Deuteronomium 26:1-11 – God sal jou uitgaan en jou terugkeer beskerm
Ons beweeg hierdie week in die Lydenstyd in. Dit duur tot met Goeie Vrydag, Stil Saterdag en Paassondag die naweek van 15-17 April. Ons fokus steeds op beloftes, maar plaas dit ook in die konteks van lyding, soos ons dit in die lewe, sterwe en opstanding van die Here Jesus gesien het. Sy lyding het op paradoksale wyse die weg van ons verlossing geword, ‘n belofte waaraan ons kan vasgryp vir ons eie genesing. Soos Jesaja van die Dienskneg van die Here, dit is Jesus, sê: “Hy is egter deurboor oor ons oortredings, verbrysel oor ons sondeskuld. Die straf wat ons vrede bewerk, was op hom, en deur sy wonde is daar vir ons genesing.” (Jes 53:5)
Deuteronomium 26:1-11 – God sal jou uitgaan en jou terugkeer beskerm
1“Wanneer jy in die land aangekom het wat die Here jou God vir jou as erfdeel gaan gee om in besit te neem, en jy daar gevestig is, 2moet jy van die eerste opbrengs van al die vrugte wat jy oes op die grond van die land wat die Here jou God aan jou gee, neem en in ‘n mandjie sit. Gaan dan na die plek wat die Here jou God sal kies om sy Naam daar te vestig. 3Wanneer jy by die priester aankom wat in dié dae daar sal wees, moet jy vir hom sê, ‘Ek maak vandag aan die Here u God bekend dat ek aangekom het in die land wat die Here met ‘n eed aan ons voorvaders beloof het om aan ons te gee.’ 4Die priester moet die mandjie uit jou hand neem en dit voor die altaar van die Here jou God neersit. 5Dan moet jy voor die Here jou God bely en sê, ‘My vader was ‘n rondswerwende Arameër. Hy het na Egipte afgegaan en met min mense as ‘n vreemdeling tydelik daar gaan woon. Daar het hy ‘n groot nasie geword, magtig en talryk. 6Maar die Egiptenare het ons sleg behandel, ons onderdruk en ons aan harde slawewerk onderwerp. 7Toe het ons na die Here, die God van ons voorouers, om hulp geroep. Die Here het ons gehoor en ons ellende, ons swaarkry en ons verdrukking raakgesien; 8en die Here het ons met ‘n sterk hand en uitgestrekte arm uit Egipte uitgelei, ja, met ‘n vreesaanjaende magsvertoon, met tekens van mag en wondertekens. 9Hy het ons na hierdie plek gebring en aan ons hierdie land gegee, ‘n land wat oorloop van melk en heuning. 10Hier het ek nou die eerste vrugte gebring van die grond wat U, Here, vir my gegee het.’ Sit dit dan voor die Here jou God neer en buig in aanbidding voor die Here jou God. 11Jy moet vrolik wees oor al die goeie dinge wat die Here jou God aan jou en jou huis gegee het – jy en die Leviete en die vreemdelinge wat by jou is.
Moses voltooi in hierdie hoofstuk sy perspektiewe op ‘n gesonde geloofsgemeenskap (hfst 19-26) wat deur respek vir die lewe en gehoorsaamheid aan die grense wat God stel, gekenmerk word. Hy gee aandag aan die geloofsbelydenis wat hulle by die insameling van hulle oeste moet gebruik om hulle te herinner aan God se verlossing uit Egipte en hulle vestiging in die beloofde land. Hy beklemtoon hierna ook die tiendes wat elke derde jaar direk vir die Leviete, vreemdelinge, vaderloses en weduwees bedoel was. God seën Israel immers om tot ‘n seën vir ander te wees, ‘n seën waarvoor hulle dan ook mag bid. En Hy roep die geloofsgemeenskap op om aan God alleen gehoorsaam te wees met hulle hele hart en siel, soos Hy inderdaad Homself aan hulle verbind het. Aan hierdie wedersydse verklaring van liefde en trou sal Moses dan net hierna die seën en strawwe van die verbond verbind (Deut 27-28) waarmee hy sy tweede preek in Deuteronomium (hfst 4-28) sal afsluit.
Telkens wanneer Israel dus die Pinksterfees in die land gevier het – net na die insameling van hulle oeste (vgl Deut 16) – het hulle hulle geloof in die God wat sy beloftes vervul, bely. Het hulle teruggedink aan die belofte van God met die Uittog uit Egipte dat Hy hulle deur die woestyn na die Beloofde land sal lei en die land vir hulle sal gee. En het hulle die vervulling van sy beloftes gevier. Hulle het in ‘n persoonlike verklaring die Here geloof dat Hy sy belofte nagekom het. Dat Hy gesorg het dat hulle tuiskom in die land met die Intog. En hulle het hulle persoonlik verbind aan die God met ‘n belydenis oor Jakob, hulle gesamentlike vader, die “Arameër” waarvan Moses hier praat. En hulle het Hom geloof vir al die wonders en tekens waarmee God die volk in Egipte se gebede beantwoord het. Die gawe van die eerste opbrengs van hulle oeste was dus beide die teken van hulle dankbaarheid in die hede en hulle verbintenis aan die verlede.
Dit is dus van elke Israeliet verwag om dié belydenis te maak asof hulle self die vervulling van die beloftes van die Uittog en Intog deurgemaak het. Asof hulle self daar was. Hoekom? Want hierdie belydenis het hulle verbind aan die gesamentlike geskiedenis van die volk van God, en die verwagting op die vervulling van God se beloftes lewend gehou vir elke nuwe uitdaging wat hulle self sou ervaar. Die God wat wonders en tekens eenmaal in Egipte met die Uittog gedoen het, wat hulle ‘n plek gegee het in die land met die Intog, is immers dieselfde God wat wonders en tekens vir hulle sou doen in die vervulling van sy beloftes van verlossing en tuiskoms. Die Uittog- en Intogverhale was dus ‘n konkrete illustrasie van die feit dat hierdie God sy beloftes vervul en dat Hy altyd aangeroep kan word vir verlossing en tuiskoms, vir ‘n “uittog” en “intog”. Soos Psalm 121 dit verwoord het vir die alledaagse lewe: “7Die Here sal jou beskerm teen elke onheil; Hy sal jou lewe beskerm. 8Die Here sal jou uitgaan en jou terugkeer beskerm van nou af en vir altyd.” (Ps 121:7-8). Geen wonder dat dié Psalm vir elke Jood voorgeskryf is om elke aand te bid net voor hulle gaan slaap het nie. Want, dit is wie God vir altyd is. Die Een wat sy beloftes hou.
Lees meer: https://bybelskool.com/deuteronomium-26-geloofsbelydenis-gebed-en-gehoorsaamheid/
Discover more from Bybelskool
Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Onlangse kommentaar