Hierdie gedeelte van Matteus – wat ’n mens kan tipeer as die weerspieëling van die gemengde ontvangs wat Jesus onder die Joodse volk gehad het, hfst. 11-13 – word nou afgesluit met die derde toespraak van Jesus, die sogenaamde koninkryksrede van hoofstuk 13.
Dit bestaan uit ’n reeks van agt gelykenisse, ingelei deur die toonaangewende gelykenis van die grond, waarskynlik beter bekend as die gelykenis van die Saaier (of die saad). As jy dit egter wil tipeer in terme van die funksie van die gelykenis, dat dit op die ontvangs van die koninkryk fokus, is dit beter om dit die gelykenis van die grond te noem. Dit maak veral sin omdat die res van die gelykenisse in die hoofstuk almal ’n kant van die koms en ontvangs van die koninkryk beklemtoon, met die een oor die onkruid tussen die koring wat ook besonder prominent is, en ook apart aan die dissipels verklaar word.
Dit is ook belangrik om die volgende in ag te neem in jou interpretasie van gelykenisse. Gelykenisse word deur baie geleerdes beskou as ’n verhaal wat net een punt wil maak wat ’n mens deur goeie eksegese en goeie kennis van die wêreld waarvoor dit geskep is, kan agterkom. Dié manier van lees, word egter toenemend bevraagteken in studies oor metafore en die teorieë oor die betekenis wat lesers aan ’n teks gee. Dit beteken dat ’n mens met reg die veelvlakkige betekenis van die onderskeie gelykenisse kan ontgin, om só ’n ryk en gevarieerde boodskap daaruit te put. Die gelykenisse interpreteer immers ook vir ons, nie net ons die gelykenisse nie. Dit is ’n lewende woord aan ons wat deur God se Gees gebruik word om met ons te praat.
Net so is daar baie pogings al aangewend om die onderliggende struktuur van die rangskikking van die gelykenisse in hierdie hoofstuk te beskryf. Hoewel die idee – dat die gelykenis van die saad die toon aangee – redelike steun geniet (met die ander gelykenisse wat dan verdere perspektiewe daarop verleen) is daar nóg ’n belangriker indeling wat ’n mens help om die hoofstuk te verstaan.
JESUS ONTMAGTIG DIE SKARE MET GELYKENISSE: Jesus is in die eerste helfte van die hoofstuk, vers 1-36, meesal met die skare langs die see op die strand besig (vgl. 13:2,34). Soms het Hy, waarskynlik terwyl die skare nog daar was, net met die dissipels gepraat, toe hulle nader gekom het aan Hom, om sy dieper verklaring te hoor (13:10-23). Maar in die breë is Hy met die skare besig. In totaal het hy dus vier gelykenisse hier met die skare gedeel sonder verdere verduidelikings aan hulle – die gelykenis van die grond, die onkruid tussen die koring, die mosterdsaad en die suurdeeg. “Sonder gelykenisse het Hy hulle niks vertel nie,” sê Matteus, sodat die Skrif vervul sou word uit Ps. 78:2, hoewel die gelykenisse aan die skare op ’n negatiewe aanwending van die Psalm dui.
JESUS BEMAGTIG DIE DISSIPELS MET GELYKENISSE: In die res van die hoofstuk, vers 36-53, is Jesus net met die dissipels binne die huis besig, nadat die skare weggestuur is (13:36). Hy verklaar die gelykenis van die onkruid tussen die koring en gebruik nog vier gelykenisse – die gelykenis van die skat, die pêrel, die treknet en die skrifkenner met nuwe en ou skatte. Die laaste een kan ook net ’n beskrywende opmerking wees, maar het met die tema van die koninkryk te make en word dus as gelykenis interpreteer.
Dit bevestig ook die veelvlakkige betekenis van die gelykenisse.
Die laaste perikoop van die hoofstuk handel oor die verwerping in Nasaret wat nie deel van die koninkryksrede vorm nie.
Onlangse kommentaar