Skip to main content

Jeremia 26 – Jerusalem sal soos Silo verwoes word

Jeremiah lamenting - Rembrand van RijnHoofstuk 26 se gebeure vind ’n kort tyd vóór dié van hoofstuk 25 plaas, kort na Jojakim koning geword het.  Die toon van die boodskap van die Here aan die volk in die gedeelte is dus minder skerp as dié van hoofstuk 25 en die aanbod meer vrygewig: “Miskien sal hulle luister en hulle van hulle verkeerde lewe bekeer.  Dan sal Ek die straf herroep wat Ek oor hulle wou bring oor hulle sondige dade.”  Die oordeelsboodskap is egter steeds onmiskenbaar.

Hoofstuk 26 bevat in wese dieselfde opdrag waarvan ons ook in hoofstuk 7 lees, dat die Here vir Jeremia beveel om in die tempel te gaan staan en aan te kondig dat die ballingskap amper onafwendbaar aan die kom is.  Waar die verhaal van hoofstuk 7 egter uitmond in ’n fokus op die interaksie tussen die Here en Jeremia, brei die verhaal in hoofstuk 26 uit op die interaksie tussen Jeremia en die volk wat amper sy dood beteken.

Die hoofstuk kan basies in twee gedeel word:

  1. 26:1-6 – Die aankondiging van die verwoesting van die tempel as hulle nie tot bekering kom nie
  2. 26:7-24 – Die interaksie tussen Jeremia en die volk

26:1-6 – Die aankondiging van die verwoesting van die tempel as hulle nie tot bekering kom nie

Soos vroeër by hoofstuk 7 gesê, kan dit wees dat Jeremia sy beurt as priester gebruik het om in die poort van die huis van die Here te gaan staan om dié opdrag van die Here uit te voer.

Jeremia gee hier minder detail oor die sondes van die volk en maak eerder net globaal gesproke die punt dat die volk na God en na sy profete moet luister.  As hulle luister, sal die Here die straf afwend.  As hulle nie luister nie, sal die Here hulle vernietig soos Hy vroeër gewys het met die verwoesting van Silo, so 50 km noord van Jerusalem, die plek waar die tabernakel met die ark eers geplaas is voor die tempel in Jerusalem gebou is.

Weens die ongehoorsaamheid van die volk is die ark toentertyd weggevoer in “ballingskap” en die tabernakel verwoes in die tyd van Eli en die dorpie self verwoes in 722 v.C. met die noordryk se ballingskap.  Psalm 78:59-64 (lees meer: Psalm 78 – Die raaisel van onbestendigheid) verwys ook na die feit dat die Here die volk die onderspit laat delf het in die oorlog by Silo en die ark  weggevoer is.  Soos Silo vroeër verwoes is, sal dit ook nou Jerusalem se lot wees, indien die volk hulle nie tot die Here bekeer nie.

26:7-24 – Die interaksie tussen Jeremia en die volk

Daar is hier nog by Jeremia en die Here ’n element van hoop dat die volk sal luister (hoewel dit met tyd tevergeefs blyk te wees).  Dié boodskap word egter nie goed ontvang deur die amptenare, priesters en profete nie en hulle wou hom daarvoor doodmaak.  Hulle kan nie aanvaar dat hy só iets kan sê nie, want hulle werk met die verwagting dat God se verbintenis aan Jerusalem hulle skotvry van enige gevolge van ongehoorsaamheid sal laat afkom.

Die mense drom na dié toespraak nie net om Jeremia saam nie, maar die paleis amptenare het ook hulle opwagting gemaak en terstond besluit dat Jeremia die doodvonnis moet kry, omdat hy “lasterlike” dinge teen die stad sê.

Op sy verweer dat sy dood hulle eie verwoesting sal verhaas, en dat daar boonop uitkoms vir hulle is, as hulle hul verkeerde weë laat staan, het hulle egter vir eers vir Jeremia met rus gelaat, al het hy ook verklaar dat hy bereid is om te sterf vir sy boodskap.  Sy vurige pleidooi, nie soseer vir sy eie lewe nie, maar vir wat die vergieting van onskuldige bloed aan hulle lewens kan doen, laat hulle afsien van hulle bose planne.

Van die leiers van die land – die oudstes – kry toe die moed om die herinnering van die volk te verfris met die verhaal van die verhouding tussen profeet en koning in die tyd van die profeet Miga (Miga 1:1 – Moreset is so 40 km suid-wes van Jerusalem), tydgenoot van Jesaja, en koning Hiskia.  Hulle haal ’n gedeelte uit sy profesieë aan (Mig. 3:12) as verduideliking.  En hulle herinner almal daaraan dat in plaas van om die boodskapper dood te maak, Hiskia die boodskap van Miga geglo en tot bekering gekom het (2 Kon. 19, hoewel Miga nie daar genoem word nie).  Dit is die regte manier op ’n profeet se boodskap te reageer.

Jojakim was egter nie tevrede nie met sy amptenare se reaksie en dié van die ander leiers nie, maar los op geslepe wyse eers vir Jeremia uit, omdat die priester Agikam, een van Jojakim se pa, Josia, se raadgewers, aan Jeremia se kant was.  Jojakim wreek hom dus op ’n ander profeet, Urija, wat dieselfde dinge as Jeremia gesê het en laat Urija doodmaak.

Boodskap

Dit bly ’n uitdaging om die waarheid aan dié in gesagsposisies te bring.  Dit bring altyd konflik.  Soms kan die wyses van die land tot redding kom deur die regte goed te onthou en ander daaraan te herinner.  Dit red Jeremia in dié geval van die dood.  Soms kry die magtiges egter skuiwergate of gebruik slinkse maniere om die boodskapper en sy boodskap te probeer uitwis.  Dit beteken Urija se ondergang in dié geval.  Hoe tragies.

Maar die sukses van Jeremia en Urija se onderskeie bedienings lê nie in óf die een se lewe óf die ander se dood as gevolg van die reaksie op hulle bediening nie.  Die sukses lê daarin dat die boodskap afgelewer is en sy werk sal doen, ongeag die uitkoms vir hulle persoonlik.  Daarin lê groot troos en tegelykertyd ’n groot uitdaging.


Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Jeremia


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar

  • Chris van Wyk on Psalm 119:169-176Absoluut!
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:169-176Psalm 119 is voorwaar ñ baie Geseënde Psalm
  • Chris van Wyk on Psalm 119:145-152Dis self opnuut weer ‘n vreugde vir my.
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:145-152Ek was altyd baie langtand om Ps 119 aan te durf, nou wens ek dat dit nie ophou nie... Ps 119 is te kort!!! PDH
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:105-112Goeie middag, baie dankie vir die deel van die kosbare verhaal wat so gepas is met die Psalm
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:1-8Sien waarlik die nou verband tussen OT EN NT. waarlik verhelderend. אמן
  • Chris van Wyk on Psalm 118:19-29Ek gee maar net aan wat ek ontvang het. Dit bly egter 'n kosbare voorreg.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 118:19-29Goeie môre, baie dankie dat u met ons deel wie en waar die vertaaling van die Bybel sy oorsprong gekry het, dit is so kosbaar, baie dankie vir een en elkeen wat deel is en was om hierdie kosbare woord ook vir ons in ons Taal te kon uitlê
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 110Baie dankie vir hierdie kosbaarhede wat u met ons deel. Ek het Openbaring 22 gelees en dit klink baie soos die tuin van Eden, hy praat van die boom van lewe. Die sondeval gemaak dat die mens gesondig het en dat hul nie meer in die tuin kon woon nie asgevolg van die sonde.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 109:6-19Goeie middag, ek wil ook by las dat in Psalm 139:23 bid David;"Deurgrond my, O GOD, en ken my hart, toets my en ken my gedagtes" GOD ken die mens en HY deersoek die hart en die gedagtes. Ek het self al telkens gebid, HERE vergewe hulle want hulle weet nie wat hulle doen nie en dan soos die woord sel…
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:33-38Baie dankie vir hierdie verduideliking. Ons lees die eerste keer van Baäl-Peor in Numeri 25. Baäl was die Kanaänitiese god van vrugbaarheid, terwyl Peor verwys na die berg in Moab waar hy onder andere aanbid is. Hy is ook in Kanaän aanbid en was 'n groot versoeking vir die Israeliete met hulle vesti…
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:33-38GOD is so goeie GOD. HY gee vir ons die voorskrifte vanaf Deut. 28 en dan volg HY dit ook op in Psalm 107 en sê as ons net doen wat HY ons beveel sal dit met ons goed gaan en ons geseënd wees, nie oor ons nie, maar oor GOD en wie HY is.
  • Chris van Wyk on Psalm 106:43-48Ons lees die eerste keer van Baäl-Peor in Numeri 25. Baäl was die Kanaänitiese god van vrugbaarheid, terwyl Peor verwys na die berg in Moab waar hy onder andere aanbid is. Hy is ook in Kanaän aanbid en was 'n groot versoeking vir die Israeliete met hulle vestiging in die Beloofde Land.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:1-9Psalm 1:1 Stel dit so mooi hoe ons, ons pad moet hou en dat ons moet hou en bly by GOD se gebooie
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 106:43-48Goeie naand, Psalm 106: 28 Kan u asb vir my verduidelik wat Baâlpeor is ? Baie dankie Amanda