Deuteronomium 6:4-16 – Luister, Israel, die Here is ons God, die Here alleen
Deuteronomium 6:4-16 – Luister, Israel, die Here is ons God, die Here alleen
4“Luister, Israel, die Here is ons God, die Here alleen. 5Jy moet die Here jou God met hart en siel liefhê en met al jou krag. 6En hierdie woorde wat ek vandag vir jou voorskryf, moet jy op die hart dra. 7Herhaal dit vir jou kinders en praat met hulle daaroor wanneer jy in jou huis sit en wanneer jy op pad is, wanneer jy gaan lê en wanneer jy opstaan. 8Bind dit as ‘n teken om jou hand en laat dit ‘n versiering op jou voorkop wees. 9Skryf dit op die deurkosyne van jou huis en op jou stadspoorte. 10“Wanneer die Here jou God jou inbring in die land wat Hy aan jou voorvaders, aan Abraham, Isak en Jakob, met ‘n eed beloof het om vir jou te gee – groot en mooi stede wat jy nie gebou het nie, 11huise vol met alles wat goed is, wat jy nie gevul het nie, uitgekapte opgaarputte wat jy nie uitgekap het nie, wingerde en olyfboorde wat jy nie geplant het nie, en jy dan eet en versadig word, 12moet jy oppas dat jy nie die Here vergeet wat jou uit Egipteland, uit ‘n plek van slawerny, uitgelei het nie. 13Vir die Here jou God moet jy ontsag hê: Hom moet jy dien, en slegs in sy Naam moet jy sweer. 14“Julle mag nie agter ander gode aanloop nie, gode van die nasies rondom julle; 15want die Here jou God wat in julle midde is, is ‘n besitlike God. Anders sal die toorn van die Here jou God teen jou ontbrand, en dan gaan Hy jou van die aardbodem af uitdelg. 16Julle mag nie die Here julle God uitdaag soos julle by Massa gedoen het nie.
Moses formuleer hier die grootste gebod van die Ou Verbond in die OT: “Jy moet die Here jou God met hart en siel liefhê en met al jou krag.” Hy sal later ook die liefde vir die naaste hierby voeg (Deut 9-10; vgl ook Lev 19:18), maar begin met die sentrale allesomvattende liefde vir God. Hoekom? Want dit is God se openbaring van Homself wat alles begin: “Luister, Israel, die Here is ons God, die Here alleen.” Die eerste woord: “Luister”, kom van die Hebreeuse woord Sjema. Dit is dan ook hoe hierdie belydenis bekend geraak het, die Sjema, die belangrikste verwoording van hulle monoteïstiese geloof, naamlik dat die Here (Jahwe) God is, Hy alleen. Daar is langs Hom of naas Hom geen ander god nie. Hierdie liefde en al die gebooie wat daarop gebaseer is, is die dinge wat jy jou kinders moet leer. Sonder ophou. Solank as wat jy leef. Daarom moet die woorde van hierdie gebooie in elkeen se hart insak. Dit moet vir die kinders ingeskerp word. Daar moet gedurig oor die betekenis daarvan gesels word. As jy reis of rustig by die huis sit. As jy gaan slaap en as jy wakker word. Dit moet ‘n teken wees op jou hand – jou dade bepaal – en ‘n versiering op jou voorkop – jou gedagtes bepaal. Dit moet geskrywe wees op jou huis se deurkosyne (dit is waarvandaan die gebruik van die mesusa kom, die houertjie aan die deurkosyn waarin die Tien Gebooie geplaas is) sowel as op jou stadspoorte. Die woorde van God se gebooie moet jou persoonlike en publieke ruimtes bepaal.
Hierdie liefde vir God moet nie net in die verwagting van die vervulling van God se beloftes gebeur nie, maar juis ook ná God se beloftes in vervulling gegaan het. Die gevaar was immers groot dat die Israeliete in die rus wat die nuwe tuiste vir hulle sal bied, sal eet en versadig word… en dan die Here vergeet wat hulle uit die slawerny van Egipte verlos het. Daarom moet hulle altyd fokus daarop om die Here te onthou, sodat hulle Hom alleen kan dien en in ontsag vir Hom kan lewe.
Jesus het ‘n besondere band met Deuteronomium 6 gehad. Drie keer het Hy sy toevlug daartoe geneem, twee keer in versoeking, en een keer toe Hy na die grootste gebod in die wet gevra is. Die inhoud daarvan het Hom dus nie net in versoeking staande gehou nie. Hy het dit ook gebruik toe Hy die hart van die Godsverhouding moes uitspel. Hierdie drie verse is daarom van sleutelbelang in die NT. Jesus haal uit Deuteronomium 6:13 aan om die tweede versoeking van die Satan om Jesus ‘n kortpad tot die koninkryk te laat kies deur die Satan te aanbid, te troef: “Gaan weg, Satan, want daar staan geskrywe: Die Here jou God moet jy aanbid en Hom alleen dien.” (Luk 4:8). Jesus haal uit Deuteronomium 6:16 aan om die derde versoeking van die Satan om Jesus die beloftes van God te laat misbruik om van ‘n toring af te spring, te troef: “Daar staan ook geskrywe: Jy mag die Here jou God nie op die proef stel nie.” (Luk 4:12). Jesus haal uit Deuteronomium 6:5 aan om die liefde tot God te begrond: “Die eerste van al die gebooie is: Hoor, Israel, die Here, onse God, is ’n enige Here; en jy moet die Here jou God liefhê uit jou hele hart en uit jou hele siel en uit jou hele verstand en uit jou hele krag. Dit is die eerste gebod.” (Mark 12:29-30).
Lees meer: https://bybelskool.com/deuteronomium-6-die-liefde-vir-die-here-bepaal-jou-hele-lewe/
Discover more from Bybelskool
Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Onlangse kommentaar