Skip to main content

Jeremia 24 – Die ballinge van Juda is goeie vye

Jeremiah lamenting - Rembrand van RijnOns kry in hierdie hoofstuk die begin van Jeremia se boodskap oor die ballingskap sowel as aan die ballinge in ballingskap.  Dit beslaan hfst. 24-29.  Dit help om eers die breë prentjie te kry, voor ’n mens die detail van elke hoofstuk lees:

  • Hoofstuk 24 beskryf ‘n egte visioen van die Here  aan Jeremia wat in skerp kontras staan met hoofstuk 23 se beskrywing van die wyse waarop die ander profete hulle eie drome as God s’n probeer verkoop aan die volk.  Die goeie vye is die ballinge en die slegtes dié wat agterbly in die land.  Ons lees ook vroeër in die 8ste eeuse profeet Amos van ’n visioen van ’n mandjie ryp vrugte (enige somervrug word bedoel), die vierde in ’n reeks van vyf visioene.  Dit het die betekenis gedra dat Israel ryp is vir die oordeel.
  • Hoofstuk 25 handel oor die beperkte oordeel van sewentig jaar, iets wat Daniël aan die einde van dié tydperk sou motiveer om te begin bid vir die terugkeer na Jerusalem. Dit sluit egter nie die oordeel oor dié wat agterbly uit nie.
  • Hoofstuk 26 sit die boodskap van die verwoesting van Jerusalem voort met verwysing na die soortgelyke lot wat Silo voorheen getref het in die tyd van Eli.  Dié boodskap het die opstand teen Jeremia met rasse skrede laat toeneem dat hy byna doodgemaak is.
  • Hoofstuk 27 bevat die raad van Jeremia aan die leiers om aan Nebukadnesar onderdanigheid te sweer sodat hulle kan bly lewe – nog ’n stukkie genade van die Here wat egter in die wind geslaan is.
  • Hoofstuk 28 vertel van die verbete stryd wat tussen die valse profeet Gananja en Jeremia ontwikkel waarin die Here sy keuse vir Jeremia en sy boodskap duidelik laat blyk het met Gananja se afsterwe.
  • Hoofstuk 29 beskryf die brief wat Jeremia aan die weggevoerde ballinge skryf in Babel waarin die Here hulle aanraai om die belange van die stad waar hulle is, te bevorder, omdat dit die toekoms wat Hy vir hulle daar sal gee, sal ontsluit.  Die belofte van terugkoms word ook herhaal.

Die bekende gesig van Jeremia oor die twee mandjies vye  word kort ná die ballingskap van Jojagin, d.w.s. met die aanvang van Sedekia se regering, ontvang en as ’n oordeelsprofesie téén die regering van Sedekia uitgespel: “Ek sal oorlog, hongersnood en pes onder hulle loslaat totdat hulle uitgeroei is uit die land wat Ek aan hulle en hulle voorvaders gegee het.”  Ons lees nie van enige reaksie van koning Sedekia nie wat sy weifelende karakter goed illustreer (vgl. verder in Jer. 37-38).

Die visioen wat die Here vir Jeremia laat sien, is van twee mandjies vye wat as offers na die tempel gebring is.  Die kontras is tussen uitsoek (voor)vye wat uitermate goed is en oneetbare vye wat uitermate sleg is.  Die Here interpreteer die visioen vir Jeremia dat die ballinge die goeie vye is en dié wat agterbly die slegte vye. Daarmee bedoel Hy dat die ballinge wat saam met Jojagin, die seun van Jojakim, weggevoer is die goeie vye is.  En dié wat agtergebly het saam met Sedekia, sy oom, Jojakim se jongste broer, dat hulle die slegte vye is.  Die ballinge geniet sy guns.  Die agtergeblewenes sy gramskap.

Die betekenis van hierdie openbaring van die Here was regtig gemik op die kern van wat die Joodse volk oor hulleself geglo het.  Ballingskap was in terme van die Noordryk se ervaring daarvan in 722 v.C. ’n volslae oordeel.  Dié wat agtergebly het, Juda die Suidryk, het God se guns geniet.  Tot dusver het hulle ook die boodskap van die ballingskap net as ’n oordeelswoord gehoor, hoewel hulle hulle nie baie daaraan gesteur het nie. Hier kom nou ’n visioen wat hulle verstaan van God en van die betekenis van ballingskap omkeer.  Die ballinge word nou beskryf as dié wat God se guns sal geniet.  Die agtergeblewenes word daarenteen beskryf as dié wat God se gramskap sal beleef.

’n Mens wonder in watter mate Jeremia se gebed vir ’n klein stukkie genade binne God se oordeel (Jer. 10:17-25) ’n rol hierin gespeel het, hoewel God se soewereiniteit eintlik so duidelik hieruit blyk, dat ’n mens eerder sal moet sê, dit was God se bedoeling van die begin af (Jer. 1:10).  Dit sien ’n mens in woorde wat met Jeremia se roeping verband hou, maar wat hier as God se aksies ingespan word: opbou, plant, nie afbreek nie, nie uitruk nie.  Dit is volledig God se plan wat hier ten uitvoer gebring word.

Dit is egter ook ’n antwoord op dié gebed van Jeremia.  God het dit ingetrek in sy plan vir die toekoms.  En dié toekoms is verrassend leefbaar.  God herstel nie net die verhouding met hulle nie, maar laat hulle na Hom toe terugkom.  Hy sal hulle die insig gee om Hom te ken, beloftes wat later herhaal sal word (Jer. 31:34; 32:39).  En Hy sal ook moeite doen om hulle te leer hóé hulle daar in die vreemde moet oorleef (Jer. 29).

Iets meer oor die twee konings wat hier ter sprake kom

Koning Jojagin

’n Mens begin hier agterkom dat Jeremia sagter is in sy oordeel oor Jojagin.  Jeremia verkondig dat die Here die volk “vir hulle beswil uit hierdie plek uit na Galdeërland toe gestuur het”  en sy oog oor hulle sal hou, hulle insig sal gee om Hom te ken en hulle na hulle land toe sal terugbring (Jer. 24:5-7).

Trouens Jeremia volg hierdie boodskap later op met ’n brief aan die ballinge om hulle te bemoedig en ook aan te moedig om die belange te bevorder van die stad waar hulle heen weggevoer is, want die ballingskap sal sy volle sewentig jaar duur (Jer. 29).  Dit is ná Semaja hom teëgestaan het en gesê het dat die ballingskap korter sal duur.

Konings sluit hierby aan en vermeld dat na amper die helfte van die ballingskap verby was, in die 37ste jaar van die ballingskap van koning Jojagin, hy begenadig is, vrygelaat is en van toe af ’n hoër status geniet het as die ander konings wat saam met hom daar was (2 Kon. 25:27-29; Jer. 52:31-34). Hy het selfs aan die koning van Babel se tafel geëet en ’n permanente toelae gekry vir sy daaglikse behoeftes solank as wat hy gelewe het.   ’n Mens wonder of dit verband hou met die werk en status van Daniël, hoewel dit nêrens vir ons eksplisiet vertel word nie.

Koning Sedekia

Sedekia – Joahas en Jojakim se jonger broer, almal seuns van Josia – en oom van Jojagin (maar omtrent dieselfde ouderdom) word op 21 jarige ouderdom koning, die laaste koning van Juda.  Sy naam was eintlik Mattanja (2 Kon. 24:17), maar is deur Nebukadnesar verander na Sedekia om die feit van Juda se onderdanigheid te onderstreep.

Hy regeer 11 jaar tot en met die ballingskap in 586 v.C. toe Nebukadnesar finaal vir Jerusalem en Juda in ballingskap weggevoer het.  Volgens die oordeel van Kronieke was Sedekia ’n slegte koning wat nie net gedoen het wat verkeerd was in die oë van die Here sy God nie, maar spesifiek ook nie geluister het na die profeet Jeremia nie, toe dié op bevel van die Here na hom gestuur is nie.

Sy gebrek aan berou teenoor die Here (“Hy was koppig en onversetlik in sy weiering om hom tot die Here die God van Israel te bekeer”) word geëggo in sy verset teen Nebukadnesar, aan wie hy “voor God trou gesweer het”, waarskynlik in die tempel, waarvoor hy die prys betaal om nie net in ballingskap weggevoer te word nie, maar ook die vernedering te moet ondergaan dat sy kinders voor sy oë geslag is, sý  oë daarna uitgesteek is en hy oneer in ballingskap in Babel dood is (2 Kon. 25:6-7; Jer. 52:10-11).  ’n Grillerige gru-verhaal!

Die leiers van die priesters en die volk het hom nagevolg en die tempel ontwy met hulle afgodsdiens, die boodskappers van die Here, soos Jeremia, uitgelag, God se woorde geminag en sy profete gespot totdat die toorn van die Here onherroeplik oor sy volk losgebreek het (vgl. Jer. 26).  Baie mense het hulle lewens verloor met die laaste veldtog van Nebukadnesar en is saam met die laaste skatte van die tempel na Babel weggevoer.  Die pragtige tempel van Salomo is afgebrand, die muur van Jerusalem afgebreek, al die beste huise afgebrand en alles van waarde verwoes.

In 2 Konings 24:18-25:21 en Jeremia 52:1-30 word die verhaal van Sedekia met meer detail vertel, bv. detail word gegee oor die 2 jaar lange beleg van Nebukadnesar, die hongersnood wat geheers het en die wyse waarop die Galdeërs vir koning Sedekia agtervolg en gevang het toe dié gevlug het.  Daar is ook meer detail oor Nebusaradan, die hoofamptenaar van Nebukadnesar en wat hy alles in Jerusalem aangevang het met die bevolking asook sy verwoesting van die tempel.  Die moord op goewerneur Gedalja, wat deur hom aangestel is, word ook vermeld, iets waarvan ons ook in Jeremia lees (Jer. 40).

Baie Jode is toe na Tagpanges (vandag Tel Defne, aan die Menzalameer in Noord-Egipte) in Egipte uit vrees vir die Galdeërs.  Terloops sommige Jode het hulle reeds vroeër in die bekende Elephantine nedersetting, wat vroeër deur Manasse daar gestig is, gevestig. Daar is ’n versameling papiri uit dié tyd wat insae gee in die Joodse lewe in die vreemde.

Boodskap

Twee sake staan vir my uit in dié gedeelte.  Hoe God se genade selfs IN oordeel werksaam is.  En hoe gebed ’n rol kan speel om daarvoor te bid, selfs al is dié rol ook hoe klein en al is die antwoord op die gebed eintlik alreeds ingesluit in die uitvoering van God se oordeel.

Dit gee my hoop dat God se oordeel nie sy genade uitsluit nie.  Dit gee my motivering om selfs in baie slegte situasies die Here om genade te smeek.


Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Jeremia


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Comments

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar

  • perfectly57edc75df4 on Josef-hulle vlug van Betlehem na EgipteDankie, Matteus het deurgekom. Was eers 'n dag laat, maar nou daagliks op tyd. Sover kry ek 'n paar interessante gedagtes wat mens maklik miskyk as jy net lees v/d geboorte en nie na die mesnlike aspekte kyk nie. Dankie and Vrede.
  • sparklybc467b2e69 on Josef-hulle vlug van Betlehem na EgipteGoeie môre, baie dankie, ja dit maak sin, want dit is hoekom Dawid ñ man na GOD se hart was, hy was ook elke keer gehoorsaam aan GOD. Daar is egter iets wat my so diep geraak het, terwyl ek u opmerkings lees, JESUS die seun van GOD het geen rykdom of enige voortrekkery ontvang nie, HY was regtig so…
  • originalblizzard19aaa84c56 on Josef-hulle vlug van Betlehem na EgipteTans so gepas in my vrou en my se lewe. Moet noukeurig let op die detail van die Heer se leiding. Kan nie wag om die volgende stappe te volg nie. Dankie.
  • Philip Vermaak on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Wat my weer getref het is God se liefde vir alle mense en Dawid se nederige houding as hy tot God roep en hom met alles aan God "oorgee" En- wat ons het is aan ons deur God geskenk en wat ons is is slegs Genade Baie dankie
  • originalblizzard19aaa84c56 on Sterrekundiges besoek Jesus in die huis in Betlehem MATTEUS 2:1-12Prys die Here vir sy Heilige Woord en Gees.
  • sparklybc467b2e69 on ‘n Engel van die Here oortuig Josef dat Maria se Kind van die Heilige Gees is MATTEUS 1:18-25Dit is vir my opsig self so groot bewys van GOD se grootheid, Sy Heilige Gees wat Maria bevrug. Ek het altyd gedink dat Maria baie besonders was onder die vroue, maar as ñ mens lees van Josef en sy karakter, was hulle albei uitverkies as JESUS, GOD se seun.
  • originalblizzard19aaa84c56 on Jesus se geslagsregister in Matteus verbind Hom aan Abraham, Dawid en die volk na die ballingskap MATTEUS 1:1-17Matteus. Amazing, om my te verwonder aan die Heilige Skrif. Dankie vir navorsing.
  • Chris van Wyk on Psalm 150Hi, jy sal steeds die Matteus bydraes kry as jy ingeteken is. Die skakel is daar vir nuwe mense. Die opmerkings moet eers goedgekeur word deur my, vandaar die verposing. Hoop jy het steeds Matteus gekry?
  • perfectly57edc75df4 on Psalm 150Naand Chris. Ek dink daar is iets met die website verkeerd. Psalms was op Bybelskool beskikbaar, maar vir Mattteus vra dit jou om weer in te teken op Bybelskool. Ek is op Bybelskool. Dan stuur die opmerkings ook nie elke keer nie. Die inskrywing vir Matteus vat jou na 'n snaakse vorm. Is dit reg so,…
  • Doreen Snyders on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Baie baie dankie vir die Psalms. Dit was só insiggewend en het baie gehelp om om die Skrif te bid. Nogmaals dankie. Ek sien baie uit na Matteus. Doreen Snyders
  • johannes buhrmann on Psalm 150Die God aan wie die Psalm digters hul lof en dankbaarheid betuig het , en teenoor wie hulle hul klagtes en swaarkry en onsekerhede kon bekendmaak is dieselfde God teenoor wie gelowiges hulle in die huidige tydsgewrig gewrig hul kan wend om geloof en lewensrigting te verkry Dankie
  • originalblizzard19aaa84c56 on Inleiding'n Mondvol oor Matteus. Sien uit na die reis. Dankie
  • Francois Du Toit on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Dit was n wonderlike reis deur die psalms, teen n pas wat genoeg tyd vir nadenke toegelaat het. En die diep nuanses vd Onse Vader laat deurskemer het. Baie dankie vd leiding en verklari gs.
  • Hannes. on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Middag Dr. Chris, Baie dankie vir ‘n insiggewende reis deur Psalms. Dit het beslis gehelp om my persoonlike gebedslewe te verbeter, en ek glo sterk dat elke gebed beslis my verhouding met die Here verdiep op ‘n manier waar ek tans baie meer pligsgetrou is teenoor my persoonlike stiltetyd en gesprekk…
  • Kobus on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Dit was vir my 'n wonderlike ervaring, ek kyk met 'n ander insig nou na die Psalms