Skip to main content

Jeremia 26 – Jerusalem sal soos Silo verwoes word

Jeremiah lamenting - Rembrand van RijnHoofstuk 26 se gebeure vind ’n kort tyd vóór dié van hoofstuk 25 plaas, kort na Jojakim koning geword het.  Die toon van die boodskap van die Here aan die volk in die gedeelte is dus minder skerp as dié van hoofstuk 25 en die aanbod meer vrygewig: “Miskien sal hulle luister en hulle van hulle verkeerde lewe bekeer.  Dan sal Ek die straf herroep wat Ek oor hulle wou bring oor hulle sondige dade.”  Die oordeelsboodskap is egter steeds onmiskenbaar.

Hoofstuk 26 bevat in wese dieselfde opdrag waarvan ons ook in hoofstuk 7 lees, dat die Here vir Jeremia beveel om in die tempel te gaan staan en aan te kondig dat die ballingskap amper onafwendbaar aan die kom is.  Waar die verhaal van hoofstuk 7 egter uitmond in ’n fokus op die interaksie tussen die Here en Jeremia, brei die verhaal in hoofstuk 26 uit op die interaksie tussen Jeremia en die volk wat amper sy dood beteken.

Die hoofstuk kan basies in twee gedeel word:

  1. 26:1-6 – Die aankondiging van die verwoesting van die tempel as hulle nie tot bekering kom nie
  2. 26:7-24 – Die interaksie tussen Jeremia en die volk

26:1-6 – Die aankondiging van die verwoesting van die tempel as hulle nie tot bekering kom nie

Soos vroeër by hoofstuk 7 gesê, kan dit wees dat Jeremia sy beurt as priester gebruik het om in die poort van die huis van die Here te gaan staan om dié opdrag van die Here uit te voer.

Jeremia gee hier minder detail oor die sondes van die volk en maak eerder net globaal gesproke die punt dat die volk na God en na sy profete moet luister.  As hulle luister, sal die Here die straf afwend.  As hulle nie luister nie, sal die Here hulle vernietig soos Hy vroeër gewys het met die verwoesting van Silo, so 50 km noord van Jerusalem, die plek waar die tabernakel met die ark eers geplaas is voor die tempel in Jerusalem gebou is.

Weens die ongehoorsaamheid van die volk is die ark toentertyd weggevoer in “ballingskap” en die tabernakel verwoes in die tyd van Eli en die dorpie self verwoes in 722 v.C. met die noordryk se ballingskap.  Psalm 78:59-64 (lees meer: Psalm 78 – Die raaisel van onbestendigheid) verwys ook na die feit dat die Here die volk die onderspit laat delf het in die oorlog by Silo en die ark  weggevoer is.  Soos Silo vroeër verwoes is, sal dit ook nou Jerusalem se lot wees, indien die volk hulle nie tot die Here bekeer nie.

26:7-24 – Die interaksie tussen Jeremia en die volk

Daar is hier nog by Jeremia en die Here ’n element van hoop dat die volk sal luister (hoewel dit met tyd tevergeefs blyk te wees).  Dié boodskap word egter nie goed ontvang deur die amptenare, priesters en profete nie en hulle wou hom daarvoor doodmaak.  Hulle kan nie aanvaar dat hy só iets kan sê nie, want hulle werk met die verwagting dat God se verbintenis aan Jerusalem hulle skotvry van enige gevolge van ongehoorsaamheid sal laat afkom.

Die mense drom na dié toespraak nie net om Jeremia saam nie, maar die paleis amptenare het ook hulle opwagting gemaak en terstond besluit dat Jeremia die doodvonnis moet kry, omdat hy “lasterlike” dinge teen die stad sê.

Op sy verweer dat sy dood hulle eie verwoesting sal verhaas, en dat daar boonop uitkoms vir hulle is, as hulle hul verkeerde weë laat staan, het hulle egter vir eers vir Jeremia met rus gelaat, al het hy ook verklaar dat hy bereid is om te sterf vir sy boodskap.  Sy vurige pleidooi, nie soseer vir sy eie lewe nie, maar vir wat die vergieting van onskuldige bloed aan hulle lewens kan doen, laat hulle afsien van hulle bose planne.

Van die leiers van die land – die oudstes – kry toe die moed om die herinnering van die volk te verfris met die verhaal van die verhouding tussen profeet en koning in die tyd van die profeet Miga (Miga 1:1 – Moreset is so 40 km suid-wes van Jerusalem), tydgenoot van Jesaja, en koning Hiskia.  Hulle haal ’n gedeelte uit sy profesieë aan (Mig. 3:12) as verduideliking.  En hulle herinner almal daaraan dat in plaas van om die boodskapper dood te maak, Hiskia die boodskap van Miga geglo en tot bekering gekom het (2 Kon. 19, hoewel Miga nie daar genoem word nie).  Dit is die regte manier op ’n profeet se boodskap te reageer.

Jojakim was egter nie tevrede nie met sy amptenare se reaksie en dié van die ander leiers nie, maar los op geslepe wyse eers vir Jeremia uit, omdat die priester Agikam, een van Jojakim se pa, Josia, se raadgewers, aan Jeremia se kant was.  Jojakim wreek hom dus op ’n ander profeet, Urija, wat dieselfde dinge as Jeremia gesê het en laat Urija doodmaak.

Boodskap

Dit bly ’n uitdaging om die waarheid aan dié in gesagsposisies te bring.  Dit bring altyd konflik.  Soms kan die wyses van die land tot redding kom deur die regte goed te onthou en ander daaraan te herinner.  Dit red Jeremia in dié geval van die dood.  Soms kry die magtiges egter skuiwergate of gebruik slinkse maniere om die boodskapper en sy boodskap te probeer uitwis.  Dit beteken Urija se ondergang in dié geval.  Hoe tragies.

Maar die sukses van Jeremia en Urija se onderskeie bedienings lê nie in óf die een se lewe óf die ander se dood as gevolg van die reaksie op hulle bediening nie.  Die sukses lê daarin dat die boodskap afgelewer is en sy werk sal doen, ongeag die uitkoms vir hulle persoonlik.  Daarin lê groot troos en tegelykertyd ’n groot uitdaging.


Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Jeremia


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar

  • perfectly57edc75df4 on Josef-hulle vlug van Betlehem na EgipteDankie, Matteus het deurgekom. Was eers 'n dag laat, maar nou daagliks op tyd. Sover kry ek 'n paar interessante gedagtes wat mens maklik miskyk as jy net lees v/d geboorte en nie na die mesnlike aspekte kyk nie. Dankie and Vrede.
  • sparklybc467b2e69 on Josef-hulle vlug van Betlehem na EgipteGoeie môre, baie dankie, ja dit maak sin, want dit is hoekom Dawid ñ man na GOD se hart was, hy was ook elke keer gehoorsaam aan GOD. Daar is egter iets wat my so diep geraak het, terwyl ek u opmerkings lees, JESUS die seun van GOD het geen rykdom of enige voortrekkery ontvang nie, HY was regtig so…
  • originalblizzard19aaa84c56 on Josef-hulle vlug van Betlehem na EgipteTans so gepas in my vrou en my se lewe. Moet noukeurig let op die detail van die Heer se leiding. Kan nie wag om die volgende stappe te volg nie. Dankie.
  • Philip Vermaak on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Wat my weer getref het is God se liefde vir alle mense en Dawid se nederige houding as hy tot God roep en hom met alles aan God "oorgee" En- wat ons het is aan ons deur God geskenk en wat ons is is slegs Genade Baie dankie
  • originalblizzard19aaa84c56 on Sterrekundiges besoek Jesus in die huis in Betlehem MATTEUS 2:1-12Prys die Here vir sy Heilige Woord en Gees.
  • sparklybc467b2e69 on ‘n Engel van die Here oortuig Josef dat Maria se Kind van die Heilige Gees is MATTEUS 1:18-25Dit is vir my opsig self so groot bewys van GOD se grootheid, Sy Heilige Gees wat Maria bevrug. Ek het altyd gedink dat Maria baie besonders was onder die vroue, maar as ñ mens lees van Josef en sy karakter, was hulle albei uitverkies as JESUS, GOD se seun.
  • originalblizzard19aaa84c56 on Jesus se geslagsregister in Matteus verbind Hom aan Abraham, Dawid en die volk na die ballingskap MATTEUS 1:1-17Matteus. Amazing, om my te verwonder aan die Heilige Skrif. Dankie vir navorsing.
  • Chris van Wyk on Psalm 150Hi, jy sal steeds die Matteus bydraes kry as jy ingeteken is. Die skakel is daar vir nuwe mense. Die opmerkings moet eers goedgekeur word deur my, vandaar die verposing. Hoop jy het steeds Matteus gekry?
  • perfectly57edc75df4 on Psalm 150Naand Chris. Ek dink daar is iets met die website verkeerd. Psalms was op Bybelskool beskikbaar, maar vir Mattteus vra dit jou om weer in te teken op Bybelskool. Ek is op Bybelskool. Dan stuur die opmerkings ook nie elke keer nie. Die inskrywing vir Matteus vat jou na 'n snaakse vorm. Is dit reg so,…
  • Doreen Snyders on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Baie baie dankie vir die Psalms. Dit was só insiggewend en het baie gehelp om om die Skrif te bid. Nogmaals dankie. Ek sien baie uit na Matteus. Doreen Snyders
  • johannes buhrmann on Psalm 150Die God aan wie die Psalm digters hul lof en dankbaarheid betuig het , en teenoor wie hulle hul klagtes en swaarkry en onsekerhede kon bekendmaak is dieselfde God teenoor wie gelowiges hulle in die huidige tydsgewrig gewrig hul kan wend om geloof en lewensrigting te verkry Dankie
  • originalblizzard19aaa84c56 on Inleiding'n Mondvol oor Matteus. Sien uit na die reis. Dankie
  • Francois Du Toit on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Dit was n wonderlike reis deur die psalms, teen n pas wat genoeg tyd vir nadenke toegelaat het. En die diep nuanses vd Onse Vader laat deurskemer het. Baie dankie vd leiding en verklari gs.
  • Hannes. on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Middag Dr. Chris, Baie dankie vir ‘n insiggewende reis deur Psalms. Dit het beslis gehelp om my persoonlike gebedslewe te verbeter, en ek glo sterk dat elke gebed beslis my verhouding met die Here verdiep op ‘n manier waar ek tans baie meer pligsgetrou is teenoor my persoonlike stiltetyd en gesprekk…
  • Kobus on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Dit was vir my 'n wonderlike ervaring, ek kyk met 'n ander insig nou na die Psalms