Haggai – Herstel die tempel, want Ek is by julle
Die tiende boek in die ry van Twaalf Kleiner Profete, Haggai, eggo daarom die boodskap van hoop in Sefanja wat vóór die ballingskap gelewer is met ‘n boodskap van bemoediging aan die volk met die herbou van die tempel ná die ballingskap. Hy bemoedig die volk dat hulle kan volhard met hulle werk, want die Here het belowe dat Hy met hulle is. Hy sal dinge laat uitwerk as hulle net naby Hom bly en aan Hom gehoorsaam bly, presies dít wat Sefanja reeds in sy hfst. 3 belowe het.
Ons weet nie veel persoonlike detail van die profeet Haggai af nie, hoewel die boek Esra na hom en Sagaria, sy tydgenoot, verwys (Esra 5:1-2; 6:14). Die datum van Haggai se optrede is egter bekend en kan presies gedateer word. Die vier profesieë van sy boek is gelewer in ‘n vier maande periode in 520 v.C., die tweede regeringsjaar van die Persiese koning Darius, as bemoediging aan die volk wat besig was om die tempel te herbou nadat hulle ongeveer 19 jaar gelede reeds teruggekeer het uit ballingskap. Hy help hulle dus om hulle prioriteite in lyn met God s’n te kry al het dit omtrent twee dekades geneem.

Onlangse kommentaar