Jeremia 25 – Die ballingskap sal sewentig jaar duur
Jeremia 25 volg nie kronologies in datum volgorde op hoofstuk 24 nie, trouens die gebeure vind ongeveer so ses jaar vantevore plaas, d.w.s. 605 v.C., in die 4de regeringsjaar van Jojakim (609 v.C. – 598 v.C.). Nebukadnesar het Egipte in daardie jaar oorwin by Karkemis en die Galdeërs as die volgende wêreldmag gevestig. Die boodskap van Jeremia 25 pas egter in die algemene prentjie van die profeet se boodskap aan die volk oor die ballingskap wat toe al ten dele begin aanbreek het (onthou dat Daniël al die vorige jaar weggevoer is na Babel [Dan. 1:1-2]), en hoe met die finale fase daarvan gehandel moet word.
In hierdie hoofstuk sien ons hoe Jeremia sy oordeel oor die volk verskerp en aankondig dat die Here Nebukadnesar sal gebruik om hulle vir ’n tydperk van sewentig jaar in ballingskap na Babel te neem. Daniël se wegvoering is net die begin van die oordeel (25:1-12). Daarna vervolg hy met ’n oordeel teen Babel 25:13-14), en verskillende oordele oor die nasies (25:15-38).
25:1-12 – Die ballingskap sal sewentig jaar duur
Jeremia gee ons hier ’n duidelike aanduiding van die lengte van sy bediening. Hy tree sedert die 13de jaar van koning Josia al vir 23 jaar op, d.w.s. sedert 627 v.C. Reg deur dié bediening het hy die woord van die Here aan die volk gebring, maar sonder sukses.
Nou rig hy ’n woord wat in ag neem dat hulle nie geluister en hulle bekeer het nie, selfs al het die Here “vroeg en laat” met hulle gepraat: “Julle het nie eers probeer luister nie.” Hulle het nou ‘n ramp oor hulleself gebring met die dien van ander gode, wie se aanhangers hulle nou sal uitroei en hulle land, dié land wat die Here eintlik vir altyd vir hulle gegee het, ’n puinhoop sal maak.
Dié oordeel, sê die Here, sal al die nasies van die omgewing op soortgelyke wyse tref. Hulle sal almal saam die koning van Babel se onderdane wees.
25:13-14 – Die oordeel oor Babel
Die ingebore sin vir reg en geregtigheid wat in ons almal is, word bevredig deur God se gelykluidende oordeel teen juis dié nasie wat hulle weggevoer het, Babel, dat hulle op soortgelyke wyse as sy volk verwoes sal word, ook vir dieselfde redes, die dien van afgode en hulle wandade teen ander nasies.
25:15-38 – Die oordeel oor die nasies
Die volgende gedeelte laat die hoop verder opvlam dat die oordeelsbeker – simbolies gevul met die wyn van God se toorn – ná die ballingskap onder die ander nasies, die nasies self sal laat waggel en slinger, as die Here weer die lot van Juda na sewentig jaar verander.
Jeremia sluit ’n hele paar van die omringende nasies, selfs ook nog Juda en Jerusalem ook, in sy simboliese handeling in. Dan gaan hy egter verder en sluit eintlik die hele bekende wêreld van daardie tyd in. Die plekke wat genoem word, is:
- Juda en Jerusalem,
- Egipte,
- Us (Job se land, waarskynlik êrens in Arabië),
- die Filistynse stede aan die kus van die Middellandse See: Askelon, Gasa, Ekron, en wat van Asdod oorgebly het (2 Kron. 26:6 word van die afbreek van sy mure gepraat),
- Edom (Esau se nageslag se landgebied oor van Israel),
- Moab en die Ammoniete (Lot se nageslag ook oos van Israel),
- Tirus en Sidon (Feniciërs, waar Lebanon vandag is, noord van Israel),
- Dedan (Noord-Arabië), Tema (tussen Damaskus en Mekka), Bus (Arabië),
- almal wat hulle koppe aan die kante kaal skeer (’n Kanaänitiese gebruik om die hare voor die ore en die wangbaard te knip wat in die wet verbied is – vgl. Lev. 19:27 en Lev. 21:5 wat spesifiek op priesters van toepassing was),
- al die konings van Arabië, en die Bedoeïene van die woestyn,
- die konings van Simri (moontlik Suid-Mesopotamië), Elam (in Mesopotamië naby die Tigris) en Medië (wat saam met die Perse die volgende wêreldmag sou word ná die Galdeërs – hedendaagse noord-Iran).
Trouens “al die koninkryke wat oor die hele aarde versprei is”.
Heel laaste sê die Here, moet die koning van Sesak (akroniem vir Babel – die laaste letter van die alfabet vervang die eerste letter, die voorlaaste letter vervang die tweede letter en so aan – vgl. ook Jer. 51:41) die beker drink.
Daarmee bevestig die Here sy heerskappy oor die hele aarde en al die nasies. Niemand is daarby uitgesluit nie. Die boodskap van die simboliese handeling aan die nasies is die volgende:
God laat oorlog teen hulle los, want wat Sý mense oor hulle ongehoorsaamheid tref, sal verseker ook die nasies tref: “Wil julle los uitstap, sonder om gestraf te word? Nee Ek het die oorlog teen al die bewoners van die aarde ingeroep, sê die Here die Almagtige.” Dit is asof oorlog hier gepersonifieer word en in opdrag van God nasies onderling in vyandskap teenoor mekaar laat ontplof. En dit tref almal omdat hulle aan God nie gehoorsaam is nie.
Dít is die hart van Jeremia se boodskap aan die nasies. Met die metafoor van God wat soos ’n leeu brul uit die hoogte, wat juig soos een wat druiwe trap, word ’n klaaglied oor al die bewoners van die aarde uitgeroep, want die Here kla die nasies aan en sal hulle op grusame wyse laat vernietig omdat hulle nie na Hom geluister het nie. Die ramp sal soos ’n storm van nasie tot nasie trek wat onnoembare leed en ongekende smart sal veroorsaak. Die lyke sal soos mis op die grond bly lê – volgelinge en leiers s’n.
“Die toorn wat alles platvee, die gloeiende toorn van die Here sal dit alles doen.” In Jer. 46-51 sal hierop uitgebrei word.
Boodskap
Die eskatologiese raakvlakke van hierdie omvattende oordeel van God is duidelik veral as ’n mens dele van die Openbaring aan Johannes in ag neem. ’n Mens dink onmiddellik aan die vuurrooi perd van Openb. 6 waarvan die ruiter ’n groot swaard dra en die vrede van die aarde wegneem sodat mense mekaar kan doodmaak. Dié perd word met oorlog in Openbaring verbind.
Dieselfde geld die visioen van die Woord van God op sy wit perd wat besig is om sy oordeel op regverdige wyse uitoefen en die magte uitwis, soos ons in Openb. 19 lees. Ek het daaroor soos volg geskryf:
“Jesus Christus word in die volgende gedeelte voorgestel – met beskrywings wat herinner aan Openb. 1 – as beide die Regter wat regverdig oordeel en die Krygsheer wat die oorlog teen die Bose aanvoer. Sy karakter word beskryf as een wat getrou is en ook een wat die waarheid lief het. Sy naam word op verskillende wyses beskryf, maar die belangrike een is dat Hy die Woord van God genoem word, waarmee duidelik na Jesus Christus verwys word, soos alreeds in die Johannes evangelie aangetoon is (Joh. 1).
Hy lei die leërs van die hemel in ’n groot oorlog op wit perde om sy heerskappy te vestig wat ook deur oordeel tot stand gebring word. ’n Baie besondere engel – let op dat hy in die son staan! – kondig die vernietiging van die hele mensdom sonder God aan met die grusame beeld van ’n oproep aan die (aas)voëls van die hemel om aan die gesneuweldes in die oorlog te kom peusel.
Die magte van die antichris en die valse profeet word gebreek en hulle “is lewendig in die vuurpoel met brandende swael gegooi.” Die res van die mensdom het ook omgekom.”
Ek hoor iets van hierdie onvermydelike globale en finale konfrontasie waarop die wêreldgeskiedenis afstuur in Jeremia se woorde. En dit kos nie veel verbeelding om rondom ons te kyk en tekens daarvan te herken nie. En ons sal goeddoen om te onthou, God wil as God alleen gedien word, en wanneer Hy praat, soek Hy mense wat na Hom luister. Dit maak die verskil tussen lewe en dood.