Matteus 14 – Jesus is die Seun van God wat voorsien en genees
Matteus begin met dié hoofstuk ’n nuwe aksent in sy evangelie wat ’n mens kan tipeer as die gemeenskap van die koninkryk – hfst. 14-18.
Uiteraard het dit steeds met teenstand te make, soos dit die geval was met die verhale van gemengde ontvangs in hfst. 11-13. Johannes die Doper verloor sy lewe (14:1-12), die Fariseërs vat Jesus skerp aan oor sy interpretasie van die wet (15:1-20), die Fariseërs en die Sadduseërs vra weer vir ’n teken (16:1-4) waarna Jesus die dissipels waarsku teen hulle invloed (16:5-12).
Dit vorm die agtergrond vir die feit dat Jesus begin om al hoe duideliker te praat oor sy komende kruisdood (16:21-23; 17:22-23), wat ook as ’n metafoor dien vir die wyse waarop hulle Hom moet volg (16:24-28). Die hoopvolle is dat Hy ook tegelykertyd van sy opstanding begin praat (16:21; 17:9,23).
Maar die gedeelte sluit ook ’n aantal wonderlike getuienisse van die wonder van sy teenwoordigheid in wat telkens met die verhale van teenstand en lyding verweef is. Ons lees van die twee broodwonders (14:13-21; 15:32-39), Jesus en Petrus wat op die water loop (14:22-33), talle mense wat genees word (14:34-36; 15:29-31; 17:14-20), die uitnemende geloof van die Kanaänitiese vrou (15:21-28), Petrus wat die eerste van die dissipels word wat Jesus as die Christus, die Seun van God bely (16:13-20), Jesus se verheerliking op die berg (17:1-13) en sy wondervoorsiening vir die tempelbelasting wat hulle verskuldig is (17:24-27).
Matteus fokus nou ook op die gemeenskap wat Jesus in die proses skep onder sy mense, ’n gemeenskap wat ’n uiters belangrike ruimte gaan vorm om die teenstand van die wêreld te hanteer. Daarom word dié deel afgesluit met die vierde langer toespraak van Jesus wat spesifiek handel oor verhoudinge binne die kerk, die sogenaamde kerkrede, hfst. 18. Daarin praat Jesus oor hoe die gemeenskap van gelowiges die verhoudinge met mekaar, binne die kerk wat begin tot stand kom, moet hanteer. Dit handel onder andere oor die regte gesindhede (18:1-5), die vermyding van struikelblokke (18:6-9), die uitreik na afgedwaaldes (18:10-16), die opdrag tot onderlinge teregwysing (18:18-20) en tegelykertyd die opdrag tot oorvloedige vergifnis wat in die vorm van ’n gelykenis oorgedra word (18:21-35).
Onlangse kommentaar