Skip to main content

Jeremia 23 – Ellende wag vir julle leiers

Jeremiah lamenting - Rembrand van RijnHoofstuk 23 sluit aan die eenkant die profesieë teen die konings af met die belofte van ’n regverdige koning wat die Here sal voorsien (23:1-8).  Aan die ander kant sit dit die oordeel teen die leiers voort met ’n fokus op die werk van die profete en priesters wat die volk mislei en op die verkeerde koers laat beland het (23:9-40).

Ons sal in hoofstuk 24 sien hoe Jeremia ’n egte visioen van die Here  beskryf wat in skerp kontras staan met hoofstuk 23 se beskrywing van die wyse waarop die ander profete hulle eie drome as God s’n probeer verkoop aan die volk.

23:1-8 – Ek sal ’n regverdige koning voorsien

Hierdie profesie bestaan uit drie dele:

23:1-4 – ’n oordeelsprofesie oor die herders (konings) wat die kudde (volk) verwaarloos en verstrooi het en die Here wat self gaan optree, die verstrooiing gaan ophef en hulle onder sy sorg in hulle land sal terugbring met nuwe herders wat die Here sal aanstel.  Dit is vervul met die terugkoms na die land in die tyd van die Persiese koning Darius.

23:5-6 – ’n belofte van ’n verstandige en regverdige koning, ’n “spruit van Dawid”, wat die soortgelyke belofte in Jes. 11:1-9 eggo (vgl. ook Jer. 33:15).  Sy naam sal letterlik wees: “Jahwe ons geregtigheid.”  Hierdie belofte het duidelik Messiaanse trekke wat vervul is met die koms van die Messias, Jesus Christus.

23:7-8 – ’n belofte van terugkeer uit ballingskap wat die betekenis van die vorige Uittog uit Egipte sal oorskadu en hulle weer in hulle eie land sal vestig.  Dit is ná sewentig jaar ballingskap vervul met die terugkoms in die tyd van die Persiese koning Darius.

23:9-40 – Profeet en priester is albei goddeloos

Daar kan seker geen erger aanklag wees teen iemand wat voorgee dat hy of sy die woord van die Here bring, en dit is dat hy of sy godloos of goddeloos is nie (vers 11).  Sonder die seël van God se goedkeuring en ’n verhouding met Hom tuimel enige geloofwaardigheid van profeet en priester in die afgrond in, onherstelbaar vernietig.

Kontrasteer dit met Jeremia se eie ervaring van die woord van die Here, in dié geval TEEN die profete: “My hart is stukkend geslaan, my hele liggaam bewe.  Ek is soos ’n dronk mens, soos iemand wat deur drank oorweldig is.  Ek het so geword deur die Here, deur sy heilige woorde.”

Daarmee stel Jeremia die standaard vir die beoordeling van die egte ervaring van God se woorde. Dit plaas die ontvanger daarvan onder geen illusie van die oorsprong van die woord nie – God self – het ’n persoonlike effek op die gekose medium wat verrukking of in hierdie geval ontsetting kan wees – profeet of priester – en plaas ’n onontwykbare las op hulle om dié woord eerlik en onverdund aan mense te bring, hetsy of dit oordeel is of vrede.

Vanuit hierdie inleidende woorde (23:9) word dan in verskeie kort profesieë ’n globale prentjie van die goddelose uitwerking van die profete en priesters se goddeloosheid beskryf (23:10-15) waarna weereens met verskeie kort profesieë God se oordeel daaroor uitgespreek word as waarskuwing aan die volk (23:16-32).  Die hoofstuk word afgesluit met ’n woord aan Jeremia dat hy net een woord vir die volk moet gee en dit is dat die Here Hom nie meer steur aan hulle nie (23:33) en ’n verdere woord aan die volk wat sy opdrag aan Jeremia bevestig (23:34-42).

23:10-15 – Die Here wyt die sosiale en ekologiese verwoesting in die land aan die verkeerde koers wat die profete (van Juda) inslaan wat ook in hulle misbruik van mag na vore kom.  Die kern van die probleem lê in hulle eie goddeloosheid.  Daarom sê die Here dat Hy die profete en priesters se pad glibberig sal maak en ’n ramp oor hulle sal bring.

Dieselfde het die profete in Samaria gegeld wat in die naam van Baäl opgetree het, wat alreeds die Here ontstel het.  Maar, wat die Here onder Jerusalem se profete gesien het, dat hulle lieg en bedrieg, dié help wat verkeerd doen, is spesifiek afskuwelik vir Hom.  Die gevolge van hulle verkeerde leiding is dat niemand tot bekering kom nie.

Só word almal vir die Here soos die Sodom en Gomorra van ouds en gaan die Here hulle uitwis weens die goddeloosheid wat hulle deur die hele land versprei het.

23:16-32 – Die Here spreek die volk dan aan om nie te luister na wat die profete sê nie, omdat hulle vals verwagtings by die mense sal skep.  Hulle visioene kom van hulle gedagtes af en predik vrede wat juis in kontras met die Here se woord van onheil is.  Dié oordeel van die Here sal soos ’n orkaan op die goddeloses afkom wat begrip sal bring dat sy woord waar is: “Daar kom ’n tyd dat julle dit alles goed sal verstaan.”

Die Here verklaar dat Hy nie die vredes-profete gestuur het nie en verkwalik hulle dat hulle sonder ’n woord van Hom opgetree het.  Hy lig die volk ook in oor sy alomteenwoordigheid. Niks ontgaan sy aandag nie.

Die Here stel eerlikheid op prys.  As iemand ’n woord van Hom in ’n droom ontvang het, moet dit gedeel word, maar dan moet dit eerlik ’n woord van die Here wees, anders is dit doodgewoon strooi: “My woord is soos vuur, sê die Here, soos ’n hamer waarmee klippe stukkend gebreek word.”

Daarom is die Here ook teen profete wat doodgewoon herhaal wat ander sê en nie sê wat God vir hulle ingee nie.  ’n Mens kan nie jou eie stories verkoop as die woord van die Here nie!  “Hulle help my volk hoegenaamd nie, sê die Here.”  Iets wat hedendaagse profete, myself inkluis, ter harte moet neem.

23:33 – Die Here wend Hom tot Jeremia om hom te beveel om net een woord vir die volk te gee as dié hom vra: “Ek steur My nie meer aan julle nie.”  Watter vreeslike situasie om in te wees.

23:34-42 – Die Here verbied die volk om langer te probeer agterkom wat Hy sê, want hulle maak dan hulle eie woorde tot ’n uitspraak van die Here.  “So verdraai julle die woorde van ons God, die Here die Almagtige, die lewende God.”

Die Here bevestig daarmee dat Hy hulle verwerp en ’n blywende skande oor hulle sal bring, ’n vernedering wat nie vergeet sal word nie.

Boodskap

Dit is seker onvermydelik dat dié boodskap myself baie persoonlik raak.  Ek staan op die kansel en bring die Woord van die Here.  En hoewel ek nou nie myself aan Jeremia gelyk kan stel nie, tel dieselfde maatstawwe wat vir hom gegeld het, ook vir my eie bediening.  Ek moet selfstandig luister na wat die Here sê en dit eerlik oordra aan diegene vir wie die woord bedoel is.  Selfstandig en eerlik.

My woord is soos vuur, sê die Here, soos ’n hamer waarmee klippe stukkend gebreek word.”  Sy woorde is daarom heilige woorde, woorde wat onverdund gebring moet word, sonder aansiens des persoons, en sonder om aan die gevolge vir jouself te dink.  Anders wag daar vir ons ook ellende.


Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Jeremia


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar