Skip to main content

Haggai 2:1-9 – God bemoedig almal om moed te hou, want Hy is by hulle

prayer-shawlOp 17 Oktober 520 v.C., die 21ste dag van die sewende maand, die Joodse maand Tishri, kom die woord van die Here weer tot Haggai. Dit is vier weke ná hulle met die werk begin het, waarin hulle waarskynlik die meeste van die tyd aan die opruim van die rommel van die vorige ruïnes spandeer het. Dit is ook aan die einde van die Loofhutte fees wat aan die einde van die oestyd gehou is. Hulle het dus weereens tyd gehad om op die Here te fokus ná al die harde werk tot dusver.

Weereens word die woord van die Here deur ‘n paar vrae ingelei, maar dié keer gerig aan al die mense: “Wie van julle het gesien hoe mooi die vorige tempel was? Hoe lyk dié een vir julle? Lyk hy nie na niks in vergelykig met die vorige een nie?” Die Here is dus baie bewus van die gesprekke wat onder die volk gevoer is en waarin die moedeloosheid wou-wou oorneem. God se plek sou nooit weer wees soos dit vroeër was nie. En onthou, Salomo se tempel, wat ironies genoeg ook in die sewende maand in gebruik geneem is (1 Kon. 8), was ‘n verstommende luukse gebou.

Die Here praat hulle deur sy profeet egter moed in: “Begin met die werk, want Ek is by julle, sê die Here, die Almagtige.” Die bouwerk kan en móét nou in alle erns begin.

Let op hoe die Here hulle met twee sleutelboodskappe bemoedig. Die eerste is ‘n belofte wat van altyd af vir hulle geld en ook nou in hulle lewe bevestig sal word: “My Gees sal altyd by julle bly. Moenie bang wees nie.” Sagaria sou ‘n bietjie later hierby aansluit en vir Serubbabel met dieselfde woorde bemoedig: “Nie met mag en krag sal jy slaag nie, maar deur my Gees.” (Sag. 3:6).

Die tweede is ‘n toekomsvisie wat die bou van die tempel in ‘n heel ander en heerliker lig stel: “Die roem van die tempel sal in die toekoms groter wees as in die verlede … op hierdie plek sal Ek vrede gee, sê die Here die Almagtige.” Dié visie word in ‘n konteks van eskatologiese tekens beskryf – hemel en aarde, see en land bewe, nasies bring geskenke – wat die eindtyd wat met Jesus aangebreek het en met sy wederkoms voleindig sal word, in die visier van dié profesie bring.

Hoewel die volk van 520 v.C. dié visie beswaarlik volledig kon verstaan, het dit hulle bemoedig. Hulle is uitgenooi om hulle oë te vestig op wat kom, nie net op wat was met Salomo se tempel nie. God se Gees sou hulle na sy toekoms met hulle begelei. Watter bemoediging!


Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Haggai


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar

  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:105-112Goeie middag, baie dankie vir die deel van die kosbare verhaal wat so gepas is met die Psalm
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:1-8Sien waarlik die nou verband tussen OT EN NT. waarlik verhelderend. אמן
  • Chris van Wyk on Psalm 118:19-29Ek gee maar net aan wat ek ontvang het. Dit bly egter 'n kosbare voorreg.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 118:19-29Goeie môre, baie dankie dat u met ons deel wie en waar die vertaaling van die Bybel sy oorsprong gekry het, dit is so kosbaar, baie dankie vir een en elkeen wat deel is en was om hierdie kosbare woord ook vir ons in ons Taal te kon uitlê
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 110Baie dankie vir hierdie kosbaarhede wat u met ons deel. Ek het Openbaring 22 gelees en dit klink baie soos die tuin van Eden, hy praat van die boom van lewe. Die sondeval gemaak dat die mens gesondig het en dat hul nie meer in die tuin kon woon nie asgevolg van die sonde.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 109:6-19Goeie middag, ek wil ook by las dat in Psalm 139:23 bid David;"Deurgrond my, O GOD, en ken my hart, toets my en ken my gedagtes" GOD ken die mens en HY deersoek die hart en die gedagtes. Ek het self al telkens gebid, HERE vergewe hulle want hulle weet nie wat hulle doen nie en dan soos die woord sel…
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:33-38Baie dankie vir hierdie verduideliking. Ons lees die eerste keer van Baäl-Peor in Numeri 25. Baäl was die Kanaänitiese god van vrugbaarheid, terwyl Peor verwys na die berg in Moab waar hy onder andere aanbid is. Hy is ook in Kanaän aanbid en was 'n groot versoeking vir die Israeliete met hulle vesti…
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:33-38GOD is so goeie GOD. HY gee vir ons die voorskrifte vanaf Deut. 28 en dan volg HY dit ook op in Psalm 107 en sê as ons net doen wat HY ons beveel sal dit met ons goed gaan en ons geseënd wees, nie oor ons nie, maar oor GOD en wie HY is.
  • Chris van Wyk on Psalm 106:43-48Ons lees die eerste keer van Baäl-Peor in Numeri 25. Baäl was die Kanaänitiese god van vrugbaarheid, terwyl Peor verwys na die berg in Moab waar hy onder andere aanbid is. Hy is ook in Kanaän aanbid en was 'n groot versoeking vir die Israeliete met hulle vestiging in die Beloofde Land.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:1-9Psalm 1:1 Stel dit so mooi hoe ons, ons pad moet hou en dat ons moet hou en bly by GOD se gebooie
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 106:43-48Goeie naand, Psalm 106: 28 Kan u asb vir my verduidelik wat Baâlpeor is ? Baie dankie Amanda
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 106:13-33Baie dankie vir die verduideliking, dit is hoekom ek hier is om te kan leer.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 106:13-33Dit breuk ñ mens se hart dat die Isrealiete ten spyte van al die tekens en wonders hulle telkemale opstandig word en GOD met so min agting behandel, en dat selfs Abraham vir hulle in die brese tree, en hoeveel keer die volk homself ook laat sondig het. Ek kan net sê ons dien ñ genadige GOD en GOD so…
  • Chris van Wyk on Psalm 106:6-12Die verskillende vertalings - "Rietsee", "Rooi See" en "Skelfsee" – het ontstaan omdat die Hebreeuse uitdrukking יַם־סוּף (yam sûf) verskillend vertaal is. Die Hebreeuse teks in Eksodus 13:18 beteken letterlik "See van Riete" of "Skelfsee" soos die 1933-vertaling dit vertaal het (skelf = riete, 'n w…
  • Chris van Wyk on Psalm 105:37-45Baie waar, vergifnis is genesend.