Hierdie hoofstuk vertel vir ons van die feit dat Abram as ‘n geseënde man terugkom uit Egipte – 13:1-4 – maar dan in die uitdaging wat sy rykdom en ‘n botsing van belange met sy broerskind inhou, vasloop – 13:5-7. Dié uitdaging word aan die een kant in ‘n gesprek tussen Abram en Lot beslis waarin Lot die beste deel van die land kies – 13:8-13 – maar dan ook aan die ander kant tot ‘n verdere bepalende belofte van die Here lei in terme van land en nageslag – 13:14-18. Abram erf eintlik die hele aarde, en sy nageslag verwerf ‘n unieke status as die geseëndes van die Here.
Die volgende uitdaging wat Abram moet trotseer is die direkte resultaat van Lot se keuse om die Jordaanstreek te kies en uiteindelik in Sodom te gaan bly. Hy word kort daarna opgevang in ‘n spiraal van konflik waarin vier konings van die breër Mesopotamiese gebied oorlog gemaak het teen die vyf konings van die Jordaanstreek:
Mesopotamië: Koning Amrafel van Sinar (Babilonië), koning Arjok van Ellasar (moontlik van die stad Assur in Assirië), koning Kedorlaomer van Elam (vandag Iran), en koning Tidal van Gojim ( dit beteken “nasies” – dit kan ‘n onbekende aantal nasies voorstel, anders is die streek verder onbekend).
Jordaanstreek: koning Bera van Sodom, koning Birsa van Gomorra, koning Sinab van Adma, koning Semeber van Sebojim, en die koning van Bela, dit is Soar. Die geveg vind plaas in die Siddimvlakte wat in Israel as die Soutsee en vandag as die Dooie See bekend is.
Die rede vir die oorlog was die rebellie van die nasies van die Jordaanstreek wat vir twaalf jaar lank onderhorig was aan Kedorlaomer en nou nie meer aan hom “belasting” wou betaal nie. Die vier konings het teen hulle opgetrek en ‘n hele aantal volke verslaan voor hulle by die konings van die Jordaanstreek uitgekom het.
Die wyse waarop God met Abram in gesprek tree regdeur sy lewe, val ‘n mens op weens die wederkerigheid daarvan – dit is regtig ‘n heen-en-weer gesprek – sowel as die diverse maniere waarop dit geskied. ‘n Mens lees in Genesis van ten minste vier maniere waarop dié gesprekke verloop:
Soms lees ‘n mens dat die Here vir hom iets “gesêhet” (Gen. 12:1; 13:14; 21:12; 22:1) sonder enige verduideliking van hoe dit presies gebeur het.
Soms roep die Engel van die Here na Abram en gee hom ‘n opdrag (Gen. 22:11) en beloftes (Gen. 22:15 vv.) waar dit ook duidelik is dat dit die Here self is (Gen. 22:16).
Soms verskyn die Here aan Abram (Gen. 12:7; 17:1 – let op dat God ook weer van hom af “weggaan” soos ‘n mens in 17:22 lees – wat waarskynlik in een of ander gestalte was, soms duidelik in die gestalte van drie mans (Gen. 18:1).
In Genesis 15 kom die woord van die Here na Abram in ‘n gesig – die enigste keer wat dit só vertel word – wat ‘n hele aantal verskillende gesprekke, maar ook aksies insluit. Die Here wys vir Abram die sterre en gebruik dit as ‘n woord aan hom. Die Here beveel hom om ‘n aantal diere te bring en gebruik dit om sy verbond met Abram te sluit.
Dit help dus om die perikoop te lees aan die hand van die verskillende gespreksmomente soos dit wissel tussen die Here en Abram. Dit gee jou ‘n goeie idee hoe die Here inisiatief neem en die aktiewe agent is in die gesprek. Maar, dit gee jou ook ‘n idee van hoe toeganklik die Here is om die kommer en behoeftes van Abram te akkommodeer, meer nog, oorvloedig daarin te voorsien, selfs meer as wat Abram homself kan indink.
Die skrywer herinner ons daaraan dat Abram al tien jaar in Kanaän is (Gen. 16:3). Abram het al baie vreugdes en versoekings ervaar soos ons agterkom uit ‘n “kykweer” van die verloop van sy verhaal tot hier.
Vreugdes en versoekings
Abram het die vreugde ervaar van gehoorsaamheid aan God se roeping met sy aankoms in die land. Hy het egter ook die uitdagende versoeking ervaar waarvoor die ontbering van hongersnood hom geplaas het toe hy uitgedryf is na Egipte. Hy faal jammerlik in die toets vir sy integriteit toe hy bang was Sarai se skoonheid sy einde sou beteken en ‘n leuen vertel wat tot groot skade vir almal gelei het (Gen. 12).
Abram het die vreugde ervaar van God se oorvloedige voorsiening – onthou dat farao onder andere daarvoor verantwoordelik is (Gen. 12:16). Die oorvloed het hom egter in konflik met sy ewe ryk broerskind Lot gebring wat tot ‘n skeiding van hulle weë gelei het. Hy weerstaan die versoeking om vir hom die beste deel te kies, en word daarom deur God in die gelyk gestel met ‘n asemrowende landsbelofte wat in wese alles insluit wat hy kan sien. ‘n Mens kan selfs moontlik die betekenis van die hele aarde daarin inlees (Gen. 13).
Abam het die vreugde ervaar van oorwinning in oorlog om sy broerskind uit die kloue van die Mesopotamiese konings te red, maar duidelik daaruit geleer dat Lot nie sy erfgenaam sou wees nie. Hy weerstaan die versoeking om hom te verryk uit die buit van Sodom en gee eerder ‘n tiende daarvan vir Melgisedek, die priester van die Allerhoogste (Gen. 14).
Abram het die vreugde ervaar dat God sy geloofsvertroue raakgesien het en met hom ‘n verbond gesluit het wat nie net die belofte van dié land ingesluit het nie, maar spesifiek ook die belofte van ‘n nageslag. Trouens, die Here sê baie spesifiek dat sy nageslag nie uit sy slawe sal kom nie: “Een wat jou eie nasaat is, hy sal jou erfgenaam wees”. Hy val egter vir die versoeking om méér te weet van hoé presies dié nageslag vir hom gegee sal word en vra vir ‘n teken. Die Here gee die teken vir hom met ‘n verbondsluiting, maar in die proses word Abram oorweldig deur ‘n groot angs wat woorde kry in die voorspelling van die Here dat daar ‘n groot tydperk van verdrukking vir sy mense voorlê. Die Here bevestig egter ook dat Hy sy verbond – unilateraal, d.w.s. deur God se toedoen alleen – met hom en sy nageslag sal hou en die land vir hulle sal gee (Gen. 15).
Hoofstuk 17 en 18 is verbind aan mekaar deur twee verskynings van die Here aan Abram kort na mekaar in sy nege en negentigste jaar, dertien jaar ná die vorige episode met Hagar en Ismael.
Met die eerste verskyning in hoofstuk 17 herbevestig die Here sy verbond met Abram, hierdie keer met die teken van die besnydenis en verander sy naam na Abraham. Die twee name is eintlik variante van mekaar: “vader van vele”, en is net betekenisvol omdat dit aan die belofte verbind word dat hy die: “vader van ‘n menigte nasies” sal wees. Ook Sarai se naam verander na Sara. Weereens is die twee name variante van mekaar: “prinses”, en is net betekenisvol omdat dit verbind word aan die eerste direkte belofte aan haar dat die nageslag uit haar gebore sal word.
Met die tweede verskyning in hoofstuk 18 herbevestig die Here in die gedaante van drie persone sy belofte aan Abraham en Sara van ‘n nageslag, dié keer met ‘n definitiewe datum daaraan gekoppel en lig Abraham in oor wat die Here met Sodom en Gomorra gaan doen.
Hannelie van der WaltonHoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Reis deur die Psalms het my meer insig in die Psalms gegee en waaroor dit eintlik gaan. Meer bewustheid om die Here te loof vir Wie Hy is en opnuut elke dag te besef how getrou en betroubaar Hy is. As kind van Hom weet ek dit maar hierdie reis het my net meer en meer daarvan bewus gemaak en het dit…
San GottschalkonSluit by 49 Dae van Gebed vir Leiers aanMôre! Sal die gebedsaksie vir ons kennisgewings stuur as pns klaar geregistreer het? Hoe kom ons by die website uit as ons elke oggend dit wil oopmaak?
Onlangse kommentaar