Skip to main content

Matteus 9 – Jesus vergewe, genees en roep sondaars as gestuurdes

Hoofstuk nege gee vir ons ’n verdere vyf wonderwerke van Jesus weer wat ingevleg word saam met drie bydraes van Jesus oor dissipelskap, waarvan die laaste een die groot uitsending van die twaalf, waarvan ons in hoofstuk 10 gaan lees, inlei.

Continue reading

Matteus 10 – Jesus motiveer en rus die twaalf dissipels toe om Sy bediening voort te sit

Matteus sluit hierdie gedeelte oor die krag en missie van die koninkryk af met die tweede belangrike toespraak van Jesus, die uitsendingsrede, wat onderrig aan die dissipels gee vir die taak waarvoor Jesus hulle uitstuur.  Dit gee sewe perspektiewe wat die dissipels vir hulle taak moet motiveer en versterk, ten spyte van die werklikheid van vervolginge, uitdagings, verdeeldheid. 

Continue reading

Matteus 11 – Kom na My toe en Ek sal julle rus gee

Matteus fokus vervolgens in hoofstuk 11-13 op die gemengde ontvangs van die koninkryk.  Hoofstuk 11 fokus op die teenstand van die Joodse volk wat manifesteer in die aanstoot wat hulle neem aan Jesus se bediening aan tollenaars en sondaars (11:2-19), sowel as in die feit dat die stede nie tot bekering kom nie ten spyte van die kragtige dade wat Jesus daar gedoen het (11:20-24).  In skerp kontras met hulle kan die Here Jesus sy Vader loof vir “kindertjies” wat God ontvanklik vir die boodskap van die koninkryk gemaak het.  Vir almal bied Jesus in elk geval rus vir hulle gemoed aan in ’n persoonlike verhouding met Hom (11:25-30).

’n Soortgelyke patroon word in hoofstuk 12 gevind, waar die teenstand meer met die Fariseërs verbind word.  Die reeks van drie hoofstukke eindig met die volgende rede van Jesus, die sogenaamde koninkryksrede, in hoofstuk 13.  Dit bestaan uit ’n reeks van sewe/agt gelykenisse, ingelei deur die gelykenis van die Saaier/saad.  Die gelykenisse beklemtoon almal ’n kant van die koms en ontvangs van die koninkryk.

Continue reading

Matteus 12 – Die Fariseërs neem aanstoot aan Jesus as die Groot Geneesheer

Dieselfde gemengde ontvangs van die koninkryk word in hoofstuk 12 vertel, maar die teenstand word meer met die Fariseërs verbind.  Die Fariseërs bevraagteken onder andere die wyse waarop Jesus-hulle die Sabbat hou (12:1-8), dat Hy iemand op die Sabbat genees (12:9-14), en dat Hy ’n blinde, stom demoon-besetene genees (12:22-32).  Hulle idee van geregtigheid en Syne verskil dus dramaties.  Hulle begin daarom planne beraam om Hom om die lewe te bring.

Hierdie groeiende teenstand, veral die feit dat hulle sy dood begin beplan, laat Jesus skerp reageer op hulle boosheid met ’n duidelike boodskap dat hulle rekenskap sal moet gee (12:33-37) en dat hulle uiteinde slegter sal wees as die begin (12:43-45).  Ironies genoeg is Jesus wel bereid om vir hulle een teken te gee, toe die skrifkenners en Fariseërs dit van Hom vra.  Maar, dit is die teken van sy kruisdood, presies dit wat hulle ten kwade beplan, maar wat die hoogtepunt van sy bediening sal wees, die verlossing van die mensdom (12:38-42).

Daarteenoor staan die dissipels in skerp kontras, mense wat sy woorde en bediening met oop arms ontvang en Hom in alles navolg, hoewel sy moeder en broers steeds bekommerd is oor Hom (12:46-50).  Hy is immers die vervulling van die OT verwagting, soos Matteus vir die soveelste keer uit die OT aanhaal, hierdie keer uit  Jes. 42:1-4, met die boodskap dat Hy die Groot Geneesheer is (12:15-21).  Sommige verstaan dit en omhels Hom.  Ander weier om dit raak te sien en staan Hom teë.

Continue reading

Matteus 13 – Jesus ontmagtig die skare en bemagtig die dissipels met gelykenisse

Hierdie gedeelte van Matteus – wat ’n mens kan tipeer as die weerspieëling van die gemengde ontvangs wat Jesus onder die Joodse volk gehad het, hfst. 11-13 – word nou afgesluit met die derde toespraak van Jesus, die sogenaamde koninkryksrede van hoofstuk 13.

Dit bestaan uit ’n reeks van agt gelykenisse, ingelei deur die toonaangewende gelykenis van die grond, waarskynlik beter bekend as die gelykenis van die Saaier (of die saad).  As jy dit egter wil tipeer in terme van die funksie van die gelykenis, dat dit op die ontvangs van die koninkryk fokus, is dit beter om dit die gelykenis van die grond te noem.  Dit maak veral sin omdat die res van die gelykenisse in die hoofstuk almal ’n kant van die koms en ontvangs van die koninkryk beklemtoon, met die een oor die onkruid tussen die koring wat ook besonder prominent is, en ook apart aan die dissipels verklaar word.

Dit is ook belangrik om die volgende in ag te neem in jou interpretasie van gelykenisse.  Gelykenisse word deur baie geleerdes beskou as ’n verhaal wat net een punt wil maak wat ’n mens deur goeie eksegese en goeie kennis van die wêreld waarvoor dit geskep is, kan agterkom.  Dié manier van lees, word egter toenemend bevraagteken in studies oor metafore en die teorieë oor die betekenis wat lesers aan ’n teks gee.  Dit beteken dat ’n mens met reg die veelvlakkige betekenis van die onderskeie gelykenisse kan ontgin, om só ’n ryk en gevarieerde boodskap daaruit te put.  Die gelykenisse interpreteer immers ook vir ons, nie net ons die gelykenisse nie.  Dit is ’n lewende woord aan ons wat deur God se Gees gebruik word om met ons te praat.

Net so is daar baie pogings al aangewend om die onderliggende struktuur van die rangskikking van die gelykenisse in hierdie hoofstuk te beskryf.  Hoewel die idee – dat die gelykenis van die saad die toon aangee – redelike steun geniet (met die ander gelykenisse wat dan verdere perspektiewe daarop verleen) is daar nóg ’n belangriker indeling wat ’n mens help om die hoofstuk te verstaan.

JESUS ONTMAGTIG DIE SKARE MET GELYKENISSE: Jesus is in die eerste helfte van die hoofstuk, vers 1-36, meesal met die skare langs die see op die strand besig (vgl. 13:2,34).  Soms het Hy, waarskynlik terwyl die skare nog daar was, net met die dissipels gepraat, toe hulle nader gekom het aan Hom, om sy dieper verklaring te hoor (13:10-23).  Maar in die breë is Hy met die skare besig.  In totaal het hy dus vier gelykenisse hier met die skare gedeel sonder verdere verduidelikings aan hulle – die gelykenis van die grond, die onkruid tussen die koring, die mosterdsaad en die suurdeeg.  “Sonder gelykenisse het Hy hulle niks vertel nie,” sê Matteus, sodat die Skrif vervul sou word uit Ps. 78:2, hoewel die gelykenisse aan die skare op ’n negatiewe aanwending van die Psalm dui.

JESUS BEMAGTIG DIE DISSIPELS MET GELYKENISSE: In die res van die hoofstuk, vers 36-53, is Jesus net met die dissipels binne die huis besig, nadat die skare weggestuur is (13:36).  Hy verklaar die gelykenis van die onkruid tussen die koring en gebruik nog vier gelykenisse – die gelykenis van die skat, die pêrel, die treknet en die skrifkenner met nuwe en ou skatte.  Die laaste een kan ook net ’n beskrywende opmerking wees, maar het met die tema van die koninkryk te make en word dus as gelykenis interpreteer.

Dit bevestig ook die veelvlakkige betekenis van die gelykenisse.

Die laaste perikoop van die hoofstuk handel oor die verwerping in Nasaret wat nie deel van die koninkryksrede vorm nie.

Continue reading

Onlangse kommentaar

  • originalblizzard19aaa84c56 on Josef-hulle vlug van Betlehem na EgipteTans so gepas in my vrou en my se lewe. Moet noukeurig let op die detail van die Heer se leiding. Kan nie wag om die volgende stappe te volg nie. Dankie.
  • Philip Vermaak on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Wat my weer getref het is God se liefde vir alle mense en Dawid se nederige houding as hy tot God roep en hom met alles aan God "oorgee" En- wat ons het is aan ons deur God geskenk en wat ons is is slegs Genade Baie dankie
  • originalblizzard19aaa84c56 on Sterrekundiges besoek Jesus in die huis in Betlehem MATTEUS 2:1-12Prys die Here vir sy Heilige Woord en Gees.
  • sparklybc467b2e69 on ‘n Engel van die Here oortuig Josef dat Maria se Kind van die Heilige Gees is MATTEUS 1:18-25Dit is vir my opsig self so groot bewys van GOD se grootheid, Sy Heilige Gees wat Maria bevrug. Ek het altyd gedink dat Maria baie besonders was onder die vroue, maar as ñ mens lees van Josef en sy karakter, was hulle albei uitverkies as JESUS, GOD se seun.
  • originalblizzard19aaa84c56 on Jesus se geslagsregister in Matteus verbind Hom aan Abraham, Dawid en die volk na die ballingskap MATTEUS 1:1-17Matteus. Amazing, om my te verwonder aan die Heilige Skrif. Dankie vir navorsing.
  • Chris van Wyk on Psalm 150Hi, jy sal steeds die Matteus bydraes kry as jy ingeteken is. Die skakel is daar vir nuwe mense. Die opmerkings moet eers goedgekeur word deur my, vandaar die verposing. Hoop jy het steeds Matteus gekry?
  • perfectly57edc75df4 on Psalm 150Naand Chris. Ek dink daar is iets met die website verkeerd. Psalms was op Bybelskool beskikbaar, maar vir Mattteus vra dit jou om weer in te teken op Bybelskool. Ek is op Bybelskool. Dan stuur die opmerkings ook nie elke keer nie. Die inskrywing vir Matteus vat jou na 'n snaakse vorm. Is dit reg so,…
  • Doreen Snyders on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Baie baie dankie vir die Psalms. Dit was só insiggewend en het baie gehelp om om die Skrif te bid. Nogmaals dankie. Ek sien baie uit na Matteus. Doreen Snyders
  • johannes buhrmann on Psalm 150Die God aan wie die Psalm digters hul lof en dankbaarheid betuig het , en teenoor wie hulle hul klagtes en swaarkry en onsekerhede kon bekendmaak is dieselfde God teenoor wie gelowiges hulle in die huidige tydsgewrig gewrig hul kan wend om geloof en lewensrigting te verkry Dankie
  • originalblizzard19aaa84c56 on Inleiding'n Mondvol oor Matteus. Sien uit na die reis. Dankie
  • Francois Du Toit on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Dit was n wonderlike reis deur die psalms, teen n pas wat genoeg tyd vir nadenke toegelaat het. En die diep nuanses vd Onse Vader laat deurskemer het. Baie dankie vd leiding en verklari gs.
  • Hannes. on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Middag Dr. Chris, Baie dankie vir ‘n insiggewende reis deur Psalms. Dit het beslis gehelp om my persoonlike gebedslewe te verbeter, en ek glo sterk dat elke gebed beslis my verhouding met die Here verdiep op ‘n manier waar ek tans baie meer pligsgetrou is teenoor my persoonlike stiltetyd en gesprekk…
  • Kobus on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Dit was vir my 'n wonderlike ervaring, ek kyk met 'n ander insig nou na die Psalms
  • Chris van Zyl on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Bid die Psalms het vir my baie beter insig verskaf, veral die kontektualisering en verklarings wat elke gedeelte belig het. Ek is so dankbaar dat ek kon deel in hierdie bid-gerigte ervaring. Menige dag het ek gevoel dat die Psalm van die dag spesiaal vir my bedoel was. Dankie Chris van Wyk vir hierd…
  • Chris van Wyk on Psalm 137Dit is my voorreg. Groete!