Skip to main content

Matteus 19 – Jesus spel koninkrykswaardes vir huwelike, kinders en welvaart uit

Matteus begin met hoofstuk 19 ’n nuwe hoofdeel in sy evangelie wat handel oor die impak op die Joodse volk van die koninkryk wat in Jesus aangebreek het, in Judea (hfst. 19-20) sowel as uiteindelik in Jerusalem (hfst. 21-25).

  • Matteus vertel verhale van Jesus se interaksie met die Joodse leiers asook die dissipels wat die waardes van die koninkryk uitspel in terme van vyf aspekte: die huwelik en egskeiding (19:1-12), die status van kinders (19:13-15) die rol van rykdom in die lewe van dissipels (19:16-30), die dienende karakter van leierskap (20:20-28) en die Groot Gebod (22:34-40).  Jesus gebruik ook twee simboliese handelinge om die waardes van die koninkryk verder tuis te bring.  Hy reinig onder ander die tempel om werklik ’n huis van gebed te wees (21:12-17), en vervloek die vyeboom wat aan die eenkant die doodsheid van die Joodse leiers simboliseer en aan die anderkant die krag van geloof aan die dissipels demonstreer (21:18-22).
  • Hy troef die Joodse leiers in ’n gesprek oor sy gesag (21:23-27) en oor belasting (22:15-22).  Tussendeur kondig Jesus vir die derde keer sy kruisdood en opstanding aan vir die dissipels (20:17-19) en tree ook een keer met die Sadduseërs in gesprek oor die opstanding, iets wat hulle natuurlik per definisie ontken (22:23-33).  Daardeur bevestig Hy sy identiteit as die Christus, soos ook eksplisiet uitgespel in die vraag van Jesus – interessant genoeg! – aan die Fariseërs (22:41-46).
  • Jesus vertel ook vier gelykenisse wat die deelnemers aan die koninkryk uitspel in terme van wie eerste is en wie laaste (20:1-16), wie werklik die wil van God die Vader doen (21:28-32) en uiteindelik die bose bedoelings van die Joodse leiers aan die kaak stel met die gelykenis van die huurders en die wingerd (21:33-46) en dat hulle die koninkryk verbeur met die gelykenis van die bruilofsfees (22:1-14).
  • Matteus vertel ook een genesingsverhaal, die genesing van twee blindes, wat simbolies net voor die Intog in Jerusalem geplaas is en ironiese kommentaar is op Jerusalem wat blind is vir die Koning wat die stad binnegaan, selfs al kan hulle Hom eien as: “die profeet Jesus van Nasaret in Galilea”.

Die verhale, simboliese handelinge, gelykenisse, gesprekke en die laaste genesingsverhaal word opgevolg met die vyfde en laaste toespraak van Jesus, dié keer ’n profetiese rede, in verband met die verdere koms van die koninkryk – hfst. 23-25.

  • Dit sluit ’n verdoemende veroordeling van die skrifkenners en Fariseërs se skynheiligheid in (23:1-12) en sewe oordele oor hulle omdat hulle mense van die koninkryk uitsluit met hulle skynheiligheid (23:13-36) asook ’n veroordeling van Jerusalem wat God se genade versmaai het (23:37-39) en tot die vernietiging van die tempel sal lei (24:1-2).
  • Jesus vervolg deur sy dissipels te help om die eise van die eindtyd te verstaan, iets wat nou al ’n aanvang neem (24:3-14) en die groot verdrukking in hulle tyd, sowel as aan die einde van alle tyd, sal insluit (24:15-28 – die profetiese rede het hier ’n dubbele betekenis) waarna die Seun van die Mens weer sal kom op die wolke en die uitverkorenes sal versamel ( 24:29-31).
  • Hy skerp sy boodskap in met ’n appèl aan die dissipels aan die hand van die les van die vyeboom (24:32-35) wat hulle moet leer om waaksaam te wees (24:36-44) en tot getrouheid moet aanspoor (24:45-51).
  • Jesus sluit sy toespraak oor die koms van die koninkryk af met drie uitnemende gelykenisse wat die dissipels aanspoor tot waaksaamheid (gelykenis van die tien meisies – 25:1-13), getrouheid (gelykenis van die muntstukke – 25:14-30) en barmhartigheid (gelykenis van die skape en die bokke – 25:31-46).

Continue reading

Matteus 20 – Jesus spel koninkrykswaardes vir leiers en die geloofsgemeenskap uit

In hierdie hoofstuk vind ons die volgende vier perikope:

  • Jesus vertel die eerste van vier gelykenisse – die gelykenis van die arbeiders wat op verskillende tye gehuur is – wat die deelnemers aan die koninkryk uitspel. Hier spel Hy die deelnemers uit in terme van wie eerste is en wie laaste – 20:1-16.
  • Jesus kondig die derde en laaste keer sy lyding, kruisdood en opstanding aan vir die dissipels, waardeur Hy sy identiteit as die lydende Seun van die Mens bevestig.  Hy is nie die triomfantelike Messias wat die Jode verwag het nie – 20:17-19.
  • Jesus brei verder uit oor die waardes wat in die koninkryk geld, deur klem te lê op die dienende karakter van leierskap in antwoord op die vraag van die twee seuns van Sebedeus, die twee dissipels, Jakobus en Johannes – 20:20-28.
  • Jesus genees twee blindes langs die pad van Jerigo af wat Hom as die Here, die Seun van Dawid (h)erken – 20:29-34Die genesingsverhaal word simbolies net voor die Intog in Jerusalem geplaas as ironiese kommentaar op Jerusalem wat blind is vir die Koning wat die stad binnegaan, selfs al kan die Jode die verband lê tussen Jesus as die “Seun van Dawid” en Jesus as: “die profeet van Nasaret in Galilea”, soos ons in hfst. 21 gaan lees.   Die insig keer hulle egter nie om Hom ‘n kruisdood te laat sterwe nie.

Continue reading

Matteus 21 – Jesus het ’n groot impak op Jerusalem en die Joodse leiers

Jesus arriveer uiteindelik in Jerusalem vir die volvoering van sy roeping – sy lyding, kruisdood en opstanding – soos Hy nou al drie maal duidelik aan die dissipels gekommunikeer het.

Hoofstuk 21 fokus op:

  • die impak van Jesus se Intog in Jerusalem op die stad en sy mense (21:1-11);
  • die impak van Jesus op die tempel en die kultus deur Jesus se reiniging van die tempel (21:12-17);
  • die simboliese vervloeking van die vyeboom deur Jesus (21:18-22) as inleiding tot sy gesprek met die Joodse leiers wat handel oor drie wesenlike sake:
    • Jesus se gesag (21:23-27);
    • Die noodsaak van gehoorsaamheid aan die hand van die gelykenis van die twee kinders  (21:28-32);
    • Die noodsaak van geloof om die koninkryk te beërwe na aanleiding van die gelykenis van die huurders en die wingerd (21:33-46).

Die implikasies hiervan kan nie misgekyk word nie, soos die leierpriesters en die Fariseërs uiteindelik te kenne gee dat hulle dit begin besef.  Dit is, dat God die koninkryk van hulle sal wegneem en sal gee aan dié wat in Hom glo.   Die Jode maak die fout, sê Jesus, om te dink dat hulle Hom uit die weg kan ruim deur Hom dood te maak.  Maar wat eerder sal gebeur, verklaar Jesus, is dat hulle verpletter sal word, juis op dié klip wat hulle, die bouers, as hoeksteen vir God se gebou afgekeur het.  Hoe tragies.

Continue reading

Matteus 22 – Jesus is te uitgeslape vir die onbetroubare Fariseërs

Jesus vervolg sy gesprek met die Fariseërs met ’n derde gelykenis oor die reaksie van genooide gaste na ’n bruilofsfees met die implisiete betekenis dat die Fariseërs optree soos die eerste genooides wat die uitnodiging geweier het (22:1-14).  Daarmee onderstreep Jesus finaal hulle onbetroubaarheid.  Die gelykenis word opgevolg met drie vrae wat die Fariseërs in reaksie daarop aan Jesus vra: oor belasting aan die keiser (22:15-22), oor die opstanding van die dooies (22:23-33) en die groot gebod in die wet (22:34-40).  Dit is almal vrae wat Hom polities, godsdienstig en eties probeer vastrek, hoewel Jesus net te uitgeslape is vir hulle met sy deeglike praktiese antwoorde.  Jesus sluit sy wedersydse gesprek met hulle af met ’n eie vraag wat Hy aan hulle rig oor Sy identiteit  waarop hulle geen antwoord gehad het nie (22:41-46).  In hoofstuk 23 sal Hy ’n omvattende oordeel oor hulle uitspreek.

Continue reading

Matteus 23:1 – 24:2 – Jesus veroordeel die skynheiligheid van die skrifkenners en Fariseërs

Die verhale, simboliese handelinge, gelykenisse, gesprekke en die laaste genesingsverhaal van hoofstuk 19-22 word opgevolg met die vyfde en laaste toespraak van Jesus, dié keer ’n profetiese rede, in verband met die verdere koms van die koninkryk – hfst. 23-25.

Dit sluit ’n verdoemende veroordeling van die skrifkenners en Fariseërs se skynheiligheid in (23:1-12), sewe oordele oor hulle omdat hulle mense van die koninkryk uitsluit met hulle skynheiligheid (23:13-36) asook ’n veroordeling van Jerusalem wat God se genade versmaai het (23:37-39) en tot die vernietiging van die tempel sal lei (24:1-2).

Continue reading

Onlangse kommentaar

  • sparklybc467b2e69 on Josef-hulle vlug van Betlehem na EgipteGoeie môre, baie dankie, ja dit maak sin, want dit is hoekom Dawid ñ man na GOD se hart was, hy was ook elke keer gehoorsaam aan GOD. Daar is egter iets wat my so diep geraak het, terwyl ek u opmerkings lees, JESUS die seun van GOD het geen rykdom of enige voortrekkery ontvang nie, HY was regtig so…
  • originalblizzard19aaa84c56 on Josef-hulle vlug van Betlehem na EgipteTans so gepas in my vrou en my se lewe. Moet noukeurig let op die detail van die Heer se leiding. Kan nie wag om die volgende stappe te volg nie. Dankie.
  • Philip Vermaak on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Wat my weer getref het is God se liefde vir alle mense en Dawid se nederige houding as hy tot God roep en hom met alles aan God "oorgee" En- wat ons het is aan ons deur God geskenk en wat ons is is slegs Genade Baie dankie
  • originalblizzard19aaa84c56 on Sterrekundiges besoek Jesus in die huis in Betlehem MATTEUS 2:1-12Prys die Here vir sy Heilige Woord en Gees.
  • sparklybc467b2e69 on ‘n Engel van die Here oortuig Josef dat Maria se Kind van die Heilige Gees is MATTEUS 1:18-25Dit is vir my opsig self so groot bewys van GOD se grootheid, Sy Heilige Gees wat Maria bevrug. Ek het altyd gedink dat Maria baie besonders was onder die vroue, maar as ñ mens lees van Josef en sy karakter, was hulle albei uitverkies as JESUS, GOD se seun.
  • originalblizzard19aaa84c56 on Jesus se geslagsregister in Matteus verbind Hom aan Abraham, Dawid en die volk na die ballingskap MATTEUS 1:1-17Matteus. Amazing, om my te verwonder aan die Heilige Skrif. Dankie vir navorsing.
  • Chris van Wyk on Psalm 150Hi, jy sal steeds die Matteus bydraes kry as jy ingeteken is. Die skakel is daar vir nuwe mense. Die opmerkings moet eers goedgekeur word deur my, vandaar die verposing. Hoop jy het steeds Matteus gekry?
  • perfectly57edc75df4 on Psalm 150Naand Chris. Ek dink daar is iets met die website verkeerd. Psalms was op Bybelskool beskikbaar, maar vir Mattteus vra dit jou om weer in te teken op Bybelskool. Ek is op Bybelskool. Dan stuur die opmerkings ook nie elke keer nie. Die inskrywing vir Matteus vat jou na 'n snaakse vorm. Is dit reg so,…
  • Doreen Snyders on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Baie baie dankie vir die Psalms. Dit was só insiggewend en het baie gehelp om om die Skrif te bid. Nogmaals dankie. Ek sien baie uit na Matteus. Doreen Snyders
  • johannes buhrmann on Psalm 150Die God aan wie die Psalm digters hul lof en dankbaarheid betuig het , en teenoor wie hulle hul klagtes en swaarkry en onsekerhede kon bekendmaak is dieselfde God teenoor wie gelowiges hulle in die huidige tydsgewrig gewrig hul kan wend om geloof en lewensrigting te verkry Dankie
  • originalblizzard19aaa84c56 on Inleiding'n Mondvol oor Matteus. Sien uit na die reis. Dankie
  • Francois Du Toit on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Dit was n wonderlike reis deur die psalms, teen n pas wat genoeg tyd vir nadenke toegelaat het. En die diep nuanses vd Onse Vader laat deurskemer het. Baie dankie vd leiding en verklari gs.
  • Hannes. on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Middag Dr. Chris, Baie dankie vir ‘n insiggewende reis deur Psalms. Dit het beslis gehelp om my persoonlike gebedslewe te verbeter, en ek glo sterk dat elke gebed beslis my verhouding met die Here verdiep op ‘n manier waar ek tans baie meer pligsgetrou is teenoor my persoonlike stiltetyd en gesprekk…
  • Kobus on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Dit was vir my 'n wonderlike ervaring, ek kyk met 'n ander insig nou na die Psalms
  • Chris van Zyl on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Bid die Psalms het vir my baie beter insig verskaf, veral die kontektualisering en verklarings wat elke gedeelte belig het. Ek is so dankbaar dat ek kon deel in hierdie bid-gerigte ervaring. Menige dag het ek gevoel dat die Psalm van die dag spesiaal vir my bedoel was. Dankie Chris van Wyk vir hierd…