Sagaria – Berei julle voor op die koms van die Messias-Koning

prayer-shawlInleiding

Die profeet Sagaria was ‘n tydgenoot van Haggai. Hy spreek dieselfde twee leiers aan – Jesua die hoëpriester en Serubbabel die goewerneur – as wat Haggai gedoen het. Sagaria was benewens ‘n profeet ook ‘n priester, as kleinseun van Iddo, die hoof van een van die priesterlike families wat uit die ballingskap in 539 v.C. teruggekeer het (Neh. 12:4).

In hierdie elfde boek in die ry van die Twaalf Kleiner Profete fokus Sagaria die gedagtes van die volk op die herstel wat God sal bring, onder andere met die herbou van die tempel en die herstel van die leierskap (hfst. 1-8), maar versit ook die horison van hulle verwagting verder na die Lydende Messiaanse koningsfiguur wat sal kom om volkome verlossing te bring (hfst. 9-14). Sagaria se visie is dat God dán erken sal word as die ware koning, nie net in Jerusalem deur sy eie volk nie, maar ook deur die nasies, ‘n boodskap wat in die NT weerklank vind.

Hoofstuk 1-8

Die eerste deel van Sagaria se boek, hoofstuk 1-8, kan gedateer word tussen 520-518 v.C – die tweede en vierde regeringsjaar van die Persiese koning Darius onderskeidelik (vgl. 1:1,7; 7:1), nét na Haggai begin optree het. Sagaria roep die volk op tot gehoorsaamheid in die geloofsgemeenskap met die herbou van die tempel (soos Haggai) en ‘n heilige lewe. Hy spreek ook baie spesifiek die leierskap aan, en eis van die hoëpriester en goewerneur gehoorsaamheid in die voorbeeld wat hulle aan die volk moet stel. Die geloofsgemeenskap se gehoorsaamheid aan God sal die nasies inspireer om God se teenwoordigheid by hulle op te soek.

In die proses sien Sagaria agt visioene wat deur ‘n engel vir hom geïnterpreteer word. Volgens Douglas Stuart (“Zechariah” in How to Read the Bible Book by Book) kan ‘n mens dié agt visioene as volg interpreteer waarin visioen 4 en 5 as die kernboodskap aan die leierskap rondom die herbou van die tempel en die stad (die leiers Jesua en Serubbabel) uitstaan.

Die kernboodskap pas as volg in binne die konsentriese patroon van die res van die agt visioene.

  • Visioen 1 en 8 fokus op God se wêreldheerskappy.
  • Visioen 2 en 3 fokus op die gevare van buite.
  • Visioen 6 en 7 fokus op die gevare van binne.
  • Visioen 4 en 5 fokus op die herstel van die tempel en die stad.

‘n Mens kan die visioene dus as volg verstaan:

  • 1 – ruiters op perde wat die hele wêreld deurkruis teen die agtergrond van die tempel en die stad wat herbou word – Sag. 1:7-17,
    • 2 – vier horings wat verstrooi het en vier ambagsmanne wat kom herstel (gevare van die nasies van buite af) – Sag. 1:18-20,
      • 3 – man met ‘n maatlyn wat Jerusalem gereed maak vir herstel (gevare van die nasies van buite af) – Sag. 2:1-13,
        • 4 – Jesua die hoëpriester wat verantwoordelikheid neem vir die heiligdom en God wat versoening bring – Sag. 3:1-10,
        • 5 – lampstaander en twee olyfbome as ‘n boodskap aan Serubbabel, dat hy deur die Gees van die Here sal slaag om die tempel te herbou – Sag. 4:1-14,
      • 6 – ‘n groot vlieënde boekrol, wat vervloeking bring vir dié wat die wet verbreek (diefstal en valsheid – gevare van binne af) – Sag. 5:1-4,
    • 7 – ‘n graanmandjie met die vrou daarbinne wat die inherente goddeloosheid in mense voorstel wat deur 2 ander vroue uitgesorteer word (gevare van binne af) – Sag. 5:5-11, en
  • 8 – vier strydwaens met perde wat weereens die hele wêreld deurkruis en die bevel om Jesua te gaan kroon voorafgaan – Sag. 6:1-8.

Sagaria gebruik dus dié visioene om die Here se direkte en indirekte betrokkenheid by alles wat gebeur, te verkondig. Hy fokus op die rol van leierskap in die herbou van die tempel en die geloofsgemeenskap (visioen 4 en 5, die rol van Jesua en Serubbabel) binne die groter prentjie van God se koningskap oor die hele aarde wat die gevare van buite (nasies in visioen 2 en 3) en die gevare van binne (wetteloosheid en goddeloosheid in visioen 6 en 7) uitsorteer.

Die geloofsgemeenskap se gehoorsaamheid aan God sal die nasies inspireer om God se teenwoordigheid by hulle op te soek, soos in die laaste deel van hierdie deel met visioene uitgespel word (hfst. 7-8).

Hoofstuk 9-14

Die tweede deel, hoofstuk 9-14, is nie gedateer nie, en volg waarskynlik ‘n geruime tyd daarna, moontlik in ‘n tyd toe die voortdurende ongehoorsaamheid in die geloofsgemeenskap en die gebrekkige voorbeeld van die priesterlike en politieke leiers, die profeet oortuig het dat die verwagte volkome verlossing eers verder in die toekoms tot vervulling sal kan kom.

Hierdie deel bevat twee hoofdele, telkens ingelei met die woorde: “’n Profesie” (9:1; 12:1).

  • Die eerste – hoofstuk 9-11 – het te make met God se oordeel oor die nasies, die terugkeer van die volk uit hulle verstrooiing, God se keuse vir ‘n Messiaanse koningsfiguur wat egter verwerp word, en welwillendheid en samehorigheid (uitgebeeld met twee kieries) wat in die gedrang kom in die wêreld.
  • Die tweede – hoofstuk 12-14 – raak ook al dié temas aan, maar sien dit nog meer eskatologies, as iets wat aan die einde van alles – op “daardie dag” (12:3,4,6,8,9,11; 13:1,2,4; 14:1,4,6,7,9,13,20,21) – in vervulling sal gaan.

Die hoop lê dus vir Sagaria toenemend op hierdie toekomstige koninklike figuur uit die geslag van Dawid, wanneer Jerusalem uiteindelik die plek sal word waar die volk aan God gehoorsaam sal wees, en nasies daarheen sal stroom om die Here saam met die volk te aanbid.

Uit die NT weet ons dat die belofte van dié koninklike figuur in die Messias, Jesus die Christus, vervul is, soos Matteus 21:5 en Johannes 12:15 dit vir ons aantoon. Die profesie van Sagaria 9:9 is dus in Hom vervul: “Kyk, jou koning kom na jou toe: hy is regverdig en die oorwinnaar; hy is nederig en ry op ‘n donkie, op die hingsvul van ‘n donkiemerrie.” Die feit dat Hy ‘n Lydende Messias sou wees, word egter ook op verskuilde manier in die profesieë aangeraak.

Indeling

Ons gaan dus, in die lig van voorafgaande verduideliking, die hoofstukke as volg lees:

  • 1:1-2:13 – Sagaria se visie op God wat herstel na buite bring
  • 3:1-4:14 – Sagaria se visie op die leiers wat God se plan uitvoer
  • 5:1-6:15 – Sagaria se visie op God wat herstel na binne bring
  • 7:1-8:23 – Gehoorsaamheid aan God in die geloofsgemeenskap trek die nasies na Hom toe
  • 9:1-11:17 – Die Messiaanse Koning verenig God se mense met Hom
  • 12:1-14:21 – Die Messiaanse Koning vestig God se finale koninkryk

Die inleiding is bedoel vir die eerste dag, daarna lees ons die 14 hoofstukke in 6 dae deur voor ons met die laaste profeet Maleagi afsluit.

Sagaria


Chris van Wyk

Ek is gemeenteleraar by Somerstrand gemeente, Port Elizabeth. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am pastor at Summerstrand congregation, Port Elizabeth. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Comments (2)

  • Fransie Coetzee

    Goeie more, baie dankie Dominee van Wyk vir u Bybelstudie onderrig wat my al baie deur gelei het na visioen boodskappe wat ek ontvang en dit vir my verduidelik wa God met my spreek. Ek wil graag navraag doen oor die tye wat in die Woord vir my uiteengesit word nl:
    Die Fees van Ongesuurde Brode/Paasfees dui aan dat die spesifieke dag die 14 de dag van die eerste maand is. vandag se tyd is April wanneer die fees gevier word wat vir my uitwys April eintlik die eerste maand van die jaar is. In die Bybel boek Haggai dui daar drie spesifieke datums aan van gebeure wat wel gaan plaas vind wanneer God gaan kom en die derde temple wat gebou word.
    ( 24 ste dag van die 6de maand, 21ste dag van die 7de maand en 24ste dag van die 9de maand. Die blaas van die Rampshoring deur God uit die hemel koepel dui aan dit op die 1 ste dag van 7de maand , 10de dag van die 7de maand is dit versoenings dag).
    is die wegraping in hierdie tyd tussen 6de maand tot 9 de maand?

    Fransie Coetzee

Maak 'n opmerking

  • Chris van Wyk on Numeri 36Ja, alles het eintlik met alles te make in die Skrif. Dit onderstreep die waarde van elke enkele deel daarvan vir alle tye.
  • Chris van Wyk on Numeri 36My voorreg!
  • Ansie Lessing on Numeri 36Dankie. Ek mis die stukkies vir niks nie. Groete, Ansie
  • Chris van Zyl on Numeri 36Baie dankie vir jou bydraes, Chris, en betekenisse wat vir my soveel beter insig verskaf het. Die kruisverwysings tussen OT en NT het my laat besef dat die OT se verhale konteks verskaf vir die Jesus se oorwinning in die NT. Baie dankie, ek sien uit na Deut.
  • Chris van Wyk on JeremiaHi Petro, my bydraes oor Jeremia is net op die Internet by hierdie skakel beskikbaar.
  • Petro on JeremiaMiddag Waar kan ek net die boek Jeremia aflaai Dankie
  • Chris van Wyk on Jesaja 21-23 – God se oordeel bereik alle nasiesDie boodskap van die drie hoofstukke is dat God se oordeel werklik is en dat sy waarskuwings nie in die wind geslaan moet word nie. Dit geld ook sy volk om hulle te bekeer van hulle verkeerde weë. Hulle status as God se uitverkore volk moet nie ligtelik opgeneem word nie. Groter kennis van die waarh…
  • Marizanne Louw on Jesaja 21-23 – God se oordeel bereik alle nasiesHi ek is besig met bybelstudie..en ek kry va oggend Jesaja 21..maar ek kry nie n vers op toepassing van my nie..ek kan nie opsevasie maak nie..ook nie hoe dit op toepassing van my is nie. Kan u dalk dit vir my uiteensit?/verduidelik asb??
  • Chris van Wyk on LukasHi Susanna, Lukas skryf daarvan in Lukas 24:50-53 JESUS SE HEMELVAART (Mark 16:15,19; Hand 1:4-11) 50Daarna het Jesus hulle uit die stad gelei, tot by Betanië. Hy het sy hande opgehef en hulle geseën. 51Terwyl Hy hulle seën, het Hy van hulle af weggegaan, en is in die hemel opgeneem. 52Hulle het Hom…
  • Susanna Ellis on LukasWaar in Lukas en in Markus verskyn die woord Hemelvaart in die verse.
  • Chris van Wyk on Numeri 13Hi, daar is baie teorieë oor die Nefilîm (reuse - soos die Griekse vertaling van die Hebreeuse teks dit interpreteer). Die Joodse boek 1 Henog open die moontlikheid dat van Noag se skoondogters Nefilîm gebaar het om die voorkoms na die sondvloed te verklaar. Maar, die Bybelse weergawe is stil daaroo…
  • Jerimy on Numeri 13Baie dankie vir die Skrif en bemoeding dat ons nie 45 jaar moet wag soos Kaleb om genoeg geloof bymerkaar te skraap en sdan nie eers ons erf porsie in besit wil neem nie.Is dit nie moontlik dat Noag se seuns se vroue die Nefilîm gene gedra het nie,daarom die melding van reuse na die vloed ?
  • Chris van Wyk on Openbaring 7 – God beskerm en versorg die kerk as geloofsgemeenskapHi Rudi, ja, jy is reg, maar Dan word daar net genoem as "seun" van Jakob, maar anders as met die ander stamme, word die geslagsregister van Dan nie in die res van 1 Kronieke 1-9 gegee nie. Ek het dit nou helderder gestel: "Dit korreleer onder andere met die Kronis wat die stam van Dan ook in die ge…
  • Rudi van Tonder on Openbaring 7 – God beskerm en versorg die kerk as geloofsgemeenskapDan is in 1 Kronieke 2 vers 1?
  • Chris van Wyk on Levitikus 27Menseoffers is in verskeie antieke kulture en selfs in meer onlangse kulture beoefen. Green het sy omvattende studie van menslike offerandes in die antieke Nabye Ooste opgesom met die algemene stelling dat “menslike offerande dwarsdeur hierdie streek opgespoor kan word,” d.w.s. dwarsdeur Mesopotamië…
%d bloggers like this: