Skip to main content

Jeremia 24 – Die ballinge van Juda is goeie vye

Jeremiah lamenting - Rembrand van RijnOns kry in hierdie hoofstuk die begin van Jeremia se boodskap oor die ballingskap sowel as aan die ballinge in ballingskap.  Dit beslaan hfst. 24-29.  Dit help om eers die breë prentjie te kry, voor ’n mens die detail van elke hoofstuk lees:

  • Hoofstuk 24 beskryf ‘n egte visioen van die Here  aan Jeremia wat in skerp kontras staan met hoofstuk 23 se beskrywing van die wyse waarop die ander profete hulle eie drome as God s’n probeer verkoop aan die volk.  Die goeie vye is die ballinge en die slegtes dié wat agterbly in die land.  Ons lees ook vroeër in die 8ste eeuse profeet Amos van ’n visioen van ’n mandjie ryp vrugte (enige somervrug word bedoel), die vierde in ’n reeks van vyf visioene.  Dit het die betekenis gedra dat Israel ryp is vir die oordeel.
  • Hoofstuk 25 handel oor die beperkte oordeel van sewentig jaar, iets wat Daniël aan die einde van dié tydperk sou motiveer om te begin bid vir die terugkeer na Jerusalem. Dit sluit egter nie die oordeel oor dié wat agterbly uit nie.
  • Hoofstuk 26 sit die boodskap van die verwoesting van Jerusalem voort met verwysing na die soortgelyke lot wat Silo voorheen getref het in die tyd van Eli.  Dié boodskap het die opstand teen Jeremia met rasse skrede laat toeneem dat hy byna doodgemaak is.
  • Hoofstuk 27 bevat die raad van Jeremia aan die leiers om aan Nebukadnesar onderdanigheid te sweer sodat hulle kan bly lewe – nog ’n stukkie genade van die Here wat egter in die wind geslaan is.
  • Hoofstuk 28 vertel van die verbete stryd wat tussen die valse profeet Gananja en Jeremia ontwikkel waarin die Here sy keuse vir Jeremia en sy boodskap duidelik laat blyk het met Gananja se afsterwe.
  • Hoofstuk 29 beskryf die brief wat Jeremia aan die weggevoerde ballinge skryf in Babel waarin die Here hulle aanraai om die belange van die stad waar hulle is, te bevorder, omdat dit die toekoms wat Hy vir hulle daar sal gee, sal ontsluit.  Die belofte van terugkoms word ook herhaal.

Die bekende gesig van Jeremia oor die twee mandjies vye  word kort ná die ballingskap van Jojagin, d.w.s. met die aanvang van Sedekia se regering, ontvang en as ’n oordeelsprofesie téén die regering van Sedekia uitgespel: “Ek sal oorlog, hongersnood en pes onder hulle loslaat totdat hulle uitgeroei is uit die land wat Ek aan hulle en hulle voorvaders gegee het.”  Ons lees nie van enige reaksie van koning Sedekia nie wat sy weifelende karakter goed illustreer (vgl. verder in Jer. 37-38).

Die visioen wat die Here vir Jeremia laat sien, is van twee mandjies vye wat as offers na die tempel gebring is.  Die kontras is tussen uitsoek (voor)vye wat uitermate goed is en oneetbare vye wat uitermate sleg is.  Die Here interpreteer die visioen vir Jeremia dat die ballinge die goeie vye is en dié wat agterbly die slegte vye. Daarmee bedoel Hy dat die ballinge wat saam met Jojagin, die seun van Jojakim, weggevoer is die goeie vye is.  En dié wat agtergebly het saam met Sedekia, sy oom, Jojakim se jongste broer, dat hulle die slegte vye is.  Die ballinge geniet sy guns.  Die agtergeblewenes sy gramskap.

Die betekenis van hierdie openbaring van die Here was regtig gemik op die kern van wat die Joodse volk oor hulleself geglo het.  Ballingskap was in terme van die Noordryk se ervaring daarvan in 722 v.C. ’n volslae oordeel.  Dié wat agtergebly het, Juda die Suidryk, het God se guns geniet.  Tot dusver het hulle ook die boodskap van die ballingskap net as ’n oordeelswoord gehoor, hoewel hulle hulle nie baie daaraan gesteur het nie. Hier kom nou ’n visioen wat hulle verstaan van God en van die betekenis van ballingskap omkeer.  Die ballinge word nou beskryf as dié wat God se guns sal geniet.  Die agtergeblewenes word daarenteen beskryf as dié wat God se gramskap sal beleef.

’n Mens wonder in watter mate Jeremia se gebed vir ’n klein stukkie genade binne God se oordeel (Jer. 10:17-25) ’n rol hierin gespeel het, hoewel God se soewereiniteit eintlik so duidelik hieruit blyk, dat ’n mens eerder sal moet sê, dit was God se bedoeling van die begin af (Jer. 1:10).  Dit sien ’n mens in woorde wat met Jeremia se roeping verband hou, maar wat hier as God se aksies ingespan word: opbou, plant, nie afbreek nie, nie uitruk nie.  Dit is volledig God se plan wat hier ten uitvoer gebring word.

Dit is egter ook ’n antwoord op dié gebed van Jeremia.  God het dit ingetrek in sy plan vir die toekoms.  En dié toekoms is verrassend leefbaar.  God herstel nie net die verhouding met hulle nie, maar laat hulle na Hom toe terugkom.  Hy sal hulle die insig gee om Hom te ken, beloftes wat later herhaal sal word (Jer. 31:34; 32:39).  En Hy sal ook moeite doen om hulle te leer hóé hulle daar in die vreemde moet oorleef (Jer. 29).

Iets meer oor die twee konings wat hier ter sprake kom

Koning Jojagin

’n Mens begin hier agterkom dat Jeremia sagter is in sy oordeel oor Jojagin.  Jeremia verkondig dat die Here die volk “vir hulle beswil uit hierdie plek uit na Galdeërland toe gestuur het”  en sy oog oor hulle sal hou, hulle insig sal gee om Hom te ken en hulle na hulle land toe sal terugbring (Jer. 24:5-7).

Trouens Jeremia volg hierdie boodskap later op met ’n brief aan die ballinge om hulle te bemoedig en ook aan te moedig om die belange te bevorder van die stad waar hulle heen weggevoer is, want die ballingskap sal sy volle sewentig jaar duur (Jer. 29).  Dit is ná Semaja hom teëgestaan het en gesê het dat die ballingskap korter sal duur.

Konings sluit hierby aan en vermeld dat na amper die helfte van die ballingskap verby was, in die 37ste jaar van die ballingskap van koning Jojagin, hy begenadig is, vrygelaat is en van toe af ’n hoër status geniet het as die ander konings wat saam met hom daar was (2 Kon. 25:27-29; Jer. 52:31-34). Hy het selfs aan die koning van Babel se tafel geëet en ’n permanente toelae gekry vir sy daaglikse behoeftes solank as wat hy gelewe het.   ’n Mens wonder of dit verband hou met die werk en status van Daniël, hoewel dit nêrens vir ons eksplisiet vertel word nie.

Koning Sedekia

Sedekia – Joahas en Jojakim se jonger broer, almal seuns van Josia – en oom van Jojagin (maar omtrent dieselfde ouderdom) word op 21 jarige ouderdom koning, die laaste koning van Juda.  Sy naam was eintlik Mattanja (2 Kon. 24:17), maar is deur Nebukadnesar verander na Sedekia om die feit van Juda se onderdanigheid te onderstreep.

Hy regeer 11 jaar tot en met die ballingskap in 586 v.C. toe Nebukadnesar finaal vir Jerusalem en Juda in ballingskap weggevoer het.  Volgens die oordeel van Kronieke was Sedekia ’n slegte koning wat nie net gedoen het wat verkeerd was in die oë van die Here sy God nie, maar spesifiek ook nie geluister het na die profeet Jeremia nie, toe dié op bevel van die Here na hom gestuur is nie.

Sy gebrek aan berou teenoor die Here (“Hy was koppig en onversetlik in sy weiering om hom tot die Here die God van Israel te bekeer”) word geëggo in sy verset teen Nebukadnesar, aan wie hy “voor God trou gesweer het”, waarskynlik in die tempel, waarvoor hy die prys betaal om nie net in ballingskap weggevoer te word nie, maar ook die vernedering te moet ondergaan dat sy kinders voor sy oë geslag is, sý  oë daarna uitgesteek is en hy oneer in ballingskap in Babel dood is (2 Kon. 25:6-7; Jer. 52:10-11).  ’n Grillerige gru-verhaal!

Die leiers van die priesters en die volk het hom nagevolg en die tempel ontwy met hulle afgodsdiens, die boodskappers van die Here, soos Jeremia, uitgelag, God se woorde geminag en sy profete gespot totdat die toorn van die Here onherroeplik oor sy volk losgebreek het (vgl. Jer. 26).  Baie mense het hulle lewens verloor met die laaste veldtog van Nebukadnesar en is saam met die laaste skatte van die tempel na Babel weggevoer.  Die pragtige tempel van Salomo is afgebrand, die muur van Jerusalem afgebreek, al die beste huise afgebrand en alles van waarde verwoes.

In 2 Konings 24:18-25:21 en Jeremia 52:1-30 word die verhaal van Sedekia met meer detail vertel, bv. detail word gegee oor die 2 jaar lange beleg van Nebukadnesar, die hongersnood wat geheers het en die wyse waarop die Galdeërs vir koning Sedekia agtervolg en gevang het toe dié gevlug het.  Daar is ook meer detail oor Nebusaradan, die hoofamptenaar van Nebukadnesar en wat hy alles in Jerusalem aangevang het met die bevolking asook sy verwoesting van die tempel.  Die moord op goewerneur Gedalja, wat deur hom aangestel is, word ook vermeld, iets waarvan ons ook in Jeremia lees (Jer. 40).

Baie Jode is toe na Tagpanges (vandag Tel Defne, aan die Menzalameer in Noord-Egipte) in Egipte uit vrees vir die Galdeërs.  Terloops sommige Jode het hulle reeds vroeër in die bekende Elephantine nedersetting, wat vroeër deur Manasse daar gestig is, gevestig. Daar is ’n versameling papiri uit dié tyd wat insae gee in die Joodse lewe in die vreemde.

Boodskap

Twee sake staan vir my uit in dié gedeelte.  Hoe God se genade selfs IN oordeel werksaam is.  En hoe gebed ’n rol kan speel om daarvoor te bid, selfs al is dié rol ook hoe klein en al is die antwoord op die gebed eintlik alreeds ingesluit in die uitvoering van God se oordeel.

Dit gee my hoop dat God se oordeel nie sy genade uitsluit nie.  Dit gee my motivering om selfs in baie slegte situasies die Here om genade te smeek.


Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Jeremia


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Comments

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar

  • Chris van Wyk on Psalm 119:169-176Absoluut!
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:169-176Psalm 119 is voorwaar ñ baie Geseënde Psalm
  • Chris van Wyk on Psalm 119:145-152Dis self opnuut weer ‘n vreugde vir my.
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:145-152Ek was altyd baie langtand om Ps 119 aan te durf, nou wens ek dat dit nie ophou nie... Ps 119 is te kort!!! PDH
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:105-112Goeie middag, baie dankie vir die deel van die kosbare verhaal wat so gepas is met die Psalm
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:1-8Sien waarlik die nou verband tussen OT EN NT. waarlik verhelderend. אמן
  • Chris van Wyk on Psalm 118:19-29Ek gee maar net aan wat ek ontvang het. Dit bly egter 'n kosbare voorreg.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 118:19-29Goeie môre, baie dankie dat u met ons deel wie en waar die vertaaling van die Bybel sy oorsprong gekry het, dit is so kosbaar, baie dankie vir een en elkeen wat deel is en was om hierdie kosbare woord ook vir ons in ons Taal te kon uitlê
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 110Baie dankie vir hierdie kosbaarhede wat u met ons deel. Ek het Openbaring 22 gelees en dit klink baie soos die tuin van Eden, hy praat van die boom van lewe. Die sondeval gemaak dat die mens gesondig het en dat hul nie meer in die tuin kon woon nie asgevolg van die sonde.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 109:6-19Goeie middag, ek wil ook by las dat in Psalm 139:23 bid David;"Deurgrond my, O GOD, en ken my hart, toets my en ken my gedagtes" GOD ken die mens en HY deersoek die hart en die gedagtes. Ek het self al telkens gebid, HERE vergewe hulle want hulle weet nie wat hulle doen nie en dan soos die woord sel…
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:33-38Baie dankie vir hierdie verduideliking. Ons lees die eerste keer van Baäl-Peor in Numeri 25. Baäl was die Kanaänitiese god van vrugbaarheid, terwyl Peor verwys na die berg in Moab waar hy onder andere aanbid is. Hy is ook in Kanaän aanbid en was 'n groot versoeking vir die Israeliete met hulle vesti…
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:33-38GOD is so goeie GOD. HY gee vir ons die voorskrifte vanaf Deut. 28 en dan volg HY dit ook op in Psalm 107 en sê as ons net doen wat HY ons beveel sal dit met ons goed gaan en ons geseënd wees, nie oor ons nie, maar oor GOD en wie HY is.
  • Chris van Wyk on Psalm 106:43-48Ons lees die eerste keer van Baäl-Peor in Numeri 25. Baäl was die Kanaänitiese god van vrugbaarheid, terwyl Peor verwys na die berg in Moab waar hy onder andere aanbid is. Hy is ook in Kanaän aanbid en was 'n groot versoeking vir die Israeliete met hulle vestiging in die Beloofde Land.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:1-9Psalm 1:1 Stel dit so mooi hoe ons, ons pad moet hou en dat ons moet hou en bly by GOD se gebooie
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 106:43-48Goeie naand, Psalm 106: 28 Kan u asb vir my verduidelik wat Baâlpeor is ? Baie dankie Amanda