvloedig in die werk van die Here wees, omdat hierdie opstanding, hierdie onverganklikheid, ons belofte, ons hoop is.
Lees meer (my preek vanoggend by NGK Somerstrand): https://wp.me/p3yY2R-3in
Discover more from Bybelskool
Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Onlangse kommentaar