Haggai 2:10-19 – God bemoedig die priesters dat Hy die volk sal reinig en seën
Op 18 Desember 520 v.C., die 24ste dag van die negende maand, die Joodse maand Kislev, kom die woord van die Here vir die derde keer na Haggai. Weereens kon hulle aandag gee aan die woorde van die profeet, want dit was die groeiseisoen waarin die boeregemeenskap nie te besig was nie.
Die fokus dié keer is op die bemoediging van die priesters. In ‘n reeks vrae oor die kwessie van die reinheid al dan nie van die offers wat die volk bring, en waarop die priesters telkens antwoord, help Haggai hulle om te besef dat dit eintlik die volk is wat deur hulle ongehoorsaamheid aan die Here onrein is. Elke offer wat die volk na die tempel toe bring, is daarom eintlik onrein, al word die voorskrifte nougeset nagekom.
Omdat die volk egter gehoorsaam was aan die woord van die Here om die bouwerk aan die tempel ‘n prioriteit te maak – die fondamente was dié dag voltooi – verklaar die Here die volk rein en hulle offers aanvaarbaar vir Hom. Hy sal die tye van droogte en pestilensies staak, omdat dit sy doel gedien het om hulle tot bekering te begelei. Daarby belowe die Here dat Hy van nou af hulle oeste sal seën – onthou dit is die groeiseisoen – en só hulle ekonomiese weerbaarheid sal herstel: “van nou af sal Ek voorspoed gee.”
View all posts in this series
- Haggai – Herstel die tempel, want Ek is by julle
- Haggai 1:1-15 – God bemoedig die leiers om die bou van die tempel ‘n prioriteit te maak
- Haggai 2:1-9 – God bemoedig almal om moed te hou, want Hy is by hulle
- Haggai 2:10-19 – God bemoedig die priesters dat Hy die volk sal reinig en seën
- Haggai 2:20-23 – God bemoedig Serubbabel dat Hy hom gekies het en sal beskerm