Skip to main content

Sagaria – Berei julle voor op die koms van die Messias-Koning

prayer-shawlInleiding

Die profeet Sagaria was ‘n tydgenoot van Haggai. Hy spreek dieselfde twee leiers aan – Jesua die hoëpriester en Serubbabel die goewerneur – as wat Haggai gedoen het. Sagaria was benewens ‘n profeet ook ‘n priester, as kleinseun van Iddo, die hoof van een van die priesterlike families wat uit die ballingskap in 539 v.C. teruggekeer het (Neh. 12:4).

In hierdie elfde boek in die ry van die Twaalf Kleiner Profete fokus Sagaria die gedagtes van die volk op die herstel wat God sal bring, onder andere met die herbou van die tempel en die herstel van die leierskap (hfst. 1-8), maar versit ook die horison van hulle verwagting verder na die Lydende Messiaanse koningsfiguur wat sal kom om volkome verlossing te bring (hfst. 9-14). Sagaria se visie is dat God dán erken sal word as die ware koning, nie net in Jerusalem deur sy eie volk nie, maar ook deur die nasies, ‘n boodskap wat in die NT weerklank vind.

Hoofstuk 1-8

Die eerste deel van Sagaria se boek, hoofstuk 1-8, kan gedateer word tussen 520-518 v.C – die tweede en vierde regeringsjaar van die Persiese koning Darius onderskeidelik (vgl. 1:1,7; 7:1), nét na Haggai begin optree het. Sagaria roep die volk op tot gehoorsaamheid in die geloofsgemeenskap met die herbou van die tempel (soos Haggai) en ‘n heilige lewe. Hy spreek ook baie spesifiek die leierskap aan, en eis van die hoëpriester en goewerneur gehoorsaamheid in die voorbeeld wat hulle aan die volk moet stel. Die geloofsgemeenskap se gehoorsaamheid aan God sal die nasies inspireer om God se teenwoordigheid by hulle op te soek.

In die proses sien Sagaria agt visioene wat deur ‘n engel vir hom geïnterpreteer word. Volgens Douglas Stuart (“Zechariah” in How to Read the Bible Book by Book) kan ‘n mens dié agt visioene as volg interpreteer waarin visioen 4 en 5 as die kernboodskap aan die leierskap rondom die herbou van die tempel en die stad (die leiers Jesua en Serubbabel) uitstaan.

Die kernboodskap pas as volg in binne die konsentriese patroon van die res van die agt visioene.

  • Visioen 1 en 8 fokus op God se wêreldheerskappy.
  • Visioen 2 en 3 fokus op die gevare van buite.
  • Visioen 6 en 7 fokus op die gevare van binne.
  • Visioen 4 en 5 fokus op die herstel van die tempel en die stad.

‘n Mens kan die visioene dus as volg verstaan:

  • 1 – ruiters op perde wat die hele wêreld deurkruis teen die agtergrond van die tempel en die stad wat herbou word – Sag. 1:7-17,
    • 2 – vier horings wat verstrooi het en vier ambagsmanne wat kom herstel (gevare van die nasies van buite af) – Sag. 1:18-20,
      • 3 – man met ‘n maatlyn wat Jerusalem gereed maak vir herstel (gevare van die nasies van buite af) – Sag. 2:1-13,
        • 4 – Jesua die hoëpriester wat verantwoordelikheid neem vir die heiligdom en God wat versoening bring – Sag. 3:1-10,
        • 5 – lampstaander en twee olyfbome as ‘n boodskap aan Serubbabel, dat hy deur die Gees van die Here sal slaag om die tempel te herbou – Sag. 4:1-14,
      • 6 – ‘n groot vlieënde boekrol, wat vervloeking bring vir dié wat die wet verbreek (diefstal en valsheid – gevare van binne af) – Sag. 5:1-4,
    • 7 – ‘n graanmandjie met die vrou daarbinne wat die inherente goddeloosheid in mense voorstel wat deur 2 ander vroue uitgesorteer word (gevare van binne af) – Sag. 5:5-11, en
  • 8 – vier strydwaens met perde wat weereens die hele wêreld deurkruis en die bevel om Jesua te gaan kroon voorafgaan – Sag. 6:1-8.

Sagaria gebruik dus dié visioene om die Here se direkte en indirekte betrokkenheid by alles wat gebeur, te verkondig. Hy fokus op die rol van leierskap in die herbou van die tempel en die geloofsgemeenskap (visioen 4 en 5, die rol van Jesua en Serubbabel) binne die groter prentjie van God se koningskap oor die hele aarde wat die gevare van buite (nasies in visioen 2 en 3) en die gevare van binne (wetteloosheid en goddeloosheid in visioen 6 en 7) uitsorteer.

Die geloofsgemeenskap se gehoorsaamheid aan God sal die nasies inspireer om God se teenwoordigheid by hulle op te soek, soos in die laaste deel van hierdie deel met visioene uitgespel word (hfst. 7-8).

Hoofstuk 9-14

Die tweede deel, hoofstuk 9-14, is nie gedateer nie, en volg waarskynlik ‘n geruime tyd daarna, moontlik in ‘n tyd toe die voortdurende ongehoorsaamheid in die geloofsgemeenskap en die gebrekkige voorbeeld van die priesterlike en politieke leiers, die profeet oortuig het dat die verwagte volkome verlossing eers verder in die toekoms tot vervulling sal kan kom.

Hierdie deel bevat twee hoofdele, telkens ingelei met die woorde: “’n Profesie” (9:1; 12:1).

  • Die eerste – hoofstuk 9-11 – het te make met God se oordeel oor die nasies, die terugkeer van die volk uit hulle verstrooiing, God se keuse vir ‘n Messiaanse koningsfiguur wat egter verwerp word, en welwillendheid en samehorigheid (uitgebeeld met twee kieries) wat in die gedrang kom in die wêreld.
  • Die tweede – hoofstuk 12-14 – raak ook al dié temas aan, maar sien dit nog meer eskatologies, as iets wat aan die einde van alles – op “daardie dag” (12:3,4,6,8,9,11; 13:1,2,4; 14:1,4,6,7,9,13,20,21) – in vervulling sal gaan.

Die hoop lê dus vir Sagaria toenemend op hierdie toekomstige koninklike figuur uit die geslag van Dawid, wanneer Jerusalem uiteindelik die plek sal word waar die volk aan God gehoorsaam sal wees, en nasies daarheen sal stroom om die Here saam met die volk te aanbid.

Uit die NT weet ons dat die belofte van dié koninklike figuur in die Messias, Jesus die Christus, vervul is, soos Matteus 21:5 en Johannes 12:15 dit vir ons aantoon. Die profesie van Sagaria 9:9 is dus in Hom vervul: “Kyk, jou koning kom na jou toe: hy is regverdig en die oorwinnaar; hy is nederig en ry op ‘n donkie, op die hingsvul van ‘n donkiemerrie.” Die feit dat Hy ‘n Lydende Messias sou wees, word egter ook op verskuilde manier in die profesieë aangeraak.

Indeling

Ons gaan dus, in die lig van voorafgaande verduideliking, die hoofstukke as volg lees:

  • 1:1-2:13 – Sagaria se visie op God wat herstel na buite bring
  • 3:1-4:14 – Sagaria se visie op die leiers wat God se plan uitvoer
  • 5:1-6:15 – Sagaria se visie op God wat herstel na binne bring
  • 7:1-8:23 – Gehoorsaamheid aan God in die geloofsgemeenskap trek die nasies na Hom toe
  • 9:1-11:17 – Die Messiaanse Koning verenig God se mense met Hom
  • 12:1-14:21 – Die Messiaanse Koning vestig God se finale koninkryk

Die inleiding is bedoel vir die eerste dag, daarna lees ons die 14 hoofstukke in 6 dae deur voor ons met die laaste profeet Maleagi afsluit.


Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Sagaria


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Comments

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar

  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:105-112Goeie middag, baie dankie vir die deel van die kosbare verhaal wat so gepas is met die Psalm
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:1-8Sien waarlik die nou verband tussen OT EN NT. waarlik verhelderend. אמן
  • Chris van Wyk on Psalm 118:19-29Ek gee maar net aan wat ek ontvang het. Dit bly egter 'n kosbare voorreg.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 118:19-29Goeie môre, baie dankie dat u met ons deel wie en waar die vertaaling van die Bybel sy oorsprong gekry het, dit is so kosbaar, baie dankie vir een en elkeen wat deel is en was om hierdie kosbare woord ook vir ons in ons Taal te kon uitlê
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 110Baie dankie vir hierdie kosbaarhede wat u met ons deel. Ek het Openbaring 22 gelees en dit klink baie soos die tuin van Eden, hy praat van die boom van lewe. Die sondeval gemaak dat die mens gesondig het en dat hul nie meer in die tuin kon woon nie asgevolg van die sonde.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 109:6-19Goeie middag, ek wil ook by las dat in Psalm 139:23 bid David;"Deurgrond my, O GOD, en ken my hart, toets my en ken my gedagtes" GOD ken die mens en HY deersoek die hart en die gedagtes. Ek het self al telkens gebid, HERE vergewe hulle want hulle weet nie wat hulle doen nie en dan soos die woord sel…
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:33-38Baie dankie vir hierdie verduideliking. Ons lees die eerste keer van Baäl-Peor in Numeri 25. Baäl was die Kanaänitiese god van vrugbaarheid, terwyl Peor verwys na die berg in Moab waar hy onder andere aanbid is. Hy is ook in Kanaän aanbid en was 'n groot versoeking vir die Israeliete met hulle vesti…
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:33-38GOD is so goeie GOD. HY gee vir ons die voorskrifte vanaf Deut. 28 en dan volg HY dit ook op in Psalm 107 en sê as ons net doen wat HY ons beveel sal dit met ons goed gaan en ons geseënd wees, nie oor ons nie, maar oor GOD en wie HY is.
  • Chris van Wyk on Psalm 106:43-48Ons lees die eerste keer van Baäl-Peor in Numeri 25. Baäl was die Kanaänitiese god van vrugbaarheid, terwyl Peor verwys na die berg in Moab waar hy onder andere aanbid is. Hy is ook in Kanaän aanbid en was 'n groot versoeking vir die Israeliete met hulle vestiging in die Beloofde Land.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:1-9Psalm 1:1 Stel dit so mooi hoe ons, ons pad moet hou en dat ons moet hou en bly by GOD se gebooie
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 106:43-48Goeie naand, Psalm 106: 28 Kan u asb vir my verduidelik wat Baâlpeor is ? Baie dankie Amanda
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 106:13-33Baie dankie vir die verduideliking, dit is hoekom ek hier is om te kan leer.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 106:13-33Dit breuk ñ mens se hart dat die Isrealiete ten spyte van al die tekens en wonders hulle telkemale opstandig word en GOD met so min agting behandel, en dat selfs Abraham vir hulle in die brese tree, en hoeveel keer die volk homself ook laat sondig het. Ek kan net sê ons dien ñ genadige GOD en GOD so…
  • Chris van Wyk on Psalm 106:6-12Die verskillende vertalings - "Rietsee", "Rooi See" en "Skelfsee" – het ontstaan omdat die Hebreeuse uitdrukking יַם־סוּף (yam sûf) verskillend vertaal is. Die Hebreeuse teks in Eksodus 13:18 beteken letterlik "See van Riete" of "Skelfsee" soos die 1933-vertaling dit vertaal het (skelf = riete, 'n w…
  • Chris van Wyk on Psalm 105:37-45Baie waar, vergifnis is genesend.