Haggai 2:20-23 – God bemoedig Serubbabel dat Hy hom gekies het en sal beskerm
Op dieselfde dag 18 Desember 520 v.C. kom die woord van die Here vir die vierde keer na Haggai. Hierdie keer is dit aan die goewerneur Serubbabel gerig om Hom nie net aan sy verkiesing deur God tot die leiersposisie te herinner nie – hy is God se seëlring, ‘n kosbare draer van die volmag van God se gesag. Hy word ook verseker van God se beskerming op politiese en internasionale gebied. Die beskrywing dra soos in die tweede profesie ‘n meer eskatologiese en kosmiese karakter wat op ‘n groter toekomsvisie dui as net dít wat Serubbabel ervaar het.
Boodskap
Die tempel is vier jaar later in 516 v.C. voltooi (vgl. Esra 6:15). Sonder hierdie oproep van die profeet Haggai sou dié werk egter nog jare onvoltooid gebly het, moontlik selfs nooit regtig van die grond af gekom het nie. Sy bemoediging gedurende hierdie belangrike vier maande tydperk van Augustus tot Desember in 520 v.C het nie net die verhouding tussen die Here en sy volk herstel nie, maar die leiers – Serubbabal die goewerneur, Jesua die hoëpriester sowel as die gewone priesters – en die gewone lede van die volk geïnspireer om te begin leef as Godsvolk.
Daarmee was die stryd nog nie volledig gewen nie. Esra sou eers ongeveer 60 jaar later in 459 v.C. fokus op die verdere hervormings rondom die wet van die Here, en Nehemia meer as 70 jaar later in 445 v.C. op die herbou van die stad Jerusalem. Sonder die herbou van die tempel in 520-516 v.C. sou hierdie ander hervormings rondom die wet en die stad nie moontlik wees nie.
Dit tref my hoe hierdie opdrag van Haggai aan die volk om die tempel te herbou vóórdat hulle aandag gee aan hulle eie huise en omstandighede in die NT geëggo word in die woorde van die Here Jesus: “Beywer julle allereers vir die koninkryk van God en vir die wil van God, dan sal Hy julle ook al hierdie dinge gee.” (Matt. 6:33). Vir die OT gemeenskap in Haggai se tyd was die fokus op die tempel, die plek waar die geloofsgemeenskap die Here gedien het. Vir die NT gemeenskap, sowel as die Christelike gemeenskap deur die eeue daarna, is die fokus op die koninkryk van God wat in die wêreld moet kom, oral waar die Here gedien móét word. Ons fokus is dus nie op ‘n plek, die kerkgebou, nie, maar op die mense wat die boodskap van die Here moet hoor.
Vir die OT gelowiges het die Here seën belowe as hulle prioriteite reg ingestel is om te fokus op die teenwoordigheid van die Here in die tempel van Jerusalem. Vir die NT gelowiges belowe die Here sy seën as deel van hulle fokus op die teenwoordigheid van die Here tot in die uithoeke van die wêreld. Ons is geroep om getuies te wees nie net in Jerusalem nie, maar ook in Judea, en Samaria en waar daar ook al mense tot aan die eindes van die wêreld is (Hand. 1:8). Laat ons dit inderdaad dan ook nou doen!
View all posts in this series
- Haggai – Herstel die tempel, want Ek is by julle
- Haggai 1:1-15 – God bemoedig die leiers om die bou van die tempel ‘n prioriteit te maak
- Haggai 2:1-9 – God bemoedig almal om moed te hou, want Hy is by hulle
- Haggai 2:10-19 – God bemoedig die priesters dat Hy die volk sal reinig en seën
- Haggai 2:20-23 – God bemoedig Serubbabel dat Hy hom gekies het en sal beskerm