Deuteronomium 8:1-10 – Die mens leef van elke uitspraak uit die mond van die Here
Deuteronomium 8:1-10 – Die mens leef van elke uitspraak uit die mond van die Here
1“Elke gebod wat ek vandag vir jou voorskryf, moet julle nougeset nakom, sodat julle kan leef en meer word en in die land ingaan wat die Here met ‘n eed aan julle voorvaders beloof het, en dit in besit neem. 2Dink aan die hele pad waarlangs die Here jou God jou hierdie veertig jaar in die woestyn gelei het om jou nederig te maak, om jou te toets, om uit te vind wat in jou hart leef: Sou jy sy gebooie nakom of nie? 3Hy het jou nederig gemaak, jou laat honger ly en jou die manna laat eet wat jy nie geken het nie en jou voorouers ook nie geken het nie, sodat Hy jou kon laat verstaan dat die mens nie van brood alleen sal leef nie, maar dat die mens leef van elke uitspraak uit die mond van die Here. 4Vir hierdie veertig jaar het die klere aan jou lyf nie verslyt nie en het jou voete nie geswel nie. 5“Wees dan in jou hart oortuig daarvan dat die Here jou God jou opvoed soos ‘n man sy seun opvoed. 6Kom daarom die gebooie van die Here jou God na deur sy paaie te volg en ontsag vir Hom te hê, 7want die Here jou God gaan jou in ‘n goeie land bring: ‘n land met waterryke dale, fonteine en ondergrondse water wat in die valleie en op die berge uitvloei; 8‘n land met koring en gars, met wingerde, vyebome en granaatboorde, ‘n land met olieryke olywe en heuning; 9‘n land waar jy nie in armoede brood sal eet nie, ja, waar jy geen gebrek sal hê nie; ‘n land waar die klippe ystererts is en waar jy kopererts in die berge myn. 10Jy sal eet en versadig word en die Here jou God prys oor die goeie land wat Hy aan jou gegee het.
Ons lees die volgende drie dae tekste uit die OT wat noodsaaklik is om die verhaal van Jesus se versoeking in die woestyn wat ons daarna in Lukas 4 gaan lees, beter te kan begryp (Deut 8:1-10; 6:4-13; Ps 91:1-16). Moses begin in vandag se teks, Deuteronomium 8, deur die volk te herinner om aan elke gebod wat die Here hulle gee, gehoorsaam te wees en daarvolgens te lewe. Elke woord van die Here is met ‘n doel gegee en die moeite werd om met nougesette noukeurigheid na te kom. Dit sal vir hulle die lewe beteken, en God se belofte van vrugbaarheid in vervulling laat gaan in die land wat Hy aan hulle en hulle voorvaders belowe het. Dit is egter nie net die gebooie wat vir hulle gegee is as woorde van God nie wat belangrik is nie. Elke ervaring wat hulle in die woestyn gehad het, was ‘n woord van God aan hulle, ‘n voorbeeld van sy begeleiding waaraan hulle hulle moes steur.
Die doel van die woestyntyd was tweërlei. Aan die een kant moes die volk hulle nederige afhanklikheid van God agterkom. Daarom het die Here hulle op die proef gestel, nie net sodat Hy kan weet wat in hulle hart aangaan nie, maar sodat hulle dit self ook kan agterkom. Beide die swaarkry sonder die kos, én die manna wat op wonderbaarlike wyse aan hulle voorsien is, het dus daardie doel gedien. Dit moes hulle die groot lewensles leer dat: “dat die mens nie van brood alleen sal leef nie, maar dat die mens leef van elke uitspraak uit die mond van die Here.” God se woorde was meer basies vir hulle voortbestaan as kos en water. Aan die ander kant moes die volk die oorvloedige en baie keer wondervoorsiening van die Here ook agterkom. Daarom het Hy vir hulle manna gegee, iets wat hulle voorvaders nie geken het nie, en het die Here hulle klere in die veertig jaar nie laat verslyt nie, selfs hulle voete nie laat swel nie. Met dit alles het die Here hulle harte aan Hom gebind deur die dissipline van die woestyn. Presies wat Jesus self moes leer toe die duiwel Jesus versoek het om nie te wag op God se voorsiening nie, maar sy krag te misbruik deur brood uit die klippe vir Homself te maak (Luk 4:4). As Jesus na die duiwel geluister het, sou God se doel met die woestyn in Jesus se lewe gedwarsboom wees.
Dit is daarom dat die Israeliete – en elke kind van God van watter tyd ook al – die gebooie van die Here moet gehoorsaam sodat hulle sy wil kan doen. God belowe dat Hy sy kinders die oorvloed van die beloofde land – ‘n goeie land! – sal gee, maar dan moet hulle Hom dien, sodat hulle dit as ‘n geskenk uit sy hand kan hanteer. Daar sal dus ‘n oorvloed water en vrugbaarheid wees. As hulle Hom dien, sal daar selfs nie armoede wees nie. Hulle sal selfs vir hulle naaste kan sorg. Hulle sal selfs genoeg yster en koper hê ter wille van hulle militêre paraatheid. Soos die swaar tye hulle afhanklikheid moes leer, moes die goeie tye hulle dankbaarheid leer: “Telkens wanneer jy genoeg geëet het, moet jy die Here jou God dank vir hierdie goeie land wat Hy aan jou gegee het.” (vers 10 in die 1983-vertaling).
Lees meer: https://bybelskool.com/deuteronomium-8-die-here-leer-die-volk-afhanklikheid-en-dankbaarheid/
Discover more from Bybelskool
Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Onlangse kommentaar